Om te Bosma of nie te Bosma nie

  • 0

Ingrid Scholtz is die verteenwoordiger van Solidariteit en ook van die ATR in Nederland en Vlaandere. Sy skryf in haar persoonlike hoedanigheid.

Sprekers van Afrikaans is deur hul verlede geverf met die kwas van rasbeheptheid en diskriminasie, en dit smeer ook af op die taal. Vir sommiges is Afrikaans die simbool van verlore mag, vir ander die simbool van onderdrukking. En dan is daar die groep wat deeglik bewus is van daardie verkeerde verlede, maar ook van mening is dat Afrikaans nie alleen ’n regmatige plek het in die nuwe Suid-Afrika nie, maar juis ook deur sy veelkleurige verlede as ‘n taal van versoening en ‘n nuwe toekoms gebruik kan word.

Ek is deel van hierdie laaste groep. En dan moet jy maar vir lief neem dat jy aangeval word deur die twee ander. En nie alleen in Suid-Afrika nie.

Want daar is altyd mense in die buiteland – en in hierdie geval dus meer spesifiek in Nederland en Vlaandere – wat Afrikaans voor hul eie karretjie wil inspan. En dus kom jy dan, as verdediger van Afrikaans in die Lae Lande, in aanraking met mense wat Afrikaners nog sien as die helde uit die “Boerenoorlog” en wat hulle wil gebruik om hul eie frustrasies oor die oop en geglobaliseerde samelewing uit te leef. En so in die proses die posisie van Afrikaans ondermyn.

Een so ’n party is inderdaad die Nederlandse Partij van de Vrijheid (ironiese naam). Met sy leier Geert Wilders as enigste lid. Hulle is egter wel met hul 24 setels in die Tweede Kamer van die Nederlandse Parlement ’n beduidende politieke faktor. En daardie invloed en mag is weer die gevolg van die frustrasies en afkeer van die Nederlandse politiek in meer as een miljoen Nederlanders. En hul angs vir die res van die wêreld. Veral vir die eweneens een miljoen Moslems wat in Nederland woon en werk.

En Martin Bosma is die party-ideoloog van die PVV en tewens voorsitter/koördineerder van die Interparlementaire Commissie van die Nederlandse Taalunie. Hy veral het die inisiatief geneem om Afrikaans onder die aandag van die Tweede Kamer en dus ook van die openbare mening te bring. En daarby veral klem gelê op die belange en posisie van die Afrikaners.

Verkeerde aandag, dus, en ’n kwessie van “behoed my vir my vriende”? Inderdaad, ek stem saam (die oplettende leser sal intussen verstaan dat my politieke voorkeure elders lê) dat hierdie eksklusiewe benadering meer kwaad as goed doen. Dit vervreem wit en bruin van mekaar en ry elke poging om Afikaans sy regmatige plek te laat behou, in die wiele.

Maar dit is nie die einde van die storie nie.

Daar is twee belangrike punte te maak hier. Een is baie fundamenteel en het te make met die kern van die demokratiese proses. Die ander een is praktiese strategie en taktiek.

Goed, eers die fundamentele een. Ek is ’n demokraat. Die meeste mense sal nie fout vind met daardie uitspraak nie. Maar dit beteken onder meer dat almal die reg het om op die vrye markplein van idees hul mening openlik te verkondig en te verdedig. Net op dié manier kan ek as vrye burger ’n ingeligte besluit neem. Maar dit gaan dieper: ja, ek kan sê ek verag jou mening. Maar as egte demokraat moet ek dan daaraan oombliklik toevoeg: ek sal jou reg om jou mening te verkondig tot die dood toe verdedig. Want as ek dit nie doen nie, kan die volgende gebeur: 

Toe die Nazi’s die kommuniste aangekeer het, het ek geswyg, want ek was nie ’n kommunis nie.

Toe die Sosiaal-Demokrate opgesluit is, het ek geswyg, want ek was nie ’n Sosiaal-Demokraat nie.

Toe hulle die vakbonde verbied, het ek geswyg, want ek was nie lid nie.

En toe hulle my kom haal, was daar niemand wat nog kon protesteer nie.

Hierdie uitspraak kom van pastoor Martin Niemöller, wat in die dertigerjare van die vorige eeu gewaarksku het teen die aanstormende gevaar van die Duitse Nasionaal-Sosialisme.

Met ander woorde, as ek stilbly, gee ek juis ondemokratiese stromings ’n opening om hul onheilige dinge te doen.

En dit bring ons by die praktiese taktiek en strategie. ‘n Mens kan verontwaardig in jou eie hoekie bly sit en jou suiwer sieletjie koester. Jy kan dan tevrede gaan slaap, maar weet wel dat jy dan die inisiatief verloor. In hierdie geval moet jou strategie juis wees om te voorkom dat regse Nederland Afrikaans kaap. Deur te weier om met jou teenstander te praat is dit presies wat gaan gebeur.

Moenie bang wees dat jou wit sieletjie swart geverf word nie, maar bestry verkeerde opvattings openlik en neem so jou teenstander die wind uit die seile.

Juis deurdat die twee teenpole weier om met mekaar te praat, word die posisie van Afrikaans ondermyn en bereik die teenstanders van mense soos Bosma presies die teenoorgestelde van wat hulle wil bereik.

Daarom het onder meer die Akademie en Solidariteit met hom gepraat – en terloops, hy is nie genooi nie – om hom te laat sien hoe die situasie werklik in Suid-Afrika is. Nie om saam met hom ’n komplot te smee om apartheid terug te kry of ten minste nostalgies te word oor ’n verkeerde verlede nie. Op hul beurt het die ATR dit ondubbelsinnig aan Bosma oorgedra dat die PVV se verstrengeling van Afrikaanses met Afrikanerbelange, nes die aanvuring van vooroordeel jeens Moslems, ten sterkste afgekeur word en dat verregses in Nederland nie Afrikaans vir eie doelwitte moet misbruik nie.

Wat my standpunt betref: ek het met Bosma gepraat en reguit gesê dat ek sy sienings nie deel nie. Maar dit is sy grondreg om te sê wat hy wil en te gaan en te staan waar hy wil.
En vervolgens het ek onderhoude aangevra en gekry by die vernaamste hoofstroompartye in Nederland.

Want ek wil hulle eienaarskap gee van Afrikaans sodat Afrikaans regtig van almal word.

En waarom doen ek dit? Vir die saak, nie vir my eie ego nie, en ook omdat ek as Europese vrou meer as dertig jaar deur links en regs in Suid-Afrika ’n bevooroordeelde etiket opgeplak gekry het.

Ek daag almal uit: spring oor julle eie heinings en ego’s en veg onbevooroordeeld vir Afrikaans!

Terug na webseminaar-indeksblad      

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top