Ek hou van F Marx se sinvolle, goed geformuleerde bydrae (SêNet, 23 deser) en sy woordkeuse, bv taalkanker en woordgestremdheid.
Waarom word Afrikaans vermeng terwyl hierdie vermengers nie hulle Engels vermeng nie? (Marx se punt 4). Ek dink die tydperk waarin akute vermenging begin plaasvind het, help ons om 'n antwoord te vind. Marx stel daardie begin op die middel-tagtigerjare. Engfrikaans dateer dus uit die tyd toe wittes en veral Afrikaners hulle politieke mag begin prysgee het en aan die propaganda begin glo het dat hulle sleg is, genees moet word, ens. Sedertdien distansieer Afrikaners hulle toenemend van wat hulle is, hulle kultuur, insluitende hulle taal. Die mengeltaal is dus die resultaat van 'n skeiende gebrek aan taaltrots gebaseer op die vermurwing van eie waarde.
In 'n groep is taal 'n belangrike samebindende mag, selfs die belangrikste. Dink aan die baie Jode wêreldwyd wat nie net aan hulle religie nie, maar ook aan hulle taal bly vasklou, al is daar in albei gevalle variasies. By die Russe is hulle taal die vernaamste samebindende mag, wat hulle in staat gestel het om met versterkte patriotisme sonder wroeging van die Sowjet-satellietstate afskeid te neem. In Suid-Afrika weet die nuwe bewindhebbers en hulle meelopers (die nuwe Suid-Afrika-entoesiaste) dat as hulle die kern van die Afrikaner se kultuur (deesdae moontlik eerder taal as godsdiens) kan aftakel en verkieslik vernietig, Afrikaners glad nie meer naastenby potensieel 'n volk kan wees nie. Dit is hierdie fnuiking van enige vorm van Afrikaner-nasionalisme wat die ANC en sy meelopers se veldtog teen Afrikaans inspireer.
Met Marx se punt 5 moet ek verskil, naamlik "dat Afrikaans nie 'n gemaklike moderne of byderwetse gebruikstaal is nie." Toe Afrikaners nog trots op hulleself was, het ons aanvaar dat Afrikaans 'n soepele taal is waarmee alles gedoen kon word wat taal- en letterkundig moontlik is. Dit is waarom Afrikaanse prosa en poësie dikwels dawerend suksesvol is. As Afrikaanssprekendes ook (dalk veral) Engels lees, is dit nie omdat Afrikaans as uitdrukkingsmedium misluk nie, maar gewoon omdat Engelse bronne in groter mate beskikbaar is. Die afkraking van die aard van Afrikaans is deel van die verkleinering van die Afrikaner.
Aan die einde stel Marx tereg die punt dat gesproke Afrikaans gesuiwer moet word as ons wil hoop op die voortbestaan van respektabele geskrewe Afrikaans. Geskrewe taal is immers geneig om in die voetspoor van gesproke taal te volg. Om die tsoenami van Engfrikaans af te weer, is die samewerking van "die media" (koerante, tydskrifte, radio, televisie, rolprente en die musiek-, veral sang-, bedryf) noodsaaklik. Dit is juis hier waar daar 'n groot probleem is.
"Die media" is meer as ooit tevore sake-ondernemings wat bowenal op winsbejag ingestel is. Dit gaan nie meer vir hulle om kruistogte ten behoewe van 'n saak te onderneem nie; des te meer as die saak, bv Afrikaans, ongewild by die bewindhebbers is. Dit is veel makliker en sekerlik lonender om by die mode, bv politieke korrektheid, in te val.
Ek beperk my aandag voorts by 'n enkele massamedium, die koerant; spesifiek die plaaslike Afrikaanse koerant waaraan ek blootgestel is. Hierdie koerant voer 'n sirkulasiestryd met 'n koerant wat hom aan die uiterste en afgryslikste Engfrikaans skuldig maak. Wat 'n mens vind, is dat die koerant wat beter is, nie bitter graag veel beter wil wees nie, want dan kan hy hom die beskuldiging van elitisme op die hals haal, wat in die nuwe Suid-Afrika as 'n doodsonde voorgestel word. Ter wille van beter sirkulasiesyfers tree daar dus al hoe meer vervlakking in, bv daar word met oorgawe sensasionele berigte en foto's geplaas.
Taalkundige sorgeloosheid, selfs verwaarlosing, doen hom toenemend voor. Ek bring herhaaldelik dieselfde taalfoute onder die koerant se aandag, maar daar bestaan blykbaar geen stelsel waarvolgens dit onder die skuldiges se aandag gebring en korrekte taalgebruik afgedwing word nie. 'n Gevolg van die toenemende klem op winsgewendheid is dat al hoe jonger en dus goedkoper werknemers as joernaliste funksioneer. Dit is in baie gevalle mense wat Afrikaans eers sedert die jare tagtig leer ken het, dus toe die taalverroting begin intree het. Hulle ken van huis uit nie respektabele Afrikaans nie, het nie werklike taaltrots nie en dra hierdie gesindheid in hulle teks oor. Personeeldiversivering speel hierin ook 'n groot rol. Die tragedie wat al hoe meer waarneembaar is, is dat die sub-redakteurs, dus diegene wat tradisioneel die waghonde was, se Afrikaans nie veel beter is nie, soos dikwels uit bv die opskrifte blyk.
Wat aan die Universiteit Stellenbosch (US) aan die gebeur is, kan jy maar male sonder tal onder die koerant se aandag bring. Dit word gewoon geïgnoreer. 'n Mens sou dink dat die lot van Afrikaans 'n kernsaak vir 'n Afrikaanse koerant sou wees, selfs al sou dit bloot om eie belang gaan, dus die onbepaalde behoud van die koerant se leserskorps. Pleks daarvan word sinies oor diegene berig wat stry vir die behoud van Afrikaans aan die US. Hulle word taalbulle genoem. Aan diegene wat aktief arbei vir die afskaling en verkieslik vernietiging van Afrikaans word nie 'n soortgelyke etiket geheg nie en hulle word nooit gekritiseer nie.
Transformasie, dus verandering (nie verbetering nie), is die hooffokus aan die US. Akademiese uitnemendheid, wat histories die hooffokus van die US was, word aan hierdie politieke ideaal ondergeskik gestel. Wat die US was, mag hy nie meer wees nie. Afgesien van sy akademiese gehalte, was blankes en Afrikaans voorheen kenmerkend van die US. Blankes en Afrikaans is die hoofslagoffers in die transformasievisier. In hierdie proses word akademiese gehalte skromelik opgeoffer. Geen universiteit kan eerbaar oorleef as politieke gedienstigheid bo akademiese oorwegings verhef word nie.
Russel Botman het belowe dat hy hom vir totale transformasie aan die US beywer. Letterlik beteken dit dat die US van blankes en Afrikaans gestroop gaan word. Ek voorspel hiermee dat as op hierdie weg voortgegaan word, die US vorentoe die minimum blankes sal akkommodeer en dat Afrikaans as onderrigtaal uiteindelik afgeskaf sal word. Botman se volgende skuif sal feitlik noodwendig wees dat alle klasse voortaan in Engels aangebied moet word en dat die Afrikaanse aanbod as 'n oorgangsmaatreël (om die pil te versuiker) volgens aanvraag aangepas sal word. Afrikaanse koerante sal miskien halfhartig hierteen beswaar begin maak wanneer dit te laat is.
Ten slotte 'n konkrete voorbeeld van hoe Afrikaans skade weens politieke korrektheid ly. Ek verwys na "Wenke vir tienerdigters: Skryf soos jy wil skryf" (Die Burger, Jip, 25.03.2013, p 2). Ronelda Kamfer word as 'n Afrikaanse rockster-digter voorgestel wat al pryse en vererings vir haar werk ontvang het. Sy noem haarself "'n taal-geek" wat "diaries" vol geskryf het en nooit literatuur "ge-swot" het nie. "Die moral of the story is dat niemand jou kan leer skryf nie, dat jy niks nodig het om jou 'n beter skrywer te maak nie ... Om te skryf need 'n mens eintlik maar net twee goed: eerlikheid en 'n storie ... Skryf soos jy wil skryf; niemand kan dit van jou wegvat nie."
Let daarop, hierdie mens word aan tieners as 'n goeie voorbeeld, as 'n rolmodel, voorgehou. Sy is hoogs tevrede met haarself. Sy het niks nodig om te verbeter nie. Volgens haar hoef jy nie ordentlike Afrikaans te skryf nie. Jy het nie taalonderrig nodig nie en klaarblyklik ook nie 'n woordeboek nie. Ek betreur dit dat so 'n teks in 'n Afrikaanse koerant gepubliseer is. Nog erger, dit word onder die vaandel van die ATKV gepubliseer, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, wat eens ordentlike Afrikaans bevorder het.
Johannes Comestor

