Teater | Theatre

 
ONT – ’n (ver-)slag

Breyten Breytenbach. Breyten Paulse. Selfmoord. Moord. Skrywer. Fok. Watter een gebruik mens eerste sodat die leser geboei is from the word go?

Kom ons begin met Wessel Pretorius. Woordfees. Nie een wat rugby speel en geld verdien nie. Nie die digter/skrywer wat pas oorlede is nie. Nie die ou Voortrekker nie. Hierdie Wessel is “nuwe generasie”. Hy skryf ook. En Breytenbach en Van Wyk Louw rol van sy tong af soos asems. “… bokser, dokter, boer.” Die nuwe Wessel se kuns is die oeroue een van storievertel. Want hy vertel van wat was; wat is.

Buite die knus teater, in die strak, snikhete beligting van die ongenadige son, is die dowwe plof van nog ’n inbraak. Niemand let daarop nie. Almal dog die eerste inbraak van netnou was dít vir die dag. Maar ’n gewelddadige kloof lê oop tussen die duisend stukkies gebreekte glaspatroontjie; die skade van iemand – die oorleweraar – se hartseer smeerstryd om oorlewing. Oorlewing is in die begin altyd makliker oorkant waar bier getap word oor honderde heruitsendings van gister se rugby. ’n Gesonde liggaam handhaaf ’n gesonde gees.

Die kleure van die kunstefees ... Die kunsjuffrou wat altyd uitroep: Fees! vir die vryheid van die individu en sy vermoë om homself uit te druk deur kuns; die eerste tree na die val van heinings tussen mense in ’n gevorderde samelewing. Iets so anders as buurtwag. Daar waar mens juis toesien dat die hoë heinings geag word. In ’n voorportaal gesels iemand oor Nanine se afsterwe. En haar gemoedstoestand.

Nes ’n huis sonder ’n moeder, is ’n gemeenskap wat dobber op ’n see van geweld. Met selfbehoud die enigste inspirasie vir die drenkelinge. En polisieoptrede iewers tussen die boeie en die diep blou see. En ’n skeleton feesbestuur met handevol pêrels.

Wessel is nakend in ’n sinkbad. Terwyl hy poësie praat, spat hy die water oor sy lyf. Die kollig van agter aksentueer als. “Was my skoon soos sneeu …” Hy vertel, maar probeer ook sin maak uit wat hy sien, soos hy dit sien. Piet Byleveld gesels iewers. Inspirerende groot en bekwame misdaadkraker. In gesprek met die briljante joernalis. Daar’s nie plek vir ’n muis nie. Morné Steyn skop mis. Raar. Ys maak hierdie bier draaglik. ’n Sanger se klein gehoor kyk rond.

By die Dros se buite-area besoek die buitelander die hele tyd sy baksteen in die hoekie, lig hom op, en werk. Hy keer terug sentrum toe, lap in die hand. In Andringastraat sien die loerloper ’n man sy sakkie neersit om te help. Soos peule voor die swyn. As daai sakkie daar bly lê … Die voorblad by die Engelse eetplek dra die nuus van polisiebrutaliteit teen studente. Wessel roep die realiteite van ’n egte lewe op. Wat almal se realiteit is, van voordat jy nog geweet het jy sal speel in ’n film oor jou eie lewe, en niks daaraan kan doen nie. Niks is vreemder as realiteit nie. Wessel onthou die Sondagskoolbeleid: “Gebed is mos eerlikheid, eerlikheid is nederigheid en nederigheid is vreesloosheid.” Pêrels. Hy brei uit daarop. Die gehoor reageer op die prentjies. Wessel word draer van die kinderreëls. Hy werk verby dit. Trek parallelle. Sin uit ’n eienaardige logika. Hy word beleidmaker vir die grootmense van ’n toekoms.

Langsaan, oor die skoktelling, bring die bier nuwe insigte oor die strategie van oorwinning. Die oermanier hoe die man by die hek die vrou met die baba in haar arms met sy onderlyf agter die motorhek teen die pilaar vaspen, laat ’n wrang smaak in die mond. Oor haar skouer is die man se oë gevestig op die nuwe aankomeling wat parkeer, sluit en wegstap. Hy wil nie nou hier wegkom nie. Klimakse is almal dieselfde. Maar nou-nou sal hy wegkom met daai motoreienaar-vrou ook. Al is sy nie daar nie. Juis omdat. En dis so maklik. Hy kon nog altyd daarmee wegkom. Sy oë skuif na waar hy die staaf op die grond wegsteek. Daar’s vrug. Hy pluk sy gulp op. Hy moet gaan. Oorlewing is meer werd as voortbestaan.

Die feesorganiseerders is te moeg om te besin oor die oase wat hier bestaan. Deur hulle tot stand gebring. Dae en weke en maande se werk wat vrug afwerp. Hulle vryf moeë oë en stap nog ’n ekstra myl om iets iewers te laat vlot; in hierdie paradys van wie wil, wie het, wie sal, wie kan, wie mag … Wie? Die munisipale amptenaar skakel sy TV af. Daar’s gunste wat gedoen moet word. Die oorlewer kry sy ysterstaaf beet. Hy kan plan sien. Neeeeee!, sug die skare met die bier, vir nog ’n oordeelsfout. Elders klap ’n gehoor waarderend hande. Al bogenoemde is betalend; elkeen op sy manier.

Wessel, vakman, woordeman, beleidsman, leidsman, die nemer van kanse - wérk. Uit sy liefde. Daarvoor. Uit sy kollig uit kyk hy voor hom – na die rye en rye gesigte. Daar’s soms geen uitdrukking, geen geluid nie. Die oeroue kuns van vertelling is waardevol vir hierdie mense. Vir hulle maak hy ’n skatkis oop van sien, beleef, ervaar, stoor, oproep, meedeel. Uit onthou word hy die toekoms. Vir ’n wyle maak geld vir niemand saak nie.

Spieëlbeelde van dit waarvan hy praat, is oral. Dit eggo in die biersaal met die rugby, dit eggo by die oorlewer se huis, waar sy ma doen wat sy kan, buite die dorp in ’n karige huisie, terwyl sy wonder waar haar seun is. Dit eggo by die amptenaar wat met kollegas praat oor politieke tweespalt in hulle geledere. Gemoedere word aangevuur. Dit eggo by die verkope wat die man doen met die lap in sy hand. Dit eggo deur die nuwe gat in nog ’n venster. Soos ’n mislukte fliek van eie lewens; soos sterre waarvan almal vergeet – want die lig is te skerp.

Die organiseerders is op pad. Probleemoplossing die leuse. Dis net hierdie paar dae. Die amptenaar proe al die whiskey wat netnou, tjailatyd, vir hom sal rinkel. Die rugby is amper verby; die bier lekker koud. Lekker baie. Die oorleweraar stap met sy sakkie bagasie. Nie syne nie. Die kunstenaar sweet; die gehoor hang aan sy lippe. Laat hom rigtingwys. Hy lê die storie uit. Die gehoor onthou. Voel die benerige toekoms deur sy vingers. Alhoewel hy dit nie sê nie, spel hy dit uit. Vee met sjarmante vingers sweet van sy kop en gesig. Sy fakulteite is onberekenbaar. Tot by die grens van mislukking. Elke tree, elke gedagte, elke gebaar van hom ’n risiko.

Wat as Mannetjies Roux en Danie Gerber helde was in ’n tyd toe betaalrugby betaalrugby was? As hulle nie amateurs was nie. Genoeg om met ’n koue draught te vier. Wat as haar kar-radio ’n sleutelhouer was, in haar hand – by haar. Wat as die oorleweraar ’n graadhouer was. Bo in die dorp verwissel geld hande. Genoeg om die middag af te vat. Vir luxuries. By die karwasser. Daar’s bietjie kleingeld vir elektrisiteit vir die ou girl by die huis ook. Wessel is ’n held, voor die koninkryk van sestig mense. Hy praat oor môre. In die sweet van sy aanskyn.

Suid-Afrika is ’n jong land, met ’n ryk geskiedenis. Die teatergeeste van weleer is ons voorvaders. Hulle kyk na ons. Moeilik om die ou engele almal saam te “picture”. Albert Luthuli stem saam met Mbongeni Ngema. Hy pak tanne uit oor Woza Albert. En vra: Wat was fout met die geld? Oom Paul self was in Woza Andries. Hulle praat oor die brieke wat erg aangeslaan is in ’n stadium. De la Rey stamp saggies oom Paul in die ribbes as hy begin vra oor … nêrens ’n verhoog vir Afrikaans nie? Nie ’n kanaal op TV nie? Toe ons ons “grotes” nêrens kon sien nie, laat staan nog self werk hê? In ons jong dae kon jy die laat kaphou leer op SA Spieël. Of by Derek von Zeuner. Maar SA Spieël het gewys voor elke movie. Waar leer Wessel? So jonk. Waar kry hy so ’n omvang met wat hy doen? By wie gehoor? Die engele onthou hulle is in die hiernamaals. Die oorleweraar hoor Cobus Rossouw gesels. Die amptenaar hoor Jans Rautenbach gesels. Die bierdrinker by die rugby hoor Pierre Marais gesels. Die meisie voor teen die hek, met die onderlyf en die baba, hoor Anna Neethling-Pohl gesels. Hoor Wena Naudé gesels. Die student hoor Nerina Ferreira gesels. Hulle lewe gaan in ’n spin in. Eers om en om en om. Hulle sien dinge van baie kante af. Hul word só die kern van begrip dat hulle die diepste binnekant ook sien. Só diep dat hulle begin oplig. En hulle kyk af van hoër, en hoër en hoër ...

Van daar sien mens makliker ’n laagtepunt. Omskep dit in ’n oplossing. Hulle kyk om hulle en sien ’n probleem. Omskep dit in ’n geleentheid. Wessel loop die “tightrope” delikaat hoog bo voor sy gehoortjie. Die organiseerders help iemand met nog ’n verhooglig, huisvesting, los ’n geskil op, reël ’n ekstra optrede. ’n Kunstenaar hang laag oor die koerant wat berig oor die Molly en Wors-akteur. Die skeidsregter se foute bepaal die uitslag. Honderdduisende rugbyrande verwissel nie noodwending hande na hulle wat dit verdien nie. Die amptenaar slaat die TV af. “Kak,” sê hy.

“Net solank ek onthou vir watter redes ek dit doen” is Wessel se motto. Het Andrew – pas dood, ook so gedink toe hy werk aan Hartland en Roepman? So ’n uitkyk maak hoogtepunte vars, en die laagtepunte tydelik. As iemand hoor. Hoor iemand Andrew en Franz Dobrowski en Nanine en Manie van Rensburg – soos vir oom Mannetjies en vir Danie Gerber?

Die kunstenaar waag op die terrein van die siener: Ek sê julle vandag! Die dag sal kom wanneer die storieverteller weer geag sal word. Dan, dan sal ons onthou! Dan sal ons die luister waardeer … na storievertellers. Soos Andrew - groot, sterk, energieke, misterieuse storieverteller in Skrapnel, Samoerai, Roepman, Hartland, Mollie en Wors; die voorloper van die nuwe-generasie professioneel-betaalde storieverteller. Soos Wessel.  

Dit kom. So seker as môre heeldag.

Omdat dit so belangrik is. Dié dag sal die professioneles geld verdien, en die oorlewer opsies hê, en die amptenaar die verskil ken. En weet van feesbesture, skrywers, storievertellers – en die oorleweraar se nood. Die kind wat uit die oorleweraar se vieslike spykerwerk val – wat hy daar voor teen die hek doen! - sal smerig nes hy oorlewe. Maar die dag as ons begin leer ... en net soveel leer oor die effek van sonontploffings as oor die mag van die siel, en die aftakel van heinings … en wat pêrels is, … en wat swyne is ...

Wessel sien dit. Sy projek is wetenskaplike van die siel. Hy skryf: Die amptenaar draai op sy sy. Die son ontplof. Die oorleweraar is op sy voete. Die donkerte is aan sy kant. Die laaste bietjie lig doof terwyl Wessel soos Moses, Dionysus arms omhoog staan. Sy vingers waaier die subtielste gebaar waarop net die grootste kan vertrou. ’n Gehoorlid – akteur, sanger, astronoom, legendariese kreatiewe dier - sê een woord in totale verwondering ... inspirasie. Buite kom die polisievoertuig aan om nabetragting te hou.

FASE 2
Amptenaar se legger: Lig die teater se heining. Elektrifiseer. Gee hulp met aanbouings.
Polisierekord: Polisie vang CD-namakers van Afrikaanse musiek.

Dan, later … ’n handjievol selfmoordenaars verkneukel hulle in alles. Andrew en kie sit aan die voete van oom Albert, oom André Hugeneut, oom Paul, oom Ken Gampu, oom De la Rey, oom Wessel Manie, Oom Andries Cronjé en Franz Dobrowki. Franz het ook ’n kitaar. Die heinings is net tydelik. As ons almal dit net vroeër kon gesien het. Het almal na Wessel geluister.

 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address