Theunis Engelbrecht: Sound Bites | Music Columns

 
Krismis in die hart

Luisterpaneel: Alice Ellis, Beyers Eybers, Yvette (Ysterslet) de Wet en Naas Vermaas

 

Sameroeper en notuleerder: Theunis Engelbrecht

Klik op die CD-omslae om dit nou van kalahari.net te bestel!

Sy háát Kersfees, sê Yvette, want dan mis sy altyd haar gesin en familie, wat almal ver of dood is of nie meer vir haar omgee nie. Beyers sê hy kan Kersfees ook nie uitstaan nie, want dis net ’n waansinnige kommersiële en materialistiese orgie wat ’n mens beskaamd laat voel oor die mensdom. Alice sê sy moet elke Desember kalmeerpille by die dokter kry net om te kan cope met al die aansprake op welwillendheid, naasteliefde en empatie wat altyd in die Kerstyd op ’n mens gemaak word – en dan maak jy die koerant oop of sit die TV aan en al wat jy sien, is slegte nuus oor moord, misdaad, korrupsie, rampe en mense wat soos honde is wat honde opvreet. Naas sê ook hy voel dan eensamer as gewoonlik en dis in sulke tye dat hy wens hy was eerder die produk van ’n kerngesonde, funksionele familie – Kersfees het ’n manier om ’n mens meer bewus te maak van die harteloosheid en liefdeloosheid in die wêreld.

Gegewe dié enigsins verontrustende toedrag van sake – ’n mens wil nie graag hê ons geagte paneellede moet aan die einde van die jaar hulle polse sny nie – het die sameroeper van hierdie rubriek dit goed gedink om aan elkeen van hulle ’n eksemplaar van die volgende CD te gee om te resenseer:



Bob Dylan
Christmas in the Heart

Beyers: Elke jaar is dit die Krismismusiek wat Kersfees nog ’n groter marteling maak as wat dit reeds is. Dis net “Jingle-Bells-Jingle-Hells” al die pad, om nie eers te praat van “Little Drummer Boy” en “Mary’s Boy Child” en al daai ander liedjies wat ’n mens laat naar word nie. Ek was verbysterd toe ek gehoor het Bob Dylan gaan vanjaar ook ’n CD met Krismisliedjies uitgee. Ek het vertroue in ou Bob gehad dat hy ons sal verras, dat hy iets ordentliks sal doen met so ’n opname en dit nie sommer sal aframmel nie. Maar aan die ander kant: daar is geen waarborg dat hy ons nié sal teleurstel nie. Met die eerste luisterslag het ek gedink: Waddefok! Met die tweede en derde keer het dit onder my vel begin inkruip en vind ek dit baie charming en entertaining.

Yvette: Boonop is dit vir ’n goeie doel. Bob skenk al die geld wat hy met hierdie CD maak aan verskeie liefdadigheidsorganisasies wat in die Kerstyd iets soos vier miljoen maaltye gaan beskikbaar stel vir mense wat te arm is om ordentlike voedsel te kan bekostig. Ek het nooit gedink ek sal weer na ’n opname van “O Come All Ye Faithful” en “Hark The Herald Angels Sing” wat my op ’n emosionele vlak sal kan raak nie – maar Bob kry dit reg.

Alice: Ek hou daarvan dat Bob onvoorspelbaar is en nie ’n duiwel omgee wat mense van hom dink of wat sy aanhangers van hom verwag nie. Hy doen sy eie ding en soos hy dit wil en hy steur hom nie aan wat mense van sy werk dink nie. Daar is resensente wat hom al goed afgeslag het oor hierdie CD. Maar ek dink hulle is sommer siniese suurknolle, kultuursnobs wat hulle verbeel hulle is intellektuele met o-so-verfynde smaak en wat wil hê alles in kuns moet van Diepe Erns spreek. Ek hou van die verskeidenheid op die album: van die vinnige en vrolike liedjies soos “Here Comes Santa Claus”, “Must Be Santa” en die onweerstaanbare “Christmas Island”. Ek is mal oor die agtergrondsangers wat soos die Ray Conniff Singers en Andrews Sisters klink. Dit gee ’n outydse klank aan die musiek.

Naas: My gunstelinge is stadiger liedjies soos “The Christmas Blues”, “I’ll Be Home For Christmas” en “Silver Bells”. Hierdie liedjies is nie sulke 100 persent tipiese Krismis-liedjies nie – daar is ’n effense donkerder ondertoon. “The Christmas Blues” en “I’ll Be Home For Christmas” se onderliggende gevoel is dié van eensaamheid op so ’n dag, en “Silver Bells” handel oor Kersfees in ’n troostelose stad. Wat die album deurgaans ’n fees maak, is Dylan se stem. Om Krismisliedjies in so ’n lewensmoeë, ervaring-deurdrenkte stem te sing, gee ’n touch daaraan wat dit nie voorheen gehad het nie. Dis ’n prestasie dat Dylan dit regkry om nuwe lewe te blaas in musiek wat al so holrug gery is dat ’n mens nie eers meer daarna wil luister nie. Hy kry dit reg om deur te dring tot die hart en siel van die liedjies. Boonop laat die titel van die album ’n mens nadink. Wat beteken Christmas in the Heart?

 

Jeff Buckley
Grace Around the World (DVD en CD)

Beyers: Jeff Buckley is in 1997 dood toe hy 31 was – hy het verdrink. Daar is bevind dit was ’n ongeluk en nie selfmoord nie. In 1994 is sy enigste album, Grace, uitgereik. Dit was ’n sensasie. Almal het gejubel oor hierdie uitsonderlike sanger en liedjieskrywer. Die album het kultusstatus behaal. Dit word vandag nog as ’n classic beskou. As jy dit nie ken nie en wil weet hoekom, doen moeite om daarna te gaan luister.

Naas: Grace Around the World bevat konsertweergawes van al die liedjies wat op Grace was. Dis eintlik beter om op die DVD te sien hoe Buckley dit self speel as om net daarna op CD te luister. Die konsertopnames het ook ’n rouer klank as die meer gepoleerde ateljee-opnames. Buckley bereik sonderlinge hoogtepunte van bykans onhoudbare intensiteit op “So Real”, “Mojo Pin”, “Dream Brother” en “Last Goodbye”. Sy weergawe van Leonard Cohen se “Hallelujah” is loshande een van die heel beste weergawes van dié liedjie.

Yvette: ’n Bonus op die DVD is dat daar ook onderhoude is met Buckley waarin hy praat oor sy musiek en hoe hy die rol van die kunstenaar in die wêreld sien. Dis fassinerend. Hy was ’n fantastiese kunstenaar en sy dood was ’n groot verlies. Hy kon nog soveel wonderlike musiek gemaak het. Juis daarom is hierdie DVD en CD so ’n kosbare memento.

Alice: Die onderhoude is vir my openbarend. Wat ’n slim, sensitiewe mens was hy nie! En ook besonder mooi. Sommige mense meen die feit dat hy gay was (nie openlik nie) het iets te doen met die intense pyn en gevoel van wêreldvreemdheid wat in sommige van sy liedjies deurskemer. Grace was inderdaad ’n gepaste titel vir sy enigste album – want dit is wat sy musiek aan die wêreld gebied het.

 

Madness
The Liberty of Norton Folgate

Alice: Madness is lekker omdat hulle musiek daardie tipiese Britse off-beat humor en ironie bevat wat altyd baie verfrissend is. Ek geniet hierdie album, hoewel ek op plekke bietjie van ’n been-there-done-that-gevoel gekry het, wat toe te skryf is aan die groep se kenmerkende klank en dat hulle nie juis op hierdie CD probeer om met vernuwing te eksperimenteer nie.

Beyers: Ek het ook meer van ’n skop verwag, maar moet sê dat ’n mens nie kan sê hierdie CD is hondkaksleg nie. Dit laat ’n mens ten minste lekker voel as jy daarna luister, en so iets tel altyd baie punte. Hoe baie musiek is daar nie wat jou niks laat voel terwyl jy daarna luister nie – en dit kan nie van Madness gesê word nie.

Naas: Vir my is die sanger Suggs se inleiding in die CD-boekie waarin hy meer vertel oor die inhoud van die liedjies, en spesifiek die titelsnit, baie interessant. Madness sing hier nie bloot net ’n klomp liedjies oor verydelde jagsheid (die gewildste tema in popmusiek) nie, maar oor onderwerpe waarin op ’n aweregse manier na sosiale werklikhede gekyk word. Selfs wanneer hulle raak aan temas waarvan bloot die titel (soos “Forever Young”) ’n mens ’n rits clichés laat verwag, gee hulle tog ’n eiesoortige twist daaraan. ’n Hoogs genietbare album, maar beslis nie een van die belangrikste of grootste CD’s van die jaar nie.

Yvette: Daar is baie lekker songs op, soos “We Are London”, “Dust Devil”, “MKII”, “On the Town”, “Idiot Child” en die interessante titelsnit. Al liedjie wat ek pap gevind het, is “Africa”. My intieme vriendin Saartjie Booysen hou wel nie van hierdie CD nie. Which goes to show: aan die einde van die dag in die sirkusagtige ou wêreld van pop- en rockmusiek is alles maar arbitrêr en relatief en gaan dit oor persoonlike smaak.

 

Tori Amos
Abnormally Attracted to Sin

Beyers: Ek moet bieg hierdie vrou met haar ou skril stemmetjie irriteer my so dat my maagsweer sommer begin bloei as ek daarna luister. Sy klink ook na ’n neurotiese geval.

Yvette: Jy praat stront! Jy weet nie waarvan jy praat nie! Jy het net ’n persoonlike vooroordeel wat maak dat dit vir jou onmoontlik is om objektief te wees! Dis heiligskennis om so oor Tori Amos te praat! As dit kom by vrouekunstenaars, is sy een van die heel bestes – veel beter as jou Madonnas en Britneys en Beyoncés en Whitneys en Rinas en Anneli’s en Tinas. Haar werk is intelligent en subtiel en spreek van ’n ragfyn, trefseker vroulike intuïsie. Wanneer sy oor iets soos liefdesverhoudings skryf en sing, doen sy dit met soveel diepte en insig en oorspronklikheid dat alle ander popmusiek oor die onderwerp soos spookasem klink.

Naas: Ek stem saam met Yvette. Tori gee gereeld nuwe CD’s uit, en dit het my opgeval dat ondanks haar groot produktiwiteit elke nuwe album steeds daarin slaag om ’n mens te boei en ’n mens nie laat voel dat jy ’n oordosis van haar kry nie. Gaan luister na liedjies soos “Welcome to England”, “Not Dying Today”, “Curtain Call”, “Police Me”, die titelsnit, “Mary Jane”, en jy sal hoor dat jy op ’n album soos dié te doen het met tydlose musiek en nie blote kitspoptreffers wat in ’n worsmasjien vervaardig word met die oog op die Billboard Top 100 nie.

Alice: Dit verwonder my dat hierdie vrou net so moeiteloos en eindeloos die mooiste melodieë optower wat jou heeltemal meesleur. Die liedjies trek jou in en het by tye ’n bykans hipnotiese krag. ’n Absoluut betowerende album. Beyers praat bog – daar is niks fout met haar stem nie. Sy is ’n slim sangeres wat weet hoe om haar stem te gebruik – die een oomblik kan sy soos ’n aggressiewe bitch klink, die volgende soos ’n klein, weerlose dogtertjie, en dan weer soos ’n sensuele minnares wat van die liefdesdaad ’n mistieke ervaring kan maak. Net barbare sal nie van hierdie CD hou nie. Dis briljant. En dis absolute waarde vir geld: Tori het nie minder nie as 17 liedjies vir hierdie CD opgeneem.

 

Paolo Nutini
Sunny Side Up

Yvette: Dié oulike Skotse mannetjie het drie jaar gelede, toe hy nog 19 was, groot indruk gemaak met sy eerste CD, These Streets. Die lang wag vir die tweede album was die moeite werd, en Sunny Side Up bewys dat hy een van die meer verfrissende jong popsangers in die wêreld is – en interessanter as al die Justins en Robbies en Bobbys en Enriques. As jy na hom luister, sal jy nie sê hy is net 22 nie – hy klink soos iemand wat al sy gat af gelééf het. ’n Baie eiesoortige stem, in ’n wêreld waar so baie stemme nie juis uniek is nie.

Alice: Ek hou van hoe hy met verskillende style eksperimenteer. Die eerste liedjie, “10/10”, laat jou dink jy kry ’n reggae-album, maar daarna wissel hy sonder enige moeite na soul, folk en pop. Ek het bietjie ’n soektog na hom op die internet gedoen en kan julle aanraai om dit ook te doen. Wikipedia gee ’n goeie uiteensetting van alles wat Nutini in sy jong lewe vermag het, en dis indrukwekkend – en te veel om hier te herhaal. Boonop is dit ook lekker om na sy foto’s te kyk – wat ’n bonus is. Hy is baie meer sexy as jou tipiese ou popsangertjies wat net na aandag en publisiteit streef en wie se ego'tjies nie sonder die openbare oog en roem kan funksioneer nie. Dis duidelik dat dit vir Nutini nie oor sulke dinge gaan as jy na sy musiek luister nie.

Beyers: Ek hou van hoe hy sing oor sy ervarings met vroumense. “Jenny Don’t Be Hasty” op These Streets het gegaan oor wat hy al met nimfomaniese ouer vroue beleef het. Ek het die CD geniet, maar vind die musiek maar heel lig. Dis nie iets waarna ek oor en oor elke dag sal luister nie.

Naas: “Tricks of the Trade” is vir my een van die hoogtepunte op die CD. Daar is geen twyfel nie dat Nutini nie net ’n goeie sanger is nie, maar ook ’n liedjieskrywer wat die moeite werd is om van kennis te neem. En net na dié ernstige liedjie trek hy los met die vrolike, selfs verspotte en erg aansteeklike “Pencil Full of Lead”. “High Hopes” is ook ’n uitsonderlike liedjie waarin Nutini sy vokale krag tentoonstel. “There’s too much mind corruption” is sy gevolgtrekking oor die wêreld in dié liedjie. ’n Oppervlakkige knapie is hy beslis nie. Op “Chamber Music” klink hy amper soos Cat Stevens. En “Keep Rolling”, waarmee die CD afsluit, kan nie anders as om ’n mens te raak nie. En ek sal ook nie omgee om te loer wat hy onder sy Skotse rokkie dra nie.

 

Elvis Costello
Secret, Profane & Sugarcane

Beyers: Elvis is een van die gróót geeste op die musiektoneel. ’n Nuwe CD van hom is altyd verblydende nuus. Op my CD is ’n plakkertjie waarop uittreksels uit resensies is. Die tydskrif Mojo gee dit vier sterre en skryf: “Beautiful.” Word Magazine benader musiek nie soos ’n hotel nie en gee dit nie sterre nie, maar skryf: “Coherent and vigorous … some of Costello’s most touching songs in years.” Ek stem saam.

Naas: Op hierdie CD werk Costello saam met een van my groot gunstelinge: T-Bone Burnett, wat ook die produksieleier was van Robert Plant en Alison Kraus se briljante CD Raising Sand, wat die Grammy vir album van die jaar gewen het. Costello se veelsydigheid het my nog altyd verstom, en op hierdie CD delf hy rond in die wortels van country. Die album kan seker ook geëtiketteer word as Americana.

Yvette: Mooi liedjies, slim lirieke, en ek is mal oor al die tipies outydse country-kitaarklanke. Ek hou ook van die manier waarop hy een van sy ou liedjies, “Complicated Shadows”, vat en ’n country twist daaraan gee. Dis ’n baie spesiale album.

Alice: Dis nie net Costello se veelsydigheid wat verbluffend is nie, maar ook sy produktiwiteit – net laas jaar nog het hy ons beïndruk met Momofuku. Ek kan dit heeltemal verstaan dat die Universiteit van Liverpool verlede jaar ’n eredoktorsgraad in musiek aan Costello toegeken het. Hierdie is die soort musiek waarvan ons baie meer op VH1 en MTV moet sien eerder as al die ander ou popgemors.

 

Neil Diamond
Hot August Night/NYC (DVD en CD)

Beyers: Dié DVD/CD is in Augustus 2008 in New York opgeneem. Dit het nou wel nie dieselfde skop as Hot August Night van 1972 nie, maar is nietemin indrukwekkend – Diamond wys dat hy die ding nog kan doen en nog vol skop is, al is hy nou ouer en ’n bietjie meer bedaard as die takhaar wat die Greek Theatre in Los Angeles in 1972 weggeblaas het met die eerste Hot August Night.Ek het dit baie geniet.

Yvette: Hy sing meestal van sy ou liedjies, maar die nuwe verwerkings hou dit interessant. Hy sing saam met ’n moerse orkes en ek hou veral van die koperblaasinstrumente wat hierop is en wat nie op die ou Hot August Night was nie. Die orkestrasie is deurgaans puik en dis ’n vreugde om die musikante en agtergrondsangers in aksie te sien. Ek sal beslis nog baie daarna kyk.

Naas: Hy sing darem ook van die liedjies wat hy op sy laaste twee albums, 12 Songs en Home Before Dark, saam met die befaamde produksieleier Rick Rubin opgeneem het, soos “Pretty Amazing Grace”, “Don’t Go There”, “Man of God” en “Hell Yeah”. Waar hy akoestiese weergawes van dié liedjies op die ateljee-albums opgeneem het, is die liedjies vir dié album vir ’n volle orkes verwerk, en die resultate is indrukwekkend – veral “Pretty Amazing Grace” en die oorweldigende “Hell Yeah”.

Alice: Daar is bonusmateriaal op die DVD – ’n kort dokumentêr waar Diamond terugloop in sy spore in Brooklyn, New York, waar hy grootgeword het. Baie interessant. En die konsert self is baie goed. Neil Diamond het ook ’n tydlose kwaliteit. En die mense wat sê Steve Hofmeyr sing Diamond beter as Diamond self, weet nie waarvan hulle praat nie. Trouens, as jy na hierdie konsert kyk, kan jy nie dink hoekom enige mens by sy gesonde verstand eerder sal wil luister hoe ’n plaaslike sanger dit sing nie. Wragtigwaar. 

 

Eminem
Relapse

Alice: Ek vind hierdie mannetjie grillerig en hoogs irriterend. Hy laat my dink aan ’n stout seuntjie wat net altyd sy sin wil hê, en as hy dit nie kan kry nie, gedra hy hom soos ’n vark. Rap-musiek is ook so eentonig – daardie alewige gepratery kan my teen die mure uitdryf.

Beyers: Dit is ’n totaal oningeligte mening oor Eminem, Alice! Eminem het sy vinger op die pols van die vervreemding en verwording van die stadslewe en hy is krities oor ’n wêreld waarin status die allerbelangrikste is en kapitalisme zombies van werkers en masjiene van mense maak. Rap is nie eentonig nie – dis soos poësie wat uit ’n masjiengeweer knetter. Die onderwerpe is harde werklikhede wat dalk te rof vir ’n sensitiewe gestel en estetiese snobs is. Die musiek wat met Eminem se rappery saamgaan is ook interessant (hoe anders met Dr Dre aan die stuur van sake?). Ek dink dis ’n belangrike CD waarop hedendaagse werklikhede genadeloos oopgevlek word.

Naas: “My Mom loves Valium and lots of drugs, that’s why I am like I am 'cause I’m like her,”, rap Eminem op “My Mom”. “What mother wants to see her son grow up as a fucking underachiever?” Eminem vlek al die dinge oop wat kinders en jong mense van vroeg af ondermyn en hulle wilskrag en lewenslus breek. Nie net disfunksionele gesinne nie, maar ook onderwysers, politieke leiers, kulturele waardebepalers. Die liedjies oor mishandeling en misbruik en die selfhaat en gevolglike fassinasie met geweld wat daaruit spruit, is ontstellend, ja, maar dit is sosiale werklikhede waarvoor ’n mens jou nie blind mag hou nie. En die manier waarop Eminem met magspolitiek afreken in “Bagpipes from Baghdad” en met die musiekbedryf in “We Made You” is bewonderenswaardig.

Yvette: Ek begryp wat Naas en Beyers oor Eminem sê, maar kry dit nie reg om met oorgawe na hierdie CD te luister nie. Ek het egter al die lirieke in die CD-boekie met aandag gelees en is baie beïndruk met Eminem se woordvaardigheid. Hy verlustig hom nie in die siek wêreld nie, maar help om ’n mens te laat verstaan hoekom die wêreld en mense so siek kon raak. Dis inderdaad ’n soort hardcore-poësie wat selfs meer tot my spreek as konvensionele salonpoësie.

 

The Black Eyed Peas
The E.N.D.

Beyers: Hierdie groep is baie gewild met hul mengsel van hip-hop en rap en allerhande nuwe mutasies van urban musiek, maar as jy dit vergelyk met Eminem s’n, is dit duidelik dat daar ondanks al die plesierigheid op hierdie CD maar min substansie is.

Yvette: Ek kan net nie genoeg kry van die treffer “I Gotta Feeling” nie! Dis die liedjie van die jaar. Dis net een van daai liedjies wat ’n mens dadelik vrolik en gelukkig en goed laat voel. Die res is wat my betref maar so-so tot irriterend.

Alice: Ja, ek hou ook net van “I Gotta Feeling”; die res van die liedjies doen dit nie vir my nie. Dis een van daai albums wat ’n mens self moet laat besluit watter liedjies jy van hou en dit dan sommer download eerder as om die hele ou kaboedel op een skyf te koop. Dit maak ekonomies meer sin.

Naas: Julle onderskat The Black Eyed Peas. Dit is wel waar dat hulle nie grootse kuns skep of pretendeer om dit te skep nie, maar hulle kan ’n partytjie lewe gee soos min en daar is ’n soort van hardegat streep wat ek waardeer.

 

Mark Knopfler
Get Lucky

Yvette: Ek is mal, mal, mal oor Mark Knopfler. Hy het die sexyste stem en sy kitaarspel is hemels – hy is een van daardie kitaarspelers wat dit kon regkry om ’n unieke klank te skep. Sy produksie van Bob Dylan se albums Slow Train Coming en Infidels was uitstaande werk, en sy groep Dire Straits het ook wonderlike musiek gemaak waarvoor ’n mens nooit kan moeg raak nie. Ek het dus baie uitgesien na Get Lucky, maar o die pyngedagte, ek was teleurgesteld. Daar is ’n Ierse klank wat my nie juis inspireer nie, en die liedjies is ook maar bra middelmatig.

Beyers: Ek is bevrees ek stem saam. Ek het meer verwag. Dis asof Knopfler nou op sy louere rus. Daar is darem ’n hand vol liedjies wat nie te sleg is nie, soos “Hard Shoulder”, “Before Gas and TV” en “Monteleone”, maar daar is eintlik niks wat ’n mens in jou voetspore laat stol as jy dit hoor nie.

Naas: Dit is een van daardie CD’s wat op jou moet groei. Ek het besluit om geduldig te wees en meer as een keer daarna te luister, en teen die derde slag het die “hidden beauty” daarvan tot my begin spreek. Dis delikate werk en ek hou daarvan omdat ek kan hoor die kunstenaar is opreg en sonder enige aansitterigheid. Dis nie die soort album wat jou kitsbevrediging gee nie, maar na herhaaldelike blootstelling daaraan maak dit tog op sy stil, ingetoë manier ’n positiewe indruk. Die titelsnit is ’n juweel.

Alice: Ek gee nie om oor die musiek nie, ek kan sonder ophou na daai man se stem luister. Hemel, dis so sexy! Elke keer as ek hom hoor sing, voel ek geprikkel om my volslae en heelhartig aan romantiese bedrywighede oor te gee.

 

Mika
The Boy Who Knew Too Much

Alice: Dis Mika se tweede album en mense wat gedink het dit sal vir hom moeilik wees om die varsheid van Life in Cartoon Motion vol te hou, sal aangenaam verras wees. Hierdie album is nie so sterk soos sy debuut nie, maar hy het steeds die vermoë om totaal onweerstaanbaar aansteeklike liedjies te skryf. Dit kan natuurlik ook irriterend raak as van daai wysies in jou kop vassteek, soos “Blame It on The Girls en Dr John”.

Beyers: Hoewel ek dink Mika maak spookasem-pop, moet ek toegee dat hy inderdaad ’n meester is as dit kom by die kuns van aansteeklikheid. En as sy musiek mense laat goed voel, moet ’n mens hom sy plekkie in die son gun, want deesdae het ’n mens alles nodig wat jy kan kry om jou goed te laat voel. Ek vermoed Mika is in dié verband van groter waarde as goed soos antidepressante.

Yvette: Mika se waarnemings van verhoudings en liefde is vir my interessant – daar is ’n soort dubbelsinnigheid in liedjies soos “Dr John”, “Blue Eyes” en “Toy Boy” wat tot my spreek omdat dit nie soos jou tipiese vlak, eendimensionele popliefdesliedjies is nie.

Naas: Lig, vars en vrolik. Mika is ’n slim skrywer met ’n fyn oor vir melodie en harmonie. Die verwerkings en produksie is ook goed. Ek vermoed egter Mika is sy sout meer werd as ateljeekunstenaar as op die verhoog – ek het die konsert-DVD van Life in Cartoon Motion gesien en dit was duidelik dat hy nie alles op die verhoog kon regkry wat hy in die ateljee kom opkook nie. Nie dat ek dink Mika maak musiek wat kook nie – dit prut eerder heel aangenaam.

 

Regina Spektor
Far

Alice: Dié Russies-gebore sangeres het klassieke musiek in New York gestudeer met klavier as instrument en is met allerhande akademiese akkolades vereer. Hierdie is haar vyfde album sedert haar debuut, 11.11 (2001). Ons moes lank wag hiervoor sedert haar puik vierde album, Begin to Hope (2006), maar dit was die moeite werd. Dis onmoontlik om Spektor se slim, geraffineerde musiek in ’n boksie te plaas en ’n etiket daarop te plak. Die ingeligte mense van Wikipedia sê haar styl is ’n mengsel van folk, punk, rock, Joodse en Russiese musiek, hip-hop, jazz en klassieke musiek. Nou kan jy jou indink watter opwindende moontlikhede dit als bied. Eintlik moet mens self daarna luister – woorde kan nie reg laat geskied daaraan nie.

Beyers: Ek is mal oor haar stem. Dit klink so half broos, maar terselfdertyd ook sterk. Ek hou van die kontraste in haar werk – nie net in haar stem nie, maar ook in haar musiek: lig en donker, onthullend en versluierend en so aan. Omdat dit nie Top 100-gerigte popmusiek is nie, is dit baie jammer dat ’n mens nie meer van haar musiekvideo’s op TV sien of haar liedjies oor die radio hoor nie. Dis nie net jammer nie, dis ’n donderse skande.

Naas: Sy skryf nie net goeie musiek nie, maar ook goeie lirieke. Sy het ’n skerp waarnemingsvermoë met ’n ongewone invalshoek op die onderwerpe waaroor sy skryf. Sy maak musiek waarvoor mens nooit moeg sal kan raak nie – dit is net te oorspronklik en vindingryk.

Yvette: As dit moeilik is om liedjies op ’n CD as hoogtepunte uit te sonder omdat al die liedjies so sterk is, is dit ’n bewys van ’n album se kwaliteit. Gaan luister maar na die enigsins onthutsende “Blue Lips”, “Human of the Year”, “Dance Anthem of the 80’s”, “Wallet”, “One More Time With Feeling” en al die ander liedjies en jy sal heeltemal verlei word deur hierdie vrou, of jy nou wil of nie. Daar is mense wat haar die nuwe Tori Amos noem, maar sulke vergelykings is onsinnig en dien geen doel nie. Regina Spektor is ’n unieke kunstenaar, ’n individu met haar eie stem en nie ’n blote afskynsel van iemand anders nie.

 

Imogen Heap
Ellipse

Yvette: Imogen Heap is ook ’n totaal eiesoortige kunstenaar wat ’n mens met niemand anders kan vergelyk nie. Haar werk drup behoorlik van oorspronklikheid en ’n unieke kreatiwiteit. Sy is nou 32 en maak al musiek vandat sy 13 is. Sy het klassieke opleiding in klavier, tjello en klarinet gehad. Tog het haar musiek ’n oorwegend elektroniese klank en party liedjies is full-out ambient stuff.

Naas: Sy laat my ’n bietjie aan Laurie Anderson dink; dis seker maar weens die elektroniese effekte op die stemme in party liedjies. Ek het die CD die eerste keer in die middel van ’n warm somersdag geluister en dit het vir my oukei geklink, maar het my nie juis meegesleur nie. ’n Paar dae later luister ek dit toe hard in die middel van die nag, en opeens was dit ’n byna epifaniese ervaring.

Beyers: Ja, dis ook glad nie konvensionele popmusiek nie. Daarom is dit verblydend om te sien dat dit tog uitsonderlik goed vaar: in die eerste week nadat dit uitgereik is, het dit die vyfde plek op Billboard se Top 200 gehaal, nommer een op ’n treffersparade vir digitale/elektroniese musiek, nommer drie op die treffersparade vir alternative en nommer vier op die treffersparade vir rock – uitsonderlik! Dat dit so goed vaar op trefferlyste vir uiteenlopende style is net ’n bewys van haar oorspronklikheid.

Yvette: Ek weet ek gebruik die woord delikaat soms te veel, maar dis dié eienskap van hierdie CD wat die meeste tot my spreek. Dis subtiel en vol suggestie, en die klanklandskappe is hipnoties mooi. Gee my enige tyd eerder musiek soos hierdie as kommersiële pop en rock. Imogen Heap verskuif ten minste bakens. Jy hoef net liedjies soos “Little Bird” en “Earth” een keer te hoor om heeltemal tot Heap bekeer te word.

 

Moby
Wait for Me

Alice: Kan julle dit glo: dis al tien jaar sedert Moby sy fantastiese CD Play gemaak het. In die tien jaar sedertdien het ander goeie albums gevolg, soos 18 en Hotel. Toe hy aan Wait for Me gewerk het, het hy gesê hy wil ’n “pragtige, baie emosionele” album maak. Hy het daarin geslaag. Dit bevat mooi en aangrypende snitte soos “Pale Horses”, die amper hartverskeurende “Walk With Me”, die indrukwekkende “Study War” en nog ’n hele klompie meer. Die gevoel is deurgaans ingetoë en gedemp en sal om daardie rede waarskynlik vir brekers soos Beyers verveel.

Beyers: Ek hou baie van “Study War”. Al wat my op plekke irriteer, is die baie synth strings. Dit laat mens voel of jy deur ’n marshmallow ingesluk word.

Naas: Hierdie is ook een van daai albums waarmee ’n mens baie geduldig moet wees en wat jy moet toelaat om op jou te groei en onder jou vel in te kruip. Dis ook ideale laatnag-musiek by gedempte lig – dan kan dit jou op ’n lekker trippie sit. Vat nou maar ’n liedjie soos “JLTF” – baie sensueel: dit laat jou voel of jy in fluweel toegevou en gekoester word.

Yvette: Ek sal die album so twee en ’n half uit vyf sterre gee. Ek kan dit nie in een slag deurluister nie. Ek kon so maksimum vyf liedjies op ’n slag luister, anders raak dit ’n bietjie too much. En uiteindelik het ek net van vyf van die 16 liedjies gehou: “Pale Horses”, “Study War”, “Mistake”, “JLTF” en “A Seated Night”. Ek stem nie saam met Alice dat “Walk With Me” hartverskeurend is nie – dis bloot ’n pyniging. 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address