Ek was verbaas om te sien dat daar 11 reaksies was op Rietha se brief oor afknouery; dis nou toe ek uiteindelik weer 'n slag ou briewe oopmaak. Eintlik jammer die nuwe formaat maak daarvoor (kommentaar onderaan) voorsiening; meeste van die interessante menings en kommentaar word op die manier weggesteek.
Eventwil, ek sien Kobus beskuldig Rietha van geldwolfgeit. Dit is onregverdig want R45000 is groot geld en om so'n bedrag onnodiglik te spandeer is sonde. Ek meen, met daardie soort van geld kan ek 'n nuwe dikteskaaf, bandsaag, ag man, my hele werkswinkel vervang en nog 'n splinternuwe Petersen, Kaywoodie én Dunhill aanskaf. Sommer 'n Weber ook, my kruiwa is hoeka deurgebrand. En sommer een van hierdie nuwerwetse sweismasjientjies ook; my swaar oliestorie klink heeltyd die huis se ligte uit.
Ek dink Kobus verstaan Rietha verkeerd. Sy het dit teen betaal en dan kry jy geen diens of waarde daarvoor nie. Jy moet byvoorbeeld, soos sy noem, deur hekke in jou eie huis beweeg as jy in die nag wil gaan kyk of daar nie dalk 'n happie in die yskas is nie en dit ten spyte van die feit dat die land 'n polisiemag het. En dan is daar nog 'n buurtwag ook waar jy dan self, vergoedingsloos, patrollie-ry. Ek onthou nog hoe briesend ek was toe my buurman se Huskies my Jack Russell verskeur het en die skade was net so oor die R2000, ver van R45000 af. En wees verseker, my hond is g'n momma's boy nie.
So betaal sy dan ook 'n hemelhoë skoolfonds en haar seun kom opgef#k by die huis aan oor die onnies nie meer dissipline MAG handhaaf nie. Dis ook nie krieket om te beweer die outjie is 'n mamma-se-seuntjie omdat sy begaan is oor sy beserings nie. Selfs 'n pa sal redelik ontstig wees as 'n seun sonder sy voortande by die huis aankom (en ook in 'n mate trots dat dit darem die kampioenbokser gekos het om dit te bewerkstellig).
Maar Rietha kritiseer ook ongevraagd; sy verwys neerhalend na die Broederbond. Die Broederbond was maar net 'n doen-dit-self regstellende aksie, die hele wêreld se hulp was nie nodig om Afrikanerdom op te hef (en te handhaaf) na die Britse verskroeide-aarde taktiek en in die, steeds Britse, old-school-tie milieu nie. As daar hier en daar 'n ou homself en/of van sy pelle bevoordeel het is dit jammer maar dan is dit maar tot daarnatoe; dit is nie ongewoon onder ander organisasies soos die Sons of England, die Vrymesselaars en veral ANC nie. As die Broeders nog die dinge gereël het, het Rietha nie hekke binne in die huis nodig gehad nie en was daar nog genoegsame dissipline in die skole dat haar kind nie vermink by die huis aangekom het nie.
Jan Rap


Kommentaar
Jislaaik Jan, dit wil mos lyk of jy en ek 'n aand om 'n vleisbraaivuur met 'n versnaperinkie in die hand , gesellig sal kan deurbring. Een van my stokperdjies is houtwerk en die sweisery moes ek by my nuwe adres laat vaar weens die gebrek aan behoorlike fasiliteite.
Ja-nee inderdaad Enjee, ons sal lekker kan gesels. Ek maak maar boeregoed, met ander woorde rustieke goed bloot omdat ek nie kabinetmakersvaardighede het nie. Meestal rowwe skaakstelle (manne en borde) en ek wil van die goed probeer verkoop maar dis moeilik - handelaarskap kom moeilik vir ons Boere. Dis net nie lekker om agter ’n tafel, met jou goedjies op, te staan en te wil hê iemand moet dit koop nie. Dit voel snaaks, half soos gunste vra en dit is nie so nie, ek weet, maar ek kan net nie daaroor kom nie.
Ek het op ’n kol ’n blog hier registreer en as hy nog bestaan en ek kan onthou hoe om op die ding te kom sal ek ’n paar foto'tjies plaas. Sommer ’n foto van Willem ook, my Jack Russell, laat jy kan sien hoe daai Huskies hom verniel het.
Groetnis
Jan Rap,
Na ek jou brief gelees het, het ek net weer opnuut besef dat ek toe na alles nié vir Rietha verkeerd verstaan of opgesom het, nie. Dit is verbasend hoe sonder insig julle lees en hoe bevooroordeeld die interpretasies van wat ek geskrywe het, is.
Jou eie hantering van die afknou kwessie gaan, net soos sy, met die klem op die geld.
Hoe die seun daaroor voel en wat die seun se inset in die saak is (hy is al groot – dit het met hom in sy laaste jaar op laerskool gebeur) speel by geeneen van julle twee en ook nie by die ander mense wat kommentaar gelewer het, ’n beduidende rol nie, terwyl ek die punt maak dat juis die seun vir die verdere hantering en aanspreek van die probleem, verseker geken moet word – want soos Rietha die saak tot dusvêr uiteengesit het, is die seun se opinie, sienswyse en hantering nie eens van sekondêre belang nie, want sy verwys nie een enkele keer daarna nie, ten spyte van my protes.
Kyk ná jou brief – dis geld hier en koste daar en wat jy nie alles anders met die geld sou kon doen, nie (toemaar, ek besef dat daar ’n tikkie humor ook in is), maar oor die seun se sienswyse, benadering, voorstelle, hantering, is daar ook by jou, geen sprake nie.
Dus, hoe MA daaroor voel en hoe MA die saak wil aanpak, is absoluut oorbeklemtoon. Hoe dié voorgestelde optrede en hantering van MA, vir SEUN gaan raak, speel blykbaar geen beduidende rol nie – nie so dat mens dit uit julle skryfgoed sal agterkom nie - ook nie by jou, nie.
Daarom wat ek met ’n luide stem doen, is, ek sê HOKAAI – wat van SEUN se belange en eie hantering en benadering en hoe die huidige en voorgestelde optrede van MA, vir SEUN raak en dalk tot gevolg kan hê dat SEUN gespot gaan word oor die manier hoe MA dit hanteer? So, waar het ek gesê die seun is mammie-se-seuntjie? Wat ek gesê het, is dat as mammie nie let op hoe sy die saak hanteer nie, sal ander haar seun straks spot asof hy ‘’n mammie-se-seuntjie’ is, juis terwyl hy dit nie is, nie!
Dan maak ek ook die punt dat ek dink Rietha is dalk te emosioneel betrokke om as openbare kampvegter op te tree – in die openbare forum, waar sy die saak wil aanroer, word mense deur die publiek met uiteenlopende standpunte gestriem en getoets en elke enkele stelling wat sy maak, sal gedissekteer word en sal sy voor aangevat word, terwyl daar ander is wat met haar sal saamstem en haar sal ondersteun.
As die saamstemmers nou wragtie, soos hulle met my gedoen het, die nie-saamstemmers met ’n onvolwasse, emosionele en histeriese “Oe! Julle is sus en so en so liefdeloos!” gaan probeer toesnou, gaan dit in ’n sirkus ontaard, soos dit hier ontaard het en van die probleem se oplos gaan daar absoluut NUL kom, want haar ewe emosionele ondersteuners gaan haar probeer beskerm en sy sal, soos sy hier gedoen het, in trane wegstorm met ’n gekneusde erg oorsensitiewe ego.
Die probleem lê by opvoeding – by die huis. Moenie voorstel dat die skool moet instaan waar die ouers faal, net omdat die ouers geld betaal, nie. Geen hof gaan dit deurvoer nie – alle skole het alreeds reëls teen geweld en afknouery.
Dan is daar ook die kwessie van die aard van só ’n bakleiery – in ’n hof sal dié sakie baie sorgvuldig ondersoek, word. Waarom lyk die kind se gesig so? Wat was ook sy eie aandeel? Wie was die uitdager? Wie is die boelie – want dit is nie altyd die ou wat die minste bloei wat die boelie is nie – baie boelies misgis hulle en kry dan een of ander tyd deeglik slae. So, was haar seun of die ander ou die uitdager, die boelie? As haar seun dan nie die uitdager was, nie, waarom het haar seun so lank bly staan en teruggeslaan, om uiteindelik só afgeransel te word? Waarom het hy nie van die geveg af weggestap, voor dit begin het, as hy dan nie kans gesien het, of gemeen het dit is verkeerd om te baklei, nie?
Dít is maar net bolangs die tipe indringende vragies wat vir ure lank in die fynste besonderhede in die howe deur middel van indringende kruisondervraging deur mense wat daarvoor opgelei is, uitgerafel gaan word. En dit is ook waar daar dikwels ’n heel ander prentjie sal ontvou as wat die gebelgde mammie vooraf vir haarself voorgestel, het, toe sy die saak met soveel bravade aanhangig gemaak, het … met ’n saak wat uiteindelik verloor word omdat die geveg uit twee vegtendes saamgestel word en nie net een, soos mammie dit graag sou wou hê, nie. Daar sal dit normaalweg blyk dat daar by sulke geleenthede twee varkies in die verhaal is en nie net die een om wie se nek mammie graag die bordjie wil hang, nie hoewel een varkie meer bloei as die ander.
Baie maklik om emosioneel te skreeu in die openbaar "Dagvaar hulle!!! Kruisig hulle!!!"... maar 'n totale ander saak om die realiteit van die bravade deur te sien.
Hierdie is die realiteite.
Is Rietha opgewasse vir haar kruistog en veral die koers wat sy so emosioneel wil inslaan, of praat sy sonder dat sy behoorlik voorraadopname gehou het waarvoor sy haar op daardie besondere koers wat sy inslaan, inlaat. Is dit die regte koers? Hoe volwasse is haar benadering sy as sy kwaad word vir iemand soos ek wat haar tot orde daaromtrent roep - vir haar eie beswil?
Nou, Jan Rap. Lees asseblief nou weer wat ek geskrywe het en sê nou weer vir my wat ek verkeerd gedoen hê. Tag, man! Jy self doen dan nie eens ’n oplossing aan die hand, nie en kla nes sy, net oor die geld en die sogenaamde waarde vir geld. Wat dan van die arm ouer, wat nie geld het om sekuriteit vir die kinder ste koop, nie?
Ek wonder of julle besef wat die strekking van julle benadering werklik is …
Kobus de Klerk
Nee Kobus, die afknoukwessie gaan nie vir my oor die geld nie maar oor die gebrek aan dissipline in die skole spesifiek en die verval in die land oor die algemeen. Die geld is net 'n verswarende aspek.
Rietha se punt is dat, as mens vir 'n produk betaal, verwag jy dat die verskaffer sy deel van die kontrak nakom. Indien die verskaffer nié sy deel van die kontrak nakom nie kan jy óf dit los, óf reg in eie hande neem, óf jou wend tot die reg en om verstaanbare redes is laasgenoemde eintlik die enigste keuse.
Eersgenoemde opsie waarsku die verbruikersraad ons gedurig teen en die tweede opsie lei tot 'n vete. Rietha is onder druk geplaas om die eerste opsie te aanvaar en sodoende die verskaffer met spreekwoordelike moord te laat wegkom.
Sy voel sy moes eintlik prosedeer het juis omdat die kind 'n onreg aangedoen is. Jy kan dus nie sê "... hoe die MA voel ... is absoluut oorbeklemtoon ..." nie; dis sinneloos. As jou kar gekaap word gaan maak jy die saak aanhangig by die polisie en die versekering; die feit dat jý omgekrap is daaroor is irrelevant.
'n Motor is 'n aardse ding en as jy oor skade aan 'n motor omgekrap is, hoeveel te meer nie as jou kind leed aangedoen word nie. Om dus vir Rietha aan te spreek omdat sy woedend is, en aksie wou neem, is onbillik.
Jy sê ek bied nie 'n oplossing aan nie – 'n oplossing waarvoor? Wat was byvoorbeeld jou oplossing?
Wat is my oplossing, Jan Rap? Ek dog jy sê jy het my kommentare gelees, met die dat jy dit kritiseer. Kritiseer jy ook sommer net omdat kuberpapier geduldig, is? Lyk mos so...
Ja, as my kar gekaap sou word, sou ek nie die openbare media invaar en "dagvaar hulle, kruisig hulle" skreeu, met verwysing na die polisie nou, en ook die minister van finansies, omdat die polisie getaak is met misdaad beheer en die minister omdat mense belasting betaal, nie. Nee. Ek sal hand in eie boesem steek en kyk hoe ek self die dilemma in die toekoms kan vermy en selfs uitskakel. En boonop is die versekeraar deur kontrak aan jou verbind juis om jou skade te vergoed in die omstandighede wat tot jou skade aanleiding gegee het - dit is mos darem duidelik dat die skool nie in so 'n regsverhouding tot die ouer staan, nie?
Daarom dien jou voorbeelde glad nie jou argument, nie.
Dus, jou (en Rietha se) voorstel om die skool te gryp, omdat hulle kwansuis vir dissipline verantwoordelik is, waarvoor jy kwansuis betaal, is baie misplaas, omdat jou, as ouer, se eie primêre verantwoordelikheid is om jou kind 'n gedissiplineerde opvoeding te gee om juis weg te stap van boelies af en nie te baklei by die skool, nie. Die probleem waarvoor jy dus die skool wil aanspreeklik hou, begin dus in die ouerhuis en nie die skool, nie. Om dus die ouer se verantwoordelikheid in daardie verband daarmee te wil afwater en ontduik, is nie net ontduiking van verantwoordelikheid, nie, maar ook onvolwasse en gaan nie in die regte wêreld werk nie.
Die skool se primêre doel is om aan jou kind 'n skolastiese opvoeding te gee, en nie om sekuriteitsdienste ten aansien van jou kind te verskaf, nie.
So, ongelukkig vir julle, is die 'produk' waarvoor julle betaal, nie sekuriteitsdienste, nie, maar skolastiese opvoeding op die veronderstelling dat jou kind welopgevoed genoeg vanuit die ouerhuis daar aankom, sodat hy nie vir homself en ander by die skool, 'n gevaar is, nie.
Trouens, as dinge werklik handuit ruk, sal die skool waarskynlik 'n interdik teen die kind se ouers kan kry en ook boonop skade kan verhaal, waar die skool se reputasie en veilige milieu deur sulke veglustige knapies versteur en geskaad, word...
Lees weer wat ek hierbo geskrywe het - jy sprak geen sprook daarvan nie - hoe sal jy sulke vrae in die hof hanteer? Dit is die realiteite.
Vir die skool om aanspreeklik gehou te word, sal daar na jou kontrak met die skool gekyk word, of hulle jou vrywaar teen enige skade wat jou kind by die skool opdoen - ek dink jy sal ontnugter wees wanneer jy wel na die kontrak kyk, want jy sal waarskynlik vind dat jy as ouer die skool vrywaar teen enige aanspreeklikheid en waar die kontrak daaroor swyg, sal jy moet bewys dat die skool die bakleiery toegelaat het en niks daaraan gedoen het, nie, terwyl hulle in die redelike posisie was om dit te kon stopsit - en dit bo en behalwe die bydraende aanspreeklikheid wat jy sal moet verduidelik en verduur vir jou kind se eie aandadigheid in die bakleiery en die skade wat daarop volg, al het hy al sy tande verloor - let wel - hoe meer tande hy verloor, hoe langer het hy aangehou baklei sonder om weg te loop en hoe meer is hy self ook aanspreeklik vir sy eie skade - en rus die skade maar waar dit val. Dieselfde geld natuurlik vir die ander ou wat gebaklei, het.
Soos jy sien, betaal jy nie die skoolgeld om jou kind teen homself en ander te beskerm nie, maar om skolasties opgevoed te word en dra die skool nie die verantwoordelikheid vir onopgevoede kinders se optrede, nie - die skool het die reg om aan te neem dat die kinders wat die skool bywoon, sosiaal opgevoed en gedissiplineerd, is. Indien die kinders nie is, nie, soos in sekere sosiale randgeval gebiede, sal die skool sekuriteitsdienste verskaf, soos in Amerika die geval is, waarvoor die kinders se ouers en/pof die departement uitdruklik voor betaal - duidelik nie die geval hier, nie. Die outjies wat daar in die Oos-Kaap en elders sonder boeke moet regkom - en dus nie skolasties behoorlik opgevoed word, nie - hulle het 'n eis teen die skool. Maar die ouer met sy ewe bakleierige kind as die ander ouer se kind, ongeag wie die meeste tande verloor - het nie so 'n eis, nie, behalwe in die onwaarskynlike omstandighede wat ek voorbeelde van genoem, het.
Jou kommentaar oor hierdie werklike issues? Het jy my voorstel vir n effektiewe oplossing nou gelees? Het jy daaroor kommentaar, ook?
Kobus de Klerk
Kobus, op 'n kol beskuldig jy my dat ek sonder insig lees maar dit is eerder jy wat sonder insig lees. Ek het nie voorgestel dat Rietha die skool moet dagvaar soos jy beweer nie, ek het gesê jy kan haar nie kwalik neem dat sy dit wou gedoen het nie.
Behalwe dit nou, as jy glo ek het ook aanbeveel dat Rietha die skool dagvaar, waarvoor vra jy my dan wat my oplossing is, dan was my oplossing mos dieselfde as hare of hoe? Of, gegee nou dat jy sonder insig gelees het en sodoende gedink het dit was wel my oplossing, het jy dalk bedoel of ek 'n ANDER oplossing het?
Hoe dit ookal sy, ek het geen oplossing gebied nie omdat ek nie 'n probleem gesien het nie; ek het bloot laat blyk dat ek Rietha se misnoë begryp en dat dit onbillik is om te oordeel. Ek gee toe ek kon dalk die 'probleem' misgelees het, dié dat ek jou gevra het wat jóú oplossing was wat my die geleentheid sou gee om dan, op die manier, die probleem te sien en dalk 'n oplossing te bied.
Terloops, 'dissipline begin by die huis' is onsin, dis 'n cliché. Die skool het heeltemal ander omstandighede en dit maak nie saak wat die kind by die huis geleer is of nagelaat was om geleer te gewees het nie (goeiste! ek hoop my grammatika is reg hier), by die skool moet hy touwys gemaak word wat daar geld en dit is die onnies se plig; hy kan dit nie self uitdink nie.
Buitendien, daar is kinders wat nie huise het nie soos wesies en so aan. En, soos by 'n winkelsentrum, 'n kerk, 'n kantoorblok of 'n bordeel, is die skool ook verantwoordelik vir veiligheid en sekuriteit, dis wet. As jy by 'n winkelsentrum jou enkel verstuit gaan die bestuur daar jou moet vergoed, al is daar 'n bord met groot letters wat jou vertel jy is daar op eie risiko.
Jan Rap,
Jou instemming met Rietha se brief is ook jou instemming met haar metode. As jy dan nie met haar saamstem nie, moes jy dit sê.
Wie het haar 'geoordeel' ? Ek het nie. Ek stem eenvoudig net nie met haar voorgenome werkswyse saam en ook die klem wat sy verkies te laat val het op die geldelike sy, nes jy, nie - sy het die leuse van haar woorde gemaak nes jy joue gemaak, het. Ek is geregtig om met daardie woord ene sinne te gaan en te reageer. Dit is wat ek gedoen het. Die 'oordeel' storie is sooooo emosioneel; onvolwasse en afgesaag
Wat jou kommentare aanbetref, lig jy nogal die kruks van die probleem uit. Jy noem 'dissipline begin by die huis' 'n cliché ? Nou daar het jy dit. Dit is oor daardie houding dat dit gaan soos dit gaan. Jy is derhalwe ook 'n ouer wat verwag jou kinders moet by die skool hul opvoeding kry, Dit is ook duidelik dat jy nie weet hoe jy die kinders vir skool omstandighede by die huis moet opvoed, nie, want jy sê self so! G'n wonder jy stem nie met my saam, nie. Jou onvermoë of onkunde in daardie verband, verskoon jou egter nie van daardie opvoedingsplig, nie. Gaan jy nou vir my weer sê ek 'oordeel' jou?
Is die opvoedingsopdrag - jy mag nie by die skool baklei nie - tesame met 'n bespreking van die aspek met jou kind, iets wat jy nie by jou huis vir jou kind kan leer, nie?! Genade, wat kan jy dan vir jou kind leer? Wat gaan aan daar by jou?
Geeneen van daardie instansies wat jy noem is verplig om jou te beskerm teen jou eie onregmatige optrede nie, en ook nie die van jou kind, nie. Dit is mos louter snert wat jy praat, man. Geeneen van hulle gaan opdok as jy of jou kind in 'n vuisgeveg in die foyer betrokke raak nie - inteendeel - julle sal aanspreeklik gehou word. Dit is mos voor die hand liggend. Jy is duidelik ook nie bewus van die regskrag van vrywaring nie - jy het nog baie om te leer, goed en wel, maar waarom stry jy as jy nie weet wat aangaan, nie?
Gits, jou gebrek aan kennis van die reg kan jou nog in die penarie laat beland. Ook maar baie goed jy leef in Genade.
Weeshuis kinders en kinders in pleegsorg word veral teen bakleiery by die skool , opgevoed - meen jy hulle kry nie opvoeding nie, net omdat hulle pleeg- of weeskinders, is?!
Dit is in die geval van kinders wat uit sosiale randgebiede kom waar geweld 'n baie groot rol in die sosiale kultuur speel, soos bende areas en sommige tydelike nedersettings, waar sekuriteitsdienste definitief voorsien moet word, soos ek reeds vermeld, het. Nie andersins, nie en dan sal die ouers of die departement spesifiek daarvoor moet betaal.
Kom nou, smaak my jy is maar een van daardie ouens wat te alle koste om die bos sal spring solank jy net nie hoef bes te gee, nie.
Kobus de Klerk
Kobus, jy let nie op nie en raak in onnodige detail verstrengel. Ek het nie ingestem met Rietha se brief nie, ek het reageer op jou snydende kommentaar op Rietha se brief. Ek sê weer: Niemand kan Rietha kwalik neem dat sy ontstig was oor die skool nie sy verpligtinge nagekom het en sy verantwoordelikhede versaak het nie.
Ek het jou al duidelik gesê dit gaan nie om die geld nie maar jy wil maar nie bes gee nie. Lees nou, by wyse van spreke, my lippe: Dit gaan om die agteruitgang van dissipline (en gehalte-onderwys, dus onder andere standaarde ook) by skole, sommer die land in die algemeen. Die feit dat mens skoolfonds en belasting betaal is verswarend.
Wat die ou cliché 'dissipline begin by die huis' betref: Geen huis is sonder 'n mate van dissipline nie, selfs al word die kinders volgens Dr Spock se metodes grootgemaak. As kinders egter by die skool ontwrigting veroorsaak moet die onnie(s) hulle dissiplineer, maak nie saak wat hulle by die huis geleer het nie. Hy kan nie op 'n hopie gaan sit en die ouers beskuldig nie; hy moet hulle dissiplineer, op welke manier ookal.
Destyds, soos jy ingetrap het by SAW en Seuns, was jy dadelik onderworpe aan die dissipline daar, of jy nou Dissipline 101, 201 en 301 by die huis, laerskool en hoërskool respektiewelik gehad het of nie. Hulle het nie omgegee nie.
Ek stem saam dat nie een van die instansies wat ek genoem het verplig is om my teen my eie onregmatige optrede te beskerm nie en ek het dit ook nooit gesê nie. Hulle is wel verantwoordelik vir jou sekuriteit en veiligheid op hulle perseel. Om die waarheid te sê, as jy 'n kontrakteur kry om jou dak te verf en hy val van jou dak af is jy aanspreeklik TENSY jy hom voor die tyd gewaarsku het teen enige negatiewe gebeurlikhede soos gly op los teëls, gladde sinkplaat ens ens.
Jy kan nie vir my kom staan en vertel dat ek ' ...nog baie het om te leer...', ' ...dat [ek] nie weet wat aangaan nie ...' en '... dat my gebrek aan kennis my nog in 'n penarie gaan laat beland...' nie en wel om verskeie redes. Die eerste is dat jy reg mag wees en dan maak dit my gevoelens seer en is dus gemeen, skoorsoekend en onchristelik. 'n Tweede rede is dat jy verkeerd mag wees wat dit dan is dit skoorsoekende optrede maak en dit is gemeen en onchristelik. Hoe dit dan ookal sy, dit is die tipe antwoord wat NIE die grimmigheid afkeer nie, dus reëlreg teen wat die Psalmdigter aanbeveel.
Net vir jou inligting: Ek het 'n deeglike studie van Beplanningsreg 1 gemaak; ek het dit tweemaal gedop op varsity en het dus drie jaar aan die vak studeer terwyl ander ouens sommer in een ou jaartjie daardeur gevlieg het.
Jan Rap,
Goed, ek aanvaar nou dat jy nie met Rietha saamstem nie (is mos so - jy stem of saam, of jy stem nie saam nie), hoewel dit nou eers uit jou pogings om jouself te verduidelik, blyk, maar beslis nie uit jou eerste kommentaar, nie. Gaan maar weereens oor hoe jy jouself uitgedruk het met die arsenaal taalgereedskap tot jou beskikking, maar wat nie gebruik is, nie. Ook maar haar probleem gewees, lyk dit my. Mens kan so lekker gesels in Afrikaans, waarom gebruik mense dit nie?
Ek aanvaar jou relaas oor die seer gevoelens en onchristelikheid as 'n grap - die tong in die kies tipe ding. Nie werklik baie oorspronklik nie, maar tog snaaks. Indien jy egter ernstig is, is jy onmoontlik fyngevoelig, dan moet jy liefs uit openlike volwasse gesprekke en veral openbare debat, wegbly.
Dan die kwessie van aanspreeklikheid.
Die ironie is juis jou eie lamentasie oor die agteruitgang van dissipline, maar jy beskou dissiplinering by die ouerhuis as 'n cliché, terwyl die ouerhuis tog ideaal juis die fondament van opvoeding is ?! - Goed en sleg, ongelukkig.
Feit is, as jy as ouer huislike opvoeding en dissipline as cliché beskou, moet jy tog asseblief nie so arrogant wil wees om die skroewe te wil aandraai vir vreemdelinge waar jou kind dan ongedissiplineerd gaan optree, nie. Neem verantwoordelikheid! Waarom sou jy van die vreemdeling die opvoedingstaak verwag as jy as ouer dit as cliché beskou en daarom dalk verwaarloos?
Oor jou aanmerking rakende die kontrakteur wat van die dak afval en waarvoor jy aanspreeklik is, tensy jy hom vooraf waarsku dat hy kan afval oor los teëls, is slegs in sekere beperkte omstandighede korrek. Enige verfkontrakteur wat op n dak klim, weet reeds die risiko's verbonde en dat daar dalk losserige teëls mag wees. Maar as jy los dakteëls het, waarvan jy bewus is maar hom nie vooraf waarsku nie, en hy val om daardie rede af, of jy gee voor dat daar nie sulke teëls is, nie, is jy wel aanspreeklik, want dit is nie so geredelik voorsienbaar dat die dakteëls baie los is, nie. Jou voorbeeld van gladde sinkplate gaan nie op nie, want veral kontrakteurs, weet presies wat om van sinkplaat dakke te verwag - dit is immers hul werk en deel van hul vakkundige bedrewenheid uit die aard van hul werk, om op dakke rond te klouter en word van hulle spesifieke kennis omtrent sulke werksomstandighede toegereken.
Maar jy dwaal onnodig af. Die ganse gesprek het van die begin afgegaan oor outjies wat staan en baklei dat die tande spat - nie oor irrelevante ongeluk - situasies waar mense wat op vloere gly, per ongeluk van dakke afval, van sinkplaat dakke afval, betrokke is, nie. Die gesprek gaan nie oor kinders wat op die klaskamer vloere gly of van die gladde skooltrappies afval, nie - waarvoor die skool in sekere omstandighede aanspreeklikheid sal moet aanvaar nie - maar jou eie kind en 'n ander ou se kind, wat doelbewus en berekend in 'n wederregtelike en onregmatige vuisgeveg betrokke raak omdat hy nie behoorlik by die huis geleer is om weg te stap van soiets, nie - ek verbaas my dat jy nie die verskil kan insien nie - g'n wonder beplanningsreg 1 het nie vir jou uitgewerk nie. Dalk moet jy net weer gaan kers opsteek vir jou eie beswil.
Jou vermelding van die spesialis dissiplinêre struktuur wat in 'n weermag opleidingsgebied geld, teenoor die algemene dissiplinêre aard by die huis, is absoluut onvanpas en irrelevant. Dit is onvergelykbaar met die situasie wat ons aanspreek. Daar is basiese dissiplinêre boustene wat by die huis en by die skool geld - al wat daar verlang word, is gewoon gehoorsaamheid, pligsgetrouheid en medemenslikheid, welke ook die boustene van die ouerlike huislike dissiplinêre stelsel uitmaak. Sou jy daarin versuim, versuim jy jou ouerlike opvoedingsplig. Die skoolowerheid het dus die reg om te aanvaar dat jou kind in daardie elementêre dissiplinêre opvoedingsbeginsels onderlê is. Net so min soos kinders by die skool toegelaat word om geweld te pleeg, net so min ook by die huis, en natuurlik, andersom.
Dit is in praktyk egter nie te sê dat die kinders by daardie reglemente hou nie - nie by die huis nie en ook nie by die skool, nie - en is hulle, die twee bakleiers, se eie optrede dus onregmatig en onwettig en is dit absoluut absurd om die skool daarvoor verantwoordelik te wil hou. Soos ek sê, dit sal eerder die skool wees wat onder sekere omstandighede interdikte teen een of albei kinders en ouers van die minderjarige kinders, te kry, ens.
Ek dink, tensy daar iets nuuts van jou kom, gaan hierdie gesprek hoenderkop raak van in sirkels gaan.
Kobus de Klerk
Kobus, hierdie ding is al lankal in 'n sirkelgang oor jy nie oplet nie en konstant die kat aan die stert beetkry. Ek moet oor en oor jou dieselfde ding vertel. Byvoorbeeld, ek haal aan, " ... ek aanvaar nou dat jy nie met Rietha saamstem nie ..." (my skuinsskrif). Waar val jy uit swaer? My punt was dat mens Rietha nie kwalik kan neem dat sy woedend is nie, of ek met haar saamstem of sy die skool moes dagvaar of nie is irrelevant. Waar ek wel met haar saamstem – en ek glo jy ook en elkeen in Suid-Afrika – is dat dissipline in skole jammerlik agteruitgegaan het.
So, om op te som:
Skooldissipline is op 'n laagtepunt.
Mens kan Rietha nie kwalik neem dat sy erg ontstig is dat haar seun se tande by die skool uitgeslaan is nie.
Dit is dus onbillik om neerhalend en snedig teenoor haar te wees.
Waar kom jy daaraan dat ek " ...as ouer huislike opvoeding en dissipline as cliché beskou..." ? Lees mooi; wat ek sê is die onnie/onderoffisier/offisier wat nie dissipline kan handhaaf nie, kan homself nie verskoon deur ewe selfvoldaan te verklaar dat dissipline by die huis begin nie. Dít is die cliché. Waar kom hulle in elk geval daaraan? Uit die fabels van Aesopus? Die Magna Carta? Ek het tog duidelik vir jou gesê dat daar waar dissipline gehandhaaf moet word gaan dit gehandhaaf word of die kind nou die CSV-voorsitter of hoof van 'n bende was maak nie saak nie. Die een gaan miskien net moeiliker inpas as die ander een maar inpas gaan hy beslis.
Wat aanspreeklikheid betref: Jy gee te kenne dat enige kontrakteur reeds bewus is van die risiko's. Ek stem saam met jou, dis logies, dis hoe dit behoort te werk, die kontrakteur is immers die kundige, dis juis hoekom hy 'n kontrakteur geword het want hy ken en is goed met daardie werk.
Dit werk egter nie meer so nie. Jy is veronderstel om, onder andere, vir daardie kontrakteur 'n lys van risiko's te gee. Simpel, myns insiens, want as iets met hom sou gebeur wat NIE op jou lys verskyn nie gaan jy betaal of betrokke raak by een ma se arbitrasie- of hofsaak, dit is die Nuwe Suid-Afrika.
En ek dwaal nie af nie; ek het hierdie goed vir jou uitgewys na aanleiding van jou stelling naamlik dat die skool " ... se primêre doel is om aan jou kind 'n skolastiese opvoeding te gee, en nie om sekuriteitsdienste ten aansien van jou kind te verskaf nie."
Wat die onchristelikheid betref: Soos die Engelse sê, vele waarhede is al grappenderwys ontbloot.