Jan Rap en Afrikanerskap

  • 1

Dagsê Jan Rap

Ek geniet dit so om hier op die Sê in ’n nie-akademiese formaat te skryf en nou kom staan en piepie jy op my battery. Byvoeglike naamwoorde is iets wat mens met hoë uitsondering in wetenskaplike navorsingsgeskrifte gebruik en nou neem jy sowaar aanstoot as ek woorde soos driftig en heftig hier gebruik. Vergun my tog maar die bietjie literêre vryheid as ons hier met mekaar korswel. As dit jou pla (amper sê ek vreeslik pla) sal ek die ou plesiertjie, wat my in my daaglikse doen en late ontneem word, in jou geval oorweeg maar ek moet erken dit gaan baie moeilik in my kommunikasie met Kluitjie die Kabouter (KdK) wees.

Ewenwel, jy vra dat ek bietjie uitbrei oor my definisie van die Afrikaner. Tradisioneel was die Afrikaner breedweg gesien as ’n wit persoon wat Afrikaans praat en wat die christelike godsdiens aanhang. Ek was self teenwoordig in ’n vergadering in die tagtigerjare, waar lidmaatskap van die drie susterskerke ook as voorwaarde vir Afrikanerskap gestel is. Die effek van so ’n definisie is dat dit natuurlik heelwat Afrikaanssprekendes uitsluit soos van Zyl Slabbert, Max du Preez, Jurie van den Heever, Panda, Angus en Chris Dippenaar asook die oorgrote meerderheid Afrikaanssprekendes wat nie wit is nie. My vermoede is, en Thys Human bevestig dit, dat die vereiste van christenskap so bietjie begin vervaag maar ek dink nie dat enigiemand anders as ’n wit persoon as ’n Afrikaner geag sal word nie. Jy is heeltemal reg as jy sê dat geen bruin of swart mens ooit na homself as ’n Afrikaner sal of wil verwys nie omdat witwees sentraal staan in die denke van die mense wat na hulleself as Afrikaners verwys. Dis my probleem met jou amorfe plaasvervanger vir ’n definisie vir die Afrikaner. Niemand wat nie wit genoeg is nie sal ooit na hulleself as Afrikaners wil verwys nie as gevolg van hierdie tradisionele konnotasie van witwees en Afrikanerskap. Thys sien wit Afrikaanssprekendes as ’n aparte volk terwyl ek begin wonder of daar ’n genetiese afsnypunt vir witwees (en dus behorende tot die volk) is. Hoe donker kan jy wees voordat jy jou Afrikanerskap verloor? Hoekom is kleur so belangrik?

Ek sien iewers in ’n koerant dat Bles Bridges se dogter (wie sy ook al mag wees) verwys na haarself en mense wat soos sy dink as Boere-Afrikaners. Ek vermoed dat dit ’n baie geskikte benaming is vir mense wat aan die tradisionele definisie van Afrikaners wil vasklou. Vir Afrikaners wat nie hierdie obsessie oor kleur of godsdiens het nie mag die benaming Afrikaner, wat almal wat Afrikaans praat insluit, dalk meer gepas wees.

Ek wil nie skoene soen soos oom Daan sê, of hekke oopgooi soos jy sê nie. Ek vra bloot die vraag of dit nie tyd geword het vir vernuwing in ons denke nie? Die ANC is besig om hierdie land onberekenbare skade met ras-obsessiewe denke aan te rig. Ek is werklik bang dat ons soortgelyke skade aan Afrikaans gaan aanrig as ons nie ons obsessie oor ras gaan begrawe nie.

Terloops jy het nog nooit gesê wie jy bang is ek dalk mag insluit by my voorgestelde siening van Afrikaners nie.

Groetnis

Thomas

  • 1

Kommentaar

  • Thys Human (PTA)

    Vergeet dit ou Tom. Jy is ook besig om die Afrikaner ’n "kleurling-in-wording" te probeer maak. Dit gaan nie gebeur nie.

    En jy is duidelik bietjie oningelig. Die debat oor Boere, Afrikaners en Boere-Afrikaner het enkele jare gelede kwaai gewoed - dit is nou haas oorgewaai met net enkele verdwaaldes wat nog twee aparte volke sien.

    Jy bly sekerlik in die Kaap? Dis net julle Kaapses wat nog emosioneel raak oor hierdie saak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top