LitNet Akademies-gespreksruimte | Seminar Room

 
Sosiale media en die gebruik van internet-inhoud
Deesdae kyk ons eerste na Facebook as ons wil weet wat in die wêreld aangaan. Ons deel prentjies van ons helde en hulle lewens, steek draak en skep karikature en parodieë van mense in die openbare oog - en ons versprei dit links en regs.

Maar mág ons dit doen?

Cobus Jooste, vir wie ons die afgelope tyd op LitNet leer ken het weens die Anton Mostert Leerstoel se blogs en regsmenings wat hier geplaas is, se spesialiteitsgebied is die digitale aspekte van intellektuele goedere. Teen die agtergrond van ’n vinnig-veranderende virtuele omgewing deel hy hier sy regsadvies omtrent die sosiale media met Naomi Meyer en al die LitNet-lesers.

As ’n vertrekpunt moet ons daarop let dat die internet per definisie ’n openbare medium van kommunikasie (en publikasie) is. Aangesien die sosiale media op hierdie basis funksioneer, en inderdaad veronderstel dat dit ’n alternatiewe oop samelewing skep, word kommunikasie wat deur middel van die sosiale media geskied, deur die reg as publieke uitlatings geag.

Gevolglik is die tradisionele benadering tot eiendomsreg nie sonder meer van toepassing op inhoud wat op die internet (en die meegaande sosiale en interaktiewe dienste) geplaas word nie. Dus, oor die algemeen beskou, word publikasie op die internet geag as ’n vorm van afstanddoening van die regte wat normaalweg oor sodanige inhoud bestaan. Daarom beskou die meeste gebruikers die internet as ’n bron van vryelik-bekombare materiaal (soos foto’s, video’s en dokumente) wat deur enigeen aangewend kan word.

Dit is natuurlik nie die regsposisie nie – daar is geen gesag waarop iemand sou kon steun om te argumenteer dat hy/sy ’n reg het om inhoud vanaf die internet sonder meer vir homself toe te eien nie. Daar bestaan ook geen algemene verstandhouding dat ’n persoon van sy eiendomsregte (of intellektuelegoedereregte, soos outeursreg) afstand doen wanneer dit op die internet geplaas word nie. Maar prakties gesproke funksioneer die internet op so ’n wyse dat die meeste gebruikers bewus is van die feit dat hulle ná publikasie op die internet nie meer beheer sal kan uitoefen oor die gebruik van hulle werk nie. Gevolglik is dit gebruiklik dat ’n persoon wat die regte in sy/haar werk wil behou na publikasie op die internet, hierdie regte sal voorbehou.

Dit geskied op ’n verskeidenheid wyses, waaronder die gebruik van wagwoord-beskerming vir dokumente en sagteware, watermerke in die geval van foto’s en illustrasies en gebruikersidentifikasie vir alle beskermde inhoud, insluitend klankopnames en rolprente. Sodoende kan persone dan ook ’n inkomste verdien uit die verspreiding van hul werk deur ’n fooi (bekend as tantieme) te hef vir toegang tot hul werk. In ander gevalle vereis die outeur of skepper van die werk dat daar erkenning aan hom/haar gegee word wanneer die werk afgelaai en aangewend word. Daarom word aflaaibare inhoud wat gratis beskikbaar is, dikwels vergesel van ’n outeursreg-vrywaringskennisgewing. Verder het die outeur ’n morele reg (bekend as die paterniteitsreg) om altyd daarop aan te dring dat hy/sy as die outeur erken word, self waar die outeursregte nie meer aan hom/haar behoort nie.

Wat die inhoud op die internet (insluitend die sosiale media) betref, is die regsposisie nie so eenvoudig as wat dit wil voorkom nie, en is die oënskynlik vrye aard van die internet misleidend.

Dus, om te bepaal in watter mate ’n individu gemagtig is om internet-inhoud te gebruik al dan nie, moet die regte van die houer (die persoon wat die inhoud besit) van nader beskou word.

Eerstens moet die eiendomsreg-begrip beter verduidelik word. Werke wat op die internet kan verskyn (soos dokumente, foto’s, video’s, illustrasies, rekenaarprogramme, klankopnames en dies meer) is uiteraard nietasbare goedere. Daarom word dit nie deur die eiendomsreg beskerm nie, aangesien dit nie roerende of onroerende goedere is nie en daarom nie vatbaar is vir regsbeskerming onder die gemenereg nie.

Wanneer ons dus van eiendomsreg van internet-inhoud praat, verwys ons inderwaarheid na intellektuelegoedereregte – ’n gespesialiseerde gebied van die reg wat ’n unieke vorm van immateriële eiendomsreg vestig oor intellektuele uitdrukkings van die mens. In die geval van internet-inhoud het ons dus hoofsaaklik met outeursreg (algemeen bekend as kopiereg), handelsmerke en, in ’n mindere mate, patentereg te doen.

Tweedens moet daarop gelet word dat hierdie regte, vir sover dit outeursreg betref, outomaties vestig in alle werke wat binne die definisie van die Wet op Outeursreg val. Die wet dek spesifiek alle letterkundige werk (enige versameling woorde en/of syfers in enige taal), artistieke werk (enige visuele uitdrukkings, insluitend tegniese tekeninge), rolprente en klankopnames (van enige waarneembare klank). Verder is daar geen vereiste van letterkundige of artistieke kwaliteit of meriete nie – ’n werk word dus deur die outeursreg beskerm ongeag of dit vir enige ander persoon van waarde is. Selfs ’n onleesbare dokument of aanstootlike skildery kwalifiseer vir beskerming, ook in die geval waar dit ’n namaaksel van iemand anders se werk is.

Verder vestig outeursreg outomaties sodra die outeur sy idees in ’n materiële vorm (soos papier, rekenaargeheue of skilderdoek) vasgevang het. Vanaf daardie oomblik het die outeur dus ’n monopolie oor sy werk gevestig vir die duur van sy leeftyd en 50 jaar daarna. Hierdie monopolie keer dat enigiemand ’n reproduksie (selfs elektronies) van die werk maak, dit vertaal, verwerk, publiseer of versprei sonder die outeur se toestemming. Sodanige toestemming word dan dikwels verleen in ruil vir vergoeding in die vorm van tantieme.

In hierdie lig beskou, is dit duidelik dat internet-inhoud nie beskikbaar is vir gebruik deur enigiemand bloot omdat dit op die internet beskikbaar is nie. Selfs al is die werk met die toestemming van die outeur op die internet gepubliseer, beteken dit nie dat alleman dit nou verder kan versprei of aanwend nie. Daarom was baie media-geledere genoodsaak om foto’s van die alombekende The Spear-skildery te verwyder, aangesien die foto self ’n beskermde werk was wat aan die fotograaf behoort. Verder word ’n foto van ’n artistieke werk (soos ’n skildery) beskou as ’n afskrif van die skildery. Gevolglik is sodanige afskrif, in die afwesigheid van die kunstenaar se toestemming, asook die verspreiding en herpublikasie van die afskrif, ’n skending van die kunstenaar se outeursreg.

Laastens is dit belangrik om daarop te let dat outeursreg nagenoeg alle inhoud op die internet dek. Daar behoort dus geen twyfel by die internet-gebruiker te wees dat die inhoud wat hy/sy beoog om af te laai, wel onderhewig aan die outeursreg is nie. Met ander woorde, die feit dat ’n werk op die internet verskyn, beteken allermins dat dit in openbare besit is, en enige poging om dit te kopieer bring ’n skending van die outeur se regte mee.

Daarom is dit vir baie mense verrassend om te hoor dat outeursreg ook in hul privaat geskrifte gevestig is en dat die intellektuelegoederereg inderdaad elke individu (en veral die internet-gebruiker) raak. Die meeste is ook ontnugter by die besef dat hulle sonder bedoeling aanspreeklik is vir outeursregskending en hierdie aanspreeklikheid by herhaling in die verlede opgedoen het in die geval van internet-inhoud.

Dit bring ons by aanspreeklikheid vir gebruik van die sosiale media. Aangesien die internet beskou word as ’n publieke forum, is enige uitlating wat op die internet gemaak word, regtens gelyk aan ’n verbale uitlating in die openbaar. Dit dek ook alle kommentaar wat op Facebook of Twitter geskryf word, selfs waar toegang tot die individu se profielbladsy beperk word deur die gebruiker. Dus: die feit dat slegs vriende van die gebruiker kan lees wat hy/sy op Facebook skryf, beteken nie dat die gebruiker in ’n privaat of vertroulike gesprek gewikkeld is nie. Die blote feit dat een ander persoon benewens die skrywer kan lees wat die gebruiker op Facebook (of enige ander soortgelyke diens) publiseer, is voldoende om daardie uitlatings as publieke kommentaar te klassifiseer.

Gevolglik kan enige gebruiker siviele en strafregtelike aanspreeklikheid opdoen vir uitlatings wat hy/sy deur middel van die sosiale media maak. Min gebruikers besef dit egter, en voorvalle van naamskending, laster en haatspraak op die sosiale media word al hoe meer algemeen.

Die regtelike beskouing van die sosiale media is inderdaad díé van ’n alternatiewe persoonlike teenwoordigheid. Daarom het die Hoë Hof in Durban onlangs (Dinsdag 31 Julie) beslis dat ’n dagvaarding deur middel van ’n Facebook-kennisgewing op ’n persoon beteken kan word.

Wat die aanspreeklikheid vir outeursregskending betref, maak die wet voorsiening vir billike gebruik van iemand anders se werk (sonder toestemming) in sommige gevalle. Dit sluit in die reg om aanhalings uit ’n werk te maak, die werk te reproduseer vir navorsing- en onderrigdoeleindes, hersiening, kritisering of verslaggewing oor sake van die dag.

Afgesien hiervan, en veral in die geval van internet-inhoud, is dit noodsaaklik dat die outeur (of gemagtige verspreider) van die werk sy/haar toestemming moet verleen alvorens ’n gebruiker die werk mag aflaai en reproduseer. Die blote feit dat die outeur nie die werk aktief beskerm nie, beteken nie dat die outeur afstand gedoen het van sy/haar regte nie (of algemene toestemming aan alle internet-gebruikers verleen het nie). In sommige gevalle is dit egter moontlik om uit die outeur se gedrag af te lei dat hy/sy ’n stilswyende lisensie aan alle internet-gebruikers gegee het om die werk te gebruik. Dit sou die geval wees waar die werk aangebied word op ’n webblad met instruksies oor hoe om die werk af te laai.

Dikwels is dit egter moeilik om so ’n stilswyende vorm van toestemming te bepaal. Daarom is dit raadsaam om maar eerder navraag te doen – die meeste outeurs is salig onbewus van hul intellektuelegoedereregte en maar net te bly dat iemand vra om hul werk te gebruik.

Daarom, vir sover dit die wetsgehoorsame internet-gebruiker aangaan, bly versigtigheid steeds die wagwoord – net soos met alle ander bedrywigheid op die internet.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address