Ek was altyd die unieke een. Die bleeksiel van die groep. Niemand wou met my meng nie. Ek het ook nooit ’n meisie gehad nie, en soos in al die skole is dit die “in”-ding om ’n meisie te hê as jy in graad elf is.
Ek was baie geïnteresseerd in rekenaartegnologie by die skool. Dit is al wat my dag opwindend gemaak het. Die periodes IT by ou meneer Doppies. Ek was sy topstudent, met ’n persentasie van altyd in die negentigs. Mense het my onderskat, hulle het my ’n nikswerd genoem en hulle het my misbruik, tot die dag wat ek besef het: Ek is beter as ’n ou gebruikte, uitgerekte vloerlap.
Ek het agter begin raak met my skoolwerk – nie dat ek regtig voor was nie, maar ons laat dit daar. Ek het tot die onderwysers hoor sê ek rebelleer. Maar ek belowe dit was nie waar nie. Ek het iets ongeloofliks ontdek en ek was besig met ’n baie groot en belangrike projek. Ek was besig om ’n sosiale netwerk te skryf. Ek het toe nog nie geweet wat sy naam gaan wees nie, en iets so groot het ’n naam nodig, maar dit het my glad nie gepla nie.
My ma is ’n lugwaardin, so sy is nie regtig baie by die huis nie, en my pa is al oorlede toe ek sewe jaar oud was. My ma het vir ’n naweek huis toe gekom nadat sy vir drie weke lank weg was. Ek het vir haar gesê dat ek besig is om ’n sosiale netwerk te skryf. Sy het my sommer dadelik ingeboek by ’n rehabilitasiesentrum. Ek was diep seergemaak, en ek het na die sentrum toe gegaan net om weg te kom van my ma af. Vir drie weke lank moes ek hoor dat ek net droom, dat ek nooit so iets sal doen nie, ensovoorts. Maar in my kop het ek die volgende stap beplan vir wanneer ek by die huis kom, sodat ek dadelik kon wegspring met my program. Soos hulle sê, ek het gehoor, maar niks geluister nie.
Toe ek uiteindelik by die huis kom, was my ma klaar weg. Sy het vir my ’n brief gelos, maar ek het nie eers die moeite gedoen om dit te lees nie. Ek was al sewentien, so ek was oud genoeg om alleen te bly. Ek het dadelik na my kamer toe gegaan en aangegaan met my projek. Dit was ’n maand, toe twee, toe drie; toe verander dit na ’n jaar, toe twee, toe drie. Ek het glad nie skool toe gegaan nie. My matriekjaar het ek gemis, maar ek het my nie te veel daaraan gesteur nie. Na drie jaar se werk, werk, werk was ek uiteindelik klaar.
Ek wou vir so baie mense vertel van my uitvindsel, maar niemand wou luister nie. Ek het al daaraan begin dink om als net uit te vee, om die program te ruïneer toe ek ’n pamflet sien van ’n ekspo wat in die dorp gehou gaan word. Ek het dadelik al my papiere en inligting reggekry, en die volgende dag is ek ekspo toe. Daar het die beoordelaars vir my gesê dit is absoluut absurd. Maar … ’n ou man, seker so in sy sewentigs, het my projek baie interessant gevind. Hy was ’n baie welgestelde omie en hy het gesê dat hy my die geld sal gee om die projek te begin.
Ek het dit reggekry! My projek is uitgetoets met die geld wat my weldoener en ’n paar ander weldoeners vir my gegee het. Hulle was mal daaroor en soos skinderstories kan versprei, het die nuus deur die strate gevlieg. Meer mense wou die netwerk uittoets. Ek het dit op die wêreldwye web gesit en binne twee dae het een miljoen mense dit al afgelaai. Ek het dit Facebook genoem, en wat ’n sukses is dit nie.
Ek is nou twee-en-dertig jaar oud. Ek is getroud en het twee pragtige kinders. En raai wat? Ek het nog steeds nie matriek agter my naam nie. Ek hou nie regtig daarvan om te spog nie, maar met die groot sukses wat my sosiale netwerk behaal het, kan ek die weldoeners wat my met die nodige fondse gehelp het, tien keer terugbetaal, plus rente.

