Dirt grou diep, tot by die murg

  • 0

Regisseur: Jennine Collocot
Skrywer: Nick Warren
Speler: James Cairns

Dirt, vuilgoed, gemors ... Dit is die verhaal van drie vriende wat hulle weer in mekaar se geselskap bevind as gevolg van ’n vierde vriend se dood. Wayne, hoë stem, broos, gelos deur sy (oorgewig) vrou/meisie, nie die klasmedaljewenner vir sosiale vaardighede nie, en in wie se sorg hul oorlede vriend se hond gelaat is; Grant, Johannesburgse aksent, nuwe pa, hormonale en paranoïese vrou, die manlikheid self; Sam, Britse aksent, sepiester met ’n mislukte filmloopbaan, egosentries, materialisties, en ’n vrou aan elke arm. Die bymekaarkoms skep vir die vriende ’n geleentheid om oor ’n gedeelde geskiedenis te besin. Soos wat die titel aandui, is dit egter nie ’n geleentheid wat seepglad verloop nie, en ontaard dit gou in “cock-fight” oor vroue, sukses en geld. Dirt grou diep, tot by die murg van dit waaruit hierdie vier se verhouding werklik bestaan. Soos Sam in sy begrafnistoespraak sê: “Friendship is nothing without the s**t that goes with it.”

In hierdie produksie draf James Cairns moeiteloos die sewe karakters (en drie tale) kaf. Hy glip gemaklik van een rol in die ander, in so ’n mate dat dit uiteindelik moeilik is om te glo dat net een man die heeltyd op die verhoog verskyn het. Die teks, regie en spel laat toe dat die narratief gemaklik deur verskillende karakters gedra word sonder dat dit die gehoor in die reis verloor. Na enkele minute in die produksie in skaterlag die gehoor reeds, en so hou dit aan tot in die vyftigste minuut. Hierdie komedie is egter nie net vir lekker lag nie, maar die geleentheid om puik vokale en fisieke karakterisering, deur een van die land se bestes, te kom aanskou.  

Hierdie produksie maak vanjaar sy derde draai by die Nasionale Kunstefees, wat getuig van sy groot sukses. Dit was egter jammer dat die produksie 30 minute laat begin het as gevolg van oorbespreekte kaartjies!

Die produksie is daagliks om 12:00 by die Drill Hall te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top