Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Vervaldatum-kompetisie: Joune – vir altyd

My vingers voel-voel bewerig, versigtig om die rande van die koevert voordat ek dit haastig oopskeur. ’n Enkele wit vel papier kom te voorskyn. My bene word te swak vir my liggaam en ek voel, asof in ’n droom, hoe ek op die voetenent van die bed neersak. Ek sien hoe die brief, wat ek ’n oomblik gelede nog vasgehou het, na die grond fladder.

Dit was die enigste keer in my lewe dat ek iets so roekeloos en onverantwoordeliks aangevang het. Ek onthou als nog so duidelik. Ek het sit en koffie drink na my inkopies. Al die ander tafels was beset. Hy was blond, sjarmant, ’n skilder. Hy was soveel anders as Willem. By hom was ek weer jonk, asemrowend mooi, ’n vrou. Hy wou weet of hy my kon skilder.

Ons het nooit daarby uitgekom nie. Ek is saam met hom na sy woonstel toe. Hy het my sy skilderye gewys. Ek het hom gesoen. Ek sou dit so graag anders wou gehad het. Dat ek as verontskuldiging ten minste kon sê dat hy my eerste gesoen het. Dat dit nie my skuld was nie, hy het my verlei. Maar ek kan nie. Ek het hom gesoen en hy het my teruggesoen. Hy het my hand gevat en my die kamer uitgelei, na sy slaapkamer. Hy het die knopies van my bloes stadig begin losmaak en my saam met hom op die bed neergetrek. Die son het by sy kamervenster ingeskyn en ’n stralekrans om sy kop geverf. Hy was die engel wat my moes red. Van my vervelige huwelik, myself en ’n swangerskap waarvan Willem nog nie eers geweet het nie.

Na die tyd het ek in sy arms gelê, my vingers deur syne gestrengel, sy ritmiese asemhaling in my nek. Ek het na die ring aan my hand gekyk en besef dat ek by die huis moes kom en kosmaak voordat Willem klaarmaak met werk. Ek het geruisloos opgestaan en my klere aangetrek. Ek het woordeloos sy kamer en sy lewe vir ewig verlaat en besluit dat Willem nooit hoef te weet nie.

Die deur gaan oop en Willem kom binne. In my haas om die trane wat intussen oor my wange begin loop het, af te vee, vergeet ek heeltemal van die papier op die vloer. Hy buk, tel die brief op. Ek is gedreineer van alle energie, magteloos om hom te keer. Hy lees in stilte. Hy kyk op en ek sien die woorde wat so duidelik in my geheue ingebrand is, in sy oë weerspieël:

Dit spyt ons om u mee te deel dat u positief getoets het vir die MI-virus.


Klik hier vir meer besonderhede oor die kompetisie



 

 


Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
monster134
2012-03-18 @18:22

Nice. Kort en kragtig.... en powerful. 

Ek like. Baie.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address