Een aand lank, lank gelede het ek wakker geword van ’n verskriklike geraas. Ek het by my venster uitgeloer en ’n ou man gesien. Hy het baie bang en skrikkerig gelyk. Toe hy omdraai en hy sien ek kyk vir hom deur die venster, verdwyn hy so gou soos nou. Ek het vreeslik groot geskrik, na my bed toe gehardloop, ingespring, my oë styf toegeknyp en vir myself gesê dit is net ’n droom. Die volgende oggend baie vroeg, seker so vieruur se kant, skrik ek wakker. Ek loop op my tone met die trappe af. ’n Glas warm melk sal nou heerlik proe. Toe ek in die kombuis kom, staan daar kláár ’n glas warm melk én drie koekies. Dit was vir my baie vreemd. Ek het gaan sit en dink hoe dit daar kon kom, want my ouers het baie vroeg die oggend al gaan werk. Ek het dit maar gedrink en teruggegaan na my kamer toe. Ek het weer in my bed gaan lê, en net toe ek omdraai, sien ek ’n skaduwee teen die muur.
Ek het my boeglam geskrik. My kop het vir my gesê ek moet opspring en weghardloop, maar my bene wou niks weet nie. So, lê het ek gelê. Die skaduwee het al hoe nader en nader gekom, en al hoe groter en groter geword. Ek kon sien dat die “ding” iets uithaal. Toe ek daar lê en vir die ergste wag, voel ek hoe iemand my liggies op die rug tik. Ek het stadig omgedraai, maar al wat ek gesien het, is twee antenne-tipe goedjies. Ek het stadig afgekyk grond toe en daar staan sy! ’n Robot, nie hoër as my knieë nie.
Sy het twee voelers gehad, soos ’n mier, en seker die oulikste gesiggie. Ek het dadelik my lig gaan aansit om mooi te kan sien, maar sy was tog daar. Ek het my nie verbeel nie. Sy het op my bed gespring en daar sit ons twee toe, amper vir ’n uur lank, en staar na mekaar. Niemand sê iets nie; ons sit net. Toe ek haar baie stadig en mooi vra waarvandaan af sy kom, sê sy vir my sy kom van 2021 af. Ek was baie geskok en het haar baie nuuskierig gevra hoe dit dan moontlik is. Sy het my aangekyk asof ek ’n graadtweevraag gevra het, en my met baie moeite geantwoord. Ons het weer ’n lang ruk vir mekaar gesit en kyk. “Nou ... Wat maak jy hier?” het ek gevra. “Ek is van planeet Pluto af hiernatoe gestuur – hoekom weet ek self nie!” het sy my geantwoord. “Maar is jy dan nou ’n ruimtewese?” het ek met ongeloof gevra. Sy het begin lag, uit haar maag uit, so asof ek die grap van die jaar vertel het. “Nee, die ruimtewesens het my gemaak, en toe gooi hulle my weg ... Nou sit ék hier by ’n ruimtewese!” Ek het onmiddellik smoorkwaad geword omdat ’n robot, van alle dinge, my nou kom staan en ’n ruimtewese noem! “Asseblief, moet nou nie vir my kwaad wees nie. Ek wil nie weer weggegooi word nie. As dit jou beter sal laat voel, kan ek vir jou my diepste geheime vertel, en glo my! Dit is nou vir jou ’n ding om na te luister!” Omdat ek nuuskierig van aard is, het ek sommer dadelik van die woede vergeet en nader gesit om ’n robot se geheime te hoor.
“Ek weet wat mense voel en dink en omdat ek van die toekoms af kom, weet ek wat gaan gebeur.” Sjoe, dit is nou vir jou ’n ding of twee! “As jy weet wat ek nou, op hierdie oomblik, dink, sê my,” het ek haar probeer vasvra. “Jy dink nou hoe so ’n klein robotjie jou hele toekoms kan weet en jy dink ek maak ’n groot grap. Ooo ja, jy moenie so skrik en aan die ergste dink as jy net ’n skaduwee teen jou muur sien nie, hoor! Dis sleg vir jou gesondheid.” My mond het oopgehang! Ek het toe sommer baie vrae gehad oor die toekoms, maar sy wou niks sê nie. Sy was bang die toekoms gaan verander.
Sy het jare lank by my in my kamer gebly. En snaaks genoeg het nie my pa of ma ooit van haar uitgevind nie. Ek het tot vir haar ’n naam gegee: Blikkies. Ek weet dit is nou nie ’n mooi naam vir iets só wonderliks nie, maar sy het baie daarvan gehou. Blikkies het my baie gehelp! Omdat sy geweet het wat gaan gebeur, het sy my gehelp en vir my gesê hoe hard ek vir toetse moet leer en of ek ooit vir hulle moet leer, en wanneer dit nodig was om my huiswerk te doen, ensovoorts. Sy het my gehelp met my vriendinneprobleme en selfs seunsprobleme. Ja, ek en Blikkies het so elke nou en dan baklei, soos regte sussies wat baklei. En dit was snaaks, want sy was die enigste een wat vooraf geweet het wie eerste vrede gaan maak, en glo my, dit was amper nooit sy nie. Daar was tot ’n tyd wat Blikkies weggeraak het! Was dít nou vir jou ’n katastrofe! Ek bedoel, waar soek jy vir ’n verlore robot? En vir wie vra jy of hulle haar nie dalk gesien het nie? Gelukkig het sy na drie weke weer teruggekom huis toe; haar verskoning was dat sy ’n ander kind moes gaan help.
Ek was drie-en-twintig jaar oud en iets tragies het gebeur. Daardie selfde man wat ek vroeër gesien het, wat so bang gelyk het, het ek een aand weer gesien! Die volgende dag was Blikkies weg! Ek het gedink sy sal na ’n paar weke terugkom, maar sy het nie. Vir drie jaar het Blikkies glad nie teruggekom nie. Blikkies is seker terug Pluto toe, of sy het ’n ander moeilikheidmaker gaan help.
Ek is nou sewe-en-twintig, en ek is ’n suksesvolle veearts. Mense kan maar sê wat hulle wil, maar sonder Blikkies sou niks gebeur het nie! En ek sou nie wees waar ek vandag is nie.

