WF 2012: Plus proefbuis van genesing

  • 0

Die twee proefbuise kap teen mekaar toe Soreen dit in die proefbuishouertjie terugsit, die negatiewe een en die positiewe een.

Soreen doen al van hoërskool af Skeinat en Biologie en het addisionele klasse geloop om meer te weet van die chemiese en biologiese uitwerking van die liggaam se immuunstelsel. Sy het nog vier jaar se verdere en hoër onderwys agter die rug.

Na vandag is sy seker sy het dit reggekry ... Sy het die kuur vir vigs se aanval op die immuunstelsel gekry!

Sy het nagte om gewerk, honderde toetse en eksamens geskryf en duisend rande uitgegee om te bereik wat sy vandag bereik het. Dit uiteindelik die einde van die sieklike en pynlike simptome en die lyding van mense met vigs!

’n Einde aan die depressie, naarheid, ongewone gewigsverlies, sinus- aanvalle, brandende hande en voete en die ander walglike omstandighede wat die vigslyers moet deurgaan. Nou is daar geen omdraaipunt nie – nou moet sy net ’n gewillige pasiënt kry wat sal toelaat dat sy haar toets op hom doen.

Volgens haar sal die vloeistof wat sy na jare se navorsing gemeng het,  binne die eerste 48 uur nuwe resultate in die pasiënt kan wys en hom heel moontlik heeltemal gesond maak.

Na twee weke besluit Soreen om ’n hospitaal te gaan besoek en iemand daar te kry wat bereid is dat sy die middel op hom toets; sy moet net eenvoudig hierdie eksperiment doen.

Drie hospitale het haar weggewys en haar gedreig met die polisie, maar toe sy by die staatshospitaal kom, was daar een man wat uitsonderlik siek was en baie swaar gekry het. Hierdie man het lankal vigs en sy immuunstelsel was nou al so platgeslaan dat hy permanent moes lê en nie meer kon opstaan nie. Sy gesig was maer en hy het uitgeteer gelyk. Die enigste ding wat hy kon sluk, was ’n bietjie water; die drup moes maar aan sy voedingsbehoeftes voldoen.

Soreen het hom baie jammer gekry en wou graag iets doen om hom te help. Sy was vasbeslote om ’n verandering in hierdie man se lewe te bring.

“Laat ek asseblief op hom eksperimenteer – julle sal dadelik ’n verskil sien. Ek waarborg julle dit sal werk,” het sy aan die skeptiese en ongelowige dokters belowe.

Die laaste woorde het Soreen laat skrik, omdat sy skielik besef het wat sy gesê het ... Sy het nou ’n belofte aan die man gemaak om hom gesond te maak.

Die man het ingestem, omdat dit sy laaste hoop was. Die dokters, aan die ander kant, was glad nie gelukkig met sy besluit nie, maar het toe maar ingegee, omdat daar nie regtig nog enigiets was wat hulle vir hom kon doen nie.

Soreen het haar reggekry vir die groot oomblik en opgewonde haar wonderkuur by haar woonstel gaan haal. Duisende gedagtes het deur haar kop gemaal, gedagtes van opwinding en vrees tegelyk. By die woonstel het sy vinnig geskarrel om alles bymekaar te kry en, sonder om te kyk, die proefbuisie gegryp en ingepak.

Na so ’n halfuur se voorbereiding het sy teruggekeer na die hospitaal en bewerig na die man se bed geloop. Die sweet het by haar voorkop afgeloop soos wat sy die inspuiting in die weerlose en hoopvolle man se arm gedruk het. Al wat sy nou kon doen, was hoop en bid dat haar berekeninge akkuraat was en dat hierdie ontdekking nie sy lewe in gevaar sou stel nie. Die hoopvolle glimlag op sy gesig het haar geruk en die spanning net erger gemaak.

Na twee slapelose nagte het die hospitaal uiteindelik gebel ...   Soreen se hart het nog nooit so vinnig geklop nie en sy was vreesbevange om die nuus te hoor.

Die man het beter begin voel en kon vir die eerste keer na 18 maande regop sit, maar helaas, dit het net vir ’n uur of twee gehou, waarna hy weer in sy toestand verval het, maar dié keer net nog erger as tevore.

Soreen se gesig het warm geword. Trane het by haar wange afgeloop toe sy die foon neersit. Sy was briesend, nie net omdat sy misluk het nie, maar omdat sy iemand se lewe in gevaar gestel het en net nog meer pyn veroorsaak het.

Dit was net te erg vir haar. Soreen het haar goed gevat en gevlug. Al wat oorgebly het, was ’n ongebruikte proefbuis in ’n houertjie met ’n plustekentjie op. Dit is na laboratoriums toe gestuur en het ’n wonderkuur geword wat duisende mense gehelp het om van vigs gesond te word, maar van Soreen is daar nooit weer gehoor nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top