My vasteland raak weg met 'n sagte
sug in die soutvermenging van twee
oseane. In tierende wind. So bepaal.
Elk het 'n eie seestroom wat eiesinnig
eie rigting volg: een tropies ligsinnig suidwaarts,
een noord, koud en pligsbewus. En tog,
waar die malmok die maande om sweef,
brei my vasteland verraderlik ondersees
domeine uit, asof hy iets wil wegsteek.
Of wou vergeet, millennia gelede. Of wil
van ontslae raak maar nie mooi weet hoe.
Wat sou op die versonke land, nou
bank, kon ontstaan en gegroei het uit
tot onplant, ondier, oninsek en onmens
onder andere? Hoor hom sug in die ruising.