
Vol draadwerk
Marius Crous
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-86919-766-7
Koop Vol draadwerk op Kalahari.com
Met die eerste oogopslag tref Marius Crous se derde bundel, Vol draadwerk, die leser vol in die gesig: dié interessante voorblad van ’n manlike torso gewikkel in doringdraad prikkel dadelik die leser se nuuskierigheid. Saam met die titel, Vol draadwerk, ‘n uitdrukking wat volgens die HAT verwys na ’n persoon wat aanstellerig voorkom of vol nukke is, laat dit die leser wonder wat agter die voorblad skuil.
Crous debuteer in 2003 met Briewe uit die kolonies, waarvoor die UJ-debuutprys aan hom toegeken is. Drie jaar later verskyn Aan ’n beentjie sit en kluif, waarin Crous onder andere dig oor onderwerpe soos kannibalisme, ontbinding van die menslike liggaam en die homoërotiek. ’n Beduidende aantal jaar het Crous se jongste bundel voorafgegaan en Vol draadwerk toon ’n duidelike groei in sy digterskap. Dit bevat ’n ryk skakering van gedigte wat allerlei temas aanroer, maar tog as geheel ’n hegte eenheid vorm.
Die bundel bestaan uit ses afdelings wat onder andere gedigte oor Griekse en Romeinse mitologiese figure, oor literêre figure soos Angela Carter, oor Port Elizabeth sowel as homoërotiese gedigte bevat. Intertekstuele verwysings resoneer deurgaans. Die eerste afdeling bevat gedigte soos “Um schlimme kinder artig zu machen” (12) en “My ma se handsak” (14), wat met onderskeidelik Gustav Mahler, Marlene Dumas en Ruth Fainlight (foutiewelik as “Fairlight” aangegee) in gesprek tree. Crous se voorliefde vir die gebruik van humor en sarkasme in van sy gedigte kom veral in laasgenoemde gedig voor waar die rol van die ma met die rol van ’n fopdosser vervang word:
met ongeskeerde borskas gladde bene
’n bloes tot in die kuiltjie toe
fop ek die gesinne met vakansie
wat na freak shows soek
in die stad se pienk kwartier. (14)
Die sterk invloed van akademici soos Julia Kristeva, Jacques Lacan en die psigoanalis Sigmund Freud skemer deurgaans in van die gedigte deur. Die gedig “Gesonke katedraal” (9) sluit veral sterk aan by Kristeva se teorie omtrent taalgebruik wat met die Chora geassosieer kan word:
die katedraal sak af in die water
soos valstande in ’n glas wit grimas van steen
uit ruite en deure
van gate en opening
van kantelende kandelare
altare wat oopkraak onder die water
die kruis wat wieg soos seebamboes
losgehaak tussen die dobberende mariabeelde
wanneer hy neergeplof het op die rug van die see
sal ek in en uit by hom kan swem
sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy
nog kan hoor.
Die sterk teoretiese assosiasies en verwysings na die Griekse en Romeinse mitologiese figure in sekere gedigte, soos veral in die tweede afdeling van die bundel, beperk egter die toeganklikheid van sommige gedigte vir lesers wat nie met mitologiese figure vertroud is nie. Ten spyte hiervan is die gedigte in die eerste twee afdelings fyn afgewerk en word elke woord besonder ekonomies aangewend.
Die derde afdeling is een van die hoogtepunte in Vol draadwerk. In hierdie afdeling fokus die digter spesifiek op bekende bakens in Port Elizabeth, ’n hawestad waaroor daar nog nie baie in Afrikaans gedig is nie. Crous se besonder fyn waarnemingsvermoë stel die leser in staat om die bakens te kan visualiseer sonder dat voorkennis van die betrokke bakens nodig is. Die gedigte “Campanile” (37) en “Elizabeth Donkin” (39) is van die raakste beskrywings van die omgewing waarin die bakens hulle bevind. Die digter beskryf die Campanile, ’n monument wat opgerig is ter nagedagtenis van die 1820- setlaars, soos volg:
aangedaan die nasate van die setlaars
by die onthulling van die campanile
cleopatra se naald in afrika
vir die vier van fyn beskaafdheid
die handhaaf van die koningin se taal
hier onder die dryfhoutdun trappe en tussen die roes
lewe nog net die kakkerlakke
hier in die sarkofaag vir die setlaars
die kloktoring sonder wysters
pouseer reisigers en kerf hulle sinspreuke
uit teen die wande:
Ricardo smaaks ruweida
One settler one bullet
Campanile vile bile pile
Jou engelse ma se poes.
Verdere gedigte oor bakens soos Schoenmakerskop (35), Vanstadensrivier (38) en die Pine Lodge (“Reënbui, Pine Lodge”) (36) neem die leser op ’n denkbeeldige reis van die “winderige” stad.
Crous bring ook hulde aan figure soos Helen Martins (46), bekende kunstenaar van Nieu-Bethesda se “Uilhuis”, asook ’n drietal gedigte oor die lewe van die wiskundige en filosoof Ludwig Wittgenstein in “Wittgenstein-siklus” (47):
in die kloostertuin praat Wittgenstein
in ’n privaatsaal met sy plantebespeur hy in die rye plantjies
’n logiese patroon soos in die stelsinso het ek die vuurstoker gegooi na popper
wys hy met ’n stok vir die aben met sy vingers om die onkruid
rangskik hy sy gedagtes oor die liefde.
Die laaste afdeling bestaan uit ’n aantal gedigte wat oor die homoërotiek handel. Gay-seks, -liefde en -fantasieë word besonder akkuraat omskryf. Crous se besonder fyn aanvoeling vir die aspekte waarmee gay mans en vroue amper daagliks omgaan, word in elke gedig keurig verwoord. In “Gaydar” (70) word die gay man se soeke na liefde uitgebeeld:
net die son raak my nog aan
af en toe die skuur van arm teen arm
in ’n winkelsentrum of die hysbak
of in die nag my vereduvet my vingerstoe hy op my skouer tik
het ek in sy vingers reeds kon voel
hoe hy ’n sms sou tik
tot lof van vriendskap
in sy glimlag bo sy blonde baardjie
kon ek klaar sien hoe hy my gaan groet
soos ’n sakekennis by die inweegtoonbank.
Crous se gay-gedigte hou beslis kers vas by die werk van digters soos Johann de Lange en Joan Hambidge. Dié gedigte ontlok allerlei emosies by die leser – van skreeulaggend snaaks tot besonders somber.
Vol draadwerk is ’n noemenswaardige bydrae tot die Afrikaans poësie-oeuvre. Ten spyte van die sterk akademiese inslag wat soms in die bundel voorkom en vir sommige lesers problematies kan wees, is die meerderheid gedigte toeganklik. Die bundel raak ’n ruim verskeidenheid temas aan waarby menige leser aanklank sal vind. Met Vol draadwerk het Crous homself weer eens as ’n gerekende digter bewys.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

