Ek het begin verken
die waarheid loop soek.
Hoofstroom- en weeskinders gegroet.
By die konsentrasiekamp gesit en wyn drink
met kerse en my hande vol niks.
Ek het name op ou stene gaan lees
waar nog Engelse lê
en nie eers die bome ’n teken van vrede ken nie.
Ek het voor oom Sarel gestaan.
Hom vertel Veronica oorkant die straat
is en was nog nooit ’n slaaf of swart nie
sy is my buurvrou, my vriendin.
Haar trane vloei nes myne
as haar man gesuip by die huis kom
en haar slaan vir geen rede nie.
Ek vertel hom van die kaal vroue
’n meter van sy kerk af
wat dans om die konkas vir lag en winter.
Ek het oom Sarel gevra
of hy die poetry van Mamelodi
deur my oë kan lees
of hy kan sien hoe slaap boemelaars
snags onder sy hand
en of hy weet hoe hulle bid
vir angels, brood en komberse.
Ek het hom gevra of hy weet
waar die waarheid rus
as daar niks anders oor is nie.
Uit fonteine het daar vrot water gespuit,
in die arm woonbuurte
was daar selfs in donker wyn gedrink.
Daar is altyd wyn al is dit in jou hart
het die man uit een hoek geskree.
Ek het verby ou skole gery
gewonder of die kinders van sestig jaar terug
hul drome kon najaag
en of hul nou iewers in KwaZulu-Natal
seewater uit leë Coke-bottels drink
of versamel hulle dalk vir die laaste keer
skulpe wat op die sand uitspoel.
Is van hul al dood nog voor hul kon droom
en is daar iewers tussen reg
nog witgebrande lapblomme op hul grafte.
Die townships was stil.
Gelukwaarts was gelukkig
en Snakepark se kinders het kaalvoet sokker gespeel
op sy grondpad vol dorings.
Daar was alles in die lug
selfs cheap tekkies se gehang oor drade
soos sterre wat wag vir alles wat mooi kan wees.
Ek het daai dag vir oulaas die blou hemel gesien
saam alles wat verkeerd is,
tussen alles wat mooi is
in die Kroon vol drome.
(Vir Kroonstad)

