Sensitiewe gees op pelgrimsreis deur lewe

  • 2

Titel: Pilgrim
Skrywer: Pieter Cilliers
Uitgewer: Protea Uitgewers
ISBN: 9781869195076

 

 

Koop Pilgrim by Kalahari.com.

Soeker, die grondig hersiene en uitgebreide weergawe van Pieter Cilliers se ‘n Kas is vir klere, praat nou ook Engels. Onder die pragtige titel Pilgrim verskyn die uitstekende vertaling van eersgenoemde boek waarin Kas as eerste deel opgeneem is (met Different as titel).

Maar as jy gedink het daar’s niks nuuts in die bygewerkte boek sestien jaar na die verskyning van Kas nie, maak jy ‘n fout. Cilliers neem ons verder langs sy lewensreis. Hy doen dit aan die hand van briewe wat hy in reaksie op sy eerste boek gekry het en gebeure soos hulle sedertdien ontvou het. Hoewel van die briewe dalk effens gesny kon word, is hier nie sprake van droë briefwisseling nie. Cilliers slaag goed daarin om briewe ineen te vleg met die storie wat hy uiteindelik vertel.

Hy laat dus ander in sy verhaal in wat stem kry om saam te praat en gee sodoende ‘n geloofwaardige prentjie van die ervaring van gay en lesbiese Christene in Afrikaner-geledere die afgelope jare. Terwyl sommige mense baie persoonlik in hulle aanvalle op Cilliers was, kry ons insae in hoe hy as ‘n introvert op die ontvangs van Kas gereageer het.

Cilliers oordeel feller oor Angus Buchan se Mighty Men-beweging as wat Kobus du Pisani ‘n rukkie gelede op LitNet gedoen het. Cilliers verwys onder meer na die groei van hierdie verskynsel in ‘n oorsig oor ontwikkelings die afgelope jare wat menings omtrent homoseksualiteit beïnvloed het. Ek het self korrespondensie van ‘n gay seun wie se pa nie sy gay-wees wou aanvaar nie omdat hy hom op uitsprake van Angus Buchan beroep het.

Cilliers dui internasionale tendense aan (die rolprent Brokeback Mountain word as illustrasie gebruik vir die ervaring van heelwat gay persone wat hulle in heteroseksuele huwelike bevind sowel as die lot wat hulle soms tref), maar wys ook op die teenvoeter vir internasionale vordering met betrekking tot gay-regte wat in die vorm van wetgewing op ons eie vasteland en haatmisdade in ons land gevind word.

Cilliers se eie sirkel word voltooi in die persoon van ‘n gay teologiestudent van die Hervormde Kerk, Mark le Roux, wat in 2010 die dilemma omtrent sy legitimasie met hom deel. Wat het oor die jare dan werklik verander? vra ‘n mens jou af. Dis hierdie vraag wat Cilliers na jare weer tot die debat omtrent homoseksualiteit laat toetree.

Die benoude spronge wat die kerk gee wanneer dit by die legitimasie van gay persone (en ander aspekte van homoseksualiteit) kom, blyk duidelik uit die absurde keuse waarvoor hulle vir Mark stel. Terwyl dit vir my interessant was om oor die binnewerke van die Hervormde Kerk rondom hierdie saak te lees, is die boek nie beperk tot hierdie denominasie nie.

Cilliers wys op die verskeie taakspanne en navorsingsprojekte wat oor die jare omtrent homoseksualiteit aangepak is, asook die male sonder tal dat verslae terugverwys is vir verdere studie. Uiteindelik is dit hierdie volstruis-mentaliteit wat die kerk uiters huigelagtig laat oorkom.

Vanselfsprekend laat bogenoemde Cilliers oor sy geloof twyfel. Hier wil ek graag, téénoor die NG Kerk, wat onlangs in ‘n verklaring gesê het hulle “borg nie twyfel nie” (na aanleiding van die Woordfees-debakel), sê dat geloof en twyfel mekaar hoegenaamd nie uitsluit nie. Die beste vorme van geloof sluit eenvoudig twyfel in!

Maar vir Cilliers is dit nie so maklik om Christenskap van die kerk te ontheg nie. En keer op keer kom sy versugting (longing) na die kerk weer na vore. Tog is versugting volgens die teoloog Denise Ackermann al wat nodig is vir die inniger reis na God. Cilliers is ook baie bewus van die Bybel wat al soveel fisieke, geestelike en emosionele lyding veroorsaak het. Aartsbiskop emeritus Desmond Tutu stem hier met hom saam in sy onlangse opmerkings by die Verenigde Nasies Menseregte-kantoor se bekendstelling van die Free & Equal-veldtog teen homofobie: “Net omdat iets in die Bybel is, is dit nie noodwendig waar nie. En dit (die Bybeltekste) is ’n groot bron van foltering vir baie mense” (Die Burger, 27 Julie 2013).

Cilliers vertel van die geïnternaliseerde homofobie waarmee ‘n mens in jouself te doen kry deur jou funksionering in ‘n homofobiese samelewing. Maar sy verhaal het universele kenmerke wat die onderwerp van homoseksualiteit oorstyg. Dis die verhaal van ‘n baie begaafde man met ‘n sensitiewe gees wat sy eie weerloosheid vir ons op die tafel sit.

Pilgrim eindig op ‘n noot van verwondering – nóg ‘n element wat Cilliers ‘n waardige reisiger maak op die pelgrimstog van die lewe.

 

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.  

  • 2

Kommentaar

  • Dr Niel le Roux

    Wanneer o wanneer Laurie, gaan jy as bevryde gay die verwerplike "medies" gefundeerde woord homoseksueel uit jou woordeskat haal?  Doen bietjie navorsing oor die veragtelike teregwysende woord en jou oë sal uiteindelik oopgaan! 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top