Onwillekeurig het die vraag by my opgekom: Wat de hel beteken die volgende vraag?
Maar wag eers ’n bietjie, dié vraag kom later.
Ek het gisteraand, op die eerste dag van vanjaar se Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) hier in Oudshoorn aangekom. Dit is vanjaar die 19de fees en volgende jaar sal dit die 20ste wees. Vanjaar is dit my 10de fees. In 2003 het ek as ’n finalejaar-joernalistiekstudent die eerste keer hier aangeland as skrywer van die feeskoerant, Krit.
Gisteraand terwyl ek in die bed gelê het, het ek dié einste koerant gelees. Toe lees ek ’n advertensie van Die Burger op bladsy 3 raak. Dit vang die oog, want dit roep uit: “Kom luister na ons boeiende diskoers-program by die Rembrandt-saal en kom maak jou stem dik.” Onderaan is ’n lys van al die gesprekke wat as deel van vanjaar se Die Burger-gespreksreeks gaan plaasvind.
Die gesprek wat eerskomende Dinsdag (2 April) gaan plaasvind, het my aandag gepluk.
Maak julle sitplekgordels vas, want hier kom hy: “Is dit die einde van die Afrikaanse geskiedenis?”
Ja, julle het reg gelees: “Is dit die einde van die Afrikaanse geskiedenis?”
Liewe hemel.
Wie se geskiedenis? Watter se geskiedenis? Watter Afrikaanse geskiedenis word hier van gepraat? Wie maak deel uit van die Afrikaanse geskiedenis? Wie is die Afrikaanse gemeenskap?
Siende dat Hermann Giliomee, bekende historikus en skrywer, oor die omstrede onderwerp gaan praat, moet ’n mens aanneem dat dit oor die wit gedeelte van die Afrikaanse gemeenskap gaan. Op die huidige stadium is daar nie net een Afrikaanse gemeenskap nie. Die een is wit en hoofsaaklik ryk en die ander is bruin – om nou die onpresiese term te gebruik – en hoofsaaklik arm.
Boonop boesem Giliomee nie veel vertroue in nie, want hy’s bekend daarvoor om apartheid te vergoeilik. Hy dink altyd allerhande verskonings uit om Verwoerd se beleid van afsonderlike ontwikkeling te regverdig. So, ek verwag dat die gesprek hoofsaaklik oor Afrikaners se geskiedenis gaan handel.
Nou sal iemand tereg vir my kan vra: Wat is verkeerd as Giliomee oor die geskiedenis van Afrikaners praat? Niks nie, sal my antwoord ondubbelsinnig wees.
Ek sal egter ook byvoeg: Hoekom reël Die Burger ’n gesprek wat net op een deel van die Afrikaanse gemeenskap gerig is – dit terwyl statistieke alreeds lankal bewys het dat die meerderheid van hul lesers nie wit is nie? Ook omdat onlangse navorsing toon dat Afrikaanssprekendes verreweg bruin is.
Boonop is die gesprek verdelend van aard en die spreker is iemand wat nie altyd ’n bydrae lewer tot die manifestasie van soomloosheid in Afrikaans nie. Boonop smeer die Afrikaanse media hulle ook daaraan af, veral as ’n mens die meningsartikels, rubrieke en briewe daarin volg.
Dit is jammer dat Die Burger sulke afbrekende gesprekke reël wat dreig om die Afrikaanse gemeenskap verder te verdeel. Al wat dit bereik, is om die geloofwaardigheid van die Afrikaanse media verder af te kraak. Die Afrikaanse media verkondig (hoofsaaklik) net negatiwiteit oor die land en hoe swak en onbevoeg swart mense is om die land te regeer.
Wat ’n jammerte. Eina.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.


Kommentaar
Dis jammer Lloyd is so negatief. Die Burger reël 'n gesprek oor Afrikaanse geskiedenis. Lloyd kla dat Giliomee
gaan optree en vermoedelik oor die geskiedenis van wit Afrikaners gaan praat. As Giliomee net een kant stel , wat verhoed Lloyd om aan die gesprek deel te meen om aan te vul.
Jou skrywe is vol vooroordeel. Jy het vooraf bepaal wat die prof oor gaan praat, sonder om selfs eers daar te wees. Ek was daar en jou nie gewaar nie, aangesien die klein gehoor heeltemal blank was.
Jy beskryf die Afrikaner as: "Die een is wit en hoofsaaklik ryk en die ander is bruin – om nou die onpresiese term te gebruik – en hoofsaaklik arm". Jou brief is polities gelaai met die insinuasie dat die bruin Afrikaner vandag deur die blanke Afrikaner benadeel is, asof die blanke Afrikaner die bruin Afrikaner iets verskuldig is, en die saak gelykmatig behoort te maak.
Die ANC het regstellende aksie deur wetgewing deurgevoer tot swart voordeel. In die Afrikaner sake en kultuurwese, gaan dit uitsluitlik oor meriete. Die beste man vir die posisie, soos die geval met die Taalraad, en die ATKV as voorbeelde waar bruin Afrikaners sodanige beheerende poste beklee het.
Die bruin en blanke Afrikaner sal hul eie branders moet maak, heelwaarskynlik afsonderlik, en hul eie heil uitkerf in die nuwe S.A. sonder om te verwag dat die ander hom moet uithelp nie. Dus help dit nie om te kerm nie, eerder na oplossings vir eie gemeenskap soek.
Jaco Fourie
Jaco, kan ek jou asb. mooi vra: moenie probeer om namens bruin Afrikaanssprekendes te praat nie, want dit is Afrikaners wat bruines vertrap het (en nog steeds) en nou verwag sommige Afrikaners bruines moet saam met hulle in een koor sing om op swart Suid-Afrika te spoeg. Bruines trek nie eens voordeel uit Afrikaans nie; dit is net Afrikaners en hul maatskappye. En dit terwyl onlangse studies toon Afrikaanssprekendes bestaan verreweg uit bruines en dat die taal se toekoms by bruines lê. Gaan lees wat wyle professor Jakes Gerwel, op daardie stadium voorsitter van Media24 en ook ? Naspers direksie-lid, twee jaar gelede geskryf het. Hy het geskryf bruin Afrikaanses hoor nie hul stem in die Afrikaanse media nie. Dit sê baie van hoe (sommige) Afrikaners nog steeds bruines vir eie gewin teen swart mense wil aanwend. Veg julle eie sogenaamde oorlogtjie, want vir meer as 350 jaar het julle ons nie nodig gehad nie – en vandag moet bruin plaaswerkers nog steeds vir julle Baas en Mies sê en vir hongerlone in die warmte, stof en reën werk. En koue koffie uit (goedkoop) wynbottels drink en (ou) brood eet waarop niks gesmeer is nie.
En wie die hel dink jy is jy om bruines so te beledig om hulle as bruin Afrikaners te brandmerk. Geen ordentlike bruin mens wil ? Afrikaner genoem word nie. Noem gerus mense soos Jonathan Jansen – wat gedienstig julle agenda uitvoer – ? Afrikaner. En terloops, sy huistaal is Engels.
Die Afrikaners het met apartheid groot skade aan Afrikaans – wat nooit in die eerste plek hulle taal was nie – berokken. En nou moet die taal se oorspronklike eienaars – die bruines – die swaarste daaronder ly. So, Jaco Fourie – hou liewer jou mond – jy maak my grimmig.
HeHe Lloyd ou maat,
Vir 'n joernalis raak jy omtrent emosioneel! Net soos die verregses (eintlik gekkegrensers) in die blanke gemeenskap oor die verontreg aan "Boere" heul, moet jy, soos die geval met hulle, maar met 'n knippie sout waargeneem word, waar jy heul oor die verontregting teenoor bruin-Afrikaners.
Ek het nie namens beide blank of bruin-Afrikaner gepraat nie. Ek het 'n persoonlike menings-beskouing op jou voorveroordeelde rubriek gemaak, 'n subjektiewe rubriek, aangesien jy nie eers die moeite gedoen om die Prof se seminaar by te woon nie, om te bepaal of jy reg was al dan nie.
Toemaar maat. Jy verteenwoordig ooglopend nie die meerderheid bruin-Afrikaner mening nie. So vererg jou maar verder vir my. Ek gaan beslis nie die bobbejaan op jou skouer deel nie.
Jaco Fourie
Hallo Jason,
ek het empatie met jou frustrasie en stem saam dat dit op die oog af lyk of Gillomee se debat in alle waarskynlikheid op die Afrikaners se weergawe van die geskiedenis sou fokus. Al het ek die geleentheid gehad om dit by te woon, sou ek defnitief nie want my oogklappe het gelukkig lankal afgeval en ek (hoop) ek is meer op die toekoms ge-fokus as oor die verlede.
My beskeie insette (voorstelle) is; 1. identifiseer '; meer-geskikte leier vir die koerant wat betrokke was en gebruik wetgewing (BEE) om die huidige (verstokte direksie?) uit die stoel te lig en 2. reël so vroeg as moontlik met die koerant/KKNK beheerliggaam vir 'n forum om die betrokke tema met 'n meer verteenwoordige forum daar te stel by die volgende KKNK. Indien dit teengestaan word, MOET dit in die media uitgelig word.
Soos iemand hierbo geïmpliseer het, dit lyk nie of daar veel vermag gaan word deur net daarvan te praat nie; aksie (ongelukkig met lang-termyn oplossings) is al antwoord.