The Private Hotel School is net buite Stellenbosch en bied internasionaal-geakkrediteerde kursusse in kulinêre entrepreneurskap en gasvryheidbestuur aan. Een maal 'n maand maak hierdie hotelskool sy deure oop vir 'n Fun-filled Cooking Class, waartydens een van Suid-Afrika se top-sjefs, Susina Jooste, jou touwys maak oor die fynere kuns van goeie kos. Naomi Bruwer het gaan loer, leer en proe by die pretkookklas vir seekos. Het die gaste binne vier uur die kuns van gravlaks en bouillabaisse baasgeraak? Laat die foto's vertel ...

Oesters vir voorgereg ...

Pasop dat die mes nie glip nie!

Natuurlik gaan dit saam met vonkelwyn. Susina wys hoe om die bottel te sabrage.

Lestyd: Hoe kies jy vars visprodukte? Watter vissoorte is op SASSI se groenlys?

Om forel te vlek in filette het nog nooit so maklik gelyk nie.

Gravlaks is 'n eenvoudige maar heerlike Norweegse resep waar die forel in sout, suiker en vars dille gepekel word.

Elkeen word 'n werkstasie toegewys en die pret begin ... "Oor 'n halfuur eet ons," kondig Susina aan, maar niemand glo haar nie.

Die regte tegniek maak die kookproses heelwat vinniger.

Garnale word skoongemaak vir tempura-garnale en klappermelk-rissie-sitroengras-sop.

Tempura is 'n eenvoudige metode om groente en seekos smaaklik voor te sit.
Tempura-deeg
50 g meel
50 g mieliemeel
knippie sout
250 ml sodawater
Doop die groente of seekos in die deeg en diepbraai in olie. Dreineer die gaar tempura op kladpapier en sit voor met gemmer-sojasous of soetrissiesous.

Die tempura-garnale is gereed ...

Bouillabaisse is volgende op die spyskaart.

Al die oorskietstukkies vis word gebruik in die vissop wat die basis van die bouillabaisse vorm.

Die gravlaks word in mascarpone-crêpes saam met 'n groenslaai van roket, avokadopeer en kappertjiesaad bedien.

Die klappermelk-rissie-sitroengras-sop – hier bo in voorbereiding – is aan die einde van die aand as die wen-dis aangewys.
Klappermelk-rissie-sitroengras-sop
20 g botter
2 knoffelhuisies, gekap
1 salot, gekap
2 sitroengrasstele (dis nou lemon grass in goeie Afrikaans ...)
2 ml borrie
2 ml geelsuiker
1 blikkie klappermelk
200 ml hoender- of visaftreksel (hiervoor is die garnale se doppe ideaal)
1 rooi brandrissie
Skil en sap van 1 suurlemoen
Garnale (net die afgeskilde sterte word gebruik)
Soteer knoffel, salot en sitroengras in botter. Roer suiker en borrie in en kook deur. Voeg by aftreksel, klappermelk, suurlemoenskil en brandrissie en prut vir 5 minute. Filtreer en bring weer tot kookpunt. Voeg garnale by en kook deur. Geur met sout en peper. Bedien met vars koljanderblare.

Vars mossels is op hul lekkerste as dit eenvoudig voorberei word, sonder souse wat die smaak oorheers.

Pere geposjeer in koffie en bedien met beskuitjies en bloukaas sorg vir die nagereg.

Die halfuur is amper om en die disse word afgerond.
![]() |
![]() |
Dan is dit kuiertyd. Die disse word geproe en bespreek. Die wyn is in oorvloed. Die geselligheid groot. En die beste van alles? Jy stap huis toe met al die resepte en die "weet-hoe" ... die lekker gaan nie ophou nie.
The Private Hotel School se volgende Fun-filled Cooking Class is:
|
19 Sept 2012 |
Wednesday evening |
Happies, Tapas and Canapés |
Easy entertaining and cocktails. Learn how to sabrage your own bubbly and prepare a variety of delightful bites. |
|
24 Oct 2012
|
Wednesday evening |
SWEET revenge |
Cakes and desserts. Impress without stress. Decadent Pavlova, Chocolate fondant, Orange and almond cake and Baked Alaska. |
|
21 Nov 2012 |
Wednesday evening |
It’s a WRAP! |
Whether you are considering wrapping presents or food this Christmas, join us for a session and unwrap fresh ideas for gifts, table decorations, festive menus and easy meals to prepare. |
Vir nog inligting en besprekings, kontak Susina Jooste by susina.jooste@privatehotelschool.co.za of besoek The Private Hotel School se webwerf.
Foto's © Naomi Bruwer



