Stoffel tot nadenke

  • 0

Titel: Stoffel op safari
Skrywer:
Christiaan Bakkes
Uitgewer:
Human & Rousseau
ISBN:
9780798156233

Klik hier om Stoffel op safari te koop by Kalahari.com.

Stoffel Mathysen is die Chuck Norris van die Kaokoveld. Dis nou eenmaal wors. Kyk boeta, dié man kan. Nes Chuck, maar daar is een verskil. Stoffel doen dit vir regtig en nie vir ’n fliek nie. En Stoffel is eintlik nie Stoffel nie. Hy is mos Christiaan Bakkes. Of is hy? Hoe ook al, Christiaan kan ook als doen wat Chuck kan doen, maar hy kan skryf ook. Miskien kan Chuck ook skryf, maar sonder twyfel nie naastenby so goed in Afrikaans nie.

Die skepping van Stoffel Mathysen is sekerlik die heel slimste deel van Christiaan Bakkes se Stoffel-reeks (Stoffel op safari is reeds nommer ses). Dis slim, want dit gee Bakkes die vryheid om sy outobiografiese vertellings te vertel, maar gee hom ook die vryheid om die waarheid lekkerder te kan inkleur sou hy wou. Dis nou nie dat hy die storie wil doodlieg nie, maar dit laat dinge soms net lekkerder gebeur. Daar is min twyfel dat al Stoffel se avonture eintlik die skrywer s’n is as ’n mens in gedagte hou dat die skrywer se volle naam Christiaan Mathys Bakkes is.

Bakkes se persoonlikheid is uniek. Aan die een kant is hy ’n praktiese natuurwetenskaplike wat nie bang is vir vasvat en vasbyt nie. Maar hy is ook ’n romantikus. Dalk ’n bietjie meer so. Hy het van kindsbeen af gedroom van veldwagter word. Toe word hy een en uiteraard gebeur daar baie oorvertelbare dinge met ’n veldwagter en dis hoekom hy die Stoffel-reeks geskep het.

Sy skryfstyl weerspieël ook baie duidelik bogenoemde twee kante van sy karakter. Sy vertellings is kort en op die man af, maar emosie en empatie slaan heeltyd deur. Omdat sy avonture in ’n baie gespesialiseerde en eintlik wetenskaplik-tegniese omgewing gebeur, is dit baiekeer nodig om die leser eers in te lig en op die hoogte te bring met wat aan die gang is. Bakkes doen dit baie goed. Hy gebruik kort sinne. Net die noodsaaklikste word gesê. Kort en kragtig. Op die man af. Verduidelikend. Hy mors nie woorde nie. Sy skryfstyl is staccato. Amper militaristies. Maar hy het woordkrag. Hy kleur die agtergrond in. Hy bemagtig die leser. Sonder om die leser minderwaardig te laat voel. Met dié skryfstyl kry Bakkes dit reg om ongelooflik baie inligting weer te gee sonder om die leser te verveel of te verloor.

Die eerste deel van dié bundel is grootliks avontuurvertellinge met ’n amperse filosofiese nadraai en angel aan die einde. Met baie van die stories is daar ’n skokreaksie aan die einde as die dieper betekenis in een enkelvoudige sin bekendgemaak word wat die leser eers ‘n bietjie laat dink voordat die volgende storie begin word.

Alhoewel baie feitelike beskrywings noodsaaklik is vir die inhoudelike begrip van sy stories, het Bakkes die vermoë om tussendeur ongelooflike prosa in enkelsinne te skep. ’n Voorbeeld (sonder om die storie weg te gee) is waar ’n gestorwe karakter se jong vrou vertrek en ’n familievriend vir haar sê: “Sê totsiens vir die oom.” Die oom verwys na Bakkes en hy skryf verder:  “Is ek ’n oom? wil ek vra. Dis nie ’n dogtertjie wat hier staan nie, dis ’n weduwee.”En in ’n ander storie skryf hy: “... ons het pas klaar gebraai toe die reën saam met die skemer val.”

Halfpad deur die bundel kom daar skielik ’n anderse soort verhaal. Met “Grense” verskuif Bakkes die grense. Dis primêr filosofies. Weer eens skop hy af met ’n verstommende klomp feite wat hy weergee sonder om te verveel (miskien moet hy Geskiedenis op skool gaan gee; dit sal ’n lekker vak word). Hy skets ’n unieke wêreld, maar bring dit dan terug na sy (of dan nou Stoffel) se eie persoonlike wêreld met ’n baie diepere maar simboliese betekenis van die woord grens.

Kort daarna kom ’n storie genaamd “Vergete soldate”en dit word ’n blootstellende, nostalgiese en hartseer reis van amperse helde uit ’n vergete oorlog. Die vrees is dat dit dalk links of regs kan slaan en lesers kan verloor, maar hy reis die verhaal deur tot ’n unieke emotiewe hoogtepunt sonder om polities te raak. Dit wil gedoen wees.

Die titelverhaal is soos ’n plakboek vol kiekies. Jy sien die dinge. Jy ervaar die dinge. Hy dek alles en almal om hom – die hele ervaring. Tog, eindelik, is die vertelling enkelvoudig ’n ode aan Tier, sy vreeslose klein Jack Russel.  

Stoffel op safari is nie ’n kortverhaalbundel nie. Dis nie letterkunde nie. Dis stories, maar wat dit uniek maak,is dat dit ’n veldwagter is wat hierdie stories vertel. Die leser lees dit miskien op papier, maar dit transendeer na ’n vertelling. ’n Vertelling deur ’n veldwagter om ’n hardekoolvuur.

Van bladsy een af gaan die leser saam met Stoffel op safari. Dié leesreis is die moeite werd.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top