Die week in woorde
Verlede week moet ek die kinders by my ou hoërskool gaan toespreek en uit my alombekende stoor van diepgaande lewenswyshede ’n paar brokkies raad met die bloedjies deel om hulle op die pad vorentoe aan te help.
Ek het nie gedink dit gaan moeilik wees nie – toe ek 11 jaar terug nog daar op skool was, het ek immers gereeld op die verhoog gestaan en wyshede kwytgeraak vir almal wat wou hoor – en party wat nie wou hoor nie, het ook deurgeloop. Maar hierdie keer was dit vreesaanjaend. Ek het toegeslaan soos ’n seesiek mossel en kon aan niks dink om in my spiets te skryf nie. Dié kant toe en daai kant toe het ek probeer dink, maar my kop wou nie verder vorder as Baz Luhrman se “Sunscreen song”** en snaakse prentjies van katte op die internet nie.
Die “Sunscreen song” was ’n treffer toe ek op skool was. Ek het destyds al die woorde uit my kop uit geken, maar moes baie daarvan nou weer gaan opkyk toe ek voor die toespraak daaraan dink. Dit begin met die tydlose woorde: “Wear sunscreen. If I could offer you only one tip for the future, sunscreen would be it. The long-term benefits of sunscreen have been proved by scientists, whereas the rest of my advice has no basis more reliable than my own meandering experience. I will dispense this advice now.”
Ek hoef darem seker nie te verduidelik van snaakse foto’s van katte op die internet nie. Dis hierdies waarvan ek praat.


En hierdies.


In elk geval, terug na die “Sunscreen song”. Die gesukkel met die skryf van die speech het my laat wens daar was ’n sunscreen song vir skryf … iets wat die tydlose waarhede van die skrywerslewe so bondig saamvat en dit inbrand in die geheue.
Sedert die ruggraat van my boodskap aan die kinders by my hoërskool iets was soos “doen net iets!” (dis nou buiten die dele waar ek uit die sunscreen song aangehaal het en foto’s van snaakse katte gewys het), het ek besluit om daad by die gevleuelde woord te voeg en self iets aan die tekort aan sunscreen songs vir skrywers te doen. Dus, hier, net betyds vir die somer, en hopelik so tydloos en inspirerend soos Baz Luhrman se treffer, my sunscreen song om jou deur die dal van dodelike skrywersblok en skrywerlike doodsondes te dra:
Dames en here, maar veral skrywers van die klas van 2012, gebruik woordeboeke.
As ek vir julle net één brokkie raad kan gee om aan te klou, dan is woordeboeke dit.
Die langtermynvoordele van woordeboeke word bevestig deur literatore en ander kokkedore, terwyl die res van my raad geen meer betroubare basis het as my eie onvasvoetige omswerwinge nie. Ek sal hierdie raad nou uitdeel.
Geniet die gevoel van onskuldige genoegdoening wat jy sal ervaar as jou eerste skryfsels "klaar" is. Of toemaar wat. Jy sal nie daardie gevoel van onskuldige genoegdoening verstaan voordat dit te laat is, en jy nooit weer sal dink dat enige skryfsel "klaar" is nie. Maar glo my: 20 jaar van nou af sal jy terugkyk na daardie skryfsels en met ’n begrip wat jy nie nou sal kan voorsien nie, besef hoe vrot daai pennevruggies werklik was.
Tog is jy nie so dom as wat jy dink nie.
Moet jou nie bekommer oor waar jou volgende idee vandaan sal kom nie. Of bekommer jou, maar besef ook dat bekommernis omtrent so effektief sal wees soos om ’n woordsom op te los deur na ’n windpomp te staar.
Die grootste probleme met jou boek of gedig gaan waarskynlik dinge wees wat nooit eers by jou bekommerde brein opgekom het nie, die soort ding wat skielik op bladsy 792 kop uitsteek terwyl jy jou dertiende koppie groen tee vir die dag drink.
Gebruik elke dag minstens een woord waarvan jy die betekenis moes naslaan.
Sing.
Moenie roekeloos met ander se skryfwerk omgaan nie, en moenie mense toelaat om roekeloos te wees met joune nie.
Flos.
Moenie jou tyd met jaloesie mors nie. Somtyds skryf jy 1 000 woorde op ’n dag, op ander dae net drie. Ons kan nie almal Antjie Krog wees nie. Die wedloop is lank, en oplaas is sy jou enigste teenstander.
Onthou komplimente wat jy kry, maar moet ook nie die kritiek vergeet nie. Probeer verbeter sonder om jouself en jou stem te verloor. As jy kan uitwerk hoe om dit reg te kry, sien ek jou by die oorhandiging van jou Hertzogprys.
Hou jou ou opstelle, maar gooi jou afkeurbriefies van uitgewers weg.
Strek. Nee regtig. Strek. Skrywers wat te lank stilsit en vergeet om op te staan en te oefen, ontwikkel probleme met hulle bene. Regtig. Strek.
Moenie skuldig voel as jy nie weet in watter genre jy tuishoort nie. Die mees interessante skrywers wat ek ken, weet teen bladsy 22 nog glad nie watter tipe boek hulle skryf nie. Party van die heel interessantste skrywers wat ek ken, werk dit nóóit uit nie.
Maak gereeld back-ups en laat jou printer dan en wan diens.
Koop ’n goeie kantoorstoel. Jy sal later dankbaar wees.
Miskien sal jy gepubliseer word, miskien sal jou boeke nooit die lig van ’n boekwinkel sien nie. Miskien sal jy pryse wen, miskien nie. Miskien sal jy mense in trane hê met jou aanvaardingstoespraak vir die Nobelprys vir letterkunde, of dalk sal lesers aanhou om vir jou hate mail te stuur oor die manier waarop die hoofkarakter in jou laaste boek dood is. Wat jy ook al doen, moet jouself nie te veel gelukwens nie en moet jouself ook nie te veel afkraak nie. Jou keuses is 50 persent toeval, en dit is waar vir almal. Behalwe mense wat “Choose-your-own-adventure”-boeke lees. En skryf.
Geniet die internet en gebruik dit op soveel maniere as wat moontlik is. Moenie bang wees om idees te steel nie, maar maak seker dat jy jou bronne aandui. Dit is die duurste les wat jy sal leer as jy vergeet.
Lees, al het jy nêrens om dit te doen behalwe in die badkamer nie.
Lees die voorleggingsriglyne, selfs as jy nie beplan om hulle te volg nie.
Moenie romanses lees nie. Dit sal jou net vies maak om te weet die skrywers maak meer geld as jy.
Leer ken jou literêre voorsate. Jy weet nooit watter lesse daar in Sewe dae by die Silbersteins opgesluit is nie. Wees gaaf met jou medeskrywers. Hulle is die enigste individue wat verstaan waardeur jy gaan, en waarskynlik die enigste mense wat jou boek gaan lees.
Verstaan dat gunsteling-boeke kom en gaan, behalwe vir die kosbare paartjies waaraan jy vir altyd moet vashou. Maak seker dat jy hulle gereeld weer lees, want hoe ouer jy word, hoe makliker sal jy vergeet wat dit in daardie boeke was wat jou in die eerste plek tot skryf gedryf het.
Woon minstens een maal in Johannesburg, maar trek voordat jy al jou beste idees in die verkeer verloor. Woon minstens een maal in Kaapstad, maar trek voordat jy vet word van al die gratis kos by boekbekendstellings.
Reis.
Aanvaar sekere onveranderlike waarhede, soos: Skryfwerk sál afgekeur word. Swakker boeke as joune sal uitgegee word. Jy sal ook oud word, en jou skryfwerk sal uit die mode gaan. En wanneer dit gebeur, sal jy fantaseer dat jou skryfwerk nooit afgekeur is nie, dat swak boeke nooit gepubliseer is nie, en dat skrywers hulle uitgewers respekteer het.
Respekteer jou uitgewers.
Moenie van enigiemand verwag om jou skryfwerk te lees as jy nie self wil lees nie. Miskien sal jy ’n best-seller skryf. Miskien sal jou gedigte vir skoolkinders voorgeskryf word. Maar jy weet nooit wanneer iemand die volgende 50 Shades of Grey skryf nie.
Moenie te veel aan die slot karring nie, of teen die tyd dat die boek by die uitgewer land, lees dit soos ’n begrafnisbrief.
Wees versigtig na wie se skryfraad jy luister, maar wees tog maar geduldig met dié wat raad verskaf. Raad is ’n vorm van nostalgie. Om dit uit te deel is ’n manier om jou swakste pogings uit die snippermandjie te verwyder, die spelfoute reg te maak, oor die clichés te tippex en dit dan op te dis vir meer as wat dit werd is.
Maar vertrou my oor die woordeboeke.
** Die “Sunscreen song” se woorde is oorspronklik deur die rubriekskrywer Mary Schmich geskryf en in die Chicago Tribune gepubliseer as “Wear Sunscreen”. Die teks is wyd op die internet versprei en verkeerdelik toegeskryf aan Kurt Vonnegut. Die liedjie is in 1999 deur Baz Luhrman opgeneem, met Schmich se toestemming. Sy ontvang tantieme. Bron: Wikipedia.
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


Kommentaar
Solank mens darem genoeg maak uit hierdie geskrywery vir nuwe woordeboeke so elke tweede dekade of wat.
Ek gebruik nogsteeds die HAT wat ek in standerd 5 as boekprys gewen het.