Onder die opskrif “’n Universiteit vir almal" (Forum-artikel, Die Burger, 6/9/2012) skryf Russel Botman oa die volgende oor die aantal niewit studente: "Dit is beduidend dat toe oudpres Nelson Mandela in 1990 vrygelaat is, hier 782 niewit studente by die US ingeskryf was. In 2011 het daardie syfer tot 9 278 aangegroei. Toegegee, nie naastenby waar ons wil wees nie, maar die groei is onteenseglik en ons strewe is om dit in die afsienbare toekoms eksponensieel te versnel.”
Presies wat sê dié soort stelling? Dit wil voorkom asof die groei en toekoms van US intiem gekoppel word aan die aantal niewit studente. Wat is met die oog op die toekoms van US die belangrikste, die kwessie van sy taalmedium van onderrig en navorsing, of die ras/kleur van sy studente
In dié verband is daar 'n aantal basiese faktore wat bepalend is vir die US se toekoms:
(1) uitnemendheid van onderrig, navorsing en gemeenskapsdienslewering
(2) onderrigtaal en bevordering van Afrikaans op inklusiewe wyse
(3) koppetelling van studente op grond van ras.
Dit sal egter jammer wees as die maatstaf waaraan die sukses van US gemeet sal word, fokus op die rassesamestelling van sy studentekorps.
Maar: Hoe “groen” is Afrikaans op US? Want tans het ons oënskynlik, soos op alle vlakke in ons samelewing, te make met 'n afskaling en uitfasering van Afrikaans. In 'n ideologie van rasgebaseerde transformasie trek Afrikaans aan die kortste end.
Vandaar die standpunt dat die "idee" waarvoor US in 1918 as Afrikaans-Hollandse universiteit tot stand gekom het, weer met redelikheid oorweeg kan word.
Die enigste uitweg uit ideologiese, en veral rasbehepte, denke is, soos oral in demokratiese samelewings, 'n proses van redelike onderhandelings en samesprekings oor kleurgrense heen. In die geval van US sal dit, soos in die slotparagrawe voorgestel word, gaan oor Afrikaans, die toekoms en volhoubaarheid van US as 'n "erfenis" in 'n getransformeerde samelewing.
Hoe is dit gesteld met Afrikaans as universiteitstaal, spesifiek op US? Die antwoord op dié vraag, en enige redelike gesprek en onderhandelings in dié verband, word dikwels gekortwiek deur ‘n gebrek aan ‘n globale perspektief of ‘n langtermynvisie oor minderheidstale se status en funksies in ‘n demokratiese samelewing.
In dié verband sê Nicholas Ostler: “One day English too, the last lingua franca to be of service to a multilingual world will be laid down. Thereafter everyone will speak and write in whatever language they choose, and the world will understand” (The Last Lingua Franca, English until the return of Babel,2010, bl 286). (Ons kan byvoeg: danksy die tegnologie!)
Die stand van Afrikaans, sowel as die toekoms van US, moet ook teen die volgende samelewingsperspektief beoordeel word: “Afrikaans is op die agtervoet – ‘n mens besef nie hoe haar fondamente wegkalwe nie. Ons het ‘n sterk literatuur en ‘n Afrikaanse pers, maar die Afrikaans in ons howe, in regeringskringe en by universiteite kry swaar. Die druk op Standaardafrikaans neem toe. Die gevaar van ‘Eng-frikaans’ is groot – die media beweer dat mense dit so verkies, maar soms wonder ek of dit Afrikaans is wat ek hoor en lees ...” (Jacques van der Elst, hoof uitvoerende beampte van die Afrikaanse Taalraad in ‘n onderhoud met Ina van Rooyen in By, 30/06/2012, onder die opskrif “Wit en eksklusief? Onsin!”).
Afrikaans bly 'n taal onder beleg en die debatte duur voort. Die jongste voorgestelde wetgewing om provinsiale departemente te dwing om Afrikaans uit te sluit van die "inheemse" tale en die voorgestelde talewet om Afrikaans of Engels en twee "inheemse" tale aan te bied word gelukkig heroorweeg. Die verkiesing van drie universiteitsraadslede deur lede van die US Konvokasie is oorheers deur die debat rondom die universiteit se onderrigtaalbeleid.
In sy Matthews Phosa-gedenklesing het oudpresident FW de Klerk gesê: "Die ganse Afrikaanse taalgemeenskap het 'n reuse-belang in 'n uitkoms wat Afrikaans as tersiêre onderrigtaal stewig sal vestig” (Die Burger, 12/08/2011).
Sedert 1994 is in die proses van transformasie besondere druk geplaas op slegs die histories Afrikaansmedium-universiteite om te transformeer na meertalige (selfs eentalige) en veelrassige inrigtings. Afrikaans as onderrigtaal was die slagoffer.
Dit is veral US as die bakermat van die Afrikaanse taal, kultuur en hoër onderwys wat in die mags- en rasbehepte ideologie van die ANC skerp in fokus gekom het en steeds is. In hierdie verband is die volgende feite, perspektiewe en kommentaar oor US se taalbeleid, asook konstruktiewe voorstelle vir 'n proses van verandering, van kardinale belang.
Die “idee” van US in 'n getransformeerde Suid-Afrika
Elke universiteit het unieke kenmerke en ‘n geskiedenis. Die oudste en eerste Afrikaansmedium-universiteit het byna ‘n eeu gelede tot stand gekom rondom ‘n idee wat tans, in ‘n demokratiese en meertalige samelewing, nou éérs relevant is. Die US het sedert sy ontstaan bewys dat Afrikaans + Onderwys = Uitnemendheid, asook meriete. Trouens, op hierdie pad wil ‘n mens as oud-Matie en ouddosent hoop en droom dat die US ‘n tweede Harvard sou kon word!
Ter wille van redelike onderhandelings oor US se huidige taalbeleid moet die volgende feite en perspektiewe in ag geneem word:
Die agteruitgang van Afrikaans aan US sedert 2004 tot 2010 is duidelik. Die gemiddelde 60% voorgraadse aanbod vir die universiteit as 'n geheel is helaas nie die antwoord nie. Die aanbod is ver onder die gewenste peil van 75% wat die Konvokasie voorgestel het (sónder om daardeur die US te heromskep in 'n uitsluitlik Afrikaanse universiteit - iets wat niémand wat ek ken, voorstaan nie). Verder: dit geld ten eerste nie per fakulteit nie. In fakulteite soos teologie, lettere en sosiale wetenskappe, regsgeleerdheid en gesondheidswetenskappe is die voorgraadse Afrikaanse aanbod inderdaad onder dié peil en moet voornemende studente in hierdie fakulteite nie verwag om 60% van hul lesingsaanbod in Afrikaans te ontvang nie; dit is veel minder. Ten tweede geld dit slegs vir vier jaar (2010 tot 2013), en is dit nie 'n langtermynwaarborg nie. Die A-opsie het verloor. Trouens, Afrikaans het verloor.
Verengelsing is geen voorvereiste vir sinvolle transformasie nie. Ook nie met betrekking tot US nie. Inteendeel, wêreldwyd word moderne ontwikkelde minderheidstale in 'n demokrasie met 'n bepaalde universiteit geassosieer. In die geval van US bestaan dit reeds sinvol vir byna 100 jaar.
Om die skip te laat draai: 'n gekoördineerde proses van onderhandelings
Volgens 'n berig in DB Die Burger ? van 16/01/2012 het Wannie Carstens, lid van die US- raad, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, en stigterslid van die Afrikaanse Taalraad, vanuit Delft, Nederland 'n "vlammende pleidooi" vir Afrikaans gelewer. Daar is bygevoeg dat "druk op die SA-regering" uitgeoefen moet word.
Daar moet tuis begin word. Met die oog op 'n proses van onderhandeling oor die toekoms van US is twee mosies in dié verband verlede jaar aanvaar: die een op 10 November by die jaarvergadering van die Konvokasie van US, en die ander by die jaarvergadering van die Afrikaanse Taalraad (ATR) in die Paarl op 18 November. Albei die mosies beklemtoon eties-morele norme, taalvryheid en geregtigheid, asook die norme van die Grondwet.
Ten einde so 'n proses daadwerklik aan die gang te sit, is dit van die uiterste belang dat taal- en kultuurinstansies oor rasse- en ouderdomsgrense heen saamwerk. Dit lê op die weg van die ATR volgens sy doelstellings, ook tov Afrikaans op universiteitsvlak, om in samewerking met die SA Akademie, en moontlik AfriForum en Solidariteit, in dié verband die inisiatief te neem.
Voorvereistes vir enige planne van aksie ivm US en Afrikaans se toekoms setel egter in die hart van die universiteit en berus op die volgende: wit, bruin en swart Afrikaans-moedertaalsprekers moet toegewyd wees aan die ideale/idee van ‘n inklusiewe Afrikaansmedium-universiteit; die jeug, oor kleurgrense heen, moet hul stem verhef en gehoor word; ervare en senior Afrikaanssprekende leiers, doserend en administratief, moet die moed van hulle oortuiging openbaar en bereid wees om ‘n proses van onderhandelings te steun. Maw die “spiraal van stilte” moet verbreek word.
Verwysingsbronne
Afdeling Institusionele Navorsing en Beplanning, US Feiteboek, Dele 1 en 2, 2011.
FW de Klerk-stigting. Die Toekoms van Afrikaans op universiteitsvlak. Vredenheim-verslag. 28 Januarie 2010.
Giliomee, Hermann en Lawrence Schlemmer (reds). 2001. Kruispad – die toekoms van Afrikaans as openbare taal. Tafelberg Uitgewers.
Hermann, Dirk. 2007. Die Keiser is kaal – waarom regstellende aksie misluk het. Protea Boekhuis.
Van Rensburg, FIJ (red). 2004. Afrikaans Lewende taal van miljoene. Van Schaik Uitgewers.

