'n Mens kom die naam van die Britse skryfster, Elizabeth Jane Howard (gebore in 1923), telkens teë as jy oor bv Kingsley Amis (1922-1995), Arthur Koestler (1905-1983) en Laurie Lee (1914-1997) lees. Oor Amis het ek reeds geskryf, terwyl ek eersdaags oor die wonderlike skryfwerk van Lee wil skryf. Ek het Michael Scammell se omvattende biografie (689p) oor Koestler gelees, maar kon nog nie die entoesiasme opwek om oor hom te skryf nie. Die lewe bestaan uit sulke verskillende lewens.
Die indruk wat Howard se foto's wek, is dié van 'n smaakvolle en stylvolle mens, wat dadelik die vraag laat ontstaan waarom sy dan met skrywers soos die genoemde drie geassosieer het. Daarby was sy 'n skoonheid wat om begrypbare redes in haar jeug 'n danser, aktrise en model was en later televisiewerk gedoen het. Ek sê sy was 'n skoonheid, want op 26 Maart het sy 90 jaar oud geword. Sedert haar sewentigerjare word sy met allerhande ernstige kwale geteister. Sy noem haarself 'n "wrinkled old crone" (Kindle 34 - bron hieronder). "My hair was white and I was fat ... and shapeless" (K 7481).
Vanweë haar assosiasie met bekende skrywers, het ek Howard se outobiografie gelees: Slipstream: a Memoir (London: Macmillan, 2002). Sy word nie as 'n skryfster in die eerste liga gereken nie, maar het haar goed in middelmootliteratuur gevestig. Ek het nie veel van haar lewensverhaal, in soverre dit op haar fokus, verwag nie. Wat by baie outobiografieë opval, is dat te veel geskryf word oor wat vroeg in die outeur se lewe plaasgevind het. Die eerste hoofstukke word dan 'n gerasionaliseerde rekonstruksie, kwistig aangevul met fiksie gebaseer op nabaat. 'n Uiterste vorm hiervan word in bv die eerste boekdeel van Simone de Beauvoir (1908-1986) se outobiografie aangetref. By De Beauvoir is daar heelwat egoverskansing. By Howard is die teenoorgestelde waar, naamlik diskreditering van haarself. Wat vasstaan by 'n outobiografie, is dat die outeur in beheer is en self besluit wat om te vertel, hoe om dit in te klee en wat om te verswyg.
Howard beweer dat sy nie dagboekinskrywings of soortgelyke notas het waarop sy kon steun nie (K 3422). 'n Mens kry die idee dat sy, as ervare skryfster, haar heelwat vryheid (en dus fiksie) veroorloof het, des te meer omdat die meeste mense waaroor sy skryf, dood is. Sy beskryf graag mense se voorkoms en kleredrag tot in die fynste besonderhede; ook die binnekant van huise en die geregte wat voorgesit is. Aanvanklik is 'n mens geneig om te dink dat sy 'n goeie waarnemingsvermoë en geheue het, maar dan word jy gekonfronteer met die wendinge wat daar in haar lewe was en jy begin ten minste aan haar oordeelsvermoë twyfel. Reuke speel blykbaar 'n groot rol in haar lewe. By implikasie ook skoonheid, want sy is geneig om mense in mooies en lelikes te verdeel.
Haar liefdeslewe, as dit die regte woord is, was soos 'n oordadige fliek; te veel gebeur te gou. Sy het die besondere vermoë gehad om tydens die eerste kennismaking op 'n man verlief te raak én oorboord te gaan. 'n Mens bly wonder of sy spyt is of spog. Hierdie leser het die indruk dat ten minste in die literêre kringe waarin sy beweeg het, baie mense geweet het dat sy naïef, inhibisieloos, oorgretig en beskikbaar vir avontuur was. Haar verweer is dat sy eensaam en op soek na liefde was. Haar leefwyse het haar in verbinding met talle bekende mense in bv die literatuur en ander kunste gebring. In hierdie opsig is haar outobiografie 'n goeie leeservaring.
Daar is 'n oormaat van openbarende eerlikheid in haar boek: "I write to find things out" (K 34). "Speaking as a very slow learner, I feel as though I have lived most of my life in the slipstream of experience [vandaar die boektitel] ... I do not write this book as a wise, mature, finished person who has learned all the answers, but rather as someone who even at this late stage of seventy-nine years is still trying to change, find things out and do a bit better with them" (K 43).
Howard was nie aan haar ouers geheg nie. Sy het gedink hulle gee voorkeur aan haar twee broers: "I felt constantly on trial" (K 1128). Op skool was sy ook nie gelukkig nie en het nie gematrikuleer nie: "My education had been sketchy" (K 2993). Op 8-jarige ouderdom het sy begin om 'n boek te skryf. Sy was as kind so onbeholpe dat 'n familielid haar die bynaam Bump gegee het. Sy was ook ontevrede met haar voorkoms. Baie later skryf sy: "I wasn't considered plain" (K 4476), maar "I'd never much liked my appearance" (K 4481). "I knew by now that a number of people regarded me as beautiful" (K 4486). "I didn't want to be loved simply for my appearance" (K 4490). In 1942, op 19-jarige ouderdom, is sy getroud met die veel ouer Peter Scott (1909-1989), die enigste kind van die ontdekkingsreisiger wat op Antarktika omgekom het.
'n Jaar daarna is hulle kind, Nicola, gebore. Howard het spoedig haar "lack of maternal feeling" (K 2354) agtergekom. Behalwe heel aan die begin, het sy deurgaans die versorging van Nicola aan ander mense toevertrou. Haar eie en enigste kind het eintlik nooit werklik saam met haar gewoon nie, behalwe 'n kort rukkie na haar skoolopleiding toe Nicola klasse in huishoudkunde bygewoon het. "I began to realize how much I'd failed her, and that by my neglect she'd come to distrust and resent me" (K 5587). Howard se man het in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen en was dikwels weg van die huis. In hierdie tyd het haar liefdes- of seksuele avonture in alle erns begin.
"Love, which still seemed to me the most important thing in the world, had eluded me; I seemed incapable of sustaining, inspiring or receiving it. This reinforced all my secret feelings of being worthless" (K 2758). "I didn't want to marry anyone ever again in my life" (K 3019). Op 23-jarige ouderdom was sy "essentially immature ... and I'd succeeded in nothing. I wasn't fulfilled in any way, had very little confidence" (K 3183). "I'd been unfaithful, a spendthrift and a bad mother" (K 3246).
Howard se skoonma was krities teenoor haar omdat sy gerook en wyn gedrink het. Haar ouers was ongelukkig getroud en het geskei. In 1947 het Howard haar man verlaat en op haar eie gaan woon. Hulle is in 1951 geskei. In 1949 is haar eerste roman, The Beautiful Visit, gepubliseer. Sy het verskeie verhoudings met getroude mans aangeknoop. Kenmerkend was haar reaksie tydens so 'n eerste ontmoeting: "I realized, with a shock, I was physically attracted to him" (K 3474). 'n Ander geval: "I come now to one of the worst things I did in my life. I fell in love with Cecil Day-Lewis [1904-1972, met wie sy in dieselfde kantoor gewerk het], and when he made advances to me, I succumbed. The affair was, in fact, a very brief one, because I felt so awful about betraying Jill" (K 4776), sy vrou. "He was bitterly hurt, resentful, called me a whore - which I suppose I was" (K 4780). Howard het toe haar werk bedank.
Sy vertel van twee aborsies wat sy ondergaan het. "I was unwilling to accept that I was the sort of woman who had light-hearted affairs" (K 4006). "I thought I was cut out just to be a kind of extra for people" (K 4168). "I couldn't find anyone with whom I could irreproachably fall in love - someone with whom I could share my life ... I was simply the kind of person who was designed to be a second string" (K 4816). Later: "If I was to be doomed to play second fiddle in the lives of the men I encountered I need not fall miserably in love with them" (K 4874). Na nog 'n mislukte verhouding met 'n getroude man: "I might have recognized by now that three wasn't a good number" (K 5359).
"I was lazy with my writing; I'd not yet learned the kind of discipline necessary for serious work" (K 3594). "There is a great difference between wanting to be a writer and wanting to write" (K 4044). "I have never been much good at thinking about how to set about structure or plot, or indeed the people who are to inhabit it" (K 4618). Later het sy meer gedissiplineerd begin skryf. "When I wrote I felt wonderfully free of myself ... There is no experience to beat that - it's like a celestial visit that can't be predicted or sustained" (K 5189).
Terwyl Howard by 'n uitgewery gewerk het, het sy Laurie Lee se skryfwerk teëgekom. "His language flowed as naturally as a spring of water whose depths are never obscured by muddy uncertainty - a revelation to me then, and an enduring pleasure now" (K 4208). Op partytjies het Lee kitaar of viool gespeel en saam met sy vrou, Cathy, gesing. "Music ... was an essential continuous background to his life" (K 4225).
"I've never been good at parties and can never think of things to say to strangers" (K 4267). Op 'n partytjie het sy Howard Arthur Koestler ontmoet. Hulle het aandete by 'n restaurant gehad, heelwat gedrink en daarna het hy gesê: "Now we go to my house" (K 4300). Daar het hy gesê: "How pretty you are!" (K 4300). "I'd never been called pretty before, and it made me feel neat and charming" (K 4306). Sy het daar oornag. 'n Dag of twee later het Koestler na haar woonplek gekom en gesê: "I have decided that we should get married, darling" (K 4311). Howard: "I made one of the very few sensible decisions of my life. 'I won't marry you now, but I will come and live with you for three months and see how we both feel'" (K 4311). Kort daarna "Arthur's obsession with perfection and his capacity for bullying began to emerge" (K 4334). Koestler "described my writing as a cross between Nancy Mitford and Evelyn Waugh" (K 4356). Maar hulle verhouding was spoedig nie volhoubaar nie: "I was a small incident in his life" (K 4384). "I admired him - his integrity, his discipline with work, and his lack of any pretension ... But I couldn't deal with the bully" (K 4388).
Hierna het Howard vir Laurie Lee en sy vrou vir aandete genooi. Kort daarna bel Lee en sê: "I'm going to take you to Spain for two weeks ... Just the two of us" (K 4499). Voorspelbaar raak sy daar op Lee verlief. Sy vrou, Cathy, "whom I grew to love and appreciate more and more, never changed her attitude to me" (K 4608). Toe Howard heelwat later op die Griekse eiland Hydra vakansie gehou het, "Laurie suddenly turned up. He was on his own" (p 5115). Hy het by Howard gebly totdat die volgende boot na Athene opgedaag het. Howard het die res van hulle lewens vriende met die Lees gebly. Howard was "frigid throughout my first marriage ... I hadn't understood that sex was for both partners until I met Laurie" (K 7490).
By die Ouspensky Society, gebaseer op die leerstellings van Gurdjieff, het Howard Jim Douglas-Henry leer ken en in 1958 met hom getrou. Hulle was lede van daardie vereniging omdat albei beter mense wou word. Hoekom het sy die tweede keer getrou? "I was tired of being taken to dinner by a series of men who, baldly speaking, seemed to expect me to pay for my dinner by going to bed with them" (K 5233). Aanvanklik het haar tweede man nie 'n inkomste gehad nie en daarna is hy na Bristol om daar te werk. "I had no guilt to contend with, having tried and failed to make anything of my marriage" (K 5575). Intussen het sy egter reeds 'n verhouding met Kingsley Amis begin.
In 1962 was Howard die feesdirekteur van die Cheltenham Festival of Literature. Sy het 'n huis in Cheltenham gehuur. Laurie Lee was 'n deelnemer aan die program en ook Kingsley Amis, wat saam met sy vrou, Hilly, by Howard oornag het. Dié aand het Hilly gaan slaap, maar Amis wou drink en Howard het hom tot 4 vm geselskap gehou. "When he kissed me, I felt as though I could fly" (K 5522). Daarna "telling myself it was no good falling in love with Kingsley, who was married with three children" (K 5529). "Kingsley rang me. And I found myself instantly agreeing to meet him in a bar in Leicester Square" (K 5532). Amis: "'Before we even have a drink I have to tell you something.' He'd booked a room in a nearby hotel ... I spent the night with him" (K 5537).
Hilly het op Howard se briewe aan Amis afgekom en hulle aan haar prokureur gestuur. "So Kingsley decided he and I were to spend a fortnight in Spain" (K 5618), "a deliciously exciting adventure" (K 5631). Daar het 'n joernalis van die Daily Express hulle opgespoor: "The facts were published, and we knew that our unofficial elopement was common knowledge" (K 5678). Omdat haar man Jim van tyd tot tyd onvoorspelbaar by haar blyplek opgedaag het, het Howard en Amis vir hulle samekomste 'n woonstel daar naby gehuur. Een nag het Amis se twee seuns onverwags opgedaag om daar te kom woon en later sy dogter ook. Howard het toe 'n groter huis gehuur en hare verkoop. Amis het nie 'n flenter omgegee vir die soort huis waarin hy woon nie, maar was hoogs ingenome met 'n yskas in sy nuwe studeerkamer: "I could make any drink in here!" (K 5709).
Amis het Howard beïndruk met die gedissiplineerde manier waarop hy daagliks sy skryfwerk gedoen het. Dit was altyd 'n geval van eers ure lank skryf voordat hy begin drink het. Op 'n besoek aan Italië het hy glad nie in besienswaardighede belang gestel nie: "So I parked Kingsley in a bar" (K 5868). Na hulle egskeidings is hulle in 1965 getroud. Hulle het 18 jaar lank saamgewoon. Amis kon sy tyd gebruik om te skryf, terwyl huishoudelike verpligting min tyd vir Howard gelaat het om dieselfde te doen. "I began to know that Kingsley no longer loved me ... He needed me, but he no longer wanted me" (K 6438). "Women were for bed and board" (K 6675). Howard het Amis verlaat en onder andere 'n tyd lank by haar dogter gaan bly. Die dogter was toe gelukkig met 'n tweede man getroud. Howard en Amis het in 1983 geskei.
Vir Howard was dit moontlik die einde van romantiek: "Nobody would want a 'bolter' of fifty-six" (K 6995). Toe sy op haar eie gebly het, was daar meer tyd vir skryfwerk. "I still felt anxious and unsure of myself around men" (K 7097). Sy het terapie-sessies bygewoon. "I dicovered my lack of discrimination ... and my neediness" (K 7105). In 1990 het sy uit Londen na die platteland, Bungay, Suffolk, getrek. Howard het daarna vir oulaas 'n korrespondent wat twaalf jaar jonger as sy was en haar skryfwerk bewonder het, vir 'n rukkie romanties by haar laat woon, totdat haar broer uitgevind het dat hy 'n bedrieër is. "Here I was, at seventy-four, having to discover this all over again" (K 7557). "I want to live enquiringly, with curiosity and interest for the rest of my life" (K 7725).
Johannes Comestor

