Vir Thys en Brian oor die Wetenskap

  • 2

Dag here

Julle kommentaar onderaan my brief 'Die Wetenskap' van 23 Oktober verwys.

Thys, jy's heeltemal reg as jy 'n " ... vraende, dalk selfs twyfelskeppende houding teenoor die wetenskap ..." by my merk. Ek bevraagteken als en die wetenskap, synde 'n groeiende versameling van mensekennis, is bevraagtekenenswaardig. Partykeer groei dit in 'n verkeerde rigting, partykeer word feite wat ontdek (teenoorgestelde van 'be-dek') verkeerd interpreteer en vele male word resultate gekook. (Terloops, een dag in fisika-prakties beskuldig ene dr Dormehl – 'n baie mooi maar befoeterde vroumens – 'n ou daarvan dat hy gekook het en hy hou vol hy het nie, oor en oor. Uiteindelik, briesend, gryp sy 'n stuk papier en met die pen gereed sis sy "Naam!?" En die ou gee toe sy naam, "De Koker." Toe is sy nou éérs woedend maar dit was die waarheid, die ou was Gert of Piet of iets de Koker).

Brian, met 'streng' bedoel ek wat die Engelse 'rigorous' sou noem.

Groetnis

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Bevraagtekening is ’n baie goeie ding, maar dan moet dit gedoen word op grond van feite of kundigheid of nuwe kennis wat bestaande feite of vertolkings bevraagteken en nuwe of verbeterde gevolgtrekkings daarmee wil bereik.

    As enigeen bv. die huidige redelik algemeen aanvaarde teorie van die oerknal (of beter gestel: oeruitdying) wil bevraagteken, sal hulle dit op grond van nuwe waarnemings en feite moet doen. Blote bewerings dat metings van die rooiskuif foutief is of dat die agtergrondbestraling net ’n meting van ’n baan warm lug ’n paar kilometer bokant die aarde is, is nie voldoende nuwe kennis en feite nie.

    Hierdie benadering geld natuurlik vir enige en elke empiriese wetenskap, maar dit is natuurlik nie van toepassing op die geesteswetenskappe soos die filosofie, sielkunde, sosiologie, teologie, ens. nie - daar kan enige ou sê net wat hy wil en andere bevraagteken nes hy lus het.

    Dit is juis daarom dat ek na myself verwys as ’n "empiriese non-teis". Geen vooropgestelde sieninge of "feite" of aannames nie - suiwer net die stelling dat daar nog nie ’n enkele meting of waarneming gemaak is van enigiets wat daarop kan dui dat daar iets soos ’n godheid is nie. Die gevolgtrekking wat dus BO ALLE REDELIKE TWYFEL gemaak kan word, is dat so iets wel nie bestaan nie - en die bestaansbewys berus dan op diegene wat daardie bestaan aanvoer as feit en waarheid. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top