ATKV-Skrywersalbum | Writers

 
GA Watermeyer (1917–1972)
Gebore en getoë

Godfried (sommige bronne gee sy naam as Gottfried) Andreas Watermeyer is op 15 Oktober 1917 op die plaas Spitskop in die Sneeuberge te Middelburg in die Oos-Kaap gebore. Hy was die oudste seun van ’n gesin van ses en sy ouers was streng Boeremense wat van hul kinders verwag het om talle take op die plaas te verrig.

Die plaaslewe en natuurskoon het op die klein Godfried ’n onuitwisbare indruk gelaat en dit het gelei tot ’n hartstogtelike liefde vir die natuur – die massiewe en rustige berge, die steil daskranse, die populierbos, die groen koring- en lusernlande – wat later in sy digkuns na vore gekom het.

Wanneer daar ’n blaaskans was van al die plaaswerk, het hy graag met sy geweer en die honde veld in gestap. Hy het later, toe hy deur die stadslewe ingeperk gevoel het, geskryf:

In die skadu van die Sneeuberge,
Onder ou Spitskop,
Daar lê my hart in ’n rooigraspol
Langs ’n kwartelnes en klop.

As seun het hy krappe gevang, koggelmanders gejag en later met ’n windbuks klipdasse en wildeganse geskiet. Hy was ’n sterk seun en het menige van Richmond se voorste koringsnyers in die stof laat byt en Sneeuberg se wildste perde getem. Toe hy nog maar veertien jaar oud was, het hy lag-lag ’n sak koring van 218 pond oor sy skouer gegooi.

Tot standerd ses (graad agt) het hy sy skoolopleiding aan ’n plaasskool ontvang. In 1932 is hy na die Hoërskool Middelburg, waar hy in sport uitgeblink het. Sy gesondheid was egter nie baie goed nie (hy het sy hele lewe onder ’n rugbesering gely) en in 1935 moes hy sy studies tydelik staak. In 1936 is hy terug skool toe, en hy het al sy vakke vir matriek in die eerste klas geslaag.

Verdere studies en werk

Godfried wou graag ná skool universiteit toe gaan, maar die nadraai van die Depressie het dit op daardie stadium onmoontlik gemaak. Aan die begin van 1937 is hy na die destydse Transvaal, waar hy ’n betrekking in die Staatsdiens aanvaar het. Later is hy na die Vaalharts-nedersetting as spesiale korrespondent vir Die Transvaler. Tydens ’n swaar droogte het daar ’n stryd tussen plaaslike boere en die hoofbeampte van die departement oor weiveld ontwikkel, en boerseun wat Godfried was, het hy die standpunt van die boere in ’n kras artikel verdedig. Hierdie optrede het hom sy betrekking gekos; dit was vir hom ’n groot skok en het sy vertroue in sy medemens ’n groot knou gegee.

Vir die volgende paar jaar het hy ’n klerklike betrekking by die Padkantoor op Middelburg in sy geboortekontrei beklee. In 1940 is hy na die Universiteit Stellenbosch om sy naskoolse studie te begin. Hiervoor het hy £200 by Elisabeth Eybers geleen. Hy het al sy vakke in sy eerste jaar geslaag, maar het ongelukkig nie genoeg fondse gehad om sy studie in sy tweede jaar voort te sit nie. In 1941 is hy terug op die Rand, waar hy tot die einde van 1948 as boekhouer by ’n Engelse vervoerfirma gewerk het – ’n werk waarvan hy niks gehou het nie.

Op ’n Vrydagaand, 13 November 1942, het Godfried die toneelspeelster Letsie Ferreira van Willowmore ontmoet en in Maart 1943 is hulle getroud. Na hulle huwelik het moeilike jare gevolg vanweë siekte en oorlogsviktimisasie, en die gesin, wat intussen met ’n seun vergroot is, moes stry om kop bo water te hou. Godfried is gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevolg van die destydse Smuts-beleid uit sy werk by die Rand Club ontslaan, en was vir minstens twee weke werkloos. Letsie het hom egter moedig bygestaan en dit was grootliks aan haar aanmoediging en vertroue in hom te danke dat hy in 1945 ná jare van “skryf-barheid” weer begin skryf het.

Ná die verskyning van Sekel en simbaal is Godfried deur die Reddingsdaadbond en Helpmekaarfonds gehelp om verder te gaan studeer, aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Dit was in 1949 toe hy reeds 30 jaar oud was. Een van sy medestudente, Pierre Coetzee, het ná Godfried se dood onthou hoe hy altyd in die Engels-klas gehakkel het. Hy is ook toegelaat om in die klas te rook, iets wat in daardie dae ongehoord was. Dit het hom effens gehelp om die woorde uit te kry, hoewel hy sonder uitsondering bitter begin hoes het van die “diep-ingeteugde rook”.

Hy het sy BA-graad verwerf en is terug na Johannesburg, waar hulle ’n woonstel gehuur het, maar dit was só klein dat daar net vir sy vrou en seun plek was. Hy het by ander mense in ’n solderkamer geslaap.

Kort daarna het hy by die SAUK begin werk teen R90 per maand. En toe breek die keerpunt in sy lewe aan.

In 1955, wat as ’n bakenjaar vir hom beskryf kan word, pas nadat hy Atlantis, or, The crying of the waters geskryf het, het Godfried vir Nic Tredoux as Afrikaanse kopiehoof by Grant Advertising opgevolg. Ook vir die Afrikaanse taal was dit ’n jaar om te onthou: die taal het ’n digter en ’n woordtowenaar ryker geword. Woorde wat later deel van die volkstaal sou word, het vir die eerste keer in Godfried se reklamekopie verskyn.

In die laat sestigerjare is hy na die reklamefirma LPE Leo Burnett, waar hy tot sy dood kopie geskryf het. Sy reklamespreuke het vanweë sy aardse taalgebruik en humor sterk herinner aan die poësie van sy eerste bundel, Sekel en simbaal. Diep binne-in was hy maar altyd die boerseun uit die Sneeuberge wat die graagste met plaasmense gesels het. In ’n reeks advertensies vir Total, die brandstofmaatskappy, met humoristiese sketse deur TO Honiball, het hy byvoorbeeld gesê: “Saal af by die netjiese diensstasies waar die Rooi Vlam in die Blou Sirkel brandwag staan ... en kry vir jou vuurperd die kragvoer wat hy nodig het.” En vir manne het hy goeie raad gehad: “Skink Roses-lemmetjiesap by elke brandewyn-kap!” Of kry “Dou vir die dors” – sy bekende slagspreuk vir Castle Lager.

Hy was ook die vader van die woord kits as vertaling vir die Engelse instant in bepaalde samestellings. Eers was dit in kits-hawermout, daarna het kitskoffie en die res gevolg. Van sy mededigters het Godfried gedurende hierdie tyd as Suid-Afrika se hoogs betaalde digter.

Godfried se loopbaan in die reklamewese was ’n klassieke suksesverhaal. Die huis in Linden is verruil vir ’n spogplek in Northcliff, dié weer vir ’n Spaanse villa in Bryanston en dié vir ’n yslike kasteel teen die hang van Aasvoëlkop. Hy was ook die besitter van vertrekke vol kosbare oudhede en baas van vier plase.

Hieroor het hy gesê: “Teenswoordig kan ek antieke meubels versamel en ook al die gewere waaroor ek maar net kon droom sedert daardie dag, toe ek as kind, my enigste .22 op ’n ratel stukkend geslaan het.

“Nogtans is ek dankbaar oor die moeilike tye wat ek moes deurmaak. Voordat ek vir die volk – die mense vir wie ek skryf – ’n boodskap soos in Die republiek van duisend jaar kon bring, moes ek eers die Woord van God in sy werklikheidswaarde leer ken.”

Vanweë die veeleisende aard van sy werk het daar soms etlike jare verbygegaan sonder dat hy ’n enkele gedig geskryf het.

Van Godfried se eerste gedigte is in 1946 in Stiebeuel, ’n versamelbundel, gepubliseer. “Oestyd”, “Stadsbestaan” en “Dansende vrou” het die aandag getrek. Daarna is verse in Die Huisgenoot en Standpunte gepubliseer en het die verse nie net dieselfde peil gehandhaaf nie, maar in party gevalle selfs ’n verrassende ontwikkeling getoon.

In 1948 is Sekel en simbaal deur Nasionale Pers gepubliseer. Sy hunkering na die plaas (sekel) en sy renons in die stad (simbaal) kom in die bundel sterk na vore.

DJ Opperman het ’n belangrike aandeel aan die konstruksie van Sekel en simbaal gehad. Hy het vir Godfried in September 1947 ontmoet toe hy ’n paar dae op besoek was by sy broer Maans in Braamfontein. Ná sy terugkeer in Kaapstad het hy brief ná brief van Godfried ontvang met fragmente van ’n lang gedig wat later “Ballade van die bloeddorstige jagter” sou word. Dit was die belangrikste enkele gedig in Sekel en simbaal.

Kort daarna het Opperman ’n manuskrip van Watermeyer ontvang. Daaruit het Opperman ’n keuse gemaak en ook van die gedigte verkort of gewysig, die geheel in vier rubrieke verdeel en as titel Sekel en simbaal gekies wat die landelike en stedelike wêrelde van Watermeyer verbind. Die resultaat is ’n bundel wat tot op hede steeds as een van die beste debuutbundels in die Afrikaanse poësie beskou word.

Godfried het kort ná die verskyning van die bundel in ’n brief aan Opperman sy erkentlikheid uitgespreek. Hy het op al die gedigte gewys waaraan Opperman ’n aandeel gehad het en waarsonder “daar geen Sekel en simbaal (sou) verskyn het nie. Daarby kom nog die streng, eerlike kritiek wat jy altyd gewillig aangebied het. Selfs (tot op ’n paar maande gelede) ... was dit jou finale keuring wat hierdie bundel uiteindelik afronding en indeling besorg het – tot selfs die naam toe.”

Kannemeyer het Sekel en simbaal in ’n artikel in Die Burger van 1 Julie 1998 ’n verrassing genoem, ’n bundel wat met sy metaforiese beeldkonstruksies, alliteratiewe spel en sangerige inslag vandag steeds ’n plesier is om te lees.

Ernst van Heerden het geskryf dat die uitwerking van die kritiek en leiding nadat Watermeyer in Stiebeuel gepubliseer het, onmiskenbaar is in die hoë gehalte van die bundel. Nie alleen het hy in die bestek van net twintig gedigte ’n kompakte beeld van sy digterpersoonlikheid gegee nie, maar met enkeles daarvan is ’n besonderse bydrae tot die Afrikaanse poësie gelewer.

Sy taal is byna deurgaans vlot. Alliterasies, konstruksies met die omskrywende bywoord voorop, soos “blink breek my ploeg die middelvoor”, die gebruik van klankryke name soos Bloukrans, Bethesda en Graaff-Reinet, verhoog die musikaliteit van die vers. Dit is opvallend hoe liries hy skrywe, as ons met liriek bedoel “die wondere dialoog van die siel met stoflike werklikheid”. Die sjarme van sy werk is ’n spontane onmiddelikheid, veral die landelike verse (in teenstelling tot die stadsgedigte), wat ’n direkte eggo by die leser wek. In poëtiese sin is die sekel se “raspende geluid” suiwerder as die skellende klank van mynbore en fabrieksfluite. In hierdie rigting lê Watermeyer se ware krag, en sy hoogstaande debuutbundel laat veel van hom in die toekoms verwag – aldus Van Heerden.

S Ignatius Mocke kon nie verstaan hoekom die Hertzogprys vir poësie nie aan Sekel en simbaal toegeken is nie, aangesien dit ’n uitsonderlike nuwe liriek is.

In 1954 word Godfried se enigste bundel in Engels, Atlantis, or, The crying of the waters, gepubliseer. Hy het dit self gepubliseer. Hy het in Die Brandwag van 23 Julie 1954 vertel hoe hierdie bundel sy ontstaan gehad het: “Een aand aan die begin van die winter van 1953 het ek ‘n stoel voor die kaggel reggetrek en my eerste boek oor Atlantis – dié van Donnelly – opgeneem om te lees. (...) Ek het in die stoel teruggeleun en begin lees in Plato se beskrywing van die verlore Atlantis wat Donnelly in sy boek oorgedruk het. Nadat ek sowat drie bladsye deurgegaan het, het ek slaperig begin voel – ek het toevallig ’n vermoeiende dag agter die rug gehad – en aanstaltes gemaak om te gaan slaap. Maar ek was skaars in die bed of ’n onaardige rusteloosheid het my beetgepak en woorde het deur my kop begin maal. Uiteindelik het ek opgestaan en die volgende drie reëls neergeskryf:

The waves have drawn us to the deep,
The waves have veiled us and we sleep
among drowned pillars and the stone ...

“Hier het ek, ’n Afrikaanse digter, skielik Engels begin skrywe, maar dit was nie al nie. Terwyl ek daar voor my lessenaar gesit het, het daar ineens voor my geestesoog ’n uitgestrekte vlakte verskyn met berge aan die een kant wat steil afloop in die see. Op die berge was daar paleise en tempels en in die middel van die vlakte het ’n geweldige pilaar hoog in die lug opgeskiet.

“Ek is nie heldersienend nie; ek is nie ’n persoon wat met geeste omgaan nie, en daarby was ek hoegenaamd nie in ’n beswyming of trance nie, maar wakker en doodnugter. Ek het voortgegaan om ’n beskrywing van die pilaar te gee en toe gaan slaap. Toe ek twee dae later weer die boek opneem en verder lees, kom ek etlike bladsye verder aan tot my verbasing op Plato se beskrywing van hierdie pilaar af.

“In die begin was ek dronkgeslaan, maar nou het dit nogtans my gewoonte geword om met potlood en papier voor my lessenaar te gaan sit en wag ... net maar wag. Weer moet ek beklemtoon dat dit nie ’n geval was dat my potlood deur ’n onsigbare hand bestuur is, soos spirituele mediums na bewering ondervind nie, maar dat woorde in my kop gekom het en dat ek hulle dan neergeskryf het – soms sonder wysiging, soms met wysigings. Party van die dinge wat ek geskryf het, verskyn nie in my boeke nie (...); party gedigte het nooit klaargekom nie en kon gevolglik nie in my bundel ingesluit word nie.”

In Atlantis word voorspellings gemaak van ’n nuwe sondvloed wat Europa sou tref. Volgens hierdie voorspellings sou gedeeltes van Engeland, Nederland, België en gedeeltes van Frankryk en Portugal waarskynlik voor die einde van 1956 onder die see verdwyn. Die boek is egter nie baie gunstig deur kritici ontvang nie.

In die inleiding tot Atlantis het Elisabeth Eybers geskryf: “A poet, it has been contended, can only say what he really means in the one language which defies translation: the idiom and figures of speech of the mother language. But Godfried Watermeyer upsets this theory by his rare ability to express inner meanings in two languages.”

Watermeyer se volgende digbundel, Die republiek van duisend jaar, word in 1957 deur Dagpreekpers in Johannesburg gedruk met geldelike steun van Volkskas Bank. In Standpunte van Maart/April 1958 was Rob Antonissen se kritiek op hierdie bundel nie baie vleiend nie. Hy het sy resensie só begin: “’n Lywige brosjure sou gewy kon word aan die politiek- en godsdienstige-ideologiese uitlatinge van GA Watermeyer in Die republiek van duisend jaar. Die taak sou dan liefs moet berus by ’n politikus, sosioloog, wysgeer, teoloog of so iemand. Maar ek vrees dat niemand van daardie here dit die moeite werd sal vind nie, en hulle het gelyk. Want in dié opsig is Die republiek van duisend jaar – mag die Hemel ons bewaar vir só ’n res publica! – ’n oorvloedshoring van platitudes sonder voorgaande in die Afrikaanse letterkunde, ’n afskrikwekkende getuienis vir die chauvinistiese ‘volkskultuur’-mite op sy slegste.”
Volgens Antonissen is daar in hierdie bundel deurgaans hope “kaf en versvulgariteit” gepraat. “Byna honderde bladsye lank brul die gelaarsde hordes van paarsgewys-rymende dreunverse dreigend op jou aan. Die einde- en stafrym-mitraillette knetter die wêreld vol en aans die republiek leeg; ‘eindrymvas’ waai bloei-groei-broei-vloei, gloed-vloed-bloed, roer-Boer-broer, bot-God en ander kartetse hul spervuur na alle kante; die alliterasies – wat in los buitjies soos hierbo nogal oulik mag klink – word allengs, soos hulle jou trommelvlies vers na vers (letterlik: vers na vers), met eksplosiewe behamer, met spirante bespuug en besis, ’n nagmerrie.”

En hy het afgesluit met: “Maar dit alles gee nog nie die flouste idee van die ongelooflike onding wat Die republiek werklik is nie. Dis onopsombaar. En, dank die Vader, ook nie duisendjarig nie.”

Gerrit Dekker het Die republiek van ’n duisend jaar ’n “chauvinistiese en ongelooflik retoriese bundel” genoem, maar Watermeyer tog beskryf as die towenaar van die woord. 

Die verse in Sekel en simbaal was persoonlike liriek waarin van eie gemoedservaringe getuig is, maar waarin tog reeds ’n verbreding en verruiming na die algemeen menslike te vinde was. In plaas van die enge, ingekerkerde individualisme wat aanhoudend net bo die poel van eie sielsbelewenisse bly draai, het Watermeyer hom na die volheid van die aarde gekeer. Ook in Die republiek van duisend jaar keer hy hom na die mens en sy probleme daarbuite; meer spesifiek na sy eie Afrikaanse mense met hulle mymeringe oor die verlede, hulle besinning op die hede en hulle verwagtinge van die toekoms. Dis die droom oor die uitblom van ’n volk tot volwassenheid in stoflike en geestesdinge – die trotse voortdra van die vadere se geloof aan ’n eie nasieskap in die toekoms in:

En nimmer word die stryd volstry
voordat my volk sy erfdeel kry ...

Volgens die resensie in Die Transvaler van 15 September 1957 begin die bundel by die droom van gister, die skim van Paul Kruger, rondom wie die vryheidsverwagtinge van die volk deur die jare die suiwerste gebind was:

Hy wat ons hoop en anker was,
penwortel van die Boereras,

hy bly sy burgerskap ontbeer
tot vryheid oor ons vlaktes keer ...

In verse wat soos ’n wekroep klink, soms gespierd en vol manlike daadkrag, word die hede besing. Dis veral die gedig “Die onterfdes”, wat een van die ontroerendste verse in die bundel is, waarin die patos van die tragiek van die droogteverdruktes wat hulle krom werk in die stad om weer eendag die erfplaas te kan loskoop, in skerp reliëf gestel word. Die toekomsblik vind in die laaste paar verse gestalte – die droom oor die republiek van ’n duisend jaar waarin die Afrikaner as die rigtervolk van Afrika gesien word.

Nie al die verse in die bundel is van dieselfde gehalte nie. Maar Watermeyer se woord- en beeldgebruik is ’n treffende eienskap van hierdie verse. Dis Afrikaans op die aambeeld geklink, strak, kantig en fors.

Volgens WEG Louw het Watermeyer met Die republiek van ’n duisend jaar ’n grootse greep gewaag wat slegs ten dele geslaag het. Wat hy van die bundel oorhou, is die digter se visioen van ’n ideale staat, sy brandende liefde vir die eie, en sy byna profetiese kastyding van daardie magte wat daaraan afbreuk doen en vervreem. Hy het ’n ongewone aar van die poësie aangeboor waaruit daar in die toekoms nog helder water sal vloei.

Watermeyer het enkele kleiner letterkundige toekennings ontvang. In 1948 het die Afrikaanse Letterkundige Vereniging aan hom ’n eerste prys toegeken, hoofsaaklik vir Sekel en simbaal. Hierdie prys het £75 beloop. In 1949 het hy die Kanseliersmedalje vir tweetaligheid van die Universiteit van Suid-Afrika ontvang. Hy het ook in 1949 die eerste en tweede prys in die SAUK se poësiewedstryd verower.

In 1961 het Taalfeeskwatryne verskyn. Hierdie bundel bevat ’n twintigtal vierreëlige verse wat tydens die taalfees in 1959 in die amfiteater van die Voortrekkermonument in Pretoria voorgedra is. Dit is dus geleentheidspoësie en is in opdrag van die FAK geskryf. Anna van Zyl het gemeen dat daar as gevolg daarvan iets kunsmatig en opsetlik in die bundel is. Die digter streef te naarstiglik daarna om elke werkgroep te laat meepraat al het hy nie juis iets anders te sê as wat in die wandel algemeen bekend is nie. Sommige van die verse kan met reg as retories bestempel word.

Vir WEG Louw was daar nog altyd ’n verskil tussen verse wat ’n mens hardop hoor voorgedra word, of selfs gedeklameer word, in die opgewonde stemming van ’n volksfees en dié wat ’n mens in stilte vir jouself lees. Nadat ’n mens Die republiek van ’n duisend jaar gelees het, sal ’n mens verstaan dat in Taalfeeskwatryne neermale ’n vaardige vakman aan die woord is, maar dat die meeste gedigte, met hul nogal slim versifikasie en opsetlike draaie, in die laaste instansie eintlik “volgens resep” gemaak is. Vir Louw gaan dit hier selde oor die “taal” alleen en só “deug dit nie”.

Afrikaanse Pers-Boekhandel het in 1965 Watermeyer se laaste bundel voor sy dood, Bitter brood, gepubliseer. Dit was die vrug van twintig jaar se skryfwerk (1945 tot 1965), jare waarin die digter veral as reklameman sy brood verdien het. En dit is inderdaad gedigte van die brood, en nogal ryk brood, het FIJ van Rensburg gemeen. Die digter sit in sy huis en laat sy oog genietend en goedkeurend oor sy besittings gaan:

die Lotuskelk van Isfahan
gloei op my vloere langs Kashan
met statig teen die dak se nok
die hoë vlamme van barok ...

As hy ’n simbool soek waarin hy sy opvatting van geluk kan vergestalt, dan vind hy dit in die huis – ’n goedgeboude en ryk-gestoffeerde huis:

... ’n huis met balke van swart hout
en vloere van geelhout;
’n huis met groen skouers,
met ’n breë gebaar van balkonne
en ’n voorstad van kamers:
’n kamer vir brood
en ’n kamer vir biljart,
’n kamer vir kliënte,
en ’n kamer vir kwatryne,
’n kamer vir liefde
en ’n kamer sonder haat ...

Maar die brood is bitter, en met sy dubbelkantige titel is dit duidelik wat die bundel wil sê: dit gaan hierin om die spanning tussen digter en reklameman, tussen beroep en roeping, om roeping wat in diens van beroep vereer word.

Vir Van Rensburg het Watermeyer se gedigte nog altyd ’n sekere reklamekwaliteit gehad: iets klinkends en kompak in aparte frases: neonflitse van afsonderlike gelukkige formuleringe; geen stromende, onopgeskorte verloop oor langer afstande tussen begin en einde nie. Selfs in sy vrye verse was hy in werklikheid die skematikus van aparte ritmiese reekse en noukeurig afgestemde alliterasies, die argitek wat as ’t ware met die klein vierkantige blokkies van kwatryne en koeplette bou.

Van Rensburg het die afdeling getiteld “Klein siklus” die mooiste gevind. Dit is ’n verruklike brandskatting van die liefde, sê hy. Dit bevat ouer gedigte (uit die periode van Sekel en simbaal), ’n hele paar eggo’s van ander digters, byvoorbeeld WEG Louw, asook herhalinge van homself, en is telkens lukraak van woordgebruik en idee-voltrekking; maar as ’n geheel is dit ’n afdeling waarin idee en vergestalting mekaar op ’n mooi, natuurlike wyse gevind het. Hierdie ligte brandskatting van die liefde het ’n veel oortuigender resultaat gelewer as die swaarder brandskatting van die skrywerskap. In die algemeen was Van Rensburg bly dat Watermeyer met hierdie bundel opnuut sy intrede in die Afrikaanse letterkunde gemaak het. Hy het afgesluit met: “Wat soek ’n mens in Atlantis en Duisendjarige republieke as ’n kleinood soos die liefde so in jou onmiddellike bereik lê?”

In 1971 het Watermeyer en die bekende Nederlandse komponis Henk Badings die gesogte Radio Televisie Italiana-prys ontvang. Hierdie internasionale Italiaanse toekenning, waaraan 40 radio-organisasies deelgeneem het, is in Venesië gemaak, vir Badings se toonsetting in kantate-vorm van Watermeyer se gedig “Die ballade van die bloeddorstige jagter”. Hoewel Godfried se gesondheid op daardie stadium weer swak was, het hy tog na Venesië vertrek om self die prys in ontvangs te neem.

Met In kringe: ’n verhaal in drie stemme, wat in 1999 gepubliseer is, het Van der Walt Uitgewers ’n interessante eksperiment gedoen. In 1956 verskyn Watermeyer se enigste novelle onder sy eie naam: Waar die Vuurpyle Vlam. Dit het indertyd in die tydskrif Die Lewe verskyn.

Die verhaal is oerbekend: ’n man (Douw) verdink sy vrou (Myrna) van huweliksontrou met Jacques. Haar verweer is dat hy gewoon net haar sportafrigter is. Op haar beurt wil sy nie swanger raak nie, want haar sportloopbaan is belangriker (in hierdie stadium) as haar moederskap. Myrna is dus ’n bevryde vrou en haar tyd ver vooruit.

Joan Hambidge skryf dat die waarde van die novelle in die vermoë lê om subteks te hanteer; onder meer die kernpassasie wanneer die hings getem word, en Douw daarna vir Jacques opdrag gee om die perd te skiet, is gelaai met seksuele implikasies. ’n Mens lees jou soms vas teen die taalgebruik van die vyftigerjare wat ’n bietjie steurend mag wees vir die moderne leser, maar Watermeyer se goeie hantering van die simboliek vergoed hiervoor.

Tipies postmodernisties reageer twee ander skrywers op Watermeyer, en die publisiteitstuk wil hom dan tot Douw verklaar, Estelle Marais tot Myrna, en Peet Venter tot Jacques. Hierom heet die teks dan In kringe.

Hambidge meen dat puriste waarskynlik die piep sal kry, maar dat dit tog ’n interessante literêre eksperiment is. Of die twee aanvullers daarin slaag om Watermeyer se subtiele aanslag vol te hou, moet die leser maar self besluit.

Die sluimerende populêre aanslag in die Watermeyer-verhaal (wat terloops relevant is om vanuit ’n psigoanalitiese perspektief te ontleed) word in die pen van Estelle Marais blatant, dikwels banaal en uitgesponne. Die volgehoue implikasies word nou uitgespel. ’n Mens sal dus nooit weer die Watermeyer-novelle met ’n ongeskonde oog kan lees nie.
Onder meer hou Myrna in Marais se verhaal ’n dagboek. Hierdie belydenistegniek is by uitnemendheid geskik om al die intieme besonderhede aan die leser bekend te maak wat andersins onbekend sou bly. Maar verskeie passasies kon maar aan die lesers verbygegaan het.

Peet Venter se weergawe is eweneens vanuit ’n Freudiaanse perspektief geweldig interessant. Hy aktiveer die Oedipale struktuur (die jong kind sien hoe die vader sy minnares verlei) en hy raak later as professor betrokke by ’n jong student. Sy is weer op haar beurt verlief op Douw se seun. Dit blyk later dit kon nie Jacques se kind wees nie, want hy blyk onvrugbaar te wees.

Dieselfde besware as wat teen Marais uitgespreek is, geld hier. Interessante idees word so sleg vertel, en in sulke hoogdrawende taal aangebied, dat die leser (en hier by name Hambidge) met ’n rooi pen sit en tik-tak. Vir Hambidge is dit jammer dat ’n vertelling met soveel moontlikhede verongeluk het. ’n Beter redakteur kon beslis meer met In kringe uitgerig het.

Aan die positiewe kant: ’n student wat vir ’n postmodernistiese projek wil navorsing doen, kan al die aanhangsels bestudeer. En hom miskien afvra of die eerste verhaal nie reeds al die implikasies dra wat die ander uittamboeryn nie? En navorsers in populêre fiksie kan eweneens die taalgebruik nagaan, en die leë metaforiek van liefdesverhale, aldus Hambidge.

Godfried Watermeyer is op 4 Junie 1972 in die vroeë oggendure in sy huis in Northcliff, Johannesburg aan ’n hartaanval oorlede. Hy was 54 jaar oud en het sy vrou, Letsie, en seun, Fred, agtergelaat. Hy is privaat veras en ’n roudiens is in die NG Kerk Aasvoëlkop gehou. Sy vrou het gesê sy as sou op die Sneeuberge in die distrik Middelburg in die Oos-Kaap gestrooi word.

Huldeblyke

  • PJ Nienaber: Dis jammer dat Watermeyer se Sekel en simbaal nie bekroon is nie. Hy was ongelukkig om nie die Hertzogprys te wen nie. Hy het ’n nuwe geluid in die Afrikaanse digkuns laat hoor met sy gebruik van selfstandige naamwoorde as werkwoorde. Hy het ook ’n besondere ritme gehad. Sy gedigte sal voortleef in ons letterkunde.
  • Die Transvaler: GA Watermeyer is nie meer by ons nie. Maar die werke van skoonheid en besieling wat hy nalaat, is ons blywende besit. Laat dit die bede wees dat hierdie skone waarheid sy naasbestaandes tot troos en sterkte sal strek – met name “my swartoogvrou, my blondhaarkind”, vir wie sy eerste strewe was: vier mure teen die suidewind.
  • SJ Pretorius: Aan my vriend GA Watermeyer

        Blonde Apollo, skouerhoog bokant
        die massa in die strate, grou en nat,
        O, vriend, hoe lank gelede is dit dat
        ek jou vereers sien stap het in die stad ...
                              *
        Hoe het jou hart gehunker na ver hange
        in menige gesprek, hoe was jou oë
        ’n yl onaardse lig en jou bewoë
        stem trillend van ’n magtige verlange –
        hoe was jy in die stad, ’n reus, gevange! 
                              *
        Hoe het dit als in jou geleef in vuur
        wat liefde in blink beelde kon borduur!
        Maar toe jy ook jou Boerwees vir ’n volk
        alte bewus in woorde wou vertolk,
        toe het die galery begin te lag ...
                              *
        (Daar’s altyd venyn wat sit en wag
        Ewig die groot mond wat rek oor die kuns
        om guns te soek vir dié, vir dié onguns:
        Hoe het Van Wyk Louw met sy laaste asem
        die vals figure almal weggewasem!)
                              *
        Maar dis verby. En aan die ydeles
        laat jy, swyend, hul leë seëpraal
        om jou te voeg by die onsterflikes.
                              *
        Want dit weet ons: solank die son wit straal
        oor hierdie Afrikaanse veld, solank
        één Boer met blydskap uitstap oor die land,
        kareehoutstompe in ons haarde brand,
        voëlkele sonlig kelk en die geheim
        ken om die ronde bessie ryp te rym ...
        so lank, o Godfried, sal jou woorde ruis
        soos voorjaarsreëns op ’n Boerehuis.

  • AJJ Visser:    ’n Kransie vir GA Watermeyer

        Jou hand het die woord
        vir ons gesekel
        tot ’n goue gerf;
        die verlang na jou Sneeubergkom
        soos uit hout,
        tot kwatryne, ballades uitgekerf.

        En jy?
        Te midde van oestydse simbool
        en stedelike bitter brood
        (dié twee impalahorings
        wat jou kuns se hart ontbloot)
        ’n sweetbruin hings
        se geil galop
        na Sy republiek van duisend jaar
        uit Atlantis op.

  • Dr J du P Malan (predikant wat die roudiens gelei het): Watermeyer was ’n mens wat op heel  besondere wyse deur God begenadig is. Hy het in Afrikaans gespreek op ’n wyse wat min mense kon doen. Deur sy digkuns het Watermeyer God verheerlik.
  • Marie Severin (kollega in die reklamebedryf): Hy was groot van lyf, sag van aard en altyd bereid om my die kunsies van kopieskryf te leer. Sy grootste bydrae was seker om aan reklame-Afrikaans ’n eie identiteit te gee en om vir hierdie ontluikende nuweling ’n bestaansgrondjie af te pen langsaan ’n reeds volgroeide internasionale reklametaal.
  • Jan Bouwer: Afrikaans het ’n woordkunstenaar verloor wat die vermoë gehad het om met twee of drie woorde ’n frisse beeld op te tower.
  • Prof JJ Pienaar: Dit is algemeen bekend dat digters wat met die diepste roersele van die menslike gees worstel, hoofsaaklik daardie seggingskragtigheid, geïnspireerde woordkeuse, beeldrykheid, idiomatiese fyngevoeligheid en literêre beheersing net in een taal kan manifesteer. Watermeyer het ook oor die uitsonderlike vermoë beskik om dit in twee tale, naamlik Engels en Afrikaans, te doen.

Publikasies

 Publikasie

Sekel en simbaal

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1952
  • 1957
  • 1964
  • 1974
  • 1981

ISBN

  • 0624005135 (hb)
  • 062401598X (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

 Atlantis, or, The crying of the waters

Publikasiedatum

1954

ISBN

(sb)

Uitgewer

Johannesburg: GA Watermeyer

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

 Die Republiek van duisend jaar

Publikasiedatum

1957

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreekpers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 Publikasie

Taalfeeskwatryne

Publikasiedatum

1961

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

 Publikasie

 Bitter brood

Publikasiedatum

1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 Publikasie

 In kringe: ’n verhaal in drie stemme.  Saam met Estelle Marais en  Peet Venter

Publikasiedatum

1999

ISBN

0799326852 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Van der Walt

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet


Artikels oor GA Watermeyer beskikbaar op die internet:

Artikels deur GA Watermeyer beskikbaar op die internet:



 

Bygewerk: 2012-07-27
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za


 

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address