Gustaf Pienaar: Regsalmanak | Columns

 
Wanneer iets wat jy nie gedoen het nie, jou in die moeilikheid laat beland

Op ’n wintersdag in 1967 was ’n aantal werkers op ’n spoorwegstasie iewers in Natal besig om sementpype van ’n vragmotor af op ’n spoorwegtrok oor te laai. Die vragmotor het sy eie hyskraan gehad, met ’n ketting wat telkens vasgemaak is om die pyp wat oorgelaai moes word. Die ketting is ook deur die helper op die spoorwegtrok gebruik om die pyp netjies in posisie te trek alvorens dit laat sak is.

Bokant die spoorwegtrok was daar ’n elektriese kabel wat normaalweg ’n stroom van 3 000 volt gedra het. Terwyl die laaiery aan die gang was, was die krag egter afgeskakel.

Gedurende die middagetepouse het ’n spoorwegamptenaar daar aangekom en vir een van die werkers, ene mnr Russel, gesê dat die krag in die oorhoofse kabel aangeskakel sou word omdat hulle rangeerwerk op daardie trajek wou doen. Hy sou laat weet wanneer dit weer veilig sou wees om met die laaiery voort te gaan. Russel het gesê dis goed so, waarna die krag aangeskakel is en die rangeerwerk begin het.

’n Rukkie later het die hyskraanoperateur, ene mnr Mostert, daar aangekom. Hy was onbewus daarvan dat die krag in die oorhoofse kabel aangeskakel is terwyl hy weg was vir middagete, en Russel het versuim om hom te sê. Mostert het die hyskraan aangeskakel en voortgegaan met die laaiery. Met die laai van die derde pyp het die bopunt van die hyskraan aan die lewende kabel geraak. Daar was ’n geweldige vonk en een van die helpers op die spoorwegtrok - wat juis op daardie oomblik besig was om die pyp met behulp van die ketting in posisie te plaas - het inmekaargesak en ’n rukkie later vanweë die elektriese skok beswyk.

Russel is in die plaaslike landdroshof weens strafbare manslag aangekla - met ander woorde dat hy die helper se dood op ’n nalatige wyse veroorsaak het.

In die meeste gevalle waar mense in ons howe van strafbare manslag aangekla word, is dit omdat hulle iets positief gedóén het wat hul in die moeilikheid laat beland het. Iemand ry byvoorbeeld nalatig met ’n motorkar, ’n botsing volg en ’n insittende word gedood. Of iemand is onverskillig met ’n vuurwapen, ’n skoot gaan af en ’n omstander word noodlottig verwond. So kan ’n mens die voorbeelde vermenigvuldig.

In Russel se geval is hy egter nie daarvan aangekla dat hy iets positiefs gedóén het nie; hy het juis versúim om iets positief te doen, naamlik om vir Mostert te sê dat die krag intussen aangeskakel is. Die landdros was tevrede dat hy skuldig was aan strafbare manslag en hy is gevonnis tot ’n boete van R100 of 100 dae gevangenisstraf.

In daardie jare was dit nogal ’n stywe vonnis en daarom het die saak op 12 Julie 1967 – vandeesweek 45 jaar gelede - op outomatiese hersiening voor twee regters van die Hooggeregshof in Pietermaritzburg gedien. Na ’n sorgvuldige oorweging van die feite beslis die hof1 dat Russel, deurdat hy die boodskap van die spoorwegamptenaar aanvaar het, ’n potensieel gevaarlike toestand geskep het wat ’n regsplig op hom geplaas het om sy medewerkers van die lewende kragdraad te waarsku. Sy versuim om dit te doen was sonder twyfel nalatig, en dit het direk tot die helper se tragiese dood gelei. Russel se skuldigbevinding en vonnis is dus bekragtig.

Dis die soort verhaal wat ’n pa vir sy kind, of onderwyser vir sy klas, of ’n werkgewer vir sy werknemers behoort te vertel. Nie alleen het Russel die dood van ’n medemens op sy gewete gehad nie, maar ook het hy nou ’n kriminele rekord gehad. As die helper wat doodgeskok is, afhanklikes gehad het, was Russel boonop blootgestel aan ’n eis om skadevergoeding weens hul verlies aan onderhoud. Vandag kan dit derduisende rande beloop.

[1]  S v Russel, 1967 (3) SA 739 (NPA)


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address