Onlangs vra ’n vriend my watter wetenskaplikes die grootste bydrae tot die kennis van die mens gelewer het en watter toeganklike werke vir die leek beskikbaar – en noodsaaklik – is om wetenskap beter te kan begryp. Dis die soort vraag wat eindelose gesprekke om etenstafels met ’n glas rooi wyn in die hand kan ontlok en is nie beperk tot wetenskaplikes nie. Brei die groep uit na die skrywers van fiksie of kunstenaars en die gesprek sal nooit ophou nie.
Waar begin jy met ’n leeslys vir jongmense – of ook vir wetenskaplik ongeletterde volwassenes – wat ’n onversadigbare honger het om meer te wil weet as net hoe om te twitter en te Facebook en kennis soek oor wetenskaplike bevindings, oor wat ons kan glo en vertrou as die waarheid en wat ons kan verwerp as onsin, bog of blote wensdenkery?
“Is dit waar dat die aarde net 6 000 jaar oud is?” vra ’n matriekseun my in ’n e-pos nadat ek in een van my SAUK-wetenskapgesprekke op Monitor verwys het na die kartering van die bonobo-genoom wat daarop dui dat dié dwergsjimpansee waarskynlik tussen vyf en sewe miljoen jaar gelede ’n voorouer met ons eie voorsate gedeel het.
Skoolkinders in Suid-Afrikaanse huise en skole word ongelukkig nog heeltemal te min die onderskeid geleer om wetenskap van fiksie te onderskei. Kyk jy na ’n rugby- of sokkerwedstryd, is die wyse waarop spelers ná ’n drie of doel die hemele vir hul talente bedank, maar net een voorbeeld van hoe diep die meem van bygelowigheid letterlik in die menslike DNS ingegroei het.
Dus, as ’n inleidende stel riglyne om wetenskap te geniet aan die hand van verstaanbare en genotlike skryfwerk, beveel ek die volgende elf werke aan wat meme van bygeloof en wensdenkery se angel kan trek. Ek het doelbewus nie die oorspronklike werke van die wetenskaplikes gekies nie, omdat Newton, Galileo, Darwin, Einstein en ander grotes geleef het voor die tyd waarin dit noodsaaklik vir wetenskaplikes geword het om hul teorieë eenvoudig aan gewone leke te verduidelik. Gelukkig is daar vandag talle uitmuntende wetenskapjoernaliste en ook knap wetenskaplikes wat wel die kuns aangeleer het om komplekse wetenskap verstaanbaar te maak deur wonderlike storievertelling.
Want dit is wat wetenskap is, die verhaal van soektogte na kennis, die storie van ontdekkings wat ons nabye horisonne verskuif na die sterre en planete buite die aarde se atmosfeer. Dis die verhaal wat ons visie verskuif van begraafplase waarin grafstene kort lewens van sterflike wesens weerspieël, na die opgrawing van fossiele van spesies wat lankal nie meer bestaan nie en die mites van ’n 6 000 jaar oue planeet vernietig. Dit bring jou onvermydelik by die wete dat alles op aarde bestaan uit sterrestof, deel is van die groter heelal.
Hier is dan die tien skrywers en ’n aanhaling uit elkeen se werke ter illustrasie van hoe effektief wetenskap in die kleed van aanloklike storievertelling aangebied kan word.
Steve Jones: Almost like a whale – The origin of species updated (Anchor Books)
Jones is ’n genetikus wat weet hoe om ’n storie te vertel. Sy boek The language of the genes het in 1994 die gesogte Rhône-Poulenc Science Book-prys gewen. Omdat soveel ontwikkelings op die gebied van evolusionêre biologie die afgelope meer as 154 jaar plaasgevind het sedert Charles Darwin sy revolusionêre werk oor die ontwikkeling van lewe gepubliseer het, is Jones se werk ’n plesierige rit deur en kennismaking met Darwin se Gevaarlike Idee, ’n bywerking van evolusie as teorie meer as 130 jaar ná die bioloog se dood.
Een aanhaling uit Almost like a whale: “Evolution does not need progress. After all, transfixed by time’s arrow, all its products will soon be gone.”
Jared Diamond: Guns, germs and steel – A short history of everybody for the last 13 000 years (Vintage Books)
Diamond is nog ’n wenner van die Rhône-Poulenc Science Book-prys, in 1998 vir ’n ander stimulerende boek, The rise and fall of the third chimpanzee. In Guns, germs and steel probeer hy die raaisel opklaar waarom Europa en die Nabye Ooste die wieg van die moderne mens en die ontwikkeling van kapitalisme en wetenskap geword het. “Once an inventor has discovered a use for a new technology, the next step is to persuade society to adopt it. Merely having a bigger, faster, more powerful device for doing something is no guarantee of ready acceptance.”
Diamond se woorde laat ’n mens dink aan Steve Jobs se uitsonderlike vermoë om verbruikers te oortuig dat die iMac, iPod, iPad en iPhone onontbeerlik vir hul lewe is, die beginsel wat Bob Dylan neergelê het van “If you’re not busy being born, you’re busy dying.” Diamond wys met Guns, germs and steel waarom sekere samelewings se idees aanvaar word en ander s’n nooit gebore of van brein tot brein in memetiese vorm oorgeplant word nie.
Richard Dawkins: The selfish gene (Oxford University Press)
Dawkins se boek het in 1976 sy naam as jong evolusionêre wetenskaplike gevestig en vandag word The selfish gene as een van die belangrikste wetenskaplike werke sedert Darwin se Origin of species beskou. Hierin het hy grondliggende beginsels in die genetika beklemtoon, die oeroue stryd tussen ons gene (die natuur) en kulturele oordrag en beïnvloeding. Maar dis veral sy formulering van die konsep van meme as eweknie van gene wat sterk inslag gevind het, ’n vorm van replikasie en nabootsing wat van een brein na die ander oorgedra word deur verskillende vorme van beïnvloeding. “Consider the idea of God. We do not know how it arose in the meme pool. Probably it originated many times by independent ‘mutation’. In any case, it is very old indeed. How does it replicate itself? By the spoken and written word, aided by great music and great art … God exists, if only in the form of a meme with high survival value, or infective power, in the environment provided by human culture.”
John D Barrow: The constants of nature – The numbers that encode the deepest secrets of the universe (Vintage Books)
Min boeke kan die vrees vir of onkunde oor wiskunde en wetenskap so maklik oorbrug soos Barrow s’n. As professor in wiskunde aan Cambridge-universiteit slaag hy uitmuntend daarin om die konstantes in die heelal toeganklik en stimulerend te verduidelik. Sy boek wemel van beelde en allegorieë wat aansluit by die letterkunde, ons alledaagse bestaan, die natuur. So skryf hy byvoorbeeld oor toeval en koppel dit aan Agatha Christie se slim vrouespeurder: “‘Any coincidence is always worth noticing,’ Miss Marple told us; after all, ‘you can throw it away later if it is only a coincidence.’ One of the most striking features about the study of the astronomical universe during the twentieth century has been the role played by coincidence: its existence, its neglect and its recognition.”
Anthony Zee: Einstein’s universe – Gravity at work and play (Oxford University Press)
Dis nie aldag dat jy ’n teoretiese fisikus kry wat weet hoe om wetenskap toeganklik en soos ’n storie te vertel nie. Einstein’s universe is ’n verbeterde uitgawe van Zee se boek An old man’s toy wat in 1989 verskyn het en met die nuwe titel in 2001 uitgegee is. Zee is verbonde aan die Kavli-instituut vir teoretiese fisika in Santa Barbara, Kalifornië. Die oorspronklike titel verwys na ’n geskenk wat Albert Einstein op sy 76ste verjaarsdag ontvang het en wat terugverwys na sy navorsing oor swaartekrag as jong patentklerk in Bern. Die hoofstuktitels en tussen-opskrifte laat enige nuuskierige mens se mond water: “The mighty shall be weak”; “From the Big Chill to the Big Bang”; “The worst blunder”, en “A hidden God”. So skryf Zee oor die oerknal: “Once, (George) Gamow [die vader van die oerknalteorie] was asked what happened before the big bang. He answered that physicists know that period in the universe’s history as St Augustine’s era. Why? St Augustine of Hippo first asked: ‘What was God doing before He made Heaven and Earth?’” Lees gerus die boek om Augustinus se eie antwoord te sien, al is dit hoe vergesog en snaaks.
Lee Smolin: The life of the cosmos (Phoenix Paperbacks)
Smolin, nog ’n fisikus, is ’n oorspronklike denker, een van die skerpste kritici, saam met die Nobelpryswenner Paul Gross, van die supersnaarteorie van kwasifilosofie wat deesdae so gewild is in sekere fisika-kringe. Hy bring in The life of the cosmos die wêrelde van die kosmos en ons begrip van die ontwikkeling van lewe soos deur Darwin geformuleer, bymekaar in ’n meevoerende vertelling, byna soos ’n Elmore Leonard wat ’n speurverhaal ontknoop. Smolin neem jou op toer deur die heelal en die elemente waaruit dit bestaan en hoe lewe hier op ons planeet kon ontstaan – en waarom dit ook elders moet kan bestaan. ’n Voorbeeld uit sy boek: “Did you ever look at the stars and wonder how separate, how alone, each of them is? Is there not something invisible, some secret weave, that ties the jewels of the sky together? Did you ever feel like a star, on a solitary journey amidst the other silent stars?”
Nick Lane: Life ascending – The ten great inventions of evolution (WW Norton)
Lane, ’n Britse biochemikus wat skryf soos ’n deurwinterde joernalis, het die Royal Society se prys vir die beste wetenskapboek vir Life ascending ontvang. Sy boek ontwapen elke drogargument van anti-evolusioniste soos ’n Stalin-orrel en verduidelik omvangryk die oorsprong van lewe, die wese van DNS, die ontstaan en bestaan (en noodsaak?) van seks, die ontwikkeling van sig en waarom die oog nie die produk van ’n skeppende godheid weens die kompleksiteit daarvan is nie, maar ’n uitnemende voorbeeld van die stadia van evolusie oor miljarde jare. “Night followed day in swift succession,” skryf Lane in sy hoofstuk oor die oorsprong van lewe. “On earth at that time a day lasted for only five or six hours. The planet spun madly on its axis. The moon hung heavy and threatening in the sky, far closer, and so looking much bigger, than today.”
Daniel Dennett: Breaking the spell – Religion as a natural phenomenon(Allen Lane/Penguin)
Dennett, ’n wetenskapsfilosoof van Tufts-universiteit in Boston, is een van die skerpste ontleders van onwetenskaplike denke by die moderne mens. In teenstelling met sy moeilik leesbare Darwin’s dangerous idea, is Breaking the spell ’n bloedlatende skalpelondersoek na die verskynsel van religie by die mens en sny dit deur die vel en vet wat so kenmerkend van godekoestering en -beskerming is. In ’n hoofstuk getitel “Getting the gods to speak to us” vra hy wat help die gode se kennis ons as ons dit nie van hulle kan kry nie. “How could one communicate with the gods? Our ancestors (while they were alive!) stumbled on an extremely ingenious solution: divination.”
Dennett se navorsing oor religie as doodnatuurlike evolusionêre uitvloeisel ter wille van oorlewing is een van talle studies deur neurowetenskaplikes wat, danksy breinskanderings en ander tegnologieë, deesdae die mens se voorliefde vir mitiese denkraamwerke kan help verklaar.
Michael Shermer: The borderlands of science – Where sense meets nonsense (Oxford University Press)
Shermer, een van die belangrikste ontwapenaars van pseudowetenskaplike onsin, het verskeie werke die lig laat sien wat die soeker na wetenskaplike kennis veilig die slaggate van bygeloof kan help vermy. Why people believe weird things het reeds die teenmiddel gebied hoe om onsinnige aansprake deur meesterlike bemarkers te vermy en The borderlands of science spel die grense uit tussen wetenskaplike aansprake en doodgewoon vergesogte wensdenkery wat as die waarheid verkwansel word. “The best knowledge filter ever invented is science. Flawed as it is at times, the methods developed over the past four centuries were specifically designed to help us avoid errors in our thinking.”
Brian Cox en Jeff Forshaw: Why does E=mc2? (and why should we care?)
Daar is ’n storie, miskien apokrief of met stertjies bygelas oor jare, dat toe die Pools-gebore fisikus Ludwik Silberstein tydens een van sir Arthur Eddington (die fisikus wat Einstein se algemene relatiwiteitsteorie korrek bewys het tydens ’n algemene sonsversduistering in 1919) se lesings gevra het: “Professor Eddington, jy moet een van net drie mense ter wêreld wees wat algemene relatiwiteit verstaan?”, Eddington geantwoord het: “Ek probeer dink wie die derde persoon is.” Eddington was nie juis bekend vir sy nederigheid nie, maar dié verhaal bevat meer as net ’n bietjie waarheid oor hoe moeilik die teorie is om te begryp.
Cox is veral bekend vir sy aangrypend stimulerende programme op DStv se Discovery-kanaal en is, soos Forshaw, professor in fisika aan die Universiteit van Manchester. Ek het al heelwat boeke oor Einstein se relatiwiteitsteorie gelees, maar niemand kon dit nog so meesleurend en eenvoudig verduidelik nie. Cox en Forshaw omskep ’n moeilik verstaanbare vergelyking in storievertelling: “Einstein’s special theory of relativity is at heart a description of space and time. Central to the theory is the notion of a special speed, a speed beyond which nothing in the universe, no matter how powerful, can accelerate. This speed is the speed of light; 299 792 458 meters per second in the vacuum of empty space. Traveling at this peed, a flash of light beamed out from Earth takes eight minutes to pass by the sun, 100 000 years to cross our Milky Way galaxy, and over 2 million years to reach our nearest galactic neighbour, Andromeda.”
’n Goeie aanvulling tot Cox en Forshaw se boek en wat meer oor die geskiedenis agter die vergelyking vertel, is David Bodanis se E=mc2 – A biography of the world’s most famous equation.
Sean B Carroll: The making of the fittest – DNA and the ultimate forensic record of evolution (WW Norton)
Vandag, 154 jaar nadat Darwin The origin of species gepubliseer het, staan die onomstootlike waarheid van evolusie as feit in die ontwikkeling van lewe vas, ondanks die misleiding van skoppende en skreeuende kreasioniste en aanhangers van die sogenaamde teorie van intelligente ontwerp.
Derduisende portuurgeëvalueerde publikasies het sedertdien in vakjoernale verskyn, en heelwat uitstekende boeke oor evolusie en hoe dit in die natuur plaasvind. Carroll, ’n genetikus van die Universiteit Wisconsin-Madison in die VSA, se The making of the fittest is maar een goeie voorbeeld. Ander is Dawkins se The greatest show on Earth – The evidence for evolution, die uitstekende werk van die Chicago-genetikus Jerry Coyne, Why evolution is true, en die wetenskapjoernalis Carl Zimmer se Evolution – The triumph of an idea: from Darwin to DNA. En dan natuurlik ook die evolusie-ghoeroe Ernst Mayr se What evolution is.
Só aangrypend skryf Carroll: “In 1979, Dianna Green, nine months pregnant, was severely beaten and her unborn child died from the trauma. Even though she had amnesia and could not spell her name at the trial, she testified that her husband, Kevin Green, had inflicted the injuries. Green was convicted of murder and attempted murder.” Carroll vertel dan verder hoe Green sestien jaar daarna vrygelaat is nadat DNS-bewyse ’n ander man, Gerald Parker, wat ook vier ander moorde gepleeg het, as die skuldige uitgewys het en Parker daarna erken het dat hy Dianna en haar ongebore baba aangeval het.
Hoewel van dié boeke waarskynlik nie altyd maklik bekombaar is nie, kan die bibliofiel Xavier Nagel van die boekhandelaar Bibliophilia in Woodstock, Kaapstad, dit altyd in die hande kry. Kontak hom gerus by xaviernagel@mweb.co.za of by tel 021 4471225, of besoek www.bibliophilia.co.za.
- George Claassen is die skrywer van Geloof, bygeloof en ander wensdenkery: Perspektiewe op ontdekkings en irrasionaliteite (Protea Boekhuis).
Kommentaar
Dr Claassen, in die geval van Dawkins se Selfish Gene is dit eintlik belangrik dat lesers nie die 1976-uitgawe koop nie, maar liewer van die latere uitgawes, waarin daar hersienings voorkom, bv die 2006-uitgawe.
Ek deel jou skeptisisme oor die snaarteorie en jou entoesiasme vir Smolin. Ek dink sy boek The trouble with physics (2006), is 'n belangrike bydrae. 'n Mens kan dit sinvol aanvul deur ook Peter Woit se boek Not even wrong (2006), te lees.
Die leeslys vind ek ietwat swaar gelaai met boeke oor biologiese ewolusie. Dit is een van u belangstellings en daar is dus niks mee verkeerd om sodanige werke te noem nie. Die punt is egter dat 'n mens ewolusie en religie saam kan absobeer. As u ongeloof wil bevorder, kan u dit gerus oorweeg om volgende keer boeke te lys wat ateisme en agnostisisme aanspreek.
Johannes Comestor
Johannes Comester skryf: "Die leeslys vind ek ietwat swaar gelaai met boeke oor biologiese ewolusie. Dit is een van u belangstellings en daar is dus niks mee verkeerd om sodanige werke te noem nie. Die punt is egter dat 'n mens ewolusie en religie saam kan absobeer. As u ongeloof wil bevorder, kan u dit gerus oorweeg om volgende keer boeke te lys wat ateisme en agnostisisme aanspreek."
Net vier van die elf boeke kan oorwegend as 'n bespreking van fasette van evolusie beskou word. Dus ongeveer 36%, geensins te "swaar gelaai met boeke oor biologiese ewolusie" nie as jy in ag neem dat verskeie wetenskaplike opnames getoon het Darwin se evolusieteorie is die belangrikste wetenskaplike uitvinding in die mens se geskiedenis (lees maar John Gribbin se History of Science, Peter Watson se Ideas: A History from Fire to Freud, Dennett se Darwin's dangerous idea en navorsing deur Pew, Gallup en andere).
Dan maak Johannes die opmerking: "Die punt is egter dat 'n mens ewolusie en religie saam kan absobeer" (sic). Religie het irrevant geword en Johannes kan gerus gaan delf in wat Hume, Hobbes, De Spinoza, Shelley, Mill, Marx, George Eliot, Anatole France, Darwin, Mark Twain, Freud, Orwell, Einstein (soveel keer al verkeerd en uit verband aangehaal oor god), Mencken, Emma Goldman, Hardy, Gardner, Sagan, Shermer, Charles Templeton, Stenger, Elizabeth Anderson, Ian McEwan, Weinberg, Salman Rushdie, Ibn Warriq, AC Grayling, Ayaan Hirsi Ali en duisende ander bekende skrywers en wetenskaplikes geskryf het oor religie.
Religie was nie ter sake by die skrywe van die artikel nie; boeke is genoem wat mense van hulp kan wees. Dis almal skrywers wat lankal verby die irrelevansie van religie beweeg het en oor wetenskap skryf. 'n Laaste opmerking: die jongste opname van die American National Academy of Sciences - die land wat meer as 60 present van die Nobelpryswenners in wetenskapsrigtings oplewer - toon aan 93% van hul lede glo nie in god nie. Wetenskap werk met bewyse, dis die beste manier om die waarheid vas te stel. Religie werk op wensdenkery en bewyse vir die aansprake is totaal afwesig.
Comestor,
Baie dankie vir wyse en gebalanseerde kommentaar. Religie sal sy relevansie nooit verloor. En natuurlik sal elke onderwerp sy menig skrywers oplewer. Aan boeke is daar geen einde nie. En natuurlik kan lesers self besluit of boeke van hulp is, of nie. Inteendeel, 'n wetenskap wat 'n godsdiens kan ondersteun, is 'n wenner!
Met vetsug wat 'n toenemende probleem raak wêreldwyd is ek verbaas dat daar nie meer mense is wat vra hoekom nie. Met dit as agtergrond sou ek Why we get fat and what to do about it deur Gary Taubes ook op die lys sit as 'n verstaanbare verduideliking van hoe die liggaam werk. Daar is baie herhaling in die eerste paar hoofstukke om gate in tradisionele diëte te skiet, maar dis die moeite werd om vas te byt tot by die wetenskaplike dele.
Hello,
George, as ek 'n boek mag byvoeg: The Power of Critical Thinking: Effective reasoning about ordinary and extraordinary claims van Lewis Vaugh (Oxford: Oxford University Press, 2005). Ons kinders leer nie om krities te dink nie.
George dankie, en nou lê daar 'n lang-lang leesles en wag! Hoe het dit gekom dat ek nog net twee van al hierdie boeke ter hand gehad het?
Pienkes du Plessis
Ek hou van Wouter se gedig, dankie!
Ja, maar waarom is soveel mense so bang vir feite, Wouter, dit laat my verstom? Feite werk net wanneer dit hulle pas, soos wanneer die wetenskap se bevindings en tegnologie my help om 'n siekte af te skud of my in staat stel om met my goeie lense van my bril te kan bly lees totdat ek oud is. Maar as wetenskap die onwaarskynlikheid van 'n skepper-god uiter, dan glo ons dit nie.
Dankie vir die voorstel van Vaugh se boek, Sakkie, sal dit beslis aanskaf. Jy slaan die spyker op die kop: dis daardie gebrek aan kritiese denke wat van kleins af aangeleer moet word, wat by mense kortkom. Kyk nou maar weer die sosiale media se gesprekke onder die vreesagtige Afri- en Solidari-bendes wat sit en wag vir die nag van die lang messe wanneer Madiba tot sterwe kom.
Pienkes, ja, maar is dit nie lekker om nuwe boeke te ontdek nie! Ek het pas Daniel Dennett se nuutste aangeskaf, Intuition pumps and other tools for thinking. Die lys word al hoe langer ...
Komies om te sien hoe mense kommentare waag sonder om eers die boeke te lees. Trienie, die Voortrekkers het net Die Bybel gehad, maar nou is daar al meer - soos die handige "For Dummies"-reeks. Kalahari.com is nie 'n foto van haelkorrels in die veld nie: carpe diem, my Skat!
Vreugde!
George se keuse van boeke is ewewigtig en deeglik gedoen, daar kan min kritiek op wees. Daar kan miskien na wiskunde ook gekyk word want dié is tog immers die taal van die wetenskap, hoe kan konkrete idees vasgelê en uitgepluis word daarsonder?
Die leuens van religie is al lankal aan die kaak gestel. Lank voordat die man Jesus op die toneel verskyn het, was daar dosyne gode wat in stalle gebore was. Hulle moeders was maagde. Hulle het die goeie boodskap gebring, het aan kruise gesterf, is begrawe en het op die derde dag opgestaan uit die dood. Die verhaal van Adam en Eva is nog ouer. Ek is ook 'n god. Elke mens is die kaptein van sy of haar skip.
Wat die mensdom het is 'n groot legkaart van die lewe. Die verskil met hierdie legkaart is dat hy nie nou stukke het om in te sit nie, hy moet daarna gaan soek. Daarom is die wetenskaplikes van alle dissiplines besig om te soek en ondersoek. Sodra hulle 'n stukkie van die legkaart ontdek dan sit hulle dit in. Mense soos Einstein, Darwin en baie ander het al bygedra tot die bou van hierdie legkaart. Dit is maar my eie beskouing.
Vir my is religie gevaarlik, want dit hou die mens in onkunde en baie oorloë is al gevoer in die naam van gode. Selfs vandag is dit die geval.
Dankie vir die boekelys.Ek het al twee daarvan gelees en het nou Breaking the Spell op my Kindle gelaai. Ek stap nou al drie jaar lank die pad om myself te vergewis van dinge wat bewys kan word. Ek word eintlik kwaad en voel ingedoen dat ek soveel jare lank al die snert van godsdiens geglo het, al het dit van kleinsaf aan my geknaag dat baie dinge nie vir my sin maak nie.
Dankie vir al die kommentare. Dennis, goed om weer van jou te hoor. Die derde boek op die lys hierbo, John D Barrow: The constants of nature – The numbers that encode the deepest secrets of the universe (Vintage Books), is sterk op wiskunde gebaseer en hoe wiskunde die natuurwette verstaanbaar maak en verklaar.
Ek is eintlik jammer die gesprek verval effens in kommentaar met 'n gelowig-nie-gelowig-nie-toon. Die doel was om boeke vir onkundiges met riglyne te bied oor waar om te soek as hulle meer van wetenskaplike bevindings wil weet. By die lees van al hierdie boeke kan geen mens wegstap en verklaar evolusie is nie geldige wetenskap nie, of dat daar absolute waarhede is wat geglo kan word nie. Die wetenskap werk juis met onsekerhede en dit is die krag wat dit geloofwaardigheid gee. Wetenskaplikes herbesoek hul bevindings en as daar wysigings en verstellings moet kom, dan doen wetenskaplikes dit. Ongelukkig kan dit nie van soveel ander lewensingesteldhede waargeneem word nie.
Die absolute sekerhede van iemand soos 'n belangrike kerkleier wat 'n boek skryf oor die wat vyf minute voor en na die dood gebeur, is 'n voorbeeld van hierdie onsinnige lewensingesteldheid. Die doel is dus van my kant om leergierige lesers bloot te stel aan 'n wetenskaplike wêreldvisie en -ingesteldheid waarin ons soek na die waarheid gegrond op bewyse, nie op wensdenkery nie.
Hello dr Claassen,
Hello dr Claassen et al,
Wat Dennis Siebrits se opmerking oor wiskunde betref word die volgende voorgestel:
Baie interessant. Het jy al Popper se Open Society gelees?
http://gertrautenbach.blogspot.com/2012/04/open-society-and-its-enemies.html
Hello Gert,
Hello,
Hello,
Hello,
Die lysie boeke is maar bra dun om die lyf, met min indien enige insigte ...
Dankie vir almal se kommentaar en voorstelle. Ek is besig om so 'n lys van 50 wetenskapboeke saam te stel, soos Wouter voorstel. En steeds sal dit onvolledig wees ...
Die doel sal steeds wees soos ek dit hierbo uiteengesit het: "Waar begin jy met ’n leeslys vir jongmense – of ook vir wetenskaplik ongeletterde volwassenes – wat ’n onversadigbare honger het om meer te wil weet as net hoe om te twitter en te Facebook en kennis soek oor wetenskaplike bevindings, oor wat ons kan glo en vertrou as die waarheid en wat ons kan verwerp as onsin, bog of blote wensdenkery?"
Dus: om toeganklike boeke oor wetenskaplike ontdekkings en bevindings wat ons kennis verbreed, uit te lig.
Francois Williams: die Weste het nog nooit gelei nie? Waar het jy jou geskiedenislesse ontvang en watter oogklappe dra jy? Verskillende beskawings het oor verskillende tydperke van die mens se geskiedenis gelei: lees maar gerus Peter Watson se Ideas. Die boeke wat jy noem, is filosofiese boeke, nie wetenskapgebaseer nie. Ja, die Weste lei nie meer so oorweldigend nie, maar kyk maar wie wen die Nobelpryse in chemie, fisika en geneeskunde en fisiologie jaarliks. En waar die meeste nuwe ontwikkelings op tegnologiese gebied plaasvind. Apple word links en regs deur ander Oosterse lande nageboots, maar wie was die vernuwer op tegnologiese gebied?: iPod (musiek), iPhone, iPad, Cloud, die hele Internet as nuwe tegnologiese dryfmeganisme in die ekonomie en wetenskap? Nie die Ooste nie. Watter universiteite is die leiers? Begin maar liewer die boeke wat ek hier noem, lees voordat jy hulle te lig bevind en wil vervang met filosofiese uitinge...
Hello Professor Claassen,
Die Weste het nog altyd gelei??
George en Wouter oa: as mens nie wetenskap en godsdiens en ideologie onderskei nie dan word dit propaganda. Ons Boere Afrikaners ken dit baie baie goed - ons is allergies daarvoor - toegegee.
Hello Jors troelie,
Onthou net die bestaan is groter as jy en moet in al sy diversiteit ingeneem word en nie onderdanig gestel word tot die enkele persoon se blik daarvan nie. Dit is moeilik om die bestaan nie te onderwerp aan jou eie bestaansblik nie, maar dit is moontlik om met groot moeite tot 'n ingeligte verstaan van die bestaan te kom.
Die meeste wil egter nie daardie werk doen nie en val daarom in maklike en gemaklike vooropstelling.
Baie dankie
Wouter