WF 2012: Die gekose een

  • 0

Ek is die gekose een.

Dekades gelede het alles begin verander. Die Morkane het geleidelik na die aarde gekom en tussen ons begin woon. Aan die begin het hulle maar net normale lewens gelei soos wat ons het. Hulle het topposisies beklee en begin verstaan hoe die mens leef en werk. Toe neem hulle oor.

Hulle het ons in een land met behulp van propagandaveldtogte vasgekeer. Hulle wou beter beheer oor ons bewegings en voortplanting hê. Die wêreld se bevolking is in ’n dekade verminder tot dié van een land. Hulle het elke beweging van ons dopgehou en in elke maatskappy of besigheid was daar ten minste drie van hulle.

Mense het verdwyn. Spoorloos. Die mense het in vrees gelewe dat een van ons dalk die volgende kan wees. Daar was geen waarskuwing nie. Almal het nie dieselfde tekens gehad nie. Party het klein knoppies op hul lywe gehad. Ander het weer gevoel of hulle rooimiere het. Ander het dit glad nie sien kom nie. Eendag sou hul net nie meer daar wees nie. Niemand het geweet hoekom dit gebeur het nie. Daar kon nie toetse gedoen word op die mense nie, want niemand het geweet waarheen hulle gaan nie. Dit is vandag nog ons realiteit, maar die onsekerheid stop by my.

Ek word wakker. Vaagweg onthou ek wat twee weke gelede met my gebeur het. Eers dink ek dis vreemd dat ek dit nou onthou, maar soos die prentjie duideliker word, verstaan ek. Hulle het my gekies. Hulle het iets onder my vel ingeplant en gesê ek kan geëerd voel. Hulle het gesê dat net die perfekte mense gekies word. Ek onthou dat hulle gepraat het oor die goed wat my van binne af sou opvreet as hulle uitbroei. Ek het probeer wegkom. Iemand het gesê dat dit tyd was om my geheue uit te wis, en toe was dit donker.

Iets moes skeefgeloop het, want my geheue is nooit ten volle uitgewis nie. Vir die eerste keer vandat Zeblonk oorgeneem het, maak alles sin. Hulle gebruik mense sodat hulle spesie kan voortbestaan. As hierdie monsters se eerste voedsel, eet hulle die gashere op. Niemand weet hiervan nie, en niemand sien dit kom nie, want hulle geheue oor die inplanting word uitgewis. Hulle plan het tot nou toe nog nooit skeefgeloop nie, en hulle besef dit nie. Hulle gaan ook nie.

Daar is geen manier om hierdie gruwelike dood te voorkom nie, en dit besef ek gou. Niemand weet hiervan nie. As ek dit probeer uitsny, sal ek doodbloei en ek sal nie eens weet of ek almal gekry het nie. Hoe vinnig versprei hulle in twee weke? Hoe lank vat dit voordat hulle begin uitbroei? Eet hulle stadig na buitentoe, of is dit ’n vinnige dood? Waar begin ’n mens om die oplossing te kry?

Dae en weke gaan verby en elke moontlike oplossing eindig in ’n doodloopstraat. Geen kosse of plante of chemikalieë het vreemde reaksies met my liggaam nie. Hierdie monsters het geen allergieë nie. Ek weet nie of ’n mens die goed kan aborteer nie, maar niks gebeur toe ek teen die trappe afval nie. Alkohol werk nie en ook geen medisyne nie. Adrenalien doen ook niks daaraan nie, maar ek sweer ek sal iets hieraan doen voor ek sterf.

Die enigste oplossing wat oorbly, is om op ’n ander manier te sterf. Ek besluit om hierdie geheim te openbaar en my lewe en dood betekenis te gee. Ek weet om die Morkane met die waarheid te dreig, sal nie werk nie, want hulle sal dit net ontken en van my ontslae raak. Dit is tyd om al die sosiale netwerke tot my voordeel te gebruik.

Ek beplan alles haarfyn en sorg dat hulle nie weet waarmee ek besig is nie. Alles moet op dieselfde tyd gebeur. As ek hulle een-een probeer waarsku, gaan die Morkane my keer. Ek skaf ’n klomp rekenaars aan en pak dit op ’n tafel in my woonstel uit. Op elke rekenaar gaan ek op ’n ander netwerk in en tik die volle storie. Aan die einde druk ek “enter” en alles word dadelik gestuur. Ek wag. As die monsters nie in die volgende uur uitbroei nie, gaan die Morkane my kry.

In my laaste oomblikke weet ek ek is die gekose een. Ná my lewe en dood sal die wêreld soos ons dit nou ken, nooit weer dieselfde wees nie.

                                                         

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top