Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Draak-sprokie-kompetisie: Grinnik se eksistensiële gewroeg

Hy’s grieselgroot. Styfrond-vet en vrat-lelik. Met asem wat stink na ’n bedompige drein. Met 'n frons waarin ’n Land Cruiser sal vasval!

Dit help zilch.

Só voorspelbaar: kruip waggelend uit die bloudonker skaduplek langs die vetterige vullisblikke. Wag. Sien hulle. Wag. Spring ’n boog. Rek die ligrooi bek wyd. Wys die geslypte skerp tande. Met die witgeel plaaklae in die groewe.

Karplaks!

Hy land net langs haar. Brul só hard, sy spoeg vlieg in lang slierte. Hy skrik self. Met knersende tande hap-hap hy nader. Swaai sy stomp arms tot hul amper uit hul potjies ruk. Bestorm die fynklein driejarige in die pienk frille met die sjokoladeroomysvlek op haar mou. Gryp na die teddiebeer met sy een kraalogie aan ’n garedraad. Mik om haar pinkievinger te bloedbyt.

Dit gebeur nie so nie. Sy kom ongedeerd daarvan af. T-beer ook.

Grinnik se swaar stert met die grillerige knoppe val sommer plat. Sleep. Los ’n spoor met ’n ongewone patroon tussen die gefrommelde geskeurde koerante en straatrommel. Sy onbeskofte driehoekige voete se riffelkussinkies en harde vuil-swart naels trap polistireendoppies heeltemal plat. Verslae sien hy haar Shirley Temple-boksterte vermakerig wegbop. Sug. Nie eers ’n ritseltjie, titseltjie banggeid nie? Wat is sy doel dan?

In sy kaal-baksteen hoek droom hy van heldhaftige draakdade.

’n Bloedige geveg met ’n skildbedekte ridder op ’n blinkbruin vos en ’n staalswaard, vasgeklem in ’n vuis met wit kneukels. ’n Sterk sweetreuk vol adrenalien (wat aan frangipani-bloeisels herinner). Die ervare vegter skop sy hings in die lies, spring-galop nader om Grinnik in die oog te steek. Swaaislaan met mening sonder om te dink aan die groen bloedsop wat sy wapenrusting kan bespat (want almal weet draakbloed is so vieslik giftig dat dit metaal kan laat smelt)!

Grinnik snak na sy eie asem en sluk aan die slym op sy growwe donkerpers tong. Of ’n koue, klipperige grot vol halfgeëte karkasse van dom-om-hom-te-kom-soek-avonturiers, baba-olifantjies en groot buffels met snotterige, stowwerige snoete? Grinnik sou kon lê en snork dat die berg bietjie-bietjie tril. En sou hy ’n takkie hoor kraak, sou hy dadelik besef daar’s ’n sluipende soekparty wat hom bekruip. Een oranje oog sou oop rek. Rats en geluidloos sou hy omrol, slaggereed op sy groot pote. Effe jammer vir die patetiese drommels met verslete overalls. Hy staan reg met sy splinternuwe tuisgemaakte maar gepatenteerde vlamgooier (want almal weet dat drake nie vuur binne hulle dra nie, maar dat hulle wel ver kan spoeg). Op die regte oomblik sproei hy ’n mondvol petrol in hul rigting. ’n Wemelende, woelende, warrelende geelwitoranjerooi brandbal sou hulle velle verbrand en hulle histeries verwilder.

Dan sou Grinnik tevrede gryns. Sy mond met Listermint spoel voordat hy ’n boudbeen nader sou trek en beknaag.

Maar. Sy’t verby geloop. Asof hy net ’n droomdraak is.

Of hét sy die teddie stywer vasgedruk? Het hy ’n halwe kreuntjie gehoor? Sien hy ’n sleepspoor in die stof? Sy hét in die wegloop omgedraai. Was dit haar tong wat sy uitgesteek het?


>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address