WF 2012: Hulpkreet na Aarde

  • 0

Jou eerste herinneringe aan jou ouers speel ’n kritieke rol in jou ontwikkeling. My eerste herinnering was dié aan ’n koue, bewolkte lenteaand. Ek was maar net ’n paar uur oud toe ek die bevelvoerder hoor sê dat ons nou net deur Aarde se atmosfeer gebreek het en dat ons binne die volgende 40 minute in Pretoria, Gauteng, sal land.

Sien, ek is ’n ruimtewese. My ouers werk albei vir die Marsregering,  en ek was, wel, onbepland. Hulle enigste oplossing vir die “probleem” was om my deel te maak van die VPAP, die Verken Planeet Aarde Projek. Die ooreenkoms was dat hulle my weer op 27 September 2012, op my sestiende verjaardag, sal kom haal. Ek sou dan my ondervinding op Aarde met my mede-Mars-inwoners deel. Ons ruimtetuig was leeg en koud. Die klank van voetstappe het in die hol gange weergalm.

Met ons aankoms by Unitas Hospitaal het die bevelvoerder die ultraviolet-suigbuis gebruik om die pasgebore baba uit die suster se arms te raap en my in haar arms te plaas. Die suster was baie moeg en oorstuur en het net haar kop geskud. Sy’t die babadogtertjie na haar “ma” geneem. So het dit gebeur dat ek my Aarde-ouers, Johan en Louise, aangeneem het.

My Aarde-ouers was verstom oor hul klein dogtertjie se intelligensie, veral omdat ek ’n blondine is. Ek het op ses maande al begin loop, my beentjies goed ondersteun deur  Aarde se aantrekkingskrag. Op 13 maande kon ek Smash Mouth se “Walking on Sunshine”vlot sing. Almal in die familie en buurt was verstom, en het nuuskierig by my ouers antwoorde gesoek. Hulle was egter net so oorbluf en het met die verskoning gekom dat ek net té uniek was om in woorde te omskryf. Menige kere wou ek al die geheim met my ouers deel – daar was soveel onverklaarbaarhede omtrent my.

Laerskool was verskriklik, ’n hartverskeurende proses. Kinders het my links en regs vermy en gereeld vir my gesê dat ek abnormaal was. Onderwysers het hulle bes probeer om my te akkommodeer. Volgens hulle het sommige Aarde-kinders net meer geduld nodig. Tog was ek dikwels in trane omdat ek nie kon inpas nie. Die trane wat gestort is, was betaling vir my regte ouers se selfsug. Naweek na naweek stoksielalleen op ’n vreemde planeet, waar niemand verstaan wat diep binne my besig was om te gebeur nie.

Anders as Aarde-kinders het ek nie gerebelleer en begin eksperimenteer met die verkeerde dinge nie. O nee, ek het al te goed geweet dat die wiel sal draai. Hoërskool was ’n fees ... Wel, die twee jaar wat ek beleef het. My intelligensievlakke was nou redelik gelyk met dié van die snotkoppies om my. Dit was egter hier waar ek my twee boesemmaats ontmoet het. Hulle kon verby my glimlag sien, tot in my siel wat huil. Ek het by hulle ingepas en ek het besef dat ek my geheim nie meer vir myself kon hou nie. Die aap was uit die mou! Hulle reaksie was ... oorweldigend! Volgens hulle was ek die beste en oulikste “gedroggie” sedert ET! Ons het ons spesiale konneksie behou en die tye saam met hulle was onvergeetlik. Hulle het my geleer van mal wees, kalm wees en sorgvry wees. Lewenslesse soos: “Ware vriende het jou lief vir wie jy is” het ek by hulle geleer. Ek was in die wolke oor my nuwe maats.

In 2012, tien dae voor my verjaarsdag, besef ek dat ons tyd so te sê verstreke was. Trane het gevloei soos die Vaalrivier; ons tyd van sorgvry wees was amper op ’n einde. Ons het gelag vir vreemde voorvalle, soos juffrou Karin se deurmekaar hare en meneer Gouws se snaakse loopstyl. Ons het met onbekende mense gesprekke gevoer asof ons hulle al jare ken. My beste herinnering was toe ons kindergesiggies opgehelder het met ’n lekker tjoppie op Nasionale Braaidag.

Met net drie dae oor was ek benoud. Wat sê ek vir my Aarde-ouers? Hulle is vir my ’n heenkome van liefde. Hoe sê ek totsiens? Hoe oorleef ek sonder die warmte van hulle menslike drukkies? En die soet geur van hulle soene? Daar was één oplossing. Ek moes myself verset teen my sogenaamde regte ouers. Ek het my Aarde-ouers vertel en saam met my twee beste vriendinne het ons aan ’n plan gedink om VPAP stop te sit.

Die dag het aangebreek. Ek het rillings gekry aan bloot die gedagte van ’n koue ruimtetuig. Teen 20 minute voor 11 het ek die eens bekende piep-piep-geluid gehoor en ek het geweet dit is tyd. My ma het uit die tuig geklim met haar hoëhakskoene en nuwe kêrel aan haar arm. Die vrou wat voor my gestaan het, het ’n suur uitdrukking op haar gesig gehad. Ek het my geskaam oor die feit dat ek aan haar verwant was. Ek het haar gegroet en sy het my die sein gegee dat ons nou moes vertrek, maar my woorde was ferm en koud aan haar: “Nee.” Sy was verbaas, en my Aarde-ouers het haar goed laat verstaan dat ek nêrens heen op pad was nie. Sy was gereed om die bevelvoerder te roep vir bystand toe ek begin snik en sê dat sy my dit na sestien jaar skuld om ten minste één keer na my gebroke hart te luister! Ek vertel haar van die geluk in my hart as ek in die oggend wakker word en ek weet dat ek op Aarde is. My woorde was skaars koud toe ek besef hoe kwaad sy werklik kan word. Sy het my aan my arm gepluk en sonder ’n totsiens weggeneem, terug Mars toe.

Daar het sy my opgesluit in die donkerste donker gat waar nie eens molle hul weg sou vind nie. ’n Sonstraal is nou iets waaroor ek net kan droom …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top