Die week in woorde
Die afgelope twee weke het ek amper niks gelees nie. Dis nie ’n beginselsaak nie – ek was net te besig met nes skrop. Groot besluite oor dekor en organisasie van my werkruimte het vir ’n rukkie die plek ingeneem van groot letterkunde. Ek moes besluit of ek rooi of grys scatter cushions gaan koop (rooi en grys, uiteindelik), of my bedkassie links of regs van my bed moet staan (regs, uiteindelik) en, die heel belangrikste, hoe ek my boeke gaan organiseer.
In die verlede was my boeke al alfabeties rangskik (prakties, maar nie noodwendig sag op die oog nie), volgens genre verdeel (te ingewikkeld en verwarrend in die postmoderne era) en heeltemal lukraak uitgestal (onmoontlik om ’n spesifieke boek inderhaas op te spoor). Dié maal het ek, na ’n gewik en geweeg, besluit om die poësie van die ander boeke te skei (iets soos die kaf van die koring?) en al my boeke volgens kleur te organiseer. So het dit gekom dat daar ’n versameling digbundels met blou bande reg voor my rekenaar staan terwyl ek tik. Dit begin met DJ Opperman se Groot verseboek (ligblou, heel links) en beweeg deur die spektrum om uiteindelik te eindig by The Pocket Rumi (vlootblou, heel regs).
Ek hou van blou. Op hoërskool het ek net blou skilderye gemaak en ek besit twee blou blompotte wat lankal by niks meer in my huis pas nie, maar ek kan nie van hulle ontslae raak nie, want hulle is net te bitter mooi blou. En ek het ’n baie sagte plek vir my blou boeke. Onder die versameling tel twee bloues deur Wilma Stockenström, ’n ou bloue van Johan Myburg, Deborah Steinmair se blou-pers debuut, die Norton Anthology en Brink se ekstragroot Groot verseboek. Ook die versamelde gedigte van Anne Sexton, wat eintlik ’n swart band het, maar weens die ligte blou letters wat so mooi uitstaan, onder die blou boeke ressorteer. Philip Larkin se High Windows, Ilse van Staden se Watervlerk en Johan de Lange se Weerlig van die ongeloof is almal in die blou bondel.

My blou bundels
Vanoggend, na twee weke van te min, te niks lees, dip ek toe my tone in my blou boeke. En hier is van die rimpels:
In die hand van die verantwoordelike
word dan die pen ’n abnormale vrag ...(Wilma Stockenström, uit Spieël van Water)
Destyds
het ons woorde gehad, my lief
en ek kon dig
was ons lig gevlei, lig gegrief
maar lewendig...
(Daniel Hugo, uit verse van die ongeloof)
daar móét musiek wees in die boom
se singende takke
– of angs in die wind(Johan Myburg, uit Vlugskrif)
digter
steeds ’n miniatuur-piromaan
wat met vlammetjie aan eie houtjie staan
voor woude stug en swaargereën
onbeïndruk dig en donker.( Etienne van Heerden, uit Die laaste kreef)
Aan Milena Jesenská
Om dood te wees, stilletjies,
sonder om iemand te gevertel het
en om selfs te giggel daaroor as jy so voel
om net doodstil dood te wees
sonder om eers dood te gegaan het
uitgestrek op jou strooimatrassie
of opgetrek
kaal en geswolle – maar net nie soos ’n hond nie!
om op te hou wees
soos ’n toegedraaide kraan maar sonder die toedraai
om dood te wees en te lewe
om van lewenslus oor te borrel en dood te wees
om te lewe die soet lewe en dood te wees
om te lewe(Barend Toerien, uit Illusies, elegieë, oorveë, transfusies)
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.

