Webseminare | Web seminars

 
Die Titanic-twiet! Die gebruikersprofiel as 'n bron van nuwe digitale publikasiemoontlikhede op sosiale-media-platforms.

Op 24 Junie 2009 skep Fanie Viljoen ’n Facebook-groep, Pynstiller, en publiseer die eerste bladsye van die grafiese weergawe van Pynstiller,’n tienerverhaal met die tema van selfskending. Hy nooi Facebook-vriende en -aanhangers om saam te gesels oor selfskending en die eerste reaksies verskyn binne ’n oogwink. Na aanleiding van die tema, en veral die publikasieruimte van hierdie grafiese verhaal, verskyn ’n akademiese artikel in 2012 op LitNet Akademies: Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie. En vroeg-Januarie 2013 heropen die gesprek oor selfskending op die sosiale platform Twitter. #cuttingforbieber blyk net ’n grap te gewees het, maar die tema van selfskending is nog lank nie klaar ontgin nie. Hier gesels Fanie Viljoen self oor sy skep van Pynstiller op die ruimte waar dit tot stand gekom het, terwyl ander kenners gesels oor die sosiale media as publikasieruimte – en, natuurlik, oor die pynlike tema van mense wat hulself sny.

Opsomming
’n Sosiale-media-gebruikersprofiel kan stories, karakters en konsepte ’n teenwoordigheid op ’n aanlyn gemeenskap gee. Hierdie teenwoordigheid word die middelpunt van groepsinteraksie – ’n verwesenliking van die kernnarratief en ’n drywer van ontwikkelende sekondêre narratiewe. In hierdie artikel beskryf ek hoe die wisselwerking tussen skrywer en leser op sosiale-media-platforms verryk kan word, met ’n fokus op die kreatiewe gebruik van ’n kunsmatige gebruikersprofiel.

Skrywers word aangeraai om sosiale media te benut as deel van bemarking aan – sowel as interaksie met – ’n lesersgemeenskap. Een unieke eienskap van sosiale media is die gebruikersprofiel (Boyd en Ellison 2007). Enige Facebook-gebruiker het so ’n profiel wat aan ’n Facebook-rekening gekoppel word.

’n Gebruikersprofiel hoef nie noodwendig ’n lewendepersoon voor te stel nie. So ’n profiel kan gebruik word as deel van die leser/skrywer- en leser/leser-wisselwerking rondom ’n gedeelde primêre narratief, sowel as die skep van sekondêre narratiewe. Greyling (2012) beskryf die interaksie tussen skrywer en lesers deur middel van so ’n Facebook-profiel wat ’n grafiese verhaal verteenwoordig. Op die Pynstiller-profiel praat lesers oor die verhaal en deel ook hul eie stories (Pynstiller 2012).

Op Twitter twiet Henry die agtste boodskappe aan die publiek (@KngHnryVIII 2012). Koning Henry se interaksie met gebruikers is beide opvoedkundig en speels:

@lizziesmuffins The maps I had drawn of the English coastline were the first of their kind & used by the R Navy up through World War II (22 Januarie 2013)

If there’s a hole in your life where contempt ought to be, try getting married.  Perhaps more         than once. #TudorRelationshipAdvice" (11 Januarie 2013).

’n Twitter-profielnaam begin met die @-teken. Die #-teken is ’n hutsetiket (hashtag, of hetiket) wat gebruik word om boodskappe te kategoriseer of andersins meer betekenis te gee (Hashtag 2012).

So ’n profiel word die aantrekkingspunt vir gesprekke rondom ’n aanlyn groep – oftewel ’n "community of practice" (Wenger 2006) – se gedeelde visie en doelwitte en word ook gereeld as die stem van die groep gesien. Die profiel word ook die fokuspunt van die gemeenskap se inligtingsvloei – hetsy die inligting vir vermaaklikheid, opvoeding of bemarking bestem is. Interaksies met so ’n kunsmatige profiel is ’n voorbeeld van leser/skrywer- en leser/leser-wisselwerking wat ’n bepaalde impak op ’n narratief het (Greyling 2012).

Greyling (2012) beskryf hoe Fanie Viljoen se grafiese verhaal Pynstiller op twee sosiale netwerke geplaas is sodat gebruikers met die verhaal in wisselwerking kon tree. Pynstiller handel oor selfskending onder tieners. Enige Facebook-lid kan op die Pynstiller-profiel se muur kommentaar lewer. Twee narratiewe word uitgewys: die kernnarratief (Pynstiller se verhaal) en ’n sekondêre narratief: die gesprekke wat om die Pynstiller-profiel ontstaan het, waar "deelnemers aan die gesprek op verskeie wyses stem gekry het waardeur die pyn verwoord of gestil kan word" (Greyling 2012).

Kuber-karakter word koshuis-stem
Aspiros-Vivilady (2012b) is ’n Facebook-profiel wat Vividus-dameskoshuis se gelukbringer-lappop verwesenlik. Aspiros se werkstitel is mascot, haar blyplek is Pretoria, sy is in 2008 in Suid-Afrika gebore en sy het bykans 400 vriende. Haar eerste boodskap aan Vividus is:

Soek ViviLady maaikies!!!! Kani wag vir SERRIE nie! (31 Maart)

Koshuislede gesels ook met Aspiros:

Hey Aspie! Gan jou baie mis jong! Mar 1 van di dae kry jy ’n nuwe mamma ;) Hoe exciting is dit!" (16 Julie 2009)

Hapy 7th bday lady Aspiros! :D (10 Februarie 2010).

Enke-Mari Malherbe, voormalige HK-lid en medeskepper van die Aspiros-profiel, vertel hoe Aspiros ’n merkbare rol in die gemeenskap speel. Aspiros "tag" haarself op Facebook soos sy saam met lede rondbeweeg. Sy "trou" elke jaar met ’n manskoshuis as deel van die "zef troue en egskeiding"-tradisie.

Aspiros-Vivilady word ook gebruik as die stem van die koshuis. Op Oktober 2012 word Aspiros die hoofprofiel waardeur kommunikasie tussen lede geskied. Dit wil sê Aspiros word die fokuspunt van die aanlyn gemeenskap se aktiwiteite –  ’n sogenaamde "shared repertoire" (Wenger 1998) wat belangrik is vir die vorming van ’n aanlyn gemeenskap. Wat die skrywer se rol in ’n ontwikkelende narratief betref (Greyling 2012), is daar natuurlik geen werklike Aspiros-karakter is nie; HK-lede beheer die profiel en tree dus as die skrywer op in die skrywer/leser-wisselwerking.

Titaniese twiets vermaak en bemark
@TitanicRealTime (2012c) is ’n Twitter-rekening wat geskep is om daagliks die opbou na, reis en sinking van die RMS Titanic deur middel van twiets oor te vertel, as deel van die 100-jaar-herdenking van die ramp.

Die rekening se eerste twiet is:

#captain Exactly a month now before Titanic’s journey begins, I cannot wait to see her completed and on the ocean!" (10 Maart).

In hierdie geval dui die hutsetiket aan watter karakter in die narratief ’n spesifieke opmerking maak. Tesame met die offisier se boodskappe volg twiets van ander lede van die reis:

#crew Jumping into those waters even in a lifebelt will still result in death. Still, it won’t      happen ... (18 Maart)

#captain All Ahead Full! Let’s see what she is capable of. (11 April)

#firstclass What on earth was that?? It felt like the very earth was moving! (15 April).

Die laaste twiets vanaf die @TitanicRealTime-rekening bevat skakels na die katalogus van die uitgewer wat die rekening geskep het. Hier is die gebruik van sosiale media as bemarkingstegniek duidelik. Wat minder duidelik is, is die wisselwerking wat rondom hierdie rekening plaasvind. Daar bestaan dienste om sin te maak van hierdie wisselwerking (byvoorbeeld, met watter gebruikers ’n profiel die meeste kontak gemaak het), wat verdere moontlikhede vir skrywers inhou.

Die Pynstiller-, @TitanicRealTime- en Vividus-Aspiros-profiele is voorbeelde van ’n nuwe manier om skrywer/leser- en leser/leser-wisselwerking rondom gedeelde narratiewe te ondersoek. Boonop word die rekeninge ’n versamelpunt vir gesprekke en ’n bron van vermaak vir die lesersgemeenskap. Sulke profiele wat ’n karakter, konsep of fisiese artefak soos ’n boek lewend maak, is ’n nuwe vorm van publisering wat nie net sosiaal is nie, maar ook skeppend is –  hetsy deur skrywer/leser-wisselwerking, leser/leser-wisselwerking of wisselwerking met ’n kuberkarakter.

Bibliografie
Aspiros Vivilady. 2012. (21 Januarie 2012 geraadpleeg.)
Boyd, D en N Ellison. 2007. Social network sites: Definition, history, and scholarship. Journal of Computer-Mediated Communication, 13(1), artikel 11.
Greyling, F. 2012. Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: Interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie. LitNet Akademies, 9(3).
Hashtag. 2012. http://en.wikipedia.org/wiki/Hashtag. (23 Januarie 2012 geraadpleeg).
@KngHnryVIII. 2012. (18 Januarie 2012 geraadpleeg.)
Pynstiller. 2012. (20 Januarie 2012 geraadpleeg.)
@TitanicRealTime. 2012. (21 Januarie 2012 geraadpleeg.)
Wenger, E. 2006. Communities of practice – a brief introduction. (21 Januarie 2012 geraadpleeg.)

 

 


Keer terug na die indeksblad van die webseminaar om nog bydraes te lees.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address  

 

article

Filmverwerkings moet moontlikhede ontsluit

Chris Broodryk

"Die verwerkingsproses maak voorts voorsiening vir die draaiboekskrywer om ’n eie stem te ontwikkel, wat nodig is vir enige verwerking om te slaag. Die verwerkingsproses moet moontlikhede ontsluit, nie kreatiwiteit en vryheid inperk nie."