Bel Monte
Kaapstad, 25 Oktober 2012
Liewe Wilhelm,
Lank nie geskryf nie, en môre, 26 Oktober 2012, sou jy verjaar het en 77 jaar oud geword het.
En wil jy glo, jou jongste broer Deon het alweer sy kalender verkeerd gehad in sy kop en vandag, 25 Oktober vir ’n stuk of 20 familielede en vriende ’n SMS-boodskap gestuur om aan jou te dink. Moes dadelik ’n tweede SMS stuur om my fout uit te wys en toe sommer stuitig/kreatief gesê het, “nou kan ons sommer 2 dae lank aan hom dink!”
Daar is heelwat nuus om op te vang. Ek het aan jou geskryf oor Phil se dood en begrafnis verlede jaar.
Verdere verwikkelinge was dat sy broer, Freek, as eksekuteur van Phil se boedel, besluit het dat die meeste van sy kunswerke en skilderye op ’n Kunsveiling verkoop moes word.
Dit was vir Catherine geweldig traumaties toe hulle die dag 44 skilderye van die mure kom haal het. Catherine het glo aan Freek gesê: “Now you have finally killed Phil.”
En my emosie was dat, soos in sy bundel Herakles by Valsbaai, die roerende gedig wat hy oor sy huis, wat deur die noordooste wind geteister word, werklikheid geword het: “… Diep in ou hout,/ dak, / plafon, balke / hoor ek kewers / in die hout knaag./ Uit kleimure sypel bruin vog./ bloed van ‘n ou huis …”
Ek het altyd gehoop dat mens sy kunswerke as die Phil du Plessis Kunsversameling sou kon behou. Toe ek die firma, Strauss and Company daaroor skakel is ek deur die dame in beheer van die voorbereiding tot die veiling ingelig dat hulle vir weke moes sukkel om die skilderye skoon te maak en selfs te restoureer, erg beskadig weens die vog en klammigheid van sy huis aan die kus van Valsbaai, en ook dat dit weens jare se blootstelling aan hewige sigaretrook, deur laag op laag van nikotien bedek en besoedel was.
Ek het toe ook die veiling gaan bywoon en langs Catherine en haar buurman, wat ook haar prokureur is, gesit. Phil se werke is vir verkoping aangebied tussen al die ander werke waaronder selfs enkele Irma Stern en Maggie Loubser skilderye was. Daar was ook ‘n Battiss of twee.
Wel, ongelooflike pryse is vir sommige werke betaal. Phil het ’n paar Christo Coetzee’s gehad en dié is almal teen buitensporige pryse van die hand gesit, die een selfs vir meer as R200 000.00.
Ek dink Catherrine is meer rustig oor die verkoop van die kunswerke en het selfs nou die nodige fondse om ’n skildery wat deur Alice Goldin in Phil se sit- en musiekkamer geskilder is aan te koop. Dit was ’n maand of wat gelede uitgestal by Alice se retrospektiewe uitstalling in die Irma Stern Museum ter viering van haar 90ste verjaardag. Dit toon Phil en ’n medespeler wat elk met viool onder die ken sit en musiek maak. Dit sal as pragtige herinnering aan Phil en sy liefde vir musiek en kamermusiek, wat so dikwels in sy eie huis uitgevoer is, dien. Alice was vir Phil besonder lief en het selfs soms by hom in Luderitzbaai gaan kuier toe Phil nog daar in algemene praktyk was. Met die tiende gedenkaand na jou dood op 4 Januarie1974, het Phil ’n spesiale gedig en bundel met die titel Gebed vir Wilhelm aan jou opgedra. Dit is pragtig geïllustreer deur sifdrukke van Alice se kunswerke spesiaal vir die geleentheid gemaak.
Die verdere nuus is dat ek uiteindelik sover gekom het om die meerderheid van jou dokumente te orden, waaronder heelwat handgeskrewe eerste variasies van talle van jou gedigte, maar die meerderheid getik op jou ou Remington waarvan elke blad se pons-gaatjies met stewige ronde plakkertjies versterk is. Dit was dikwels die manier waarop ek kon vasstel of gedigte wel deur jou geskryf is, want ek het niemand anders teegekom wat so sorgvuldig en deeglik gesorg het dat die tikvelle nie uitskeur nie.
Na sewe jaar se toewyding en harde werk om jou nagelate werk en selfs lewe (?), te orden en uit te soek was dit nie maklik om uiteindelik van alles afskeid ten neem nie.
Eers was daar die groot ou Bliktrommel waarin die meeste van jou nagelate werk gestoor was en soos ek die oorspronklike van Versien uit jou boonste rondawel ontvang het. Dit is uitgepak in drie verskillende kartondose en gemerk trommel 1, 2 en 3, soos jy in my onderstaande briewe aan Mimi Seyffert, hoof van die Dokumentasiesentrum van die Universiteit van Stellenbosch sal lees.
Uiteindelik was daar feitlik ’n wavrag van agt (VIII) dose en houers en dan het ek nog ’n paar lêers met persoonlike korrespondensie en familiebriewe teruggehou.
Daar is ook die talle tekenboeke en skilderytjies wat jy deur die jare gemaak het, veral aangrypend
die sketse wat jy op 2 tot 3 November 1961 gemaak het as rekord van jou toelating tot, en verblyf en
be(mis?)handeling in die Hôpital St Anne in die rue Cabane in Parys. In jou eie woorde:
“In Parys/ in die grys gebou sonder siel/ geskop soos ’n dier/ bevuil in eie (braaksel? (ekskresie?) en later geratel van ’n emmer/ na die end van ’n gang gedra/ wat skyn van beskaafdheid, sindelikheid bewaar...”
Ek gaan vir jou ’n foto aanheg wat ek geneem het van die agt houers en bokse, gemerk I tot VIII, terwyl ek gewag het vir die motorbestuurder om dit te kom haal.

Ook ter stawing en rekordhouding van die hele gedoente, die briewe wat ek aan Mimi Seyfert gestuur het met die inventaris van elke doos en houer.
----- Original Message -----
From: deon knobel
To: Seyffert Mimi
Sent: Wednesday, October 10, 2012, 4:56 PM Subject: Fw: Emailing: Inventaris SKENKINGS AAN DOKUMENTSENTRUM UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Beste Mimi
Hiermee voorlopig die lys van items aan julle oorhandig.
Ek het elke houer gemerk ooreenstemmend met die lys, naamlik I tot VIII met die inhoud vir elkeen apart gelys.
Ek het nou kartondose gekry en sal die trommel uitpak in 2 of 3 dose, steeds gemerk Trommel 1, 2 en 3.
Ek het sekere lêers met familie- en persoonlike briewe en biografiese besonderhede, voorlopig teruggehou.
Dan is daar ook sy eie tekeninge en skilderytjies waaroor ons weer later kan gesels.
Ek het dit steeds in my agterkop om my eie biografie oor hom klaar te maak in die vorm van 'n Plakboek Biografie, byna soos die een wat ek gepubliseer het as Wilhelm Knobel, die Ongewapende Man - van kindertyd to sterwenstyd.
Ek stuur ook vir julle drie rug-aan-rug blaaie met bykomende inligting wat ingeplak moet word by die ooreenstemmende plekke in die Ongewapende man". Ek het dit in ’n nuwer uitgawe van die boek bygevoeg.
Ek is kapot van uitsorteer en "nog is het het einde niet!"
Deon
----- Original Message -----
From: deon knobel
To: Seyffert Mimi
Sent: Wednesday, October 10, 2012 4:58 PM
Subject: Fw: Emailing: Inventaris SKENKINGS AAN DOKUMENTSENTRUM UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Ek probeer weer.
Deon
----- Original Message -----
Beste Mimi
Hiermee voorlopig die lys van items aan julle oorhandig.
Ek het elke houer gemerk ooreenstemmend met die lys, naamlik I to VII met die inhoud vir elkeen apart gelys.
Ek het nou kartondose gekry en sal die trommel uitpak in 2 of 3 dose, steeds gemerk Trommel 1, 2 en 3.
Ek het sekere lêers met familie- en persoonlike briewe en biografiese besonderhede voorlopig teruggehou.
Dan is daar ook sy eie tekeninge en skilderytjies waaroor ons weer later kan gesels.
Ek het dit steeds in my agterkop om my eie biografie oor hom klaar te maak in die vorm van 'n Plakboek Biografie, byna soos die een wat ek gepubliseer het as Wilhelm Knobel, die Ongewapende Man - van kindertyd to sterwenstyd.
Ek stuur ook vir julle drie rug-aan-rug blaaie met bykomende inligting wat ingeplak moet word by die ooreenstemmende plekke in die Ongewapende man. Ek het dit in 'n nuwer uitgawe van die boek bygevoeg.
Ek is kapot van uitsorteer en "nog is het het einde niet!"
Deon
---- Original Message -----
From: deon knobel
To: Seyffert Mimi
Sent: Wednesday, October 10, 2012 5:48 PM
Subject: Fw: Emailing: Inventaris SKENKINGS AAN DOKUMENTSENTRUM UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Nogeens, Mimi, die heel nuutste brief ter inligting.
Die trommel is nou gepak in twee kartondose duidelik gemerk trommel I en trommel 2.
Die blou krat is ook nou in ’n kartondoos, gemerk VI - blou krat, en ook aangedui om lêers van voor na agter uit te pak.
Die heel laaste groen hanglêer in trommel 2 bevat Wilhelm se verklarende notas oor Elegie vir V. Cuenod, en die drie los blaaie wat ingeplak moet word in die Ongewapende man.
Groete
Deon
----- Original Message -----
From: deon knobel
To: Seyffert, Mimi
Cc: marié blomerus rousseau
Sent: Thursday, October 11, 2012 10:22 AM
Subject: Re: Emailing: Inventaris SKENKINGS AAN DOKUMENTSENTRUM UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Beste Mimi,
Hy's nou net weg, en hopelik sal hy veilig daar aankom. Ek het ook 'n los lêer aangestuur om in u hande oorhandig te word, met enkele los velle en lys van inhoud.
Ek sit met heelwat inligting nog oor.
Ook die volledige stel uitgawes van die Pretoria Sestiger Groep se tydskrifte Wurm en Izwe. Vader Ted het op 'n stadium gewonder of dit nie na Pretoria moet gaan nie, aangesien die ontstaan van die uitgawes in Pretoria plaasgevind het. Laat weet wat u dink.
Baie dankie vir julle "omgee" en versorging van sy nalatenskap.
Groete
deon knobel
----- Original Message -----
From: deon knobel
To: Seyffert Mimi
Sent: Wednesday, October 17, 2012 12:33 PM
Subject: Emailing: Jules Supervielle vertalings uit Tydskrif vir Letterkunde, Februarie 1974, quand son pere lui dit finaal met catherine lauga du lessis en trés vite, instede van quattre a quattre, Poèmes de Wilhelm Knobel Bol de Poissons Bak met Visse
Beste Mimi en personeel gemoeid met Wilhelm se nalatenskap -- ( en liewe ander familie en vriende)
Ek stuur vir julle hierdie pragtige gedigte óf in Frans geskryf óf uit Afrikaans na Frans vertaal deur Wilhelm en ook een nuwe gedig uit De Arte 7 en sy vertalings van Supervielle se gedigte, destyds deur Elize Botha gebruik as In memoriam vir Wilhelm in Tydskrif vir Letterkunde. Daar is ook die eerste variant van Op slag gedood waarvan die eerste twee reëls in die finale gedig weggesny is deur Wilhelm en dus nie meer lees: “Op slag gedood/ Hierdie woorde sal jou bybly die res van jou lewe.”
Aan jou, Wilhelm, en familie, my volgende gedagtes wat nie in Mimi se brief verskyn het nie: Dat die gedig nou direk begin met “Nog voor ’n vlies die horingvlies bedek/ kom die siel tot rus.” ’n Baie sterker en meer aangrypende begin van jou pragtige elegiese gedig oor die begrafnis van ons Pa, Gideon, na sy dood in die onnodige en nalatige verkeersongeluk, van ’n trekker sonder lisensie, met ploegligte aan wat na agter in Pappa se oë sou geskyn het. Ook die trekkerdrywer het nie ’n geldige lisensie gehad nie. Mamma wou nie toelaat dat ons dit deur die hof aanval nie want, het sy gesê, “Dit sal Pappa nie vir ons terugbring nie.”
Die Bak met visse is vir my pragtig en is nie in die versamelbundel opgeneem nie, omdat daar twyfel bestaan het oor die naam Bak met visse, net die titel vir die een gedig of dalk vir al vier die gedigte in New Nation? Uit die Franse vertalings is dit duidelik dat die titel net betrekking het op die laaste van die vier gedigte.
Groete
Deon knobel
Hier volg nou die vier mooi gedigte in Frans wat ek aan Mimi gestuur het as aanhangsels tot my brief aan haar.
|
Poèmes de Wilhelm Knobel, en Francaise
1. l’iris s’ouvrira encore cette nuit les poisons écoutent le nuit secrete tes mains 2. nous ne sommes pas de purs esprit 3. 4. Bol avec Poissons Il a plu doucement toute la soirée |
Gedigte in Frans vertaal deur Wilhelm Knobel 1. die iris sal vannag nog oopgaan die visse luister na die soel aand jou hande 2. ons is nie pure gees nie! 3. 4. Bak met Visse dit het die heel aand sag gereën
|
Jou gedig in Frans, "L’Autre," na jare ontdek, is vir my ontsettend aangrypend. Na 40 jaar in Regsgeneeskunde en bykans 200 000 lykskouings, waartydens ek met hartseer en droefheid van familielede betrokke geraak het, het my intens geïnteresseerd gemaak in die rouproses, soos oorspronklik deur Elisabeth Kübbler-Ross uiteengesit. En soos jy weet is die name van die twee vroeggebore kindertjies nooit weer in ons “Calvinistiese” huis genoem nie. Hartseer was vir die binnekamer, nie om oor te praat nie.
Dis hoe ek die gediggie in my bundel, Wilhelm Knobel die ongewapende Man … van kindertyd tot sterwenstyd” aan die leser bekend stel:
’n Volgende gediggie, “L’autre” in Frans, “Die ander een”, is ook tussen Wilhelm se dokumente gevind. Hierin vertel hy van die klein boetie wat gebore is, en hoe hy dit eers glo toe hy die blou gesiggie sien – waarskynlik reeds in die kissie vir die begrafnis. Die plekkie naby die moeder se hart is leeg en verruil vir ’n nog kleiner plekkie, daar tussen die bome. Dan eindig hy met die beeld van die seuntjie en dogtertjie, wat later gebore sou word en ook binne een dag sterf, en haar sneeuwit lyfie met vlerkies van ’n duif wat nooit beweeg nie. Die gediggie word opgedra aan sy moeder.
Finale weergawe na korreksies deur Catherine Lauga du Plessis
|
L'Autre Quand son père lui a dit Maintenant la petite chambre - le tout petit l'a quittée "Mais que fais-tu donc
Jamais on ne te voit jouer,
Peut-être préfère-t-il jouer Grammatikale afronding |
Die ander een Toe sy vader hom vertel Die klein kamertjie − die kleinding het dit verlaat “Maar wat maak jy tog daar
Mens sien jou nooit speel nie
Miskien verkies hy om te speel Vertaling deon knobel |
Dat jy hierdie gedig geskryf het in Frans, waarskynlik omdat jy geweet het dat die meeste van jou familie, behalwe ek wat Frans magtig is, sou dit nie kon lees en verstaan nie, het my laat besef dat jy jou eie rouproses oor die boetie, Ludwig Jean, en sussie, Agnes Charlotta Louisa, wou voltooi in jou eie “poësie binnekamer” deur daaroor te dig.
Die 7 Supervielle vertalings, met die brief soos oorspronklik ontvang van Elize Botha, stuur ek vir jou in die volgende brief wat ek môre vir jou verjaardag sal aanstuur, anders kry ek raas van die LitNet-redakteur dat die brief te lank word. Die mooiste van die gedigte vir my is, Wens “Hierdie wolk waar my gees op seil …”
Mimi se brief bevestig die veilige ontvangs van die dokumente en spreek ook haar dank uit dat ek dit deeglik uitsorteer en geklassifiseer het.
To: deon knobel
Sent: Thursday, October 11, 2012 8:44 AM
Subject: RE: Emailing: Inventaris SKENKINGS AAN DOKUMENTSENTRUM UNIVERSITEIT STELLENBOSCH
Geagte Prof Knobel
Baie dankie vir die aanstuur hiervan! Dit maak ons werk baie makliker. Ek sal u kontak as ek enige vrae het.
Groete
Mimi
Nou vir eers dan, Wilhelm, moet ek groet. Mooi loop en alles van die beste tot môre wanneer ek weer gesels en jou gelukwens met jou 77ste verjaardag en die 7 Supervielle vertalings aanstuur. Ek sal ook die inventaris volledigheidshalwe insluit.
Liefde,
Deon
VERTALINGS VAN SEWE VERSE VAN JULES SUPERVIELLE *
WENS
My bietjie aarde en my bietjie lig
En hierdie wolk waar my gees op seil,
Alles wat die siel beweeglik maak, of log,
Sal ek, sal ek my daarvan los kan maak?
Tog sal dit nodig wees dat hulle my verpak
En laat wegdra sonder om te skroom,
'n Pakkie wat minder vir jou gemaak is, Ewigheid,
As 'n mandjie wat sidder met vars viooltjies.SONDER ONS
Dis die aarde sonder ons en die bome sonder ons,
My venster sonder my om daaragter te skryf met die hand van 'n Iewende,
Dis my bed wat 'n onbekende liggaam sal dra, met 'n ander gewig as
myne,
Met 'n heel ander en miskien woedende hoof, wat uit die komberse
sal kom,
Dis die blou lug wanneer my De sal opgehou het om blou te wees,
En ek nie langer 'n bykorf sal wees deur die poësie besoek nie.
Dis die see wat nog die see sal wees as hulle my verander het
In die ontwykende skadu van 'n vis in die water van die seegroen geheue.
En dis die hart van my kinders wat sal aanhou klop
Wanneer ek slegs in hulle sal leef, heel skraal beskut,
Want my bloed, hierdie ou indringer, deur hulle jong bloed geïntimideer,
Sal nie goed weet hoe om sy teenwoordigheid te openbaar nie
In afwagting op 'n meer geleë oomblik, en uitstel tot die volgende dag,
Dan opeens, verstout deur sy klandestiene outoriteit,
Sal hy ru opbloei in hulle baie jong gesig
En kyk! my kind sal baie meer op my lyk
En sal bloos van genoeë indien nie van woede nie.
O my dogters, hulle beweer dat julle ook na my lyk,
Hoe het julle dit reggekry om hierdie groot lummel van 'n spysverteringlyer te huisvesIn julle vroulike liggaam wat so volmaak georden is,
En hoe kon julle van my uiters voorbarige neus
Daardie so baie nederige neusie vorm wat die aangewese plek inneem
In 'n baie rein gelaat . . .
Maar dis nog nie al nie.
Wanneer hulle dink hulle is ontslae van my
Meteens verskyn ek weer, soos 'n sluipjagter
In die oë van my kinders,
En, kop in een mus met 'n baba, swaai ek my arms saam met hom,
Laat hom luidkeels skree,
En ons vul die kamer met ons samewerking
Soos twee hane hulle gekraai meng in die vroeë oggendlug.
Wees gerus! Dit alles sal geskied tussen been en vel,
Die gesprek sal plaasvind op die mees natuurlike wyse,
Hulle sal nie eers agterkom dat in die duisterheid van die vlees
Daar 'n gebeime getuie is nie, wat ook regter is en betrokkene,
Meer of minder in bedwang gehou
Deur die nederige kordon wat newelagtig van kinders na voorouers strek.SONNET
Luister, Denise, alles sal landskap word,
'n Nuwe wonder bewe in my hart vandag,
Die heimwee en die vreugde het 'n eie geblaarte,
En ek weet hoe om die toevallige verstrengeling te skets.Die uur leef; jy moet sy pluime streel
Wat die kleure behou van die dag en die nag;
Ek sal die reis se seil in die wind laat flap
In die dagbreek geurig soos 'n mandjie vrugte.A! Moenie sê dis altyd maklik
Om 'n gelate muse na jou sin te skik nie
En dat die vers wel weet die digter lieg;Hierdie sonnet, gevoed en gevul met verwagting,
Omsluit so sterk die begeerte om smart te verlig
Dat dit die liefde soet en die lyding dierbaar sal maak.KERSVLAM
Sy hele lewe lank
Het by gehou daarvan
Om by kerslig te lees
En dikwels het hy sy handOor die vlam laat gaan
Om homself te oortuig
Dat hy leef,
Dat hy leef.Van die dag van sy dood
Hou hy aan sy sy
'n Brandende kers
Maar hou sy hande weggesteek.VERSKYNING
Wie is dit? Wie is die man wat gaan sit by ons tafel
Met 'n houding of hy soos 'n driemas uit 'n miswolk kom,
Sy voorkop wat 'n vuur balanseer, sy hande van seeskuim,
En sy klere deur 'n stukkie swart lug bedek?
Aan sy woorde kleef 'n ster sy spinnerakagtige web,
Wanneer hy asemhaal vorm en vervorm hy 'n newelvlek.
Hy dra, soos die nag, 'n bril met goud omraam
En sy lippe is vurig waar bye vol onrus roer,
Maar sy oë, sy stem, sy hart is die van 'n kind met dagbreek.
Wie is hierdie man wie se siel plegtige tekens maak?
Maar Pilar is hier, sy kalmeer my, haar oë verplaas die raaisel;
Sy het altyd agter haar, soos 'n familieherinnering
Die son van Uruguay wat in die geheim vir ons skyn,
Die teerheid van kinders en vriende sirkel
Om die ronde tafel, trots soos die heelal;
Hulle verfrissende glimlag gaan getrou van mond tot mond,
Gevangenes die een van die ander, met kleure van die reenboog.
En soos in die skildery van Rousseau le douanier,
Styg ons tafel op in die lug, varend in 'n wolkbank.
Ons fluister slegs, so naby is ons aan die sterre,
Sonder kaart of helm, met die hemel as bolwerk.
Hoe het die meeue in hulle honderde hier gekom
Terwyl ons reeds 'n engelagtige suurstof asem.
Ons pluk en pluk van die hemelse roosmaryn,
Van die drywende varings wat klaarkom sonder wortels,
En omdat ons lang vlerke gekry het in die suiwer lug
Meng ons ons vere met die ronding van wêrelde.AAN 'N BOOM
Met 'n bietjie blare en stam
Sê jy so goed wat ek nie kan sê nie
Dat ek vir altyd sou ophou skryf
As ek 'n flentertjie rede behou het.
En alles wat ek nie sou wil verswyg nie
Vir wat dit het aan verlatenheid en duisternis
Lyk vir my onwaardig om te verklaar
Wanneer ek 'n wortel ontbIootIn sy swygsaamheid en trane van grond.
HY ALLEEN
As jy sy hand aanraak is dit wel sonder om dit te weet.
Jy onthou hom maar onder 'n ander naam,
In die middel van die nag, in die diepste slaap,
Sêjy sy regte naam en nooi hom om te sit.Op 'n dag klop iemand en ek raai dis hy
Wat na ons toe kom, op watter uur ook al,
En jy kyk hom aan met sovee1 onbegrip
Dat hy terugkeer in die verte maar agter hom laat'n Deur, lewend en bleek soos hy.
TYDSKRIF VIR LETTERKUNDE FEBRUARIE 1974:
* Gedurende 1971 het Wilhelm Knobel 'n klompie vertalings van gedigte van Rainer Maria Rilke en Jules Supervielle, wat hy in 1963/64 gedoen het, na my gebring, my gevra om daarna te kyk en mettertyd my mening oor die kwaliteit van die vertalings te gee. Hoewel ons daarna weer verskeie kere gesels het, het hy nooit die manuskrip teruggeneem nie, en altyd gesê dat hy "dit later wel sal kom haal". Toe ek die berig van sy dood op 4 Januarie 1974 verneem, het ek weer die manuskrip tevoorskyn gehaal, en veral weer die vertalings van Supervielle gelees. Tussen die getikte, gekorrigeerde velIe was daar 'n groepie wat blykbaar hul finale vorm gekry het; hulle was netjies oorgetik, en apart met 'n skuifspeld vasgesteek. Ek het gemeen dat 'n keuse uit hierdie voltooide vertalings sou kon geld as in memoriamvir die begaafde digter en briljante student. (E. B.). (Elize Botha, Redakteur)
Herinneringe - Elize Botha: Ontvang op 19 Julie 2005
Dit moes na 1966 gewees het, na die verskyning van Wilhelm se bundel, Bloedsteen, dat ek hom persoonlik in Pretoria leer ken het. Teen dié tyd was hy reeds ’n bekende figuur in die Afrikaanse literêre wêreld; dit sou ’n mens kon weet as Standpunte-leser, want volgens die register van hierdie destyds toonaangewende tydskrif vir literatuur en kultuur het ’n beduidende aantal gedigte van Wilhelm sedert 1959 reëlmatig daarin verskyn.
Ons het destyds in Arcadiastraat in Arcadia gewoon, naby die Universiteit van Pretoria. Op ’n dag bel ’n vriend, die psigiater Jan Robbertze, en vra of hy en Wilhelm my kan kom sien. Wilhelm wou graag met my gesels oor ’n hele aantal gedigte wat nog in manuskripvorm was. Soos ek van Jan verstaan het, het Wilhelm leiding gesoek om uit dié versameling ’n nuwe bundel saam te stel. Jan was besorgd oor Wilhelm, wat gespanne was omdat die manuskrip nie tot afronding kom nie.
Dat die proses van saamlees en saamgesels oor die gedigte goed verloop het, kon ek aflei uit die inskrywing in my eksemplaar van Mure van Mos, wat in 1970 by die uitgewers Human en Rousseau verskyn het: “Met beste groete aan dr Elize, en dank vir die hulp met die keuring, Wilhelm.”
Wilhelm se besoeke aan ons huis verbind ek egter nie alleen aan sy digwerk nie. Ons twee ouer kinders het in 1969 begin om musieklesse te neem. Die klavier het in die voorhuis gestaan, en ek neem aan dat hulle, terwyl Wilhelm en ek gesels het, waarskynlik met die eerste probeerslae daarop besig was. Hy het intens aan hul poginkies aandag gegee, vir hulle vertel dat hy tjello speel – daar het ’n ligtheid in sy kuiers gekom wanneer hy met die kinders se musiek besig was.
Na die werk aan die manuskrip het maande verbygegaan dat ek Wilhelm nie gesien het nie. Ons het intussen na Colbyn verhuis – ’n groter huis was nodig toe ons Maria in September 1970 gebore is. Dit was dus in Amosstraat dat Wilhelm ons weer opgesoek het; ek was hartseer toe ek sien hoe hy deur sy stryd teen siekte afgetakel word. Maar weer het hy van die kinders se musiek gepraat. Sou hy self ook op die klavier gespeel het?
Hy het ook weer vir my van sy ongepubliseerde werk gebring – die keer vertaalde gedigte, en dit is in dié vertalings dat my herinnering aan hom die sterkste voortleef. Dit het so verloop: In 1973 het ek die redaksie van die Tydskrif vir Letterkunde by Connie Rudolph oorgeneem. Die Tydskrif van Februarie 1974 begin met “Vertalings van sewe verse van Jules Supervielle” deur Wilhelm Knobel. Daarby verskyn ’n voetnoot deur my (Elize Botha) geskryf:
“Gedurende 1971 het Wilhelm Knobel ’n klompie vertalings van gedigte deur Rainer Maria Rilke en Jules Supervielle, wat hy in 1963 gedoen het, na my gebring en my gevra om daarna te kyk en mettertyd my mening oor die kwaliteit van die vertalings te gee. Hoewel ons daarna weer verskeie kere gesels het, het hy nooit die manuskrip teruggeneem nie en altyd gesê dat hy dit later wel sal kom haal. Toe ek die berig van sy dood op 4 Januarie 1974 ontvang, het ek weer die manuskrip tevoorskyn gebring, en veral weer die vertalings van Supervielle gelees. Tussen die getikte gekorrigeerde velle was daar ’n groepie wat blykbaar hulle finale vorm gekry het; hulle was netjies oorgetik, en apart met ’n skuifspeld vasgesteek. Ek het gemeen dat ’n keuse uit hierdie voltooide vertalings sou kon geld as ’n in memoriam vir die begaafde digter en briljante student.”
Die laaste van die sewe verse is waarin ek vir Wilhelm onthou:
Hy alleen
As jy sy hand aanraak is dit wel sonder om dit te weet,
Jy onthou hom maar onder ’n ander naam.
In die middel van die nag in die diepste slaap
Sê jy sy regte naam en nooi hom om te sit.Op ’n dag klop iemand en ek raai dis hy
Wat na ons toe kom, op watter uur ook al,
En jy kyk hom aan met soveel onbegrip
Dat hy terug keer in die verte maar agter hom laat’n Deur, lewend en bleek soos hy.
********************************************************
Beste Prof Elize
Baie dankie vir die pragbydrae, dit sal deel vorm van ’n hoofstuk in sy Plakboek, Wilhelm Knobel op 70 en sy vriende. Ek kon nie oral baie duidelik die woorde op die faks uitmaak nie. Ek het spesifiek 5 plekke gemerk, en as u net wil aandui wat die korrekte woorde daar is, en, behalwe as daar nog foute is, hoef u dan nie weer die hele dokument deur te stuur nie.
Baie dankie
Deon Knobel
Ek het vanoggend ’n oefening bygewoon van ’n huldigingsgeleentheid wat ons op 2 September aanbied by Jan van Riebeeck-skool se Boekefees, genaamd Jannewales op Kloof.
Behalwe vir Hendrik Hofmeyr wat 5 gedigte oor dood en verlatenheid vir Bariton getoonset het, sy elegiese siklus genaamd: En skielik is dit aand, het ek vir Emile Minnie, ’n jong liedjiesanger gekry om van sy verse op moderne kabaretstyl te doen. Dit werk pragtig. Dit sal dan aangevul word deur versvoorlesings om sy lewe en werk aan die gehoor bekend te ste;, die jonger garde wat nog seker nie eers van hom gehoor het nie, en die ouer garde wat hom al amper vergeet het. Ek is baie opgewonde daaroor. U is nie dalk op 2 September in die Kaap nie?
En op 10 September word die liedsiklus voorgedra by ’n galageleentheid om die poësie-naweek van Protea Boekhuis op Stellenbosch af te sluit. Op 15 of 22 Oktober sal ons die Jan van Riebeeck-program herhaal by die Huis der Nederlanden in Pinelands. Ek vermoed ons sal dit ook later na NALN in Bloemfontein neem.
Wilhelm se 70ste verjaardag is op 26 Oktober 2005.
Beste Prof Elize
Dankie weereens vir die hersiening en verbeterings. Ek het my eie tikster geword en het sedert Februarie honderde der honderde bladsye en duisende woorde getik: Al sy gedigte, (3 bundels); ongepubliseerde manuskripte, waaronder pragtige gedigte en twee briewe aan die Muse; die pragtigste gedig Pavane vir ’n Gestorwe Niggietjie, oor die dood van Estie se dogtertjie wat nog nooit tevore geken of gepubliseer is nie, alhoewel daar 4 ander roerende mooies bestaan, die bekendste Toe God met skemeraand; prosa stukke wat hy geskryf het, meestal skerp satiries; koerantverslae en resensies; en herinneringe van vriende en kollegas. En dan my Moeder se herinneringe as ruggraat vir my eie samestelling van die storie, geïllustreer met van sy gedigte, foto’s, sy eie skilderye, (meestal in inrigtings gemaak en verstommend wat dit vertel) en ook kunswerke en bydraes van vriende en kollegas.
PLAKBOEK:
Wilhelm Knobel – die Ongewapende Man
“ . . . en skielik is dit aand”
Die mees opwindende was om sy trommel na 31 jaar oop te maak en sy lewe weer uit sy nagelate geskrifte en dokumente inmekaar te pas. Ook om vriende van 41 jaar gelede in Parys, en daarvóór en daarná in Suid Afrika, op te spoor en te kontak en van hulle bydraes te ontvang. Van Karin Skawran is gister foto’s gekry van haar pragtige skilderye wat ek gaan gebruik as haar huldiging; Mimi van der Merwe, ook van Parys, die mooiste etse wat sy in Parys gemaak het toe hulle hom goed geken en gereeld gaan opsoek het in die “gestig” – middeleeus van aard en ongelooflike “mis”-handeling van pasiënte, insluitend Wilhelm.
Vandag vir Elwen Morris, nou Mev van Schouwen, 41 jaar later en na maande van speurwerk opgespoor, uiteindelik gedink sy moet seker dood wees – en sy en haar man woon in Hermanus – is aangeraai om vir Wouter de Wet te e-pos en navraag te doen en hy het haar adres toe vir my gestuur.
Ek soek nou nog net vir Prof Tienie van Schoor en sy vrou Aggie, wat Wilhelm se beste getroude vriendepaar met hulle kinders was. Hy het vir die kinders kinderstories geskryf wat deur ’n Poolse vriend geïllustreer is. (Hom kan ek nie naspoor nie.) Iemand sê ek moet die Van Schoors in Bettiesbaai gaan soek.
Niemand kan my regtig help om Marié Blomerus op te spoor nie – kan u dalk help? En ook Joan Lötter. Albei digters in Pretoria tussen 1964 en 1970.
Ek stuur vir u twee van my eie gedigte oor die siekte in die familie – en veral die episode met Wilhelm toe hy uit Stikland weggeloop het.
Ek stuur ook die finale vorm van u gewaardeerde bydrae en hoop dit is nou sonder tikfoute.
Groete Deon
Kaapstad
7/7/1998
Liewe Leana
Ek gee vir jou diè gedig wat ek jare gelede geskryf het en nou finaal geskaaf het. Dit was seker so vroeg 1973, toe Wilhelm weer in Stikland was. Ek was uit na ’n konsert, en toe ek 11 nm by die huis in Labounerestraat 13, waar ek gewoon het, aankom, het hy op die stoep gestaan in ’n staat van katatoniese vrees en verstywing. My buurman het hom van bo-op die balkon dopgehou, en het my gesê dat hy reeds sedert 7 nm daar staan. Ek het my lam geskrik en my huis- en motorsleutels in die gleuf agter die paneelbord laat val. Ek moes oor die muur klim om by my agterdeur in te gaan sodat ek die voordeur kon oopmaak. Ek het hom binnegelei en lemoensap vol Haluperidol-druppels gegee. Toe ek Stikland Hospitaal bel sê hulle, ja, hy is al sedert 6 nm daar weg. Hulle het my nie gebel nie, omdat hulle my nie wou ontstel nie. “Maar ons stuur dadelik die ambulans om hom te kom haal.”
Dis toe dat die boerklong se moer strip, en ek sê dat hy NOOIT weer in ’n Staatshospitaal opgeneem sou word nie. Ek sal vir hom sorg en in ’n private Neurokliniek laat opneem,wanneer nodig.
Nou ja. Die gedig vertel die res. Die ou deurgetrapte skoene wat ek nou vir julle gee, het hy daardie aand aangehad, en ek het dit altyd gehou. Ongelukkig het ek die broek lankgelede weggegee. Ons gee ook vir julle sy ou draagbare tikmasjientjie waarop al sy gedigte geskryf is, en waarmee ek na sy dood, al die nagelate gedigte, met behulp van Philip de Vos oorgetik het.
Dan gee ek ook die onderbaadjie en die das van my pa wat Wilhelm in sy gedig “ek dra ’n pak ’n onderbaadjie en ’n das van jou,” beskryf. Die das het hy vir my Pa in Parys gekoop in 1961, toe ek hom moes gaan haal ná sy ongeluk in België, en sy senu-aanval wat hom in die Hôpital Sainte-Anne vir geestessiekes laat beland het. Dit is werklik die das en onderbaadjie. Die pak is ook lank reeds weggegee aan een of ander hulpbehoewende, soos Wilhelm dit sou wou hê. Hy het mos al wat hy besit het vir die behoeftiges gegee, soms tot groot ergernis van my ma, wat dan maar weer opnuut truie vir hom moes brei.
Dankie vir al julle moeite om Wilhelm se nagedagtenis te laat voortleef. Die letterkundiges en ander skrywers het hom mos maar feitlik vergeet.
Julle moet my ook sê hoe ek voorsiening kan maak in my testament dat sy versameling en uitstalling behoue bly.
Liefde Deon
vir wilhelm
katatonies verstyf
het ek jou daar kom kry
waar jy staan op my stoep
ingeklem van vrees
na jou nag van vlug
voor die waansin uitgejaag deur die honde met brille
- deur rustige woonbuurtes
van noordelike voorstede- deur die doolhof van ou distrik ses
waar die skollies jou skrikmaak
en dreig met ’n mes
maar jou los as jy praat van die maan
en die kannas wat bloei
en die kraaie wat gaap- van die garingboomsaad
wat op-pers deur jou brein
en jou oë soos balle laat gloeilaatnag het ’n skielike suid-oos
die stoepdeur bo laat klapen jou losgeruk
jy’t vir ure gepraat van jou pyn
- die jare van leef
met altyd die wete
dat die neerslag weer kom
om jou neer te laat tuimel
en te rol in versmorende
maalkolk van sout en sand
ná opstuif van maniese golwe
wat jou valdeur ontsluit
en die woorde laat vloei
in slanke voortstuwende lyne
op skreinende wit papier wat beef- van die dwangbuis en slae
in die franse gestig
waar middeleeuse selle
as versorging jou laat skreeek is ’n klein kaal kind, o heer
waarom kasty u my met sweep en bloed?en as die oggendskemer breek
oorval die slaaprus jou
en ek weet -
vannag was ons broers -
en ek voel die skaaf van jou draaghout
nòg een maal op my skouer
by sandy baai sonsondergang 17 maart 1991 hersien: 7 Julie 1998
Vir Thereschen en Wilhelm
Terugslag
dan val die skerwe van jou hart
weer flenters op die vloer
en sit jy maande lank daarnaen meet
en pasmet wondergom
en tweezerstot jy weer
’n hele hetvan raku-fyne
brose
porseleinmaar die klank
van sy klopbly kraak-pot-dof
hersien vir Annamaria 27 Julie 2004
***********************
For Wilhelm and Thereschen
Relapse
once more the fragments of your heart
lie shattered on the floor
so that you sit for months
thereafter
to fit
and measurewith superglue and tweezers
until, once more
you have a whole one
of
Raku-fine
fragile
porcelainbut the sound of its beating
stays cracked and dull.
Translated for Jill Trappler, 28 July 2004

