Nuwe skryfwerk | New writing

 
’n Standbeeld van jou

Die suidooster waai vanaand. Sy breë besem vee oor Tafelberg se kruin, teen die berghang af en deur Vredehoek. Straat af, om ’n hoek, ’n eenrigting op, by die ingang in, met die gang af, trappe op en teen my voordeur vas. Die deur bly aanhoudend rammel en rumoer, maar wanneer dit oopgedruk word, staan jy daar.

“’n Motor het nou net verby my gery,” sê jy. “Twee keer.”

“Seker die buurtwag?” besluit ek vraend. “Het hulle jou sien inkom?”

Jy trek jou skouers argeloos op en ons omhels.

Of: “’n Buurvrou het my gesien.”

“Ek dink nie sy sal iets doen nie,” probeer ek jou gerusstel. “Sy lyk nie na die tipe wat die polisie sal bel nie.”

Jy maak groot en skeptiese oë en ons druk mekaar styf vas.

Of: “By die ingang het ’n man my gevra of ek iets soek.”

“Het hy jou by my sien inkom?”

Jy skud jou kop ontkennend en as ons omhels, vergeet ons vir ’n kort, maar ellelange oomblik van die man, die buurvrou en die buurtwag. Buitendien het ons baie wegkruipplekke. In die besemkas, in my groot blou koffer, onder die uitgeholde sofa. Agter die groot blompotte op my balkon ook, maar dié moontlikheid laat my altyd senuagtig voel. Tussen die vierde verdieping en die grondvloer kan baie gebeur. Al het mense in aanhouding al op die grondvloer selfmoord gepleeg, maar as die Kaapse dokter jou my kant toe waai, omhels en vergeet ons. Vir ’n ellelange oomblik wat maar net van korte duur is, want teen douvoordag moet jy jou uit die voete maak, voor die wit mense aan die gang kom. Die wind het sy besem weggebêre en ek staan nog op die balkon en kyk hoe jy in ’n skemer straat af loop. Tog sien ek jou omdraai en opkyk, jou hand vlugtig op jou bors.

Douvoordag begin ek solank lees. Ek het nog net een kursus om te voltooi voordat ek graad kry en op ’n vliegtuig klim. Dit gaan egter geld kos. Elke middag werk ek by ’n kunsskool se winkel, elke aand in die swierigste van restaurante. ’n Geldmaakskedule, met net een kursus wat daarby inpas, Shakespeare. My professor het ’n grys baard en begin met die Tudors se siening van die wêreld. Heersers wat die wil van God versinnebeeld en as ek in die loop van die middag ’n kans kry, sit en lees ek langtand aan ’n Engels van jaarhonderde gelede. Maar skaars het ek ’n sin gelees of iemand kom iets koop. Grotendeels studente in gelapte jeans wat nooit haastig is nie en oor elke kwas en sent kibbel. Tyd vir lees is daar nie werklik nie en as die winkel sluit, haas ek my restaurant toe.

’n Wit hemp en ’n swart broek. Met die klandisie saans altyd uitgevat. Mans skoon geskeer en vroue se parfuum. Dikwels ’n das en altyd, maar altyd, ’n deftige aandrok. Terwyl ek bedien, brokke gesprekke. Oor vanjaar se doelwitte, die politieke onrus nieteenstaande. Die kinders se skool en die bure se nuwe hond wat voortdurend blaf. ’n Alarm wat laasnag aanhoudend afgegaan het, die bediendes wat weens hierdie onluste nooit betyds opdaag nie en my professor sê die Tudors het rebellie as ’n morele euwel beskou. Hy sal seker nie verstaan hoeveel geld in ’n glimlag lê nie. Ja Oom, glimlag. Natuurlik Mevrou, glimlag. Met elke glimlag raak die fooitjie ná die maaltyd effens groter en kom ek een treetjie nader aan ’n vliegkaartjie Holland toe.

As die wind net weer wil opkom om jou my kant toe te waai, want die dae, hierdie eindelose bleek dae. My professor sê die tragiese held gaan onder omdat hy ’n inherente fout het. Macbeth, Othello, Koning Lear, noem hy hulle een ná die ander op en dit maak die dae sonder jou net erger. Ek wil nie ’n tragiese held hê nie en al waai die wind jou my kant toe, of bring die reën jou, is ons omhelsing en vergeet van so korte duur dat dit voel asof jy nie werklik daar was nie. As jy douvoordag wegloop, vlugtig omdraai en opkyk met ’n hand op jou bors, moet ek gaan seker maak dat daar wel twee gebruikte koffiebekers staan. Dan gaan verberg ek my vir ’n oomblik in die beddegoed in ’n nuttelose poging om die gevoel van jou teenwoordigheid te behou, want hierdie dae sonder jou. Ek begin jou glad orals sien. Jou skree vroegmôre op straat wanneer hulle die vullisdromme kom leegmaak, jou loop in die koerantverkoper by die verkeerslig, in die busbestuurder se gesig,  jou agterdog in die moeë kyk van die restaurant se skottelgoedwasser. Ek is laataand self te moeg om ou Engelse dramas te lees. Buitendien gun hierdie gevoel van onrus, asof ek jou daadwerklik vir weke lank nie gesien het nie, my geen ordentlike slaap nie. In die middel van die nag skrik ek wakker, oortuig dat ek jou deur die loop van die dag gesien het. Tussen ’n groep werkers op ’n vragmotor, in die hand van ’n bedelaar, op ’n bouperseel, orals waar skoongemaak word. Maar wanneer ek vroegmôre opstaan, is daar net hierdie doodse wit stilte.

Wit is die kleur van varklelies vir ’n begrafnis. Of die bleek van wit rose. Die kleur van my eie ondergang, want ek kry nie my leeswerk gedoen nie. Laataand is ek te gedaan om soveel moorde in die oë te kyk. Vadermoord of broedermoord. Of dan ten minste ’n neef. My professor sê die enigste poging tot opstand in Shakespeare lê in Cade se rebellie, maar dit ontaard in ’n parodie van die heersende klas. Selfs die trotsste burger in die land sal nie ’n kop op sy skouers hê nie* en tensy ek fokus, gaan ek my eie ballingskap met ’n onvoltooide graad tegemoet. Ek registreer eers werklik dat ons tragedies agter die rug het en reeds historiese dramas doen toe ons met laasgenoemde afsluit en die geeste van die voorvaders aan die einde van Richard III hulle verskyning maak. My professor sê waar moraliteit te kort skiet, word ’n transendentale teenwoordigheid gebruik om geloof in die goeie te herwin. Wanneer ons uit ons sluimerende bestaan wakker word, sal selfs die dooies opstaan. Hulle wat in aanhouding op ’n koekie seep gegly, by ’n trap afgeval of deur ’n venster gespring het om glo selfmoord te pleeg. Hulle sal die voorhoede wees, ons na die paleise toe lei en die immorele orde se standbeelde afbreek.

Ten minste kry hulle my sover om te lees. Hoërskoolstudiegidse met opsommings van die dramas is my antwoord. Enige kortpad om haastig my eerste opstel gedoen te kry. Al wil ek van droë teorie oor die daarstelling van tragiese helde en geskiedenis niks weet nie. Ek wil veel eerder dat die liefde seëvier. En as dit nie liefde is nie, dan net daardie kort oomblik van omhels, vashou en vergeet, daardie kortstondige nagtelike bestaan in ’n ander werklikheid. Ek het jou die eerste keer in die winkel gewaar. Jy’t verf, kwaste en groot velle wit papier kom koop. Twee dae later het ek jou op die bus van die kampus af gewaar. Oogkontak. Toe ek afklim, het jy ook. Jy’t die entjie saam met my winkel toe geloop en ons het meestal oor onbenullighede gesels. Die weer, die middestad, maar ook my laaste jaar voor ek die weermag moet ontduik. Jou lewe het onbesproke gebly. My professor sal seker sê jy gaan af na die onderwêreld toe om die dooies te gaan wek. Dis hoekom jy teen die einde van die winter so lank wegbly, maar vroeg in die lente maak jy ná ’n windstil sonskyndag skielik jou verskyning.

“Die buurtwag,” sê jy, maar trek jou skouers argeloos op. “Hulle het my nie sien inkom nie.”

Ons omhels. Ons klou styf aan mekaar vas en vergeet. En lank ná douvoordag, wanneer ek bushalte toe loop, draai ek om en kyk vlugtig op, met my hand op my bors. Miskien sien jy my nie. Miskien is jy so versigtig dat jy nie eers naby die venster kom nie, want hulle soek jou. Jy kan nie na jou huis toe gaan nie, want hulle weet watter deur om in die vroeë oggendure oop te breek. En dan wag daar dae en dae se selfmoord sonder verhoor op jou.

Skuil hier. In ’n besemkas of ’n koffer, onder die uitgeholde bank. Bly binne ten spyte van die mooi lentedae. Wanneer ek laataand met oorskietkos van die restaurant af tuiskom, is die gordyne toegetrek; net ’n leeslamp is aangeskakel en jy lees Shakespeare.

“Ek skryf jou twee uitstaande opstelle vir jou,” sê jy.

Of: die gordyne is oopgetrek en jy sit in die donker en peins.

“Moenie eers lig maak nie,” sê jy.

Ek sit die kos in die kombuis neer en gaan omhels jou. Jy ruik na sweet.

“Ek het vandag amper 25 kilometer ver geloop,” vertel jy my.

“Jy was uit?”

“Hierdie vertrek is 16 meter lank,” verduidelik jy. “’n Honderd keer op en af maak 1,6 kilometer.”

Of: alles is donker en jy sit voor ’n oop balkondeur. Langs jou lê leë bottels, maar jy staan op en sonder om eers na die kos te kyk, forseer jy my om te doen wat ek in elk geval sou doen. Maar jy is kil en meedoënloos. Jy wil nie meer vergeet nie. Jy wil lewe.

Daarna vertel jy my van die keer toe jy bos toe was. “Omdat my pa swart is,” sê jy. Hulle het jou gesig en bolyf wit gemaak en jou saam met ’n groepie ander jong mans dae lank in die veld gelos om soos ’n waardige man te oorlewe. Meisies van ’n nabye dorpie het een keer skelm vir julle kos aangedra. Jy lag en vertel my hoe van die jong mans die spot gedryf en gesê het jy kan ná inisiasie reguit pis. En vrou vat, maar die sluimerende massas het jou geroep. “My ma wil hê ek moet trou.

’Wie sal na my kyk as jy iets moet oorkom?’ vra sy altyd, maar ...” Jy omhels my. “Jy moet weggaan, maar ek sal vir jou soldaat wees.”

Of: die gordyne is toe, die leeslamp brand en jy sit met ’n notaboek en potlood in die hand. Wanneer ek die kos in die kombuis gaan neersit, sien ek onmiddellik raak wat jy wou versteek. Gewaste koffiebekers, ’n asbak wat op ’n ander plek neergesit is. En ek kyk: sigaretstompies in die vullis. ’n Vergadering, strategieë wat opgeweeg word en jy vertel my dat jy vir ’n rukkie weg sal wees. Ons eet in stilte en as ons bed toe gaan, lê ons lank in omhelsing, sonder om ’n woord te sê.

Douvoordag staan ek op die balkon en jy, jy draai vlugtig om en kyk op, jou hand op jou bors.

’n Rukkie. Wat beteken ’n rukkie in die onderwêreld? Wanneer word dooies wakker? Ek probeer om nie te veel daaroor te dink nie. Boonop moet ek handelings, interpretasies en aanhalings vir ’n eksamen memoriseer. Jy’t vir my aantekeninge oor Othello en Cade gelos. Dit help, maar hulle laat my net aan jou dink. ’n Rukkie, net vir ’n tydjie. Met eindeksamens en finale projekte op hande, hou die kunsstudente die winkel smiddae besig en saans is daar nie tyd vir peins nie. Saans baadjies en dasse en altyd, maar altyd, deftige aandrokke. Brokke van gesprekke oor die kinders, die komende eksamens, die somervakansie om die draai – en hoe lank is ’n rukkie eintlik? Ek sit borde kos neer en dink skielik aan vreemde plekke soos Kuba en Guatemala – en hoe langer hierdie rukkie strek, hoe moeiliker raak dit. Selfbeheersing en ’n glimlag vir ’n groter fooitjie verg veel meer as wat ek ooit besef het en ek sukkel. Ek struikel, ek gly op ’n koekie seep in die stort, ek val by ’n trap af, ek kan net sowel van die balkon af spring. Dan sluit ek my liewer in die besemkas toe of word soggens onder die rusbank wakker, want ’n rukkie, ’n hele lange rukkie, en vroegoggend lui die telefoon.

“Dis Terrence,” sê ’n manstem.

Dit moet ’n vriend of familielid wees, want hy gebruik nie jou selnaam nie.

“Hulle sê dis selfmoord,” sê die man en ek, ek staan met die gehoorbuis in die hand: “Hallo?”

Ek hoor hom sug en dan hoe hy aflui.

Maar ek, ek steeds met die gehoorbuis in die hand: “Hallo?”

’n Ongelooflike stilte antwoord my. Dis somer, almal is opgeruimd en die toeriste vreet hulle saans disnis. Ja Oom, ja Tannie, met elke glimlag word die fooitjie groter, maar ek, ek met die gehoorbuis in die hand. Hallo? Net hierdie stilte. Laataand drink ek my onder ’n uitgeholde rusbank aan die slaap en wonder bo wonder daag ek betyds op vir my eksamen. Eers hier verbreek jy die stilte, want ek sit in die eksamenlokaal en skryf presies wat op jou notas staan. Woord vir woord, ek skryf jou, jy kom tot lewe, maar ook ek staan uit my sluimerende bestaan op. Dis jy wat my dryf. Jy het tog vir my notas gelos. Jy wil hê ek moet slaag, jy wil hê ek moet wegkom, dat ek moet lewe.

Ná die eksamen gaan koop ek ’n vliegkaartjie. Twee weke, genoeg tyd vir ’n visum, om my meubels te verkoop en die telefoon te diskonnekteer. Ek slaap op ’n kombers en lewe reeds uit ’n koffer. Op ’n warm somersdag staan ek op en besluit om te lewe. En vir oulaas see toe te gaan. Clifton. Hierdie bleek stilte, maar ek probeer om nie daaraan te dink nie. Lewe; oogkontak. Ek volg ’n man met steil trappe op na sy woonstel toe. ’n Asemrowende seeuitsig, maar skielik staan ek net daar, asof met ’n gehoorbuis in die hand. Hallo?

Dan liewer hier, op die Kaapse parade. Tussen die huisloses en ’n valstandprediker wat dreig met die dag wanneer die dooies sal opstaan. Op die trappe om ’n standbeeld van ’n ruiter op ’n perd. ’n Voorvader uit die land wat my inwag. Miskien het sy skip gesink en hy het met perd en al in die water gespring en wal toe geswem. Maar ek sal die perd moet omdraai en teruggaan na die land van waar hy gekom het. Miskien staan ek eendag in ’n Hollandse skool voor ’n Engelse klas en lees dan daadwerklik ’n Shakespeare-drama, terwyl hulle vir jou ’n standbeeld oprig. Wanneer die dooies opstaan. Maar dink ek so aan jou, gegiet in metaal of vasgelê in graniet, raak jy kil en koud. Hulle sal jou met ’n soldaat se uniform en iets soos ’n masjiengeweer in die hand hier wil laat staan. Ferm, kil en sonder siel.

Maar so was jy nie; so sal ek jou nie onthou nie.

 

* “The proudest peer in the realm shall not wear a head on his shoulders.” Cade in Henry II, VI, 4, 112–5.


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address