Polities korrek is nie korrek nie!

  • 8

My werk is seks. Ek skryf daaroor, dink daaroor, debatteer daaroor en ondersoek die idees wat mense daaroor het. Omdat ek elke dag met die onderwerp omgaan, vergeet ek soms dat die stellings, idees en woorde wat ek gebruik, nie as polities korrek geag word nie. Ek leef mos in ’n oop en vry gemeenskap. Tot iets gebeur wat my na die nare werklikheid terugruk. 

Ek weet nie meer hoe om my lewensfilosofie te beskryf nie. Nie so lank gelede nie was ek wit-en-swart-seker wie ek is en wat ek glo. Op my Facebook-profiel sou ek sonder om te aarsel gesê het ek is liberaal en ek sou daarmee bedoel het dat ek glo dat elke mens  gelyke regte en geleenthede behoort te hê. Dit was vir my ’n logiese en redelik eenvoudige konsep. Ek het nie ’n mens gedefinieer in terme van sy of haar geslag, velkleur, seksuele oriëntasie of geloof nie. Hierdie idee was en is nog steeds vandag die kern van my “liberalisme”. Maar daardie einste mense wat voorheen nie regte gehad het nie en daardie einste liberale mense wat hulle help “veg” het vir gelykheid, is besig om self in tiranne te verander. En hulle doen dit met een van die mees effektiewe wapens van die stryd – politieke korrektheid.

Ek is nie teen die oorspronklike idee van politieke korrektheid nie. Die meeste mense wat dit gebruik (en op ander afdwing), doen dit waarskynlik omdat hulle goeie mense is en edele bedoelings het. Maar daardie edele bedoelings gaan terugkom en hulle byt wanneer hulle uitvind dat hulle vryheid van spraak daarvoor opgeoffer het.

Die grootste probleem wat ek met die manier het waarop mense polities korrek is, is dat die basis daarvan dikwels oneerlik is. Almal vertel onsmaaklike grappe iewers in hulle lewens. Die meeste is net slim genoeg om dit te doen waar hulle tussen vertrouelinge is. Almal wonder oor dinge wat polities nie so korrek is om oor te wonder nie. Almal weet dat seks op sestien wettig is en dat skoolkinders seks het, maar wanneer iemand ’n fliek daaroor maak en dit verbied word, bly ons stil omdat die woord “kinderpornografie” rondgegooi word.

Op ’n aweregse manier maak polities korrekte gedrag ’n samelewing oneerlik en minder oop, omdat ons voorgee dat ons die ander aanvaar net soos hulle is en daarom nie vrae vra oor persepsies wat ons van “hulle” het wat waarskynlik verkeerd is nie. Die vinnigste manier om ’n gesprek dood te maak is wanneer iemand uit die moralistiese “high ground” polities korrekte voorwaardes daaraan stel. Polities korrekte taal gaan dikwels oor hóé jy dit sê en nie wáárom jy dit sê nie. Ons kan mekaar nie meer hoor nie, want ons mag nie vir mekaar sê wat ons eintlik wil sê (en uitklaar) nie.

Daar is baie, baie voorbeelde wat ek hier kan noem. As gevolg van vrees vir die politieke-korrektheid-brigade mag mens nie oor die redes praat waarom ons huidige onderwysstelsel nie werk nie; mens mag nie oor jag praat nie (steek weg daardie foto van jou by jou eerste bok); ek is te bang om oor breking (fracking) te praat; jy kan nie erken dat jy daarvan hou om ’n tuisbly-ma te wees nie; enige gesprek oor “gender” is ’n mynveld; jy kan nie ’n kompliment vir ’n vrou in ’n hysbak gee nie; jy mag niks sê oor homoseksualiteit nie. Dit is so dat sosiale media nie ’n werklik private ruimte is nie, maar waarom word die “vriend” wat jou “onkorrekte” grap met die wêreld gedeel het, nie sterker veroordeel nie? In die meeste gevalle genoem is my mening toevallig die polities korrekte ene, maar dis presies my punt – wanneer het my standpunt die enigste een geword wat ek wil hoor en toelaat? Was dít nie nog altyd die konserwatiewes se taktiek nie?

Het ons in ’n bose kringloop beland? Wanneer ek gaan oplees oor politieke korrektheid, bevind ek my skielik aan die kant van die konserwatiewes. En dit maak my ongemaklik, want ek weet voor my siel dat ek nie daar hoort nie. Maar ek weet ook dat ek sommige idees nie meer hardop mag deel nie, want dan sal my vorige kamerade my ophang. Liberale idees van respek vir almal word nou konserwatief en fundamentalisties toegepas, want politieke korrektheid is nie meer ’n sosiale mening nie – dit word nou meer dikwels gebruik om ’n “holier than thou”-tipe moraliteit af te dwing. Ek wonder soms of mense besef dat daardie “bybels”, soos Animal Farm, Brave New World en Nineteen Eighty-Four, wat ons aangespoor het om die wêreld te verander, nou op hulle eie gedrag van toepassing gemaak kan word? “Four legs are better”, voorwaar.

Kan dit wees dat die nuwe boelie in die omgewing die liberale ou is? Of weet die mens net nie wanneer hy gewen het nie? Hoe ver is ons van “thought police” af, of het ons in die proses van ’n regverdige samelewing word, net eenvoudig suurpruime geword?

Ek is ’n voorstander van teenstrydighede. Dit laat mens dink. Dit is in die ruimte tussen opponerende pole dat die lewe uitgepluis word. Die spanning tussen politieke korrektheid en vryheid van spraak is een wat positief gebruik kan word om oor belangrike vraagstukke met mekaar te kan praat. Maar daar is niks korrek daaraan om eensydig vanuit ’n valse moraliteit jou mening op ander af te dwing nie, en dit is wat vandag gebeur. Ons gaan moet besluit of ons so sterk oor ander se verkeerde gebruik van woorde en onsmaaklike grappe voel dat ons ons eie reg om dieselfde te doen daarvoor sal opoffer. Antwoord versigtig, want die wiel gaan draai.

  • 8

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Annelise, dankie vir jou heldere denke en vir die duidelike formulering van wat jy dink.

     

    Johannes Comestor

  • Kon dit self nie duideliker gestel het nie. Stem heelhartig saam. Self die taal word verskraal deur die vroulike vorm van woorde nie meer te gebruik nie .

  • Annelise, niks het verander nie; die stel heilige koeie wat nou onaantasbaar probeer wei was nog altyd daar maar dis net met die nuwe bedeling se totale onbekwaamheid dat die skille van die oë begin afval.

  • Hier is 'n argument vir die gebruik van polities korrekte taal.

     
    'n Mens se taal beïnvloed jou denke en jou houdings. Elke keer wanneer jy wan 'n polisieman praat, versterk jy die konneksie in jou brein tussen polisie en die manlike geslag. Wanneer jy dan 'polisie' hoor of lees, dink jy aan mans. Doen maar 'n paar eksperimente en kyk of dit waar is.
     
    'n Ander voorbeeld is die verskil tussen die Engelse 'humanity' en 'mankind'. Dink jy regtig aan presies dieselfde konsepte as jy die twee woorde hoor? Klink 'humanity' regtig nie vir jou meer inklusief nie?
     
    Die mense wat politieke korrektheid aanval is gewoonlik die wat op die oomblik in magsposisies is. Dit verbaas my dus nie dat dit 'n man is wat kla oor die 'verskraling' van die taal omdat die vroulike vorm verdwyn nie.
     
    Ons huidige politieke base is volgens my glad nie polities korrek nie. Hulle is rasisties teenoor witmense en seksities teenoor vrouens en homofobies. En hulle skroom nie om dit in die openbaar te sê nie. Dis net hulle toespraakskrywers wat tyd het om filters te gebruik.
     
    Polities korrektheid dwing mens om jouself te ondersoek vir onontdekte vooroordele wat jy mag koester. Insgelyks kan die wiel vir jou ook draai.
  • Annelise,

    Joe - iets aan jou briefie het gemaak dat ek dit vroeg vanoggend weer wou lees. Alhoewel jy dit nie in verhewe begrippe geskryf het, het dit getref. My laat dink. Iewers bring dit balans in my pendulum. Ek wil dit ondersoek ...

  • Hanna, wat is die funksie van  taal? Dit is tog kommunikasie. Hoe duideliker en omvattender jou woorde dit wat jy bedoel omskryf, hoe minder is daar 'n kans vir misverstaan. Dit is  tog die hele doel van taal. Kyk bv  hoe dieselfde woorde in Afrikaanse  en Nederlandse  verwarrend kan wees. Polisieman illustreer juis dit wat ek sê. Ons sou normaal van " die polisievrou " praat as sy vroulik is. Hoekom was die woord  " tikster " en " verpleegster" nooit 'n probleem nie? Terloops, as 'n man het ek nog nooit 'n probleem met die vroulike geslag gehad om oor hulle te dink in terme van mag nie. Mense wat ek bewonder vir dit waarvoor hulle staan, is ver in die meerderheid van die vroulike geslag.

  • ben van bruggen

    Ignoreer dogmatiese sotte se reëls. Praat soos jy wil met mense wat jy ken en vertrou, maar tel jou woorde
    in die wyer gemeenskap. Dikwels is politieke korrekheid net goeie maniere. Dit kos werk om buite ons taalgroep
    of ander rasse werklik te leer ken. Tensy jy die moeite wil doen, passop vir misverstand en aanstoot.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top