Dit is die jaar 2053. Die wêreld is in oorlog gedompel met ruimtewesens wat na ons planeet toe gereis het vir ons waterbronne, wat hulle as brandstof gebruik. Die aarde is besig om te vergaan en die enigste hoop vir die mensdom is ’n groep bestaande uit drie supersoldate.
Die toekoms van die wêreld lê in die hande van generaal Markus Fenix, sersant Victor Mason en korporaal Anton Miller.
Soos die jare verbygaan, raak die manier van oorlogvoering en wapens al hoe meer gevorderd. ’n Geweer met ’n kettingbajonet wat laserkoeëls gebruik, maak ’n soldaat se ammunisie onuitputbaar. Dié soort geweer word algemeen gebruik deur die generaal en sy troepe.
Die Radons, die groep ruimtewesens wat ons aarde aanval, se wapens is toegerus met radars wat liggaamstemperatuur optel en strategiese beplanning moeilik maak. Dié gevorderde wapens stel die vyand in staat om die kern af te kordon en effektief te verdedig. Die kern maak vervoer vir die Radons van hulle tuisplaneet af moontlik en skei ook ’n chemiese stof af wat hulle benodig vir asemhaling. Daar is slegs een manier om by hulle kamp in te kom en dit is om aan die voordeur te gaan klop, maar dit is makliker gesê as gedaan.
72 UUR VROEËR
Sersant Victor Mason storm die beheerkamer binne waar die generaal agter ’n tafel sit met verskeie kaarte voor hom oopgesprei. Orals teen die mure is tekeninge van hoe die kern lyk en hoe dit moontlik vernietig kan word. Die kamer is verwaarloos as gevolg van al die skermutselinge wat in die gebied plaasgevind het.
“Generaal, ons strategiese tenk is nou net deur die Radons vernietig,” sê sersant Mason wanhopig, die teleurstelling vlak in sy stem.
“Ons strategiese planne werk nie, Sersant!” Generaal Fenix se stem is skor van woede. Hy gooi die tafel om en slaan met gebalde vuiste teen die muur. “Wanneer laas het julle iets van peleton Alpha gehoor? Hulle moes teen hierdie tyd seker al die kern bereik het!”
Die sersant se skouers sak; sy liggaamhouding spreek boekdele. Maar hoe om dit aan die generaal te vertel. Hy skep moed: “Ons het kontak met hulle verloor. Drie dae gelede al.”
“Loop,” sê die generaal.
“Generaal?”
“LOOP!”
Generaal Fenix se gesig is nou bloedrooi van woede. Die are in sy nek staan uit en dit lyk of dit enige oomblik gaan bars. Wat dinge erger maak, is dat die Radons se getalle by die dag vermeerder en die mense se hoop op oorlewing word al hoe kleiner soos wat die waterbronne stadig maar seker verwyder word.
“Samie 206, kontak die president,” sê hy afgemete.
Samie 206 is ’n kommunikasiemiddel wat dit vir persone moontlik maak om mekaar fisies te sien deur ’n klein CD wat deur ’n projektor speel.
“Die president van Amerika,” antwoord die rekenaarstelsel.
“Meneer, alle kommunikasie met peleton Alpha is verlore. Die peleton was laas op koers na die kamp waar die kern bewaar word. Sonder kommunikasie het ek nie die vaagste benul hoe ons die kern gaan vernietig nie.”
Die president se gesigsuitdrukking verstrak: “Generaal, jy en jou twee soldate is ons enigste hoop op dié stadium. Ek en die hele wêreld plaas ons volle vertroue in julle.”
“Meneer, ons is net drie mans!”
“Nee,” antwoord hy ferm. “Julle is drie supersoldate! Gaan nou en raak ontslae van hierdie ongenooide gaste!”
’n Idee wat moed en dapperheid verg, begin in die generaal se gedagtes gestalte kry. Hy roep die mans nader.
“Ons kan nie net inbars en die kern probeer vernietig nie! Ons is net drie,” antwoord korporaal Miller.
“Ons het geen ander opsie nie. Om aan die deur te gaan klop, is die beste plan wat ons sover het. Sien jy enigsins dat ons strategiese planne werk?”
“Nee, maar … ”
“Presies! Ons gaan voort met generaal Fenix se plan!”
Die groep mans vertrek met een doel voor oë: om die kern te vernietig.
Na ’n dag se reis kom hulle op ’n groot groep mans af wat bereid is om enigiets te doen om van die Radons ontslae te raak. Die manskappe vermeerder vinnig tot tweehonderd en die plan word aan hulle voorgelê. Twee dae later kom hulle uiteindelik by die vyand se kamp aan, waar die kern bewaar word.
Geweerskote word van orals op hulle afgevuur, bomme ontplof en dit laat die grond rondom die soldate soos vulkaniese uitbarstings lyk. Koeëls vlieg deur die lug. Daar is lewensverlies aan albei kante.
Terwyl die geveg voortduur, dring die generaal en sy twee soldate saam met vier ander mans na die kern deur. Die kern word goed bewaak deur sowat sewentig Radonsoldate.
Sommige bomme word vasgemaak aan ’n belt en afgesit deur ’n pennetjie uit te trek.
“Generaal, gee vir my ’n belt. Ek sal probeer om ’n lans te breek sodat julle die kern kan opblaas.”
Generaal Fenix is onwillig om in te stem, maar na ’n lang gesprek gee hy toe. Die man wat sy lewe vir die ander wil gee, is relatief oud. Hy het niks oor om voor te lewe nie – hy’t sy hele familie in die oorlog verloor.
“Nou maar goed, op drie tellings. Een, twee, drie!”
Die man hardloop vreesloos vorentoe met die bombelt stewig om sy middel. Hy trek die pennetjie uit en neem twee-en-dertig Radonsoldate saam met hom die ewigheid in.
Generaal Fenix maak gebruik van die gaping en gooi ’n bom in die rigting van die kern. Siende dat dit elke Radonsoldaat se plig is om die kern te beskerm, probeer hulle almal gelyktydig die bom keer. Te laat. Die bom ontplof en die kern word vernietig.
Mettertyd normaliseer die aarde se waterbronne weer. Die Radons (reuserenosters op twee bene wat kan praat) is besig om in groot getalle uit te sterf, want die chemiese stof wat hulle nodig het om te oorleef, is saam met die kern vernietig.
Korporaal Anton Miller sneuwel saam met ’n tiental soldate in die laaste groot veldslag. Maar as dit nie was vir die heldedaad van ’n onbekende man wat bereid was om sy lewe vir die res van die wêreld te gee nie, sou die aarde en die ganse mensdom sterf.

