Webseminare | Web seminars

 
Die suggestie van bloed
Bloed is 'n gespesialiseerde vloeistof met baie funksies. Maar bloed is ook 'n kragtige simbool in ander genres as die mediese wetenskap of die biologie. Bloed kan 'n hoofrol speel in 'n aksiefliek, of kom sterk na vore in die ongekende volume vampierfiksie wat deesdae verskyn. Om nie eens te praat van die kardinale belang van bloed in die teologie nie. 'n Paar kundiges praat oor of dié simbool nog net so sterk soos altyd deur die are pomp, en of dit sy krag verloor het.

Ons is geneties aanmekaar gesit om op bloed te reageer. Goed, party meer as ander. Ek is vies daarvoor as ek van my bergfiets afval, verlam daardeur as dit my geliefdes s’n is en hartseer wanneer dit op die pad langs die motorfietsryer poel.

Bloed is dus ’n ideale medium om filmgangers se bloeddruk mee op te jaag. Dit is nie bloot die rooi, dikkerige vloeistof nie, maar ook die moord, ongeluk of drama wat tot die vergieting daarvan gelei het, wat die impak maak.

Die gebruik van bloed om ’n storie te vertel kom in menige vorme voor. Vir my is daar vier hoofkategorieë: gewoon, onnodig, as ’n medium en die afwesigheid daarvan.

Die gewone gebruik van bloed is die koeëlgat in die maag, die gebreekte neus of die sny aan die voorkop wat ons almal al in die standaard-aksiefilm gesien het. Dit dui op ’n ongeluk, ’n moontlike dood, maar definitiewe drama. Dit doen nie afbreuk aan die film nie, maar dra ook nie veel daartoe by nie. Met ander woorde, dit is nuttig, tog nie revolusionêr nie, maar hoofstukke beter as die onnodige liters bloed wat spuit of klonterige breins teen die muur.

’n Gepaste voorbeeld is die ongelooflike The Hunger Games (2012), ’n film wat ek verwag het gaan erg bloedig en gewelddadig wees. Die regisseur gebruik egter bloed, en alles wat daarmee saamgaan, bloot as een onderdeel van ’n goedgeoliede stoomtrein. Die brandwonde en snye is belangrik – dit dui tog op die deelnemers se vermoë om te kan vlug of baklei en dra by tot die spanningslyn – maar daar is baie meer aan die film as ’n bietjie bloed, ’n klomp lemme wat rondgeswaai word. Die bloeiende wonde oorskadu nie die emosie, die aksie, die storie of die enigmatiese Jennifer Lawrence nie. (Winter’s Bone (2011) was toe net die begin van haar loopbaan.)

Dit bring ons dan by die onnodige, die oordrewe, dié films wat nie beskik oor enigiets anders om die gehoor mee te vermaak as ’n groot gat in iemand se kop nie, die stuk been wat dwars uitsteek of die derms wat uithang. As die derde slagoffer in alle erns onthoof is en die lyk kop eerste na die kamera toe val om die rugstring, senuwees en polsende bloed vir die gehoor te wys, is ek eerstens afgestomp en tweedens verveeld. Ek bly so ver weg van hierdie tipe film af dat ek nie eers ’n voorbeeld kan oproep nie. Julle weet tog waarvan ek praat.

Dit beteken nie uiters aggressiewe, bloederige films is alles gemors nie. O nee. Ek het nogal ’n teer plekkie vir ’n film waar die bloed/geweld ’n essensiële bestandeel van die film is, wanneer dit net so belangrik is soos die kamerawerk, die dialoog en die toneelspel, wanneer dit amper ’n ekstra akteur in die film is.

Wie onthou True Romance (1993)? Patricia Arquette se verpletterende pak slae deur die toe nog onbekende James Gandolfini (Tony Soprano) is ’n noodsaaklikheid in die film. Dit is die punt waar die gehoor besef die prostituut het ’n hart van goud en ’n onwrikbare lojaliteit teenoor die held. Haar geswelde, stukkende gesig verteenwoordig haar stukkende lewe, maar haar ystere wil is haar toekoms.

Die onlangse Drive (2011) het ’n soortgelyke tema. Ryan Gosling speel die stil, sterk, sensitiewe held, wat egter nie sal skroom om iemand se skedel te vergruis met sy cowboy boots nie. Die geweld is aanhoudend en eksplisiet en word deur almal gepleeg – die crooks en die held. Die verskil is hulle motivering. Die crooks moor wie hulle wil, wanneer hulle wil en meestal vir geld. Die held gebruik geweld om geweld te stop, om die meisie te beskerm, maar steeds sonder enige skuldgevoelens. En jy hou nogal duim vas vir die man.

Die koning van polsende, emmers vol bloed is natuurlik Quentin Tarantino. In die bebloede Kill Bill: Volume 1 en 2 (2003/4), die uiters slick wraakfilm, vorm die gebruik van samoeraiswaarde, afgekapte ledemate en bloed-“sproeiers” deel van Tarantino se huldeblyk aan Oosterse en Westerse aksiefilms. In Reservoir Dogs is daar die afgesnyde oor, in Pulp Fiction die leftover stukkies brein. Dit is snaaks, dit is treffend en gekoppel aan ’n skerp draaiboek, Tarantino-monoloë en Uma Thurman in ’n geel ou sweetpakkie.

My gunsteling-gebruik van bloed in ’n film is die afwesigheid daarvan, die suggestie dat daar net links van die kamera iets grotesk aan die gebeur is, of dat ons dit gemis het en nou na die nagereg, of voorgereg, tot die hoofmaal van geweld kyk.

Wat my bang maak, maak jou nie noodwendig bang nie. As ’n regisseur ’n bloederige handafdruk op ’n muur skiet, of jou net die boks wys wat aan Brad Pitt in Seven (1995) aflewer word en nie die inhoud nie, dan word jy aan jou eie verbeelding oorgelaat. Meestal reik jy dan na dit wat jou bang maak. Dit beteken ons is almal bang!

Die eerste film wat my met dié tegniek beïndruk het, was Alien (1979). Stel jou voor, ’n alien-film sonder aliens of bloed! Een van die beste moordtonele in die klassieke film is waar die moeder-alien die eienaar van ’n kat vermoor. Die gehoor sien die hele moord in die refleksie in die kat se oog! Jou verbeelding neem oor, en soos ek reeds genoem het, is jou eie verbeelding soms meer vreesaanjaend as die regisseur s’n. (Behalwe in die geval van Guillermo del Toro: waar hy sy visuals vandaan kry, weet geen siel nie. Die langvinger-man in Pan's Labyrinth (2006) met die oë in die palms van sy hande gaan my nog eendag tot terapie dryf.)

In die Sweedse vampierfliek Let the Right One in (2008) is die sterkste verwysing na bloed die 12-jarige meisie-vampier se vuil vingernaels! Ek gril sommer weer. Koppel dit aan haar kinderlike onskuld en behoefte aan geselskap van haar eie ouderdom, en jy het ’n meesterlike film.

Ek sluit af met ’n toneel uit die TV-reeks Dexter. Dit was nie eers die volle episode wat my op hol gejaag het nie, maar die voorskou van wat volgende week wys. Jy’t nie die voorgereg gesien nie – die vang van onskuldige mense, die versamel van winkelpoppe, die aankeer van die perde en ’n brutale slagting. Jy sien dit wel alles in jou verbeelding. Maar wat laat jou daaraan dink? Fllitsende beelde sonder geweld of bloed van ’n perd wat drafstap deur die strate van Miami. Op sy rug is ’n makabere ruiter – half-mens, half-winkelpop, netjies aanmekaar geryg. Ja, onderbeen is menslik, bobeen plastiek, voorarm menslik, boarm plastiek, ens.

My nekhare rys.

Terug na indeksblad

 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address