Vlieg

  • 0

Dit is 12:48 en Stevie Trollip het so pas weer tot bekering gekom.  Die vliegtuig is skaars  twee minute in die lug en Stevie trek al by sy vierdejammer, sy derde gelofte en sy sewende amen.    Binne die laaste dertig sekondes het hy al diepe berou uitgespreek oor die lees van altesaam nege fortuinkoekies, vier en twintig uitgeblaasde verjaardagkersies wat met vier en twintig ydele wense gepaard gaan, sowel as een onwelvoeglike gedagte oor die hooflugwaardin aan diens op vlug BA 2446 vanaf Johannesburg na Kaapstad.  Tydens elke vlaag turbulensie voel hy opnuut toegewy.  Sy oortuiging dat die histeriese baba op die skoot van die tingerige vroutjie in sitplek 17D oor sekere profetiese gawes beskik, wyk nie vir ’n oomblik nie.   Na die hoeveelste aandrang van die tante in die sitplek langs hom, eet hy sy komplimentêre vrugteslaai.  Hy dink aan die lughawe.  Aan hoe alles eintlik in een rigting beweeg.  Hy dink aan die worshond met sy stertjie tussen sy bene in ’n geel plastic dra-hokkie op die vervoerband.  Hy wonder waar die hond hom tans bevind.  Of die hond ook bang is.  Hy wonder oor die moontlikheid dat die hond selfs nou loodreg onder hom sit.   Hierdie dinge betrag Stevie op ’n vlieghoogte van twee en twintig duisend voet bo seespieël teen agt honderd vier en vyftig kilometer per uur  terwyl hy merk hoe baie huise in Johannesburg swembaddens het.

Toe die vliegtuig suksesvol land en Stevie, behalwe vir ’n ligte kopstamp teen die boonste bagasiekompartement, ongedeerd uitklim, word sy hande weer syne. Die sweet in sy palms verdamp en met elke tree leer hy opnuut hoe om sy arms te swaai. 

Met sy terugkeer oor twee dae sal Stevie Trollip op ’n vliegtuig vanaf Kaapstad na Johannesburg binne die eerste drie minute van vertrek weer tot bekering kom.  Hy sal sy diepe berou uitspreek oor die raadpleeg van ’n besonder aantreklike palmleser in Langstraat,  ’n onvanpaste opmerking oor die styl van ’n swemmer met sekere ooglopende fisieke tekortkominge en die eet van ’n bedreigde visspesie.  Hy sal vaagweg die worshond op sy vorige vlug onthou voor hy aan die slaap raak en nie gou genoeg wakker word om sy sitplek regop te skuif vir nog ’n perfekte landing nie.

 

Lees ’n onderhoud met Alida Eloff hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top