Dis Hazyview dié

  • 0

 

Hier staan ons alweer op die lughawe met ons tassies op die trollie. Drie frikkadelletjies met crocs aan. Ma het so ’n pers masseerder saamgebring wat nes ’n dildo lyk. Sy vryf dit aanhoudend oor haar nek.

Die ry om die bagasie in te boek raak al hoe langer. Lughawens is die beste plek vir people watching. Onder normale omstandighede is dit een van my gunsteling tydverdrywe, maar ek kan nie help om te wonder in hoeveel mense se visier óns vandag gaan beland nie.

Uiteindelik kom ons voor Mnr Kulula te staan. Hy is saaklik en nie lus vir kak nie. Ons vet tasse word een vir een geweeg, net-net lig genoeg gevind en stadig weggevoer na ’n onbekende bestemming. Ma kyk Mnr Kulula stip in die oë, hou haar pers apparaat na hom toe uit en vra in haar moedertaal of sy maar haar masseerder mag saam neem as handbagasie. Nádat ons vroeër vanjaar oorsee was, is ons almal vreeslik bewus van die verskil tussen handbagasie en bakbagasie. Tog probeer ons steeds elke keer om Valpré bottels in die toilet vol water te tap en ongemerk deur Sekuriteit te smokkel. Mnr Kulula gee ’n nors knik.

Daar is nog ’n volle uur oor voor ons op die vliegtuig moet klim, so ons doen die een ding waarmee ons regtig goed is. Ons éét. Spur se R19,99 ontbyt met ekstra worsies en tjoklit milkshakes word in rekordtyd ingeasem.

Die groen ou vliegtuigie bars uit sy nate. Daar is een of ander groot kerkkonferensie in die Noorde aan die gang, so daar is nie plek vir ’n muis nie, wat nog te sê van ’n oorgewig Karooboer. Ons beland almal ’n entjie van mekaar af. Die sitplekkies is klein. Pa se gesig is ekstra rooi en die sweet tap hom af. Hy is tussen twee Afrika Mamas in hulle wit en rooi kerkunivorms vasgegespe. Ma suig benoud aan haar Valpré bottel en ek verbeel my hoe sy in haar kop somme maak oor of só ’n klein vliegtuige só ’n vreeslike vrag sal kan bo hou. 

Uiteindelik land ons in die vaal noorde vol stof, rook en geboue. Dis die drie frikkadelle se eerste keer in Johannesburg. Ons waag dit in die gevaarlike strate, gewapen met ’n gehuurde Toyota en ’n GPS. Pa trap ’n denkbeeldige briek langs my en hou sy hand geanker op die handrem. Ma kla oor hoe vol die vliegtuig was en die migraine wat sy besig is om te ontwikkel.

Ure en ure vlieg verby saam met vaal landskappe, lelike myne en godverlate dorpies. Witbank wink vir my terwyl Martelize Brink vir die mensies bo 90 ’n Kurt Darren treffer speel. Die mynhope word uiteindelik verruil vir bosveld bome en oral langs pad word Afrika beeldjies en beesvelle verkoop. Ek voel soos ’n wafferse toeris op my eie agterstoep.

Toe ons Hazyview binne ry sien ons ’n suikersoet belofte. ’n Bordjie wat regte egte Belgiese gebak adverteer. Die Toyota se remme skree soos die kar tot stilstand ruk. Ons spring soos een man met ons lam boude en stywe knieë uit die kar en laat spaander na die bakkery se kant toe. Pa is voor in die koor, want nadat dié boer op ’n oorsese vakansie was, kén hy van fyngebak.

Ons kyk teleurgesteld na ons fonds agter die glas toonbank. Die lam brommer agter die kasregister verduidelik iets van ’n mousse wat van regte sjokolade gemaak is en deegdriehoekies met klapper in.

“Waar is jou éclairs dan? Dié met die chocolate mousse in,” vra Pa vol hoop.

“Éclairs met chocolate mousse in? Ek het nog nooit van só iets gehoor nie!” verdedig die brommer haarself.

“Ek was in Mei-maand in Parys én in België en hulle bakkerye hét béslis éclairs met chocolate mousse in. Ek sal weet, ek het dit elke oggend vir ontbyt geëet!” kap Pa terug.

Die brommer skiet die doodskoot: “Meneer, lyk hierdie miskien vir jou soos Parys? Dis Hazyview dié!”

 

 

Lees ’n onderhoud met Carla Kargaard hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top