Verlore varkie

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Vandeesweek se hofsaak vertel die amper droewige verhaal van 'n boer, ene mnr Scheepers van Vryburg, wat in die middel-sestigerjare van die vorige eeu vyf varke met sy bakkie dorp toe vervoer het. Toe hy op Vryburg kom, was een vark weg, en aangesien hy nêrens langs die pad stilgehou het nie, het hy gedink dat die stomme dier onderweg van die bakkie moes afgeval het.

Op grond van sekere inligting wat hy ontvang het, het hy die volgende dag na die huis van ‘n sekere mnr,. Modise gegaan waar hy sy varkie – of dit wat daarvan oor was – gevind het. Modise het vertel dat hy die betrokke oggend die dooie vark in die pad gesien lê het. Hy het die karkas uit die pad gesleep en is huis toe om sy donkiekarretjie te gaan haal om dié onverwagte meevallertjie te gaan oplaai.

Toe hy terugkom by die plek van sy groot geluk, was die karkas nie meer daar nie, maar daar was die spore van nóg 'n donkiekar, wat Modise laat dink het dat 'n ander familie as syne nou rede gehad het om fees te vier. Hy het die spore gevolg en toe by die huis van ene John aangekom, wat die varkie sonder slag of stoot oorhandig het nadat Modise hom oortuig het dat hy dit "eerste gesien het".

Modise is van veediefstal aangekla en ná skuldigbevinding deur die landdros van Vryburg tot vier maande gevangenisstraf gevonnis. Gelukkig vir hom het sy saak – vanweë die lengte van die gevangenisstraf – daarna op outomatiese hersiening voor regters De Vos Hugo en Jacobs van die hooggeregshof op Kimberley gedien.

In hul uitspraak van 19 Augustus 19661 het die regters bevind dat Modise bona fide geglo het dat die dooie vark 'n sogenaamde res derelicta was – dit is die Latynse term vir iets waarvan die eienaar afstand gedoen het met die bedoeling om dit nie meer te besit nie. Die vark was egter nie werklik 'n res derelicta nie, want mnr Scheepers het oorvloedige bewys gelewer dat hy homself nog steeds as die eienaar daarvan beskou het.

Maar dit het nie van Modise 'n dief gemaak nie. In 'n diefstalsaak moet die Staat immers bewys dat die beskuldigde die opset gehad het om die eienaar permanent van sy beheer en genot van sy eiendom te ontneem. As 'n mens egter opreg glo dat die ding wat jy vir jouself neem, aan niemand behoort nie, het jy tog nie die opset om die werklike eienaar van sy goed te ontneem nie, en kan jy nie aan diefstal skuldig bevind word nie. Daardeur probeer ek nie sê dat optelgoed vatgoed is nie. Jy moet darem bona fide glo dat die ding aan niemand behoort nie.

Modise is dus vrygespreek.

En mnr Scheepers? O, hy het seker tralies om sy bakkie laat sit ...

1  Vgl S v Modise  1966(4) SA 680 (GWFA)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top