Die aarde se asse wentel en skuif. Die lewe is nie naastenby so stabiel soos wat ons wil glo dit is nie …
Tweeduisend jaar gelede het die hemelruim heelwat anders gelyk as vandag. Dit maak die Griekse persepsie van sterretekens buitensporig onakkuraat vir die hedendaagse tyd. Tweeduisend jaar gelede het die son in Gemini gesak en nie in Taurus, soos dit vanaand sal nie. As jy op die 24ste September gebore is, was jy ’n Virgo en nie ’n Libra nie. Die rede hiervoor is eenvoudig: Die aarde se asse wentel en skuif. Hierdie lewe is nie naastenby so stabiel soos wat ons wil glo dit is nie.
’n Honderd jaar gelede was alles om ons net ’n vae droom. ’n Doellose verbeeldingsreis. Selfone en rekenaars so klein soos ’n boek. ’n Wêreld wat met die klik van ’n knoppie toegang tot al die uithoeke van die aarde kon hê.
’n Honderd jaar gelede was telepatie ’n lagwekkende onderwerp. Bloot iets waaroor elke man gedroom het as hy na sy vrou kyk wat hom vir die soveelste keer uitskel oor die ding wat sy hom “al ’n duisend keer gevra het om te doen”.
06:30: Die normale heen en weer geskree oor my skooltas wat gisteraand gepak moes wees en die soek na my skoolsokkies is vervang met absolute stilte.
“Dis in die waskamer,” hoor ek dit saggies in my gedagtes.
Ek weet wat jy dink, en nee, dis nie wat jy dink nie. Dit is my ma se gedagtes wat deur middel van die nuutste tegnologie my gedagtes bereik.
15:30: Die eerste paar maande van enige pasgebore baba se ouers is ’n ramp, of so hoor ek. Gelukkig is dit iets van die verlede! Vier en twintig uur na elke baba se geboorte word ’n spesiale mikro-skyf onder die baba se vel ingeplant. Hierdie skyfie vang alle breingolwe in die nabye omgewing op en stuur sy eie breingolwe uit. Dit is basies soos ’n gratis Wi-Fi. Nuwe ma’s word nie meer op straat gesien met donker kringe onder die oë en ’n skreeuende baba op die heup nie. Voor die kind ’n geluid kan maak, word sy breingolwe na sy ma oorgedra en blitsvinnig word ’n bottel opgetower of ’n nat doek omgeruil.
So ontwikkel en goed soos hierdie lewenswyse klink, het dit definitiewe nadele. Kommunikasievaardighede bestaan nie meer nie. ’n Wêreld wat eens weerklink het met die lag van ’n kind wat in haar pa se arms geswaai word, of die opgewonde gefluister van ’n jong paartjie is vervang met absolute stilte.
In hierdie nuwe wêreld is selfmoord ’n algemene verskynsel. Van jou eerste dag op aarde tot die dag wat jy tot rus gelê word, het jy geen alleentyd nie. Die dag dat jy jou eindbestemming bereik, is die eerste dag wat jy werklik vrede ervaar.
Jou gedagtes is nie jou eie nie, maar word gedeel met almal in jou direkte omgewing. Vandat jou oë in die oggend oopgaan totdat jou oë die aand sluit, het almal toegang tot jou gedagtes. Jou emosies word ontleed. Elke gedagte, reaksie en gevoel word oorgedra na ’n hele wêreld.
Passie is iets van die verlede. Nêrens word meer ’n uitbundige gelag of sagte gegiggel agter in ’n klaskamer gehoor nie. Die romantiese gefluister van ’n verliefde paartjie verdwyn in die algehele stilte.
’n Diverse wêreld, met toonhoogtes en klankgolwe, introverte en ekstroverte, is verminder tot niks. Introverte word gedwing om hulle persoonlike gedagtes met ’n veroordelende wêreld te deel. Waar klank eers geheers het en lewe geskep is, het algehele stilte kom heers en lewenslus geblus.
Net die sterkstes sal in hierdie vinnig ontwikkelende lewe oorleef.
Tweeduisend jaar gelede het die hemelruim heelwat anders gelyk as vandag. Dit maak die Griekse persepsie van sterretekens buitensporig onakkuraat vir die hedendaagse tyd. Tweeduisend jaar gelede het die son in Gemini gesak en nie in Taurus soos dit vanaand sal nie. As jy op die 24ste September gebore is, was jy ’n Virgo en nie ’n Libra nie. Die rede hiervoor is eenvoudig: Die aarde se asse wentel en skuif. Hierdie lewe is nie naastenby so stabiel soos wat ons wil glo dit is nie.
Kommunikasie is ’n grafsteen.


Kommentaar
Baie interesant en seker glad nie onmoontlik nie?