Dese SêNet-brief is eerstens dankie-sê aan LitNet se Nuwe Skryfwerk Redakteur, Rentia Bartlett-Möhl vir haar geskrif "Moord op Stellenbosch. Karin Brynard onder die soeklig". Rentia se vrae was ter saaklik, Karin se antwoorde openhartig en toon oop kop benaderings wat verfrissend is. Die onderhoud is 'n saailand geplant met talle aspekte waarmee ek kon identifiseer. Dit het my geboei, selfs met die tweede keer se aandagtige deurlees.
Veral verblydend is Karin se antwoorde oor sommige van Stellenbosch se "realiteite" teenoor Stellenbosch as "idee" wat nie verband hou met die werklikhede van 'n saamgestelde lokaliteit met die naam Stellenbosch nie.
Ek vind dit verblydend dat sodanige verwikkelinge van opvattings en uitlatings oor Stellenbosch deesdae lig van rekenaarskerms sien op LitNet se werf. Dese SêNet-brief is dus ’n uitnodiging tot ander SêNet-briewe wat ook juisthede aan die lig wil bring oor idees (of talle ontkennings van werklikhede) in die saamgestelde lokaliteit soos vergestalt deur al die verskillende "Stellenbosch(se)" wat vandag bestaan.
My eerste kennisname van ontkenning van werklikheid betreffende Stellenbosch was kort voor die verkiesing van 1994: op die een of ander hoë uitkyk-verdieping in Stellenbosch se enigste wolkekrabber sit ek langs my dogter. Sy het die vorige jaar haar BA met Politieke Wetenskap as hoofvak elders behaal. Ons besig met ’n onderhoud ten einde te besluit of sy by US inskryf vir nagraadse studie. Oorkant ons agter ’n lessenaar sit ’n professor in Politieke Wetenskap by US. Die man vertel oordadig breedvoerig vir ons (wat bekend is met Parys en Amsterdam se straatkafees, en ook Hillbrow se destydse straatkafees op balkonne, en ook Rosebank in Johannesburg se kafees in deurlope) "Stellenbosch is net soos Europa.” Hy wy uit oor sy gunsteling-straatkafees in Stellenbosch met 'n Europese (met nadruk op Europese) kuier-kultuur en volop kaaskoek en koffie!" Deur die venster agter hom sien ons 'n bult waarop ’n groot krot-en-pandok-woonbuurt staangemaak is. Die buurt het nie strate nie. Dus kan dit nie Europese straatkafees huisves nie.
Op pad terug Kaapstad toe skree die buurt vir ons "Hierdie plek is glad nie ‘net soos Europa’ nie, want dit is nie net sonder strate nie, dit is ook nie gebou nie!" "Dit is gemaak van weggooi-sinplaat-en-plank-aanmekaargehou-met-spoeg-en-plak-en-sonder-toilette."
Met gesonde verstand en politieke insig verkies my dogter summier die uitdagings van Afrika se werklikhede bo vlak uitlatings oor op straat kuier met kaaskoek en koffie.
Nes die professor in Politieke Wetenskap na 'n idee (soos in wensdenkery?) verwys het, maar glad nie na die teenspraak van die buurt agter sy rug nie, omseil ’n karakter kernkwessies in Willem Anker se roman, Siegfried (Kwela Boeke), selfs dertien jaar later in 2007. Die volgende aanhaling vanuit bladsy 116 van hierdie treffende boek. Dit is ’n ontken-skrif. Nietemin bieg dit ooglopend anoniem, asof dit katoliek is.
"Jy het in 'n dorp grootgeword. 'n Heel spesifieke dorp met baie onspesifieke mense. Die mense in daardie Bolandse dorp kon nie soveel realiteit bymekaarsleep soos die ongoddelike berge wat die dorp omsingel het nie. Hulle het verval in stereotipes, in klasse en gedrogte. En tussen hulle en daardie berge soos hakiesdraad op die dorp gevou, moes jy ook probeer mens word, en anders as die ander van jou spesie en anders as die groot blou almagtige berge waar net die gode en die bobbejane kon oorleef.
Die mousepad sê: Upgade your life."
Is “upgrade your life” die kern van Universiteit Stellenbosch se hedendaagse bestaansrede? Is dit ook kernbeskrywing van die doen en late van Stellenbosch as munisipaliteit?
Wat sou u skryf in u SêNet-Brief oor Stellenbosch en werklikheid? Verbeter Stellenbosch die gehalte van lewe vir alle inwoners? Of bestaan Stellenbosch as lokaliteit tans uit verskeie werklikhede wat strydig is met mekaar? Is die "mening makers" van Stellenbosch deurgaans openlik en eerlik? Hou idees oor Stellenbosch verband met werklikhede? Selfs buitestanders sien met die eerste oogopslag die ooglopende vergestalting van talle teenstrydighede in Stellenbosch. Dit is asof mens in ’n kaleidoskoop inkyk. Te sien is 'n samesmelting van splinter-skerwe-beelde van: ’n bult vol formele beboude meenthuise (té digbebou om elmboë in op te lig) en; bulte vol staangemaakte krotte en pandokke wat uitmekaar kan val indien elmboë opgelig word; enkele boomryke strate met verouderde erfenis-argitektuur, oorblyfsels van twee vergange koloniale kulture – Kaaps Hollands en Engels/Victoriaans, asook ’n een blok (glad nie groot nie – botaniese tuin) en; ’n universiteit se kampus met ’n enkele wolkekrabber en lang strate vol koshuise en woonstelle wat vir studente verblyfplek bied; enkele luukse wonings; heelparty woonstelle vir armlastiges.
Is Stellenbosch se oorgrote meerderheid mense op enige gegewe tydstip immers nie lankblywend op die dorp nie; is die meeste inwoners vanjaar hier, maar na volgende jaar nie; is hulle diegene wat Willem Anker se karakter in Siegfried “onspesifieke mense” noem?
Oplettende besoekers word met eerste oogopslag summier bewus van ’n dorp vasgevat in ’n knyptang gevorm deur tyd en berge. Hoe later, hoe minder ruimte om te bou, laat staan nog berghange om druiwe te verbou. Dit is ’n dorp wat nie volwaardig stad kan word nie, al wil dit, tensy wolkekrabbers oral hier verrys.
Waar is die “Eikestad” dan? Is “Eikestad” net nog een van die idees wat lank reeds nie tred hou met werklikhede nie, maar wat toeka reeds gesneuwel het onder veranderinge te weeg gebring deur verloop van tyd. Is enige eikebome op groot skaal onlangs in Stellenbosch aangeplant?
Wie mengel op Stellenbosch? Toeriste? Studente? Heelwat werklose niksdoeners? Die buitengewoon groot aantal getroude vroue in Stellenbosch wat voortdurend op doelgerigte en winsgewende internet-werwe adverteer vir “intieme” buite-egtelike verhoudings? ’n Klompie mense wat werk het?
Is die groottotaal van al die bostaande se getalletjies nie kleiner nie as die subtotale in wêreldstede waarin inwoners, toeriste en studente deel vorm van geïntegreerde samelewings waarvan die oorgrote meerderheid nie ’n jaar of drie of ses daar deurbring nie, maar dekades van ’n volle leeftyd?
Nie een van Stellenbosch se fisiese “onderdele” is strek werklik wyd nie nie. Sorg die omliggende berge nie dat die dorp se perimeter noustrop trek nie? Is dit nie so dat Stellenbosch dus nie wydgestrek kan uitbrei nie, maar met vryheidsverdringing al hoe meer huisvesting en mense in al hoe minder ruimte probeer saampers? Hoe beïnvloed sodanige “in-’n-sardientjieblik-indruk- manier-van-leef” mense?
Word kleinlikheid (en kleingeestigheid) gevolglik die mees kenmerkende eienskap van die lokaliteit Stellenbosch? Is dit reeds ’n dammetjie met te veel groot vise daarin en ding die groot visse met verloop van tyd al hoe meer mee om te bepaal wie is die grootste grootdoener? (– en God help die klein vissies in dese dammetjie asseblief!) Is dit so dat Stellenbosch se mense soos die karakter in Willem Anker se roman dit stel, “verval het in stereotipes, in klasse en gedrogte”?
Het die afgelope dekade se taalstryd en vasstelling van kulturele identiteit op Stellenbosch grootliks geslaag, met dorp en universiteit gesamentlik “aan’t veg deur middel van ’n jaarlikse kunstefees”?
Diegene wat ingelig goed ingelig is weet nou dat US nie self die mas opgekom het met hoegemaak met taalsake nie, maar uiteindelik van elders kundigheid bekom het.
Het stereotipes, klasse en gedrogte hoogty gevier en iemand selfs die fees (’n plaaslike geleentheid gesien binne geheel-konteks van Suid-Afrika as land) selfs na afloop daarvan verder gevier in ’n landwye Sondagkoerant? Was die werklikheid in die terugplof van een vrou se idees oor haar saligheid toe anders as die “Hemels” wat die Woordfees se reklame sonder skroom plegtig beloof het?
Is dié belofte nie net nog ’n voorbeeld van ’n idee wat nie strook met werklikheid se perke nie?
Het dese fees vanjaar tot groot mate ontaard in kleinlikheid van ’n grootskaalse kerklike bekgeveg onder die vaandel van ’n fees met brosjures wat “Hemels” beloof en gereklameer het as ’n idee, strydig met bewese werklikhede van reklame-beginsels wat vir reklame-studente besonder goed laat verstaan, “vermy godsdiens en interpretasies daarvan soos die pes in enige advertensie”.
Is Stellenbosch se Woordfees ’n geval van: “Het woord is de mens gegeven om zijn gedagte te verbergen”. Pieter Malagrida (in Stendal se 1830 roman, Rough et le noir)
Dreig Stellenbosch se idees wat nie strook met werklikhede nie om ’n kultuur te word waarin deelnemers hulself kul, maar nie vir buitestanders nie? Anders gestel, is Stellenbosch ’n gekkeparadys vir enkelinge - die klompie mense wat soos Willem Anker se karakter hulle beskryf “gode” is?
Is Stellenbosch se huidige groot kokkedore die “main manne” van ’n kleinerige kliek bestaande uit ‘n minderheid wat gemarginaliseerd is? Flous die “main manne” hulself deur die “getal-rykheid” van ‘n klein kliek te verwar met veiligheid. Sorg kringlope van binne ’n kleinerige binnekring beweeg en redeneer vir drog-denke en idees wat nie met werklikheid tred hou nie?
Kleinlikheid beteken nie veiligheid of verspreide kennis nie. Dit het nog nooit nie. Voorbeeld: gedrukte boeke het wêreldwyd inslag, omdat hoe meer eksemplare gedruk word, hoe laer die koste, en hoe verder kan kundigheid versprei word. Tog het US ’n paar jaar gelede op redelike skaal ‘n insamelproses van stapel gestuur om kunstige uiters beperkte uitgawe (liefs net een –of ten meeste twee eksemplare) boeke te bekom. Mense het enkel-eksemplaar “boeke” per hand gemaak van enigiets denkbaar – selfs buitebande. Wie ook al kunstig en vlytig is in Suid-Afrika, is genader vir die US se versameling. Sommige van die “boeke” is nie gemaak om gelees te word nie. Een van hierdie land se voorste beeldende kunstenaars, Diane Victor, (wat onder andere besonder knap tekeninge gemaak het as satire wat diep sny oor Die Voortrekker Monument en waardes verbonde daaraan) het byvoorbeeld haar tong in haar kies gesteek en haar Volkswagen Passat se oliebesmeerde lugfilter (strook stewige papier met konsertina voue in kring vorm in posisie gehou deur twee plastiek omslae) vanaf Johannesburg gepos na Stellenbosch as haar bydrae tot die US-versameling “boeke”. U glo dit nie? Google gerus! U sal dit kry, want US was te gierig en te onkundig om Victor se grap te snap en het Victor se weggooi-lugfilter opgeneem in hul beperkte opgawe biblioteek-versameling as voorbeeld (en toonbeeld) van ’n idee bestaande uit drog-denkery wat nie tred nou met werklikhede nie.
Skep sulke kleinlike grootdoenigheid in Stellenbosch op lange duur nie grootse indrukke nie, maar slegs komiese tragedies? Is dit soortgelyk aan doenighede soos deur eertydse sirkusse se dwerg-narretjies wat verewig is in die Duitse filmmaker Werner Herzog Stipetic se 1970 komiese griesel-drama Auch Zerge haben klein angefangeng, ru-vertaal tot “Selfs dwergies het kleinlik begin”? (Herzog se film begin met die dwerge se kleinlike grappies en eindig met wat ’n aap wat hulle kruisig.)
Is Stellenbosch se groot visse (die plaaslike groot kokkedore) eintlik nes grootkop-klein-dwerg-mannetjies-en-vroutjies wat komiese dingetjies doen om sjarme aan hul kleinlike dwerglikheid te probeer verleen, so asof hulle rolle vertolk om grootdoenige kleinlikheid oortuigend oor te dra?
Hoeveel idees wat nie verband hou met werklikhede soos vergestalt in enige van al die verskillende uiteenlopende “onderdele” van Stellenbosch nie, word nog steeds voortdurend om die een of ander geldige (of ongeldige rede) geïdealiseer?
Laat weet gerus vir LitNet van gevalle waarvan u weet. U kan maak soos Willem Anker se karakter: bieg anoniem; noem geen naam nie; skryf net die waarheid in ’n SêNet-brief.
Werk soos wat Rentia Barlett-Mohl gedoen het met haar onderhoud met Karin Brynard en die werklikhede soos wat koelkop daarin verwoord is, kan u gerus lees, trouens u behoort die onderhoud-verslag te lees. Dit maak groot verskil, hou asseblief vol met publikasie van sodanige objektiewe openhartigheid, LitNet.
Tiaan Koeglenberg
25 Junie 2013

