Kykers by raaisels betrek

  • 0

"Die stories is heeltemal fiktief," sê Louis Pretorius, een van die skrywers en vervaardigers van die nuwe kykNET-reeks Die Boland Moorde. Hy deel 'n laggie met sy kollega aan sy linkerkant, Albert Snyman, waar hulle in 'n koue lokaal van die HB Thom-teater in Stellenbosch 'n klein groepie joernaliste toespreek. Dit is duidelik dat hulle dit al meer as een maal onomwonde moes stel: "There is no reference to actual events."

'n Mens kan dié wat met die eerste ooropslag van dié titel raai dat dit iets te make moet hê met die ontleding van minstens twee opspraakwekkende moorde in dié deel van die land, seker nie kwalik neem nie. In hierdie reeks speel die intriges egter in 'n verskeidenheid scenario's af - "van rock bands tot die literêre wêreld en 'n filmspan," beloof Albert.

Stian Bam en Brendon Daniels lei die akteurspan as die twee speurders van die Boland-ondersoekeenheid. Vicky Davis en Martelize Kolver tel ook onder die rolverdeling, terwyl gesoutes soos Antoinette Kellerman ook 'n draai op die stel maak. Selfs Laudo Liebenberg (van aKING-faam) en Alwyn Kotzé (Lukraaketaar) wys hul slag voor die kameras.

Stian Bam (links) en Vicky Davis (regs) op die stel van Die Boland Moorde

"Ons probeer nie mense skok nie," sê Louis. "Daar is elke week 'n moord wat opgelos moet word, maar dit is 'soft murders'."

"Dit is meer van 'n raaisel wat ons wil skep," voeg Albert vinnig by. "Ons wil vir die kykers sê hulle moet 'engage'."

Kykers sal self probeer om die raaisel op te los, sê die twee vervaardigers, en dit is wat hulle wil hê.

Anders as in verskeie oorsese misdaadreekse sal daar nie veel klem gelê word op die speurders en beamptes se persoonlike lewens nie. "Hulle word in die eerste episode bekendgestel en daarna handel dit oor die wêreld waarin hulle hulself bevind," verduidelik Louis. "Ons ryg nie derms nie ... Wel," onderbreek hy homself wanneer hy die gepastheid (of ongepastheid) besef van dié uitdrukking binne die konteks van die reeks waaroor gepraat word, "nie fisies nie."

Een reeks waarmee dit wel in sekere opsigte ooreenstem, is die Britse reeks Midsomer Murders, waarvan Die Boland Moorde se vervaardigers "meer as 'n honderd" episodes gekyk het vir navorsing.

Die reeks is oor die Boland heen verfilm. Hier in die HB Thom-teater is 'n lokaal soos 'n polisiekantoor ingerig. Dit is duidelik noukeurig uitgevoer - oral is voorwerpe sigbaar wat waarskynlik nie op kamera vasgelê sal word nie, maar wat vermoedelik in 'n deursnee-polisiekantoor te vinde sal wees - 'n ou jaarprogram van die polisie lê byvoorbeeld neffens die oormaat skuifspelde op die lessenaar van Martelize se karakter. Selfs die berugte spelvermoëns van die polisie word vasgevang - "Sekuriteid" staan in groot letters op die witbord geskryf.

Van links na regs: Martelize Kolver, Stian Bam, Brendon Daniels, Vicky Davis

Die regie van die reeks word deur Jaco Bouwer behartig. "Dis moeilik," sê Albert; "dit is basies ses flieks wat hy moes maak." Elke episode is immers 'n tamaai 90 minute lank. "Maar hy het die wa deur die drif getrek."

Veel langer as die deursnee-episode van die meeste televisieprogramme, hetsy op kykNET of enige ander kanale ... Dalk is dit ook veel meer ingewikkeld – moontlik té ingewikkeld?

"'n Mens moet nooit, ooit, óóit jou gehoor se intelligensie onderskat nie," beklemtoon Louis. "Dan skiet jy jouself in die voet." Tog was hulle baie bewus van die gehoor vir wie hulle skryf, sê hy. "'n Mens moet 'n mengsel kry ... jy wil jou gehoor behou, maar jy moet ook vorentoe kyk."

"As jy integriteit op die storie behou," voeg Haddad Viljoen, kykNET se bemarkingsbestuurder, by van waar hy aan die tafel sit, "is jou kans op sukses báie hoog."

Die Boland Moorde sal van Januarie 2013 af uitgesaai word. Die eerste episode, verklap die vervaardigers, sal te make hê met die legende van Antjie Somers.

Van links na regs: Haddad Viljoen (bemarkingsbestuurder: kykNET), Louis Pretorius (skrywer/vervaardiger), Albert Snyman (skrywer/vervaardiger)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top