Menings | Opinions

 
Waar wetenskap kinderspeletjies is

’n Mens moet die Kaapstadse Wetenskapsentrum (CTSC) in Observatory besoek om dit te glo: klein en groot het vet pret. Met praktiese wetenskap-eksperimente? Toe Naomi Meyer ’n bus vol gelukkige hoërskoolleerders die plek sien verlaat, het sy kontak met Jani de Bruin, die skakelbeampte van die sentrum, gemaak en haar ’n paar vrae gevra.

Hallo Jani, ek lees op jou blog jy was ’n ruk gelede in Antartika. Hoe so? 

Ek was vreeslik bevoorreg om deel te wees van die 2009/10-somerekspedisie na SANAE IV, die Suid-Afrikaanse basis in Queen Maud Land, Antarktika. Die hoofdoel van my deelname was om die verskillende aspekte van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program (SANAP) te beleef en te sien hoe die Kaapstadse Wetenskapsentrum (toe nog die MTN Sciencentre) kan help om die publiek bewus te maak van die wetenskap wat daar gedoen word, asook om jong Suid-Afrikaners te motiveer om deel te word van die ongelooflike geleenthede wat die program bied.

Vertel asseblief vir ons lesers wat nog nie daar was nie, van die CTSC – die Kaapstadse Wetenskapsentrum. Wat vir ’n plek is dit?

Dit is altyd vir my ’n moeilike vraag om te beantwoord, want oor die algemeen het ons as Suid-Afrikaners nie iets in ons verwysingsraamwerk om dit mee te vergelyk nie. Oorsee is wetenskapsentrums vreeslik gewild en omtrent elke stad in die ontwikkelde lande het hulle eie wetenskapsentrum. Daardie lande spandeer ook miljoene dollar (en ponde en jen en euro) aan sulke sentrums. Maar kom ek probeer. Ek is bang om die woord “museum” te gebruik, want onmiddellik wil mens jou hande agter jou rug hou en net kyk, en dit is waar die verskil inkom – besoekers word juis aangemoedig om aan alles te vat, die knoppies te druk, slingers te draai, bakstene op mekaar te stapel en so deel te word van die ondervinding. Die grootse deel van die CTSC bestaan uit ’n versameling interaktiewe uitstallings wat basiese wetenskapbeginsels op ’n praktiese manier verduidelik, asook kopkrappers en ander interessante dinge. Kinders oud en jonk speel en leer só meer van hoe die wêreld werk. Van die uitstallings verduidelik byvoorbeeld hoe ’n vuurpyl werk, hoe ’n fiets regop bly om ’n draai en hoe dit voel om in die ruimte te sweef. Dan doen ons ook kurrikulum-gebaseerde werkswinkels vir skoolgroepe, asook werkswinkels vir onderwysers om hulle te verryk en te help met veral praktiese maniere van wetenskaponderrig. Ons bied ook gereeld praatjies aan vir die algemene publiek oor interessante dinge wat in die wetenskapwêreld gebeur, asook naweek- en vakansieprogramme met “science shows”, planetariumvertonings, werkswinkels en ander aktiwiteite.

Wáárom die wetenskapsentrum en op watter ouderdomsgroep is dit veral gemik?

Die CTSC is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag en was vir tien jaar bekend as die MTN Wetenskapsentrum terwyl MTN die hoofborg was. Daardie kontrak het aan die einde van 2010 tot ’n einde gekom, en ons het na ’n gebou in Observatory getrek wat baie meer toeganklik is vir almal, en nou is ons die Cape Town Science Centre. Die meeste CTSC-besoekers is tussen die ouderdom van ses en twaalf jaar, maar oumas en oupas geniet dit net so baie soos peuters en kleuters en almal tussenin. Noudat ons in Observatory is, het die aantal volwasse besoekers toegeneem – uiteindelik spandeer ouers die tyd saam met hulle kinders om te ontdek hoe die wêreld om ons werk. 

Gestel jy laat ’n deursigtige bottel op ’n draad bo in die lug vlieg, of jy sien ’n trein op spore loop, of kyk hoe water golwe maak, of druk knoppe op ’n groot telefoon, of laat ’n balletjie sy weg vind soos lig in ’n prisma bons, of ...? Dis heerlike pret, die kinders is mal daaroor. Maar leer hulle regtig iets wat hulle toerus? En waarvoor rus dit hulle toe?

Dis baie interessant om te sien hoe kinders van verskillende ouderdomme op verskillende uitstallings reageer. Elke keer as hulle die CTSC besoek, is daar iets anders wat hulle aandag trek. Ons hoor gereeld van ouers hoe die kinders in die kar op pad huis toe en by die huis om die etenstafel nie uitgepraat raak oor wat hulle gesien en beleef het nie. En omdat baie van die uitstallings beginsels verduidelik wat hulle in die klaskamer leer, maak dit net soveel meer sin teen die tyd dat hulle dit uit ’n boek moet leer. 

Daar is orals verwysings na die SKA by die CTSC. Wat is julle betrokkenheid hierby?

Die CTSC is ’n platform vir die kommunikasie van wetenskap en tegnologie, en so ook ’n skakel tussen wetenskaplikes en die man op straat. Dis ’n plek waar ons wil spog met die wetenskap wat ons as Suid-Afrikaners doen, en ons hoef glad nie vir die res van die wêreld terug te staan nie. Ons is trots op die SKA en ná die aankondiging dat die grootste deel van die teleskoop wel in Suid-Afrika gebou gaan word, het baie mense baie vrae. Die CTSC is die plek waarheen hulle kan kom met hulle vrae, sonder om geïntimideerd te voel deur wetenskaplikes. Ons probeer alles op so ’n manier weergee dat mense gou verstaan waaroor dit gaan, en dan ook verwysings gee na waar hulle meer inligting kan kry, sou hulle belangstel. 

Dink jy die SKA gaan vandag se skoolkinders baat, of dink jy dis soos ek in die koerant gelees het: daar sal werk geskep word rondom die oprig van die infrastruktuur, maar langtermynwerksgeleenthede is bespiegelbaar?

Benewens die direkte werksgeleenthede met die oprig van infrastruktuur, is net om so ’n reuse internasionale projek in ons land te hê, waardevol vir almal – maar ons moet daaroor praat, ons kinders moet daarvan weet en ook trots wees daarop. Dan moet hulle vrae vra, en maniere soek om daardie vrae te beantwoord. As ons ’n kultuur van wetenskap in ons land kan bevorder sal ons kinders vir seker op lang termyn daarby baat.

My vyfjarige seuntjie vra my allerhande vrae, soos: As ’n motor petrol drink, hoe werk dit dat dit hom laat ry? Hoe werk straatligte? Sou jy sulke soort vrae beskryf as “toegepaste wetenskap”-vrae? Of wat verstaan jy onder “wetenskap” – suiwer sowel as toegepas?

In my skooldae was my ervaring van wetenskap bloot teoreties, tweedimensioneel in ’n handboek, en dood. Deesdae is wetenskap vir my baie meer oor wat elke dag om ons gebeur en hoe en hoekom – dus meer toegepaste wetenskap. As mens daaroor begin dink, besef mens jy kan jouself nie losmaak daarvan nie – daar is wetenskap in alles. Suiwer sowel as toegepaste wetenskap is egter belangrik, en inmekaar verweef – mens het die suiwer teorieë en denkwyse nodig sodat die alledaagse sin maak.

Ek lees dit orals raak die afgelope tyd: wiskunde en wetenskap is belangrike vakke. Is dit die waarheid En indien wel, hoekom?

Alles draai tog rondom wiskunde en wetenskap, so ja, dis uiters belangrik. Dit is eintlik vreeslik praktiese vakke, want mens kry elke dag daarmee te doen sonder dat mens dit besef. Maar dit beteken nie dit is nie dis ’n vakgebied vir almal nie – belangstellings verskil en daar is soveel eksterne faktore wat kinders motiveer om belang te stel of nie. 

Kan enigiemand goed vaar in wetenskap? Of het party mense meer natuurlike belangstelling daarin, gee meer aandag en kry beter punte?

Soos met alle vakke en belangstellings is wetenskap meer natuurlik vir sommiges. Mens kry mos maar oral daardie studente wat niks hoef te swot nie en goeie punte kry, waar ander ure voor die boeke moet deurbring om deur te skraap. Ek glo wel dat plekke soos die CTSC kinders se natuurlike nuuskierigheid en belangstelling prikkel, sodat daardie leerwerk nie so erg is nie. Die “aha”-oomblik kom ook makliker waar hulle deel word van die beginsels en dit op ’n praktiese, interaktiewe manier sien gebeur. Soos Frank Oppenheimer, wat die Exploratorium in San Francisco begin het, gesê het: "Nobody ever flunked a science museum.”

Wat is vir jou interessante aspekte van die wetenskap – in enige van sy vorme en gedaantes?

Presies dit. Die feit dat daar soveel vorme en gedaantes is. Dat mens enige plek kan gaan en enigiets probeer doen, en wetenskap is daar. Natuurwetenskap en lewenswetenskap, tegnologie en vernuwing – dit is waarvan die wêreld aanmekaargesit is! 

In Belfast is daar die W5, in Dublin is daar Imaginosity , in Londen is daar die Science Museum. Maar dis oorsee. In Kaapstad die Cape Town Science Centre. Wat van kinders wat nie in die Kaap woon nie – weet jy van ander dorpe en stede in Suid-Afrika wat soortgelyke plekke as die Kaapstadse Wetenskapsentrum huisves?

Glo dit of nie, maar daar is 30 wetenskapsentrums in Suid-Afrika! Die meeste van hulle is egter klein besoekersentrums en deel van observatoriums of universiteite wat fokus op georganiseerde besoeke, maar daar is ook wel ’n paar groter sentrums soos die CTSC wat oop is vir die algemene publiek oor naweke. Sci-Bono Discovery Centre in Newtown, Johannesburg is die grootste; Sci-Enza op die Tukkies-kampus is die oudste; en dan is daar ook onder andere die KZN Sciencentre in die Gateway-winkelsentrum in Durban, UniZul Science Centre in Richardsbaai, en die Nelson Mandela Bay Science and Technology Centre in Uitenhage. 

As mens nie by ’n wetenskapsentrum kan uitkom hierdie vakansie om enige van die vakansie-aktiwiteite by te woon nie, kan jy aan wetenskaplike eksperimente of aktiwiteite dink wat kinders tuis kan doen?

Daar is boeke vol maklike eksperimente wat kinders tuis kan doen, met items wat hulle sommer in ma se kombuiskaste kan vind. Daar is ook baie eksperimente en idees op die internet.

Vir nog inligting oor die CTSC se vakansieprogram, besoek ons webwerf.


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address