Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
My geliefde: My lief

 28 Julie 1942
Waboomskraal
Mosselbaai

My Lief

Die suiderwind hamer jou naam met grys branders teen die rotse vas. My verlange na jou lê soos stukkende soutkristaltrane uitgestrooi oor die verlate duine. Op die rots waar jy die blou lint uit my vlegsel getrek het, is nog net skurwe gebreekte skulpies oor. Die plakkies se blare is ook kaalgestroop.

Die dae is koud en draal verby. Die kiewiet het ’n nuwe nes en ek dink die korhane is almal siek, want hul skreeu is yler as toe jy hier was. Die suikerbekkies is ook weg.

Treur die sterre in El Alamein? Hou die Quatrara-laagte ook asem op? Saans, wanneer ek die blackout-gordyne toetrek, soek my vingers na jou fluweelbroek se lyn, druk ek my gesig in die gordyn se vou en verbeel ek my die reuk van jou baadjie in die agtermiddagson. Snags word ek wakker met my lyf wat na jou soek.

Dag en nag dink ek aan jou, bid ek vir jou. My verlange na jou maak my desperaat. Ek beveel engele om jou ontwil. Ek stuur hulle al langs die linies af. Saans gebied ek ’n kordon rondom julle laer. Bedags word ek kwaad en vra ek dat Rommel se wapens opdroog. My liefling, so bly ek naby jou. Voer ek oorlog saam met jou.

Ons het gister skaap geslag, en toe die lamswol teen my arm val, onthou ek jou sterk arms en die glinstering van jou armhare teen my vel.

Die radioseine wat oorlognuus uitblaker, sny messteke deur my bors. Ek sê vir myself dat dit net ’n nare nagmerrie is. My hart kan nie breek nie, hierdie pyn kan nie altyd aanhou nie. Nee, die vrees vir jou lewe en verlange gaan my nie uitmekaar skeur nie. My hart sal nie, mag nie, ophou klop nie. Alles is net ’n droom. Ek sê vir myself die werklikheid is iets heel anders. Dit is net my ribbekas wat kreun.

Jou hande met die sterk sonbruin vingers hou my hart stewig vas. Dis joune. Elke hartklop sê: “Ek is lief, ek is lief vir jou. Lief, lief ...”

Die oneindige woestyn, lang dae en nog langer nagte, rooi sand, droë, barre aarde, oorlog, of winter. Niks kan ons skei nie. My hart is joune, altyd joune. Pas jouself op my Hart. Hou aan met klop. Kom veilig terug, ek wag vir jou.

Anna



Klik hier vir nog inligting oor die liefdesbrief-kompetisie.

 
Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address