’n Kwartmiljoen mauserpatrone – Doc Immelman se (enigste) fantasieroman

  • 0

'n Kwartmiljoen Mauserpatrone
Doc Immelman
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869198367

Koop 'n Kwartmiljoen Mauserpatrone by Kalahari.com

Ek was heel waarskynlik nie veel ouer as tien jaar nie toe ek avontuurboeke ontdek het. Karl Kielblok, Cor Dirks, PJ Schoeman ...

En Doc Immelman.

Doc is die man wat homself met behulp van selfstudie deur matriek gekry het en daarna gekwalifiseer het as telegrafis en lateraan as gevolg van swak longe uit die nat Kaap moes wegtrek na ’n droër landstreek en uiteindelik in die destydse Suidwes-Afrika geëindig het. Daar het hy die bos, jag en die buitelewe ontdek. Hy bly vandag nog in Windhoek.

In  1959 is sy eerste bundel kortverhale gepubliseer en sedertdien het hy 41 boeke geskryf. Die kern van al sy verhale was altyd avontuur, die bos, jag, blootstelling, gewere, booswigte en spanning. Hy het die vermoë om elke lewenslustige leser mee te voer op die pad van uitdagings en ontdekkings. Alles in die teenwoordigheid van kampvure, sterrenagte, bloedsweet en kamp opslaan onder kameeldorings in die wye wonderlikheid van die eertydse Suidwes-Afrika. Van Die bul van Kashimbo tot Die leeu van Okarusewa tot Die buffeljagter en Die groot maroelas.

Toe kom ’n Kwartmiljoen mauserpatrone.

Dis ’n bietjie van ’n ander boek, maar danksy Protea is dit nou weer tot ons beskikking. Nes amper al die ander boeke uit Doc se pen uit. Wat ’n voorreg. Dis ’n puik manier om jou jeug te herleef.

Hier moet ek byvoeg dat ek beïndruk is met die manier hoe Protea boeke soos hierdie een uit ’n eertydse politieke dimensie gevat het en reggestel het om niemand aanstoot te gee nie, maar tog nie die essensie van die storie verdraai of verloor het nie.

Om terug te kom na ’n Kwartmiljoen mauserpatrone: Dis ’n boek wat alles vasvat waaraan Doc Immelman verknog geraak het, maar dan terselfdertyd iets heeltemal anders probeer. ’n Groot element uit Namibië, of dan Suidwes-Afrika, soos dit ten tyde van die oorspronklike manuskrip nog bekend was, se geskiedenis gaan oor die Dorslandtrekkers. Dié trekkers het mos desjare besluit die Engelse gaan nie oor hulle heers nie en het dus opgesaal, ingespan en ’n nuwe beloofde land gaan soek.  

’n Kwartmiljoen mauserpatrone stel ’n trekgroep van dié dorstige trekkers voor wat huis gekry het in ’n hoefysterboog van die Nossoprivier daar iewers in die Kalahari tussen Suid-Afrika, Suidwes en Botswana. ’n Vallei wat groenigheid en voorspoed bied. Die Republiek van Wesryk (die eerste president was ’n Wessels) is heeltemal fiktief, maar trek baie op Orania, wat lank ná die boek oorspronklik verskyn het, tot stigting gekom het.  

Die inwoners van Wesryk het, tot en met die skrywe van die verhaal, onder die radar van Suid-Afrika se gevorderde tegnologie gebly, maar toe hulle kontakpersoon met die buitewêreld, ene Piet Ludeke van die plaas Waaibosch in Suidwes, begin om op groot skaal mauserpatrone in die Republiek aan te koop, het die owerhede onraad begin merk.

Die skryf van die boek en die konsep is braaf, maar daar is ’n probleem met geloofwaardigheid. Dis haas onmoontlik dat die tuislanders so lank onontdek sou bly (die Dorslandtrekkers het in 1874 begin koers kies), veral omdat hulle op die landsgrens van Suid-Afrika en Botswana hulle nuwe tuisland tot stand gebring het en landsgrense konstant gepatrolleer word deur militêre vliegtuie.

Verder, alhoewel hulle jaarliks met ossewaens en perde na Piet Ludeke se plaas trek om proviand te koop én Ludeke sy plaas deurentyd platry met trekkers en sy bakkie terwyl hulle daar is, skrik hulle hulself oorhoeks wanneer die regering se afvaardiging met Landrovers tot in Wesselstad ry. Hulle verstaan nie watse gedrog is dié ding wat so knor en vanself voortbeweeg nie.

Die beste deel van hierdie boek is beslis die karakterisering van Daantjie Terblanche, LV vir die Kalahari. Enige aspirantskrywer kan gerus ’n studie maak van hoe Immelman dié karakter uitbeeld en onderskei. Hy word ’n spesifieke en unieke mens. Sy maniërismes en optrede is konsekwent, komies en geanimeerd.

Alhoewel die boek nie ’n literêre prys gaan wen nie en geloofwaardigheid ’n probleem is, is ’n Kwartmiljoen mauserpatrone pret en lekker leesstof vir iemand wat desjare graag Springbokradiostories geluister het. Of verslaaf is aan Sewende Laan ...

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top