
van ver af sien ek
een blaar wieg nog in die bos
maar dis ’n vinknes
’n skoenlapper vlieg
soek-soek in die grashalms
ongemete reis
die pit word korter
die was lê rondom versmelt
vuur verdrink daarin
dit is Augustus
die nag is koud en donker
bloeisels aan die bome
kyk om in die bos
staan aandagtig by ’n brug
’n geel blaar dryf weg
die winterboord dink
dat hy die veraf sterre
in sy takke vang
’n spinnekop wag
in die middel van sy web
hy is vasgevang
blaar aan spinnedraad
swaai heftig in die wind
geluidlose klok
lente het gekom
en die wind bly nie weg nie
verskroei die groen knop
die maan voor die son
’n skielike skemerte
takke begin swaai
’n ooglid gaan oop
dit flikker oor die wêreld
en bewe weer toe
tussen bosse hang
’n spinnerak aan ’n draad
met doudruppels aan
hadidas skree kras
hulle draai-draai hul lywe
pêrels in die son
’n skulp op die sand
spoel nie terug see toe nie
iemand tel dit op


