Persvrystelling: Breytenbach Sentrum se digterstuin word geopen

  • 0

Breytenbach Sentrum se digterstuin word geopen

Die Breytenbach Sentrum bied op Saterdag, 15 September, die Tuin van Digters aan. Dié daglange inisiatief, waartydens digters oor hul werk kom gesels en voorlees, is ter viering van die sentrum se digterstuin. In hierdie tuin word Afrikaanse gedigte van verskeie digters op interessante maniere uitgebeeld.

Die program skop om 10:00 af met ’n huldeblyk-program deurDaniel Hugo en Alfred Schaffer oor Gerrit Komrij. Dié ontslape Nederlandse digter word nie net onthou vir sy belanghebbende bydraes as Nederlandse digter en skrywer nie, maar ook vir sy bydrae om ’n groter bewustheid van die Afrikaanse digkuns in die Lae Lande uit te brei.

Om 10:30 ontmoet besoekers die aspirant-digters en akteurs wat betrokke is by die Breytenbach Sentrum se bemagtingsprojekte. Die sentrum bied onder die leiding van die bekende digter Diana Ferrus kreatiewe skryfsessies aan vir aspirant-digter. Hierdie digters span nou kragte saam met die Breytenbach Sentrum se drama-studente, onder leiding van Sophia Passerini, in ’n voorlesing- en voordragprogram. Jitsvinger kom gee ekstra skop aan die program.

Thérèse Hulme, wat tans ’n musiek-en liriekprojek aanbied as deel van ’n jeugontwikkelingsprogram in Athlone op die Kaapse Vlakte, kom gesels verder saam met hierdie groep jongmense oor die proses om deur woord en musiek hul stemme te laat hoor. Die projek is in samewerking met die Music Therapy Community Clinic (MTCC).

Die jong bekroonde digter, Ronelda Kamfer, wat die opspraakwekkende bundels, Noudat slapende honde en Grond/Santekraam die lig laat sien het, is om 11:30 aan die beurt om te gesels oor haar digkuns en die stories agter haar vlymskerp poësie.

’n Hoogtepunt op die program is die huldigingsbundel vir Adam Small wat om 12:30 bekendgestel sal word. NALEDI, in samewerking met RSG en die US Woordfees, gee hierdie digbundel uit. Die publikasie val saam met die week waarin Small die Hertzogprys ontvang.

Loftus Marais se tweede bundel is meer as ’n waardige opvolger vir sy buitegewone debuut. In 2008 het hy met Staan in die algemeen nader aan vensters nie minder nie as vyf letterkundepryse gewen, en die rede vir hierdie fenomenale erkenning is straks te bespeur in die selfversekerdheid van die digterstem in die nuwe bundel. Marais gesels om 14:00 met Bibi Slippers.

Met die immergewilde aktrise Elsabé Daneel se gunsteling-gedigte en die klanke van Niël Rademan, sal hulle woordmusiek-program, Verskombers, jou om 15:00 op ’n nostalgiese en romantiese, musikale galop neem.

Die verrigtinge sluit dan gepas af met die opening van die digterstuin om 16:00, waartydens digters soos Charl-Pierre Naudé, Daniel Hugo, Lina Spies, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Melt Myburgh, Pieter Odendaal, Ronelda Kamfer, Willem Fransman, Zandra Bezuidenhout en vele ander, hul werke sal voorlees. Laurinda Hofmeyr, Schalk Joubert, Rikü Latti en Les Javan sorg vir musiek en Antoinette Kellerman sal voorlees. Die opdrag aan digters wat aan hierdie program deelneem, was eenvoudig: skryf ’n gedig rondom die tema, “Tuin van  Digters”, op ’n klip van jou keuse en kom lees dit voor tydens hierdie spesiale openingsgeleentheid van ons digterstuin.

Vir besprekings, kontak 021-8732786, of per e-pos: sharonise@breytenbachsentrum.co.za.

- Klik hier vir die volledige program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top