Sanlam Sing 'it finalis-onderhoud: Dawid Schalk van Vuuren

  • 1

Hey, Dawid! Baie geluk dat jy as een van die Sanlam Sing ‘it-finaliste gekies is! Hoe lank skryf jy al lirieke?

Ek skryf al vandat ek kan onthou. Mens begin mos maar dink as jy begin baard kry! Alles voor dit is maar ’n groot speletjie.

Hoe voel jy oor die feit dat Zinkplaat jou lirieke opgeneem het?

Wat kan mens sê? Ek’s spraakloos.

Hoekom dink jy het jou lirieke uitgestaan?

Sjoe, daar was so baie goeie lirieke in die kompetisie dat dit maar sekerlik neerkom op wat die band self van hou en van gehou het. As dit ’n ander band was in ’n ander tyd, kon dit iemand anders gewees het. Hierdie keer was dit ek en wat ’n voorreg is dit nie.


Interpretasie is meestal subjektief, maar waaroor gaan die song vir jou persoonlik?

Ons lewe in ’n siniese tydperk wat daarvan hou om afbreuk te doen aan gevestigde idees, norme en tradisies, maar ek voel die presiese teenoorgestelde. Waar is die romanse?

Ek hou daarvan om te dink dat ons stories is en dat ons ook volgens stories handel. Op een of ander manier is ons besig om die stories te lewe wat eerder van jongs af binne ons geplant is, of ons is besig om die stories te lewe wat ons – bewustelik of onbewustelik – in onsself geplant het. Óf ons lewe dan volgens stories wat ons lewe bepaal en sodoende betekenis daaraan gee, óf ons lewe volgens stories wat ons lewens betekenisloos laat voortduur. As ons dan die stories verander waarvolgens ons lewe, verander ons heel moontlik ons eie toekoms en lewenspaaie. Dit klink vir my asof ons self ons stories bepaal, en dan op ’n bepalende wyse. Dit gee vir my hoop. Dit klink asof ons stories is.

Hoe en waar het jy jou wen-lirieke neergepen?

’n Vriend het vir my ’n nuwe album van een van ons gunsteling-bands gebring en dit sterk aanbeveel. Haar woorde was: “Jy moet die album goed deurluister! Dit is regtig goed – dit klink asof ons stories is.” Dit was nie bedoel om betekenisvol en diep te wees nie; dit het net terloops uitgeglip, en daar was dit toe. Woorde, lirieke en musiek is orals rondom ons, soos stories.

Stem hier vir Dawid en Zinkplaat se snit.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top