Nie deur Dickens nie

  • 0

Die week in woorde

As ek Dickens se A Tale of Two Cities moes vertaal vir ’n kontemporêre Afrikaanse gehoor, sou ek só begin: “Dit was die coolste tye. Dit was die kakste tye.” As ek die storie van my lewe die afgelope twee weke moes vertel, sou hy ook presies so begin.

Ek het verlede week seker die lekkerste soort bemoediging ontvang waarvoor enige skrywer kan hoop: ’n klein prys vir ’n kort storie. In dieselfde week het Jan Taks my beloon vir harde werk deur ’n nuttige meevallertjie te verskaf waarmee ek my nuwe huis kan inrig, en ons het regte egte somerweer gehad – in so ‘n mate dat ek in die see kon swem! (Dit was wel net 40 sekondes, maar ek reken dit tel heeltemal as “swem”.)

Maar soos dit nou maar eenmaal gaan, reën dit nie noodwendig nét pap nie. Partymaal tydens die papstorm waai jou skuiling se dak af ... en dis plus-minus wat met my gebeur het. Laat ons egter nie te melodramaties raak oor gebroke harte en gepynigde siele en die einde van die wêreld nie: die son kom steeds op en die son gaan steeds onder, al voel dit eerder of die son opgooi en afkak.

Wat ek wel dink, is dat hierdie spanning tussen die heerlikheid en die hel ’n wonderlike put is waaruit mens kreatiewe dade kan ophaal. En ek probeer my bes, aangevuur deur de-moer-in-geit en op die vlerke van inspirasie van ander se woorde.

My reservoir is Saterdag só volgemaak by die opening van die Breytenbach-sentrum se Tuin van Digters: daar was son, daar was snacks en daar was digters en digters en digters wat woorde aangedra het na die tuin toe. ’n Verskeidenheid woorde, party soos bome, ander soos blomme, party meer soos sade en ander soos grond. En hierdie vrygewige mense het ingestem om hulle woorde met almal te deel wat nie daar kon wees vir die son en die snacks nie. Kyk hier na foto's van die geleentheid en lees solank van die verse wat vir die geleentheid geskryf is.

Saterdag se ander hoogtepunt was die bekendstelling van die huldigingsbundel vi’ Adam Small. Dis pragtig uitgegee deur Naledi, en Small se vrou, Rosalie Small, het die geleentheid namens hom bygewoon. Sy is klein en fyn en sag en sterk en om haar te kon ontmoet was een van die groot oomblikke van my jaar. Ek het ook by die digterstuin ’n onderhoud gevoer met Loftus Marais, en ek wens ek kon al die snaakse goed onthou wat hy kwytgeraak het en dit hier neerskryf – dalk val van dit my nog by.

Van die medeskrywers aan die kortverhaalbundel Nuwe Stories het ingestem om spesiaal vir LitNet kort-kortverhale te skryf waarin hulle self as karakters opduik. Jy kan vandeesweek die eerste van hierdie verhale hier gaan lees.

Dis dit vir hierdie week. Mag die weke wat voorlê, meer na die cool kant neig, en as dit van die ander soort weke is, laat ons dan werk maak daarvan om hulle, ten minste in ons woorde, in heerlike vye te verander wat ander mense ook kan eet.

Nuut op Nuwe Skryfwerk

Spesiaal vir hierdie lekkerste van lenteseisoene: ’n splinternuwe gedig deur Waldemar Gouws met die lenteson wat ’n groot inset lewer.

Daar is ook gedigte deur Charl-Pierre Naudé uit LitNet se argief opgediep vir jou genieting.

Armand Fourie, Christina van Deventer, Henali Kuit en Charl Bezuidenhout is almal opgeneem in die Nuwe Stories-bundel. Jy kan onderhoude met hulle op hierdie blad lees, maar nóg meer opwindend: kraakvars skryfwerk deur hierdie jong storievertellers, spesiaal vir LitNet. Lees die stories hier.


   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top