'n Huldeblyk aan Freda Linde: Die smaak van suringwortels

  • 0

’n Bydrae tot die huldiging “So onthou ons Freda”, Welgemeend-herehuis, Hoërskool Jan van Riebeeck, Vrydag 26 April 2013

Ek wil ’n titel gee aan my bydrae: “Die smaak van suringwortels”. Suringwortels is nie so suur soos die suringblomsteeltjies nie. Ook nie so neutraal soos die suringblom nie. Maar waarvan jy veral bewus is, is dat die suringwortel uit die grond kom. Wees maar gerus; ek kom heel aan die einde by die suringwortels uit. As ek weer oor suringwortels praat, beteken dit ek sluit af.

Dit het al dikwels met my gebeur dat ek in twee fases met ’n skrywer saamleef: eers as jeugdige wat die skrywer se werk onbevange kan lees, byvoorbeeld FA Venter, WA de Klerk, WO Kühne, Alba Bouwer, SV Petersen en PH Nortjé, en dan, in die tweede fase, as boekeredakteur, wanneer ek as volwassene direk met so ’n skrywer saamwerk. Dis ’n voorreg én verantwoordelikheid.

Só was dit ook met my en Freda Linde.

Dis die jare sestig van die vorige eeu. In die skoolbiblioteek van die Hoër Jongenskool Worcester raai mnr Christie Botha ons ten strengste af om Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan se emosionele styl na te volg in ons opstelle, al word sy ook hoe baie as voorbeeld voorgehou in ons Lewende Taal-grammatikaboek. Nee, volg eerder Freda Linde se nugter, noukeurige essays in Terug na die mimosas en ander essays (1944) na. Ek sou veral hou van haar Vreemdeling in my stad (1962).

In 1960 is ek 13 jaar oud en Freda Linde al ’n dame in haar veertigerjare. En nou gebeur dit dat ons onwetend met mekaar meeding, ek in my klein hoekie en sy in hare. Ons albei voel ons uitgedaag om deel te neem aan ’n sonderlinge letterkundekompetisie, een wat ek dink eenmalig was.

Wel, my roman het seker so tien bladsye in een van die Croxley-oefenboekies uit oom Charlie Parsons se plaaswinkel gehaal voor ek dit maar gelaat het, maar Freda skryf Die rooi haan in. Ons twee het dieselfde koerant gelees, want sy wen toe ’n spesiale prys met die manuskrip in die letterkundige wedstryd 1960 van Die Landstem! (Gekontroleer by NALN; ek het reg onthou.)

(Die jeugdiges onder julle weet seker nie dat Die Landstem ons destyds seksueel goed opgevoed het nie. “Ma, Ma, wat’s owerspel?” Dan moet jy verduidelik waar jy dit gelees het.)

Ek, die verloorder in die wedstryd, het my onlangs verlekker toe ek in Carl Lohann se huldigingsboek vir Freda lees dat André P Brink so ’n ou paar voorbehoudjies had oor Die rooi haan, wat in 1963 verskyn het. Naar van my.

My tweede fase met Freda Linde begin in my eerste jare by Tafelberg-Uitgewers. Teen 1973 is ek nog redakteur in die deftige afdeling: Fiksie en Bellettrie vir Volwassenes. Met juffrou Berta Smit as die Ystervrou. Destyds het ’n kollega in dieselfde woonstelblok as ek hier naby in Kampstraat gewoon. Sy was die hoof van die kinder- en jeugboekafdeling, wyle Erne Badenhorst, later Erne Potgieter. Dis by haar dat ek hoor van Freda, hoe hulle werk aan Die singende gras. Uit Erne se so pligsgetroue, noukeurige redakteurskap, uit dr Lydia Pienaar, later Snyman, se onvergeetlike mentorskap van jeugboekredakteurs en talle jeugboekskrywers, en dan uit Freda se deeglikheid en groot skeppingsvermoë ontstaan die veelbekroonde Die singende gras. Vir my een van die ontroerendste romans in Afrikaans. In In ons goeie boekies (Tafelberg, 1991) vertel Freda: “Net so onvergeetlik soos my eerste twee besoeke aan Suidwes is die geesdrif en die momentum waarmee die destydse redaktrise, Erne Badenhorst, Die Singende Gras gepak het. Ek het nooit voorheen of daarna so iets by 'n redaktrise beleef nie.”

Maar dan volg ’n ongelukkige episode in die Waalburggebou se uitgewerswêreld. Erne beleef ’n oomblik van waarheid: sy glo sy móét uit die land van koning Eenoog ontsnap, het sy teenoor my gekla. Sy voel haar vasgekeer deur beterweterige mense wat hulleself beskou as kinderboekkenners en dit dan hoegenaamd nie is. Daarom besluit sy om dr Lydia se aanbod om by Die Kinderpers van Suid-Afrika te gaan werk, te aanvaar. Erne word gevra om haar Tafelberg-kantoor te ontruim. Ek moet dadelik oorneem by haar. Ek moet van haar privaatbesittings vir haar woonstel toe bring. Onder meer bababergskilpadjies, ’n geskenk van Freda. Was hulle lewend? In ’n huldiging by Erne se afsterwe skryf ek inderdaad van “'n klompie kriewelende klein skilpadjies”. Erne het my in die voorafgaande maande getoets oor my aanleg vir kinderboeke; ek sou ook dr Lydia se Die kind en sy literatuur ter harte neem, en van Erne se manuskripte bestudeer om te sien hoe sy dinge verander. Byvoorbeeld perspektiefsake. Maar … gelukkig was Die singende gras teen dié tyd in kanne en kruike, soos juffrou Berta altyd gesê het.

Nou moet ek Freda se In die boog van die sekel (1975) hanteer. Dié feiteboek oor koring is in opdrag van Erne geskryf en was ook reeds persklaar gemaak. Ek was in vrese en bewing voor Freda. Sy met al haar uitgewerskennis, sy wat stip noukeurig is. Mnr Jürgen Fomm, produksiehoof, het my altyd gespot: ek ly aan onderwysersindroom; ek wil tog nie onnodig foute maak nie; altyd die skrywers gelukkig stem; hulle moet my tog nie betig nie. En toe behaal ek die prestasie! Freda het dit meer as een maal luid verkondig: In die boog van die sekel is die eerste en moontlik die laaste boek van haar wat verskyn het sonder dat sy die proewe tot in die allerlaaste fase kon lees! En wat meer is: sy het nooit daarna oor foute gekla nie. Die geheim agter die prestasie? Ek dink dit was einste mnr Fomm wat die aflewering van die proewe so beplan het, so bestuur het, dat sy dit nie kón lees nie.

Met haar Die gesiglose en ander eenbedrywe wat by HAUM sou verskyn, het sy my sowaar raad gevra, ek met my drama-agtergrond wat toe al ’n paar dramas geredigeer het. Ek onthou dat ek vreeslik aan haar voorgehou het dat dit baie wenslik is dat die stukke op die verhoog getoets moet word voor publikasie. Sy was egter meer geïnteresseerd in die tekeninge van die verhoogplanne, dat dit akkuraat en volgens háár visie sou wees.

Ek sou ook met haar saamwerk aan ’n vertaalde prenteboek, ’n saamdruk met ’n Britse uitgewery. Dawie se laaste wagdag deur Bernadette Watts vertel van Dawie wat moet wag dat sy mamma terugkom van die kraaminrigting met sussie Dossie. Weer was ek bedug. Hoofbestuurder Danie van Niekerk het self vir haar gevra om die vertaling te doen. Maar voldoen die boek aan haar standaarde vir kleinkinderboeke? Sy wat al so ’n duisternis vertalings gedoen het? Sal sy vrede hê daarmee? Ja, sy had en weer was ons samewerking voorspoedig.

Ek onthou Freda Linde as ’n heel voorbeeldige skrywer. So mooi dankbaar. Nadat sy haar tantièmetjek ontvang het, daag sy met wyn op in Charles Fryer se kantoor (syne was lekker groot) en dan was dit ’n luidrugtige joligheid.

Maar by ’n ete ter viering van In die boog van die sekel was alles nie so jolig nie. Aan die begin van die ete die aand lag Freda nog gul. Maar toe raak een van my kollegas al hoe dronker. Hoe dronker sy word, hoe selfgesentreerder raak sy, hoe meer besing sy haar eie prestasies. En Freda se vreugde vervaag. Haar laggies word korter, senuagtiger, tot by ’n soort ongemaklike swye. Die volgende dag het die kollega kom nabetragting hou en ek het haar nurks aangespreek oor haar dwaling. En my kollegas weet hóé nurks ek kan raak.

In die huldigingsboek van Carl Lohann en medewerkers ontdek ek eers in hierdie dae dat ek en Freda iets gemeen had. Wens ek het dit vroeër geweet; dalk was ek dan minder gespanne by haar. In 1973 vertel sy in Tydskrif vir Letterkunde van haar kinderjare op Bruintjiesrivier. Nes op ons plaas buite Worcester was daar ook baie bloekombome. Hulle vang mos die sonlig op ’n anderste manier. Sy vertel van “die ryke weelde” wat sy had; ek had dit ook: die dorsmasjien wat kom, karringmelk, moskonfyt en die lekkerny van die ploegland ná die herfsreëns: dis die vet wit suringwortels wat bo lê as die ploegskaar die klam sooie omkeer. Ja, Freda, ’n mens stap mos so ’n ent agter die esels en die ploeg aan en dan kry jy die wortel; jy vee die wortel skoon teen jou gewese skoolhemp en dan eet jy dit. Die suur is minder as die blomsteeltjies, maar daar’s nog steeds ’n bietjie grond aan, jy weet, Freda.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top